Reisskets: Die kermende trollie

  • 2

Samarkand, Oezbekistan, 2007

Samarkand, Oezbekistan (foto: Wikipedia)

Alles in die land is moeg en afgeleef. Hoe anders as alles so oud is, duisende jare oud? Tydens ons verblyf vier Samarkand sy 2 750ste bestaansjaar. Anders as hul land, is die Oezbeke vol lewensdrif. Ten spyte van 70 jaar van Russiese oorheersing, en die gevreesde goelags, vat hul onverstoord elke dag aan.

Die watersituasie in Samarkand en Bukhara is benard en met Wêreldbank-fondse moet die watervoorsieningsnetwerke opgegradeer word. Die kontrak is omvattend; dit sluit verskeie staatsdepartemente, plaaslike maatskappye en ’n Australiese maatskappy in. Die kontrak het ellelange voorskrifte oor hoe om korrupsie te vermy.

Ons sukkel met taal, kos, die Oezbeekse Mafia. Die firma weier om fooitjies onder die tafel te betaal. My man drink nie saam nie en as dis ’n onvergeeflike sosiale sonde om nie te drink nie. Hoe kan enigiemand wat nugter wil bly, vertrou word? Die Oezbeke se agterdog is voelbaar. Wie nie bottoms up na elke rondte nie, is ’n spioen, klaar en verby. Feitlik elke amptelike deur gaan mettertyd toe en my man sukkel om die projek aan die gang te kry. Op en af reis ons deur die steppe in die eindelose stryd om ’n reguit pad te loop.

Die Oezbeekse paaie is sedert die val van die Berlynse Muur in 1989 nog nie opgegradeer nie. Maar die eks-Sowjetse treine loop al langs die eeueoue moerbeilanings, oorblyfsels van die syroetes. Deur die treinvensters sien ons seisoene kom en gaan; yl bossiewoestyn in die somer, sneeulandskap in die winter, die kaal moerbeie swart kloue teen die grys lug. In die lente bars die steppe plek-plek uit in plate bloedrooi papawers. Oorkant die grens oes bestaansboere in Afghanistan papawersaad vir die groeiende Westerse dwelmmark; die eeueoue syroetes word dwelmroetes weens vraag en aanbod.

In Samarkand word my man onverwags baie siek. Ek skakel die mediese fonds in Australië en binne minute is daar ’n aksieplan. Omdat hy te siek om na die naaste hospitaal in Duitsland gevlieg te word, tree die Moskou-agent in. Daar is ’n baie goeie hospitaal in Samarkand, verseker Moskou ons vertaler, Ozot, telefonies. ’n Ambulans is reeds op pad. Die bestuurder sal bel vir aanwysings. Skaars het Ozot die foon neergesit of die ambulansman bel inderdaad. Hy ken nie Katagurganskistraat nie, maar Ozot lei die ambulans binne tien minute tot by ons voordeur.

Ek is vol vertroue toe die ambulans stilhou. My dodelik siek man is in goeie hande. Net die vorige dag het ek op die trein gelees hoe goed die mediese fasiliteite in Oezbekistan is: nuwe poliklinieke; telemedisyne; ’n unieke, hoogs tegnologiese ontwikkelde gebou vir neurochirurgie; 2 000 mediese klinieke op die platteland. Belangriker vir ons onmiddellike situasie: 29 klinieke in stede is opgegradeer met nuwe mediese toerusting en meubels. Samarkand is bo-aan die lys.

Ek wonder vlietend oor die ambulans – ’n klein Koreaanse paneelwa. Die agterdeur kan nie oop nie en my bewustelose man lê onder ’n dun kombers op ’n draagbaar in die sneeu wat sag neersif. Die ambulansman skud sy kop vererg en brom iets wat aandui hy is nou al moeg gesukkel met die deur. Hy haal ’n houtwiggie uit sy sak en trek dit al langs die deurgleuf af. Die deur spring oop!

Die voorste sitplek is uitgehaal en my man word kop eerste ingelaai. Die draagbaar word nie geanker nie en boonop is daar nêrens vir my plek nie. Ozot beduie ek moet saam met hom ry, maar ek weier om my man alleen te los. Ek gaan sit op die noodwiel. Die ambulansdeur wil nie behoorlik toe nie en die draagbaar skuif gevaarlik rond toe die ambulans met mening wegtrek. Ek probeer die skuiwende affêre stut, regterhand styf aan die noodwiel geklem en my lyf oor my man in die hoop dat my gewig die draagbaar sal stabiliseer. Die agterdeur glip verder oop. By die stopstraat trek ek die deur op knip. Die bestuurder kyk kort-kort benoud om. Hy versnel as hy die amper lewelose liggaam beskou, vasberade dat die vreemdeling nie onder sy sorg moet sterf nie.

By die hospitaal kom my man effens by en die geneesheer besluit hy moet ’n EEG kry. Die lang, skraal man in ’n effens vuil jas jaag die personeel aan, maar die masjien het nie papier nie. Twee verpleegsters rol ’n reuserol papier af en is later toe onder ’n papierkombers. Ozot verduidelik: Die staat het die verkeerde papier gestuur en hulle moet eers die papier máák pas. Geduldig vou hulle lang lengtes papier pynlik presies in die helfte. Een hou die papier styf getrek en die ander knip versigtig op die vou langs. Die geknipte papier word netjies opgerol en die hartmasjien is gereed. Die masjien loop ’n rukkie hik-hik en gaan staan; die pasgemaakte papier werk nie.

My man begin ruk en sy oë dop om. Ek praat mooi, ’n mengsel van Afrikaans, Engels en Russies, wat skynbaar die regte snare raak. Daar is nie tyd om vir die EEG te wag nie. Ons hardloop met ’n trollie deur eindelose gange. In die hardloop teken ek ’n dokument in Russies, vermoedelik toestemming vir die operasie. Ek kyk magteloos hoe vreemdelinge met simpatieke oë en verslete jasse my man in die operasiesaal in stoot en die deur toemaak.

Eers toe hy uit die teater kom, en die hoofchirurg verduidelik dat alles goed gegaan het, bekyk ek die wêreld om my. Dit lyk nie eintlik soos iets waarna die koerant verwys het nie. Allesbehalwe. Die massiewe vyfverdiepinggebou is in ’n toestand van verval. Die rou gepleisterde mure het sedert die oprigting in die laat 1980’s nog nooit ’n laag verf gesien nie. Ek kry oor die hele vyf verdiepings geen werkende kraan nie. Die gebruiklike Asiese toiletgate in die vloer is vier-vier saamgegroepeer en die stank is onuithoudbaar. Water word daagliks net tussen 06:00 en 10:00 gepomp en water stroom in dié tyd uit ’n pyp laag teen die muur van ’n badkamer. Die personeel, pasiënte en hul families maak emmers, bottels en komme vol vir die res van die dag.

As buitelander met ’n mediese fonds kry my man ’n enkelkamer met ’n wasbak en ’n Westerse toilet. Die toilet is gebruik, maar nie getrek nie. Later vind ek nie die toilet of wasbak was ooit aan water gekoppel nie. Daar is nie water nie, was nog nooit water nie, verduidelik ’n dokter. Die Berlynse Muur het geval en die Russe het onmiddellik onttrek. Die hospitaal was nog nie heeltemal klaar nie en waterpype bly ongekoppel. Ek is sprakeloos. “Dis hoekom ek ’n werk het,” fluister my man, nie te siek vir ’n grappie nie.

Ek koop bottels water by die kafeteria en stuur Ozot reg oor die stad vir handdoeke, toiletware en skoonmaakmiddels. Ek skrop en ontsmet. Later gaan haal Ozot kos. Ek slaan twee kakkerlakke dood voordat ek my man met ’n teelepel voer.

Dis winter en buite is dit -10 ̊C, maar die sweet tap ons af. Die hele stad se geboue word van een punt af sentraal verhit. Iemand iewers besluit wanneer om die temperature te verhoog en te verlaag en die res van die stad neem eenvoudig verlief. Die hospitaalvensters is boonop met ’n breë strook plastiekband toegeplak en kan glad nie oopmaak nie. Ek maak die deur oop vir ’n trek, maar die rioolreuk is oorweldigend.

Ons hou 24 uur uit en besluit die toestande in die hospitaal onuithoudbaar. Ek bel die mediese fonds in Australië. Hulle luister ietwat ongelowig na my storie, maar gee later toestemming dat ons huis toe kan gaan. Hulle onderneem om ’n dokter te kry wat tuis na my man sal omsien.
Die gange uit na die motor is eindeloos. Ozot stoot my man in ’n rolstoel. Hy stop skielik, stoot die rolstoel uit die pad en gaan staan met sy linkerhand op sy hart. ’n Kermende trollie met ’n lyk onder ’n eens wit laken word verbygestoot. ’n Vrou strompel snikkend langs die trollie, haar bolyf op dié van haar geliefde, haar arms vir oulaas om hom gevou. Af in die gange volg ons op eerbiedige afstand die prosessie. In die wagkamer staan die wagtendes op, hand op die hart, uit eerbied vir die dood.

Die lyk word op die agtersitplek van ’n motor gelaai. Die bene word gebuig om in te pas. ’n Arm val onder uit en word sagkens teruggedruk. ’n Verpleegster vra die laken terug …

Ek neem ’n baie siek man huis toe en ’n geneesheer wat in Amerika gewerk het, monitor hom. Toe hy sterk genoeg is, vlieg ons Duitsland toe vir verdere behandeling. Ons seun bel vanuit Suid-Afrika waar almal kla oor die verskriklike agteruitgang in ons land. Hy luister nadenkend en sê: “Ek dink ’n mens word bevoorreg gebore.”

In Samarkand kerm ’n trollie in die hospitaalgange.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top