
Foto: Canva.com
“En as die groot, groot Regter kom om finaal jou punte vas te stel sal hy na wen/verloor nie vra nie, maar was jy eerlik in jou werk en spel.”
Korrupsie, oneerlikheid, leuens, geldwassery ...
Die heersende pandemie het die wêreld op sy kop gekeer. ’n Mens weet nie meer wie of wat om te glo nie. Dit is mos die klein jakkalsies wat die wingerd opvreet.
Dié van ons wat drank of sigarette by ’n smokkelaar gekoop het, moet onthou dat die deler so goed soos die steler is. In hierdie donker tyd wat ons nou beleef, bring ’n sewejarige nuwe hoop en “begin ’n helder glans die wêreld verlig ...”
Ek was nog altyd daarvan oortuig dat integriteit, regskapenheid of onomkoopbaarheid karaktertrekke is wat aangeleer word. Onlangs moes ek leer dat dit ’n aangebore eienskap kan wees. Tydens die inperking begin ek die sewejarige Annemie met haar skoolwerk help. Op ’n Lewensoriëntering-werkkaart moes sy “waar” of “onwaar” invul.
“Was jy altyd jou hande voor ete?”
“Nee, Tannie, ek doen dit nie altyd nie, so dit is onwaar.”
Dit was baie moeilik om hierdie graad twee-leerder te oortuig dat die korrekte antwoord die “waar” is. So het ons geswoeg deur al die vrae waarop sy nie oor haarself, in alle eerlikheid, die “waar” kon omkring nie.
Later moes sy driedimensionele voorwerpe benoem. Toe ek begin korrigeer, sê sy dat sy nie geweet het hoe om silinder te spel nie en dat sy onder op die boom van die voorwerp gekyk het. My mond het letterlik oopgeval en ek wou by haar weet waarom sy dit vir my gesê het, want ek sou dit tog nie agtergekom het nie.
Sonder huiwering antwoord sy: “Tannie, ek kan glad nie jok nie.”
Gedurende grendeltyd ry haar ouers op dag ’n entjie met hul kinders. Hul fluister saggies vir mekaar dat hulle, as hul voorgekeer word, sal sê dat hul op pad apteek toe is. Vanuit haar kinderstoeltjie kyk Annemie hul skeef aan: “Dit is dan jok!”
Dit het my laat dink aan ’n eertydse, Stellenbosch-professor. Eerlikheid het dwarsoor sy wese geskryf gestaan en is deur sy ligblou oë uitgestraal. Hy het arm grootgeword en was nog baie klein toe hy by die plaaswinkeltjie ’n pakkie suiker moes gaan koop. Hy het geweet hy moes al die kleingeld terugbring. Tipies kind, het hy egter met ’n paar pennies ’n klein motortjie gekoop. Met trots het hy dit vir sy ma gewys en die res van die kleingeld teruggegee. Sy ma het terstond die motortjie by hom geneem en in die vlamme van die Welcome Dover-stoof gegooi. Die beeld van die karretjie wat deur vuur verswelg is, het hom altyd bygebly. Ten spyte van hierdie traumatiese voorval, het hy tot die dag van sy dood nooit ’n leuen vertel nie.
Nou ja, almal van ons wat die waarheid soms bietjie skuins draai, moet miskien Langenhoven se woorde ter harte neem:
Gee my ’n man
wat sê wat waar is
As die duiwel daar is
Wat doen wat reg is
As die regter weg is
Wat trou by sy gewete bly
As hy straf in plaas van beloning kry.


Kommentaar
Laat my mos dink aan die professor in Logika wat sy vrou bygestaan het met die geboorte van 'n kind. Die dokter oorhandig die baba aan die vader, en die ma vra: "Is dit 'n seun of 'n dogter?"
"Ja," antwoord die professor.
Hitler en nazis het ook ideologie aanbid soos BLM.
Hans Richardt
Ek kan eerlik geen verband tussen die stuk oor eerlikheid en Hitler, Nazi's en BLM sien nie? Dalk het u die kommentaar onder die verkeerde skryfstuk geplaas?
Cornelia de Kock, het BLM dan nie ideologie onderliggend aan hul beweging nie?
Verder, beskadig hul nie simbole in kerke en brand bybels in Vsa, onder BLM vaandel nie?
Hierdie tipe kultuurrewolusie herinner sterk aan Nazi's en Mao se ideologieë. Die eerste nasionalisme en die ander sosialisme.
Gemeenskappe funksioneer tog met bepaalde ideologie en ek dink dat sosialisme die ideologie is van BLM, "Black Lies Matter"? Niks bestaan net in ideale vakuum nie en dieselfde met BLM. Ek het geen gewetenswroeging oor verlede nie en hou nie van emosionele plakkers in 2020 omstandighede nie.
Beste Hans Richardt
Hierdie is bloot ’n anekdote oor ’n kind en volwasse man se absolute eerlikheid; twee mense wat eenvoudig nie kan jok nie! Mense met integriteit en dit het absoluut niks met enige ideologie op aarde te doen nie! Sela
Klein Annemie het al geleer om met eetgerei te eet, anders as in ander kulture met die hand. Wanneer haar handjies erg vuil is, sal sy dit was.
Sjoe - dit is vir my ook moeilik om te jok. Klein Annemie moet darem tog maar van die waarde van 'n wit of swart of bruin of pienk leuen leer. Soos ek moes. Of om maar eerder te swyg, te probeer glimlag en verby 'n gevaarlike onderwerp of situasie te kom om vrede te bewaar. Die professor moes ook maar eerder van dit leer. Darem baie wreed van sy ma gewees. Sjoe. Ek het maar altyd vir my kinders ook 'n geldjie gegee tydens inkopietogte vir 'n plastiekspeelgoedjie en lekkertjie en dan was hulle tevrede. Maar ja - dan is daar ook jok en jok en kan mens geweldig baie lees en of skryf oor die onderwerp van leuens en wat leuens is. Is om te stel daar is 'n hemel en daar is geen fisiese bewyse daarvoor nie dus ook net een groot vet jok nie? Wonder maar net alweer. (So tussen parenteses net - darem ook 'n eienaardige uitdrukking want - is daar werklik klein jakkalsies in wingerde?) Ai - ek kan ook altyd so diep wonder oor alle sinne. Oulike skrywe. Ek het dit geniet.
Raed-na-gael, wat is fout met hand eet? Ek gebruik beslis nie mes en vurk, of 'n lepel, vir pizza of biltong of neute nie. Nie geweet dis nie "Emsie Schoeman"-korrek nie ...
Amper sing ek saam met Randy "jong dames dinamiek", terwyl ek my tjop/kokkelet met hand eet en vet van my vingers lek.
Wit vroue besef soms nie sosiale dinamiek van onskuldige handeling wat So Oulik is nie.
Nee, kyk! Ek het altyd my knipmes byderhand indien ek op 'n lekker stuk biltong afkom. Sop weer, eet ek maar liewer met 'n lepel of ek drink dit. Met die hand sal dit maar moeilik gaan. En wat dan van pampoen?
Angus, eet jy daar in Natal nie pap in bolle gerol, wat jy in sous doop nie?
Ek dink as vrou die kind geleer het om rolpapier te gebruik, sou ek nie sarkaties gewees het nie. Vandat gedrukte koerante minder is, is papier deesdae skaarser.
Hans, ok lekker, veral as jy 'n week laas geëet het. Die lekkerste manier is, ligte krummelpap op jou bord, met bruin sous mildelik daaroor gedrup. Daarby 'n duimdik Angussteak spesiaal gebraai: een minuut, omdraai, een minuut, omdraai, drie minute, omdraai, drie minute, afhaal. Daarby nie baie bykosse nie. 'n Groenteslaai is voldoende. Ek verkies vrugteslaai. As jy nie Angus- of Wagjusteak kan kry nie, gooi dan maar Kaassous of misroomsous oor om die herkoms daarvan te verdoesel.
Dan steek jy 'n onderstebo vurk aan die kant van die vleis in, haal jou flitsmes uit jou sak, trek die lem met 'n knalgeluid uit sodat die gaste so stik van die skrik, en dan sny jy behaaglik so 'n snitseljie af, laai pap en sous versigtig daarby op, en smul dan heerlik aan die koningskos.
Angus, ek vra altyd wanneer rolpapier in gebruik geneem was in SA. Na so 'n steak, pap en sous, ongeag hoe jy dit in jou mond gekry het, gaan rolpapier noodsaaklik maak. Dan ook die vraag, hoe word dit gebruik, van voor na agter of agterstevoor, want dis 'meisie? Daar is nie afskud of dripdroog nie ...
Ek persoonlik hou meer van vet skaaptjops.
Hm. Knuppeldik aan koningskos. Lyk my jy het 'n slag met vleis Angus. Ek nie - maar kan sappig saamsmul. Baie manne in my familie vriende ens - sjoe - heerlik hoe hulle... Vandag lus om in 'n Tswana village saam met die Batswanas om 'n asvuur en groot swart pot te sit in die stof en merrie hande te eet. Nou dink ek weer aan Pieter Pieterse wat sulke kookboeke ook opgekook het. Faaantasties.
Annora Eksteen, hoekom juis in Tswana gehuggie? Ons is juis nie polities korrek nie.
Ek het Angus geterg...
Ja, knuppeldik polisieresepte is nog altyd daar. Selfs in Angola en Wamboland het ons daai ryp steaks uit die ammo-kis gehaal en driebeen swartpot op vuur gesit, vir 'n Wambo om pap te maak en dan shesheba saam met half rou steaks geëet, met kas warm Windhoeklagers om dit af te spoel. Oggendkoffie was lekker voor dagbreek, met kondensmelk en brandewyn om koue te verjaag.
Doen nog die polisiekoffieding in aand voor bedtyd, net met mampoer in...
Rolpapier was wit goud genoem of skuurpapier, dit was baie hard...
Jammer om van daai harde tyd te hoor. Die Wambo's op my oom se plaas in Suidwes was vir my wonderlik as kind. Tswana oor ek 'n Tswana-dogtertjie klavier- en kitaarles gee en sy en haar ma gereeld teruggaan om vir die familie daar te kuier, asook 'n vriend van my wat 'n plaas daar het, en die taal kan praat. Maar ek het nie geld om te gaan kuier nie. Daar is ook 'n verpleegster by die kliniek wat vir my vertel het sy kom daarvandaan en sy is 'n village girl. En dan die mooi gedig van die Tswana-meisie Nthabiseng Cujane wat eerste prys by die Avbob-gedigtekompetise gewen het en dit so goed perform het. Toe dink ek sommer aan Tswana, maar oor die algemeen maak die gewone onopgesmukte eenvoudige mense my ontspanne, en as ek daar sou kon eet saam met hulle in 'n kring om 'n vuur, sal ek nog die hartklop van Afrika hoor en dan rustig kan gaan slaap. Dit kan net sowel in die Transkei wees of in Lesotho ... al verstaan ek nie hulle tale nie, maar wat dis net my verbeelding. Ek is bly die polisiemanne kon dit alles darem draagliker maak met kos en drank.