Die klap

  • 0

“Die klap” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.

Die prysgeld beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.

*

Die klap

Emeritus Vader Frans-Jozef Balt staar deur die venster van sy woonstel se toegeboude balkon na die sneeubedekte Berlynse park oorkant die straat. Ten spyte van die binnenshuise verhitting is dit steeds ysig koud en lê daar ’n dik kombers oor sy ou stywe en seer bene. As dit so koud is, dink hy altyd aan die tyd wat hy in Afrika deurgebring het en hoe lekker warm dit daar was. Inteendeel, hier op sy oudag dink hy al hoe meer aan daardie tyd, veral die tydperk wat hy deurgebring het op ’n klein dorpie in die suide van Namibië. Sjoe, daardie was nou vir jou ’n uitdagende ervaring.

Dit was in die begin maar moeilik om aan te pas in die nuwe land wat so anders was as sy lewe in moderne Duitsland. Dit was veral moeilik om vrede te maak met die vyandigheid wat hy vanaf die wit deel van die bevolking ervaar het. Hy het egter gou gesnap dit is omdat sy gemeente hoofsaaklik uit die nie-blanke bevolking bestaan het. Namibië was daardie tyd immers nog stewig onder bestuur van apartheid-Suid-Afrika en die hele samelewing was verdeel langs die lyne van daardie stelsel. Die lotgevalle van sy arm en onderdrukte gemeentetjie het egter gou al sy aandag vereis en dit kon hom nie verder veel skeel wat ander mense dink nie.

Miskien ook nie. Hy weet nie.

Dit is maklik om nou te praat, maar mens leef nie in ’n kokon nie. Hy het werklik geworstel met alles wat rondom hom gebeur het, veral met wat die heersende status quo daagliks aan die mense wat hy moes bedien, gedoen het.

Armoede, vernedering, swaarkry. Noem maar op.

Hy het gou die apartheidstelsel en die onderhouers daarvan, wat maar basies die hele blanke bevolking was, begin haat. Tog kon hy dit nie altyd openlik wys nie. Nie net was daar die paar blanke Duitse lidmate van sy gemeente wat hy in ag moes neem nie, maar weens praktiese omstandighede is hy verplig om daagliks met hierdie mense te handel en met hul gesprek te voer. Hy moes by hul winkels koop, hy kon nie eintlik kosmaak nie en het smiddae by die klein hotel op die dorp gaan eet, die werkers by die poskantoor waar hy sy pakkies uit Duitsland moes gaan afhaal was almal blankes, die polisiemanne by die polisiestasie waar van sy lidmate dikwels in die tronk beland het was bykans almal blank, en so kan jy maar voortgaan.

Iets wat hom veral geïrriteer het, was die blanke kinders se disrespek en meerderwaardige houding teenoor hul gekleurde landgenote, oud en jonk. Ja, die sogenaamde “kleinbasies” en “kleinmiesiese” soos wat sy ledemate hul in Afrikaans moes aanspreek. Hierdie klein konings en koninginnetjies wat openlik en direk na hulle landgenote verwys het met afbrekende terme soos “hotnot” en “boesman” en dikwels sommer ook op hul gevloek het. Dieselfde wit kinders wat ook gereeld saam deur die klein dorpie se strate geloop en met die gekleurde kinders skoor gesoek het, hulle selfs fisies aangerand het. Die gekleurde kinders kon nie veel anders doen as om weg te hardloop nie, want daar was ’n stelsel in plek wat hulle dalk gou ’n paar houe met ’n rottang by die polisiekantoor kon besorg as hul sou terugveg en een van die blanke kinders dalk iets sou oorkom.

Dit is juis hierdie einste klein wit vabonde wat hom eendag iets laat doen het waaroor hy tot vandag toe nog gemengde gevoelens het. Hulle het hom dikwels getart en aanmerkings vir hom geskree. “Pater, Pater, Krismis Vader” was hul gunsteling. Ook ander beledigings wat hy nie eens kan onthou nie. So het dit aangegaan. Gereeld.

Die dorpie was egter werklik klein en omdat hy geweet het wie die kinders se ouers was, het hy maar die beledigings verduur en gemaak of hy dit nie hoor nie. Hierdie disrespek teenoor hom, ’n volwasse man en dienaar van God, was na sy mening juis ’n uitvloeisel van die ouers se mening oor hom as iemand wat vir die “hotnots” kerk gehou het.

Tot een dag. Daardie dag waarvan hy die gebeure nou so dikwels in sy kop terugspeel.

Hy was besig om voor die munisipaliteit in sy motor te klim. Die groepie kinders het bietjie verder in die straat af gestaan. Hulle het hom opgemerk.

“Daar is die pater. Haai ou Krismis Vader!”

Iets in hom het gebreek. Alles het skielik net oorgeborrel. Al die opkrop, al die haat vir hierdie mense en hul ongeskikte kinders. Voor hy hom kon keer was hy by die kinders. Almal het geskree en laggend in verskillende rigtings begin hardloop. Die een seuntjie, hy was seker so tien jaar oud, het egter doodstil bly staan. Hoekom weet hy tot vandag toe nog nie. Hy het die kind ’n harde klap deur die gesig gegee. Hy onthou nog helder die skrik op die seun se gesig en die trane in die oë voordat hy omgedraai en terug geloop het na sy motor.

Terug by sy blyplek het hy nog gebewe van woede. Dit was egter nie lank voordat sy rede weer ingeskop het nie. Wat het hy gedoen? Het hy nie nou te ver gegaan nie? Hoe kon hy, ’n vredeliewende mens wat vir sy naaste omgee, wat elke dag verkondig dat mens die ander wang moet draai, dat jy jou vyand moet liefhê, dat jy moet vergewe sewentig maal sewe, hoe kon hy so iets doen?

Dit is dieselfde gevoelens en emosies wat hom tot vandag nog treiter as hy oor die voorval dink. Aan die een kant was daar die genoegdoening en lekkerkry wat daardie klap hom besorg het. Daardie geweldige bevrediging om vir eens te kon optree teen die gehate vyand, al was dit teen ’n onskuldige kind.

Maar was die kind onskuldig?

Hy sukkel met daardie vraag. Alhoewel die seun sekerlik die hele stelsel en omgewing van onderdrukking en vernedering verteenwoordig het, was hy tog onskuldig in soverre sy optrede die gevolg was van sy ouers en die samelewing se invloed en hy nog te jonk was om self daaroor te besluit. Dit pla hom egter maar steeds dat hy beheer verloor het en ’n kind aangerand het. ’n Blote kind wat maar net besig was met kattekwaad. Die gevolg van sy daad was natuurlik dat die kinders nou bang was vir hom en nie weer probeer het om hom te tart nie. Snaaks genoeg, daar was ook geen reaksie van die ouers se kant af nie en hy het aangeneem die kinders was dalk te bang om die ouers te vertel.

Wat sou van die seun geword het? Wat se soort grootmens is hy? Is hy ’n rassis en hoe maak hy sy kinders groot? Het die gebeure van daardie dag ’n invloed op sy lewe gehad en onthou hy enigsins nog die voorval?

Ag nou ja, hy kan nou niks meer daaraan doen nie, net hoop dat die seun hom vergewe het en dat die klap eerder goeie as slegte nagevolge gehad het.

Sy litte kraak as hy opstaan om kombuis toe te loop. Dalk sal ’n lekker warm koppie koffie hom beter laat voel.

*

Bernard Wessels teug aan sy whiskey. Vrydagaand. Die sitkamer is donker. Sy vrou en seun slaap lankal. Die televisie is aan op die een of ander rolprent, maar die klank is afgeskakel. Die stilte en die veiligheid van die halfdonker help hom gewoonlik ontspan na die week se stront en hare. Dit is ook sy dinktyd. Sy alleentyd wat hy sommer alles en niks bepeins. Die verlede, die hede, die toekoms.

Gepraat van die toekoms. Wat ’n strontspul. Vat nou maar sy seun. Dié is in sy tienerjare en sien geen toekoms vir homself in hierdie land nie. Wil net hê hulle moet emigreer. Behalwe dat hulle seker nie finansieel in staat is om te emigreer nie, is hy darem nie seker of hy werklik tot so ’n drastiese stap sal kan oorgaan nie.

Hy glimlag. Nee, daarvoor is hy darem net te lief vir rugby, sonskyn en braaivleis.

Maar nog steeds. Die toekoms van sy seun in hierdie land pla hom. Hoe anders was dit nie vir hom en sy tydgenote nie. Sy grootword verskil hemelsbreed van dié van sy seun hier in die stad. Daar in die ooptes van die Namibiese platteland was hul vry en die moontlikhede oneindig. Dit was die ou Suidwes en die lyne tussen wit en swart was nog duidelik getrek, letterlik en figuurlik. Eers op universiteit het hy werklik vir homself begin dink en het daar ’n kopskuif by hom begin plaasvind, veral wat betref sy politieke sieninge. Dit was natuurlik geen skielike revolusie nie, maar hy het begin leer om die werklikheid ook vanuit ander mense se perspektief te probeer sien. Voëlvry-musiek, ’n diverse vriendekring en baie bier het ook gehelp.

Oopkop-wees bring natuurlik ook introspeksie. Hy het hom al baie keer in stilte geskaam vir die klein rassiste en terroriste wat hulle as kinders was. Hy het juis net die anderdag weer gedink aan die dag toe die Roomse priester hom op tienjarige ouderdom ’n snotklap gegee het. Daar op die klein dorpie in Namibië waar hy sy eerste elf jaar deurgebring het en waar die klompie wit kinders van die dorpie omtrent elke middag en vakansie saam gespeel en kattekwaad aangejaag het.

Hy onthou dit nog soos gister.

Die politiek was warm daardie jare met die Bosoorlog wat in volle swang was en die ou Suidwes wat maar altyd in die nuus was. Sy pa-hulle was geswore Nasionaliste en hulle as kinders was beïnvloed deur al die praatjies in die huis en dit het ook deurgevloei na hul daaglikse optrede en gedrag. So was daar dikwels skermutselings met die kinders uit die lokasie wat volgens die algemene mening nie in die “wit dorp” behoort nie.

’n Ander gewilde teiken was natuurlik die Roomse priester wat in die mooi ou Roomse kerkie aan die kant van die dorp vir hoofsaaklik die gekleurde gemeenskap kerk gehou het. Hul ouers het altyd na hom verwys as die “hotnotspredikant” en hulle groepie kinders het hom dikwels in die dorp gekoggel as hulle hom daar raakgeloop het. Allerhande opmerkings en name vir hom geskree en dan laggend weggehardloop.

Groot grap!

Hy kan nie eens onthou wat hulle alles kwytgeraak het nie. Die priester het gewoonlik nie gereageer nie, hulle net geïgnoreer en aangegaan met waarmee hy besig was. Hy onthou wel dat hy altyd bietjie ongemaklik was met die gekoggel. Sy pa-hulle het die klein hotelletjie op die dorp gehad en hy en sy sussie het elke middag na skool in die eetsaal geëet. Die priester het ook elke middag daar geëet en was gewoonlik vriendelik met hulle. Dit het dus nie vir hom reg gevoel om deel te neem aan die geterg nie, maar hy was deel van die groep en het maar gemaak soos hulle maak.

Toe een dag, hy dink dit was in die skoolvakansie, sien hul weer die priester waar hy by die munisipaliteit besig was om in sy motor te klim. Die volgende oomblik het klein Karel Verster, die polisieman se kind, iets vir die priester geskree. Hy kan nie eers onthou wat dit was nie.

Die priester het vasgesteek en in hulle rigting gekyk. Die volgende oomblik het hy op hulle afgestorm. Die ander kinders het begin hardloop, maar om die een of ander rede het hy doodstil bly staan. Hy was nie bang nie en dit was mos ook nie hy wat die koggel gedoen het nie. Skielik was die priester by hom. Die man se gewoonlik vriendelike gesig was vertrek van woede. Die volgende oomblik het die priester hom met geweld deur die gesig geklap. Hy kon nie glo wat besig was om te gebeur nie. Sy wang het gebrand en daar was trane in sy oë. Hy het omgespring en agter die ander kinders aangehardloop.

Hulle huis was net om die draai. Sy jonger sussie was alreeds huilend op die handsentrale besig om hul ma by die hotel te bel. Sy ma was woedend en het hulle belet om ooit weer met die priester die spot te dryf. Hy kon sien sy was ook ontsteld oor wat die priester gedoen het en het gesê sy gaan met hom praat. Hy weet nie eintlik wat daarvan gekom het en of sy maar besluit het om dit te los nie. Die priester het immers elke middag by die hotel geëet en was op die klein dorpie ’n goeie bron van inkomste vir die hotel. Soos wat dit maar met kinders gaan, was die voorval gou vergete en het die lewe aangegaan. Hy kan wel onthou dat die groep kinders daarna nie weer openlik die priester getart het nie. Kort daarna het sy ouers die hotel verkoop en het hul verhuis na ’n groter dorp.

Ja, plaas jou in die skoene van ander. Hy het al heelwat hieroor gedink.

Wat het die priester besiel om hom te klap, al was hy nie eens die skuldige nie? Hoekom was die priester so woedend? Was hy bloot net gatvol vir hulle gespottery? Of was dit dalk meer as net die gekoggel en gespot?

As hy hom in die priester se plek moes stel en van buite na hulle kyk daardie tyd, was hul niks anders as ’n klomp arrogante klein rassiste wat die kinders van sy gemeente loop en terroriseer het nie. Hy moes sekerlik ’n haat teen hulle opgebou het en dit moes vir hom moeilik wees om nie sy ware gevoelens te wys nie.

Dalk was hy nie daardie dag die teiken nie, maar net die eerste bord van die gehate kombuisgerei wat die man in die hande kon kry, wat hy wou breek. Die arme man verdien seker eerder sy jammerte en meegevoel as sy oordeel. Hoe alleen moes hy nie gewees het in daardie omgewing nie, hoe moes hy hom nie inhou in die gesig van al die ongeregtighede rondom hom nie. Die man sou sekerlik na daardie klap ook dalk diep skuldig gevoel het omdat hy sy frustrasies op ’n blote kind uitgehaal het. Wie sal weet.

Gelukkig het hy nie vasgehaak in daardie gietvorm waarin gemeenskap, skool en kerk hul probeer verewig het nie. Terselfdertyd is daar maar tog goed wat nog bly vassteek, wat te diep gemessel is. Hy weet dit is nog daar. Hy sien dit daagliks.

Daarom is sy geslag vandag die skisofrene van apartheid: die Voëlvry kinders wat saam gerebelleer het teen PW en alles waarvoor hy gestaan het, maar by wie die indoktrinasie en sosialisering van volk en vaderland steeds onder die vel vasklou. Soveel so dat, sodra iets verkeerd gaan in hierdie droewe land, daar gou en gemaklik teruggeval word op die “ons” en “hulle” verhaal, op hoe sleg hulle en hoe goed ons is, hoe goed dinge in die ou dae was. Dan moet hy homself dikwels daaraan herinner dat dit net vir “ons” goed was.

Kan hy sy kind kwalik neem as hy nie in hierdie land wil bly nie? Hy weet die fok nie. Hy staan op. Hy het nog ’n whiskey nodig. ’n Dubbel.

Lees die ander verhale hier:

Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top