Wie's die engel: kerk of media?

  • 1

 

Die kerk, veral die NG Kerk (NGK), was die afgelope tyd meer dikwels in die nuus – ongelukkig om al die verkeerde redes.

Die debakel wat gelei het tot Jean Oosthuizen se bedanking by Kerkbode en Lina Spies se “amptelike bedanking” uit die NGK het groot prominensie in Afrikaanse koerante gekry en dalk die indruk gewek dat die kerk nog groot nuus is, soos van ouds. Dit is volgens my waarneming nie heeltemal waar nie.

In ’n tyd toe apartheid nog ’n strydpunt was, is geglo dat die kerk, met name die grootste Afrikaanse kerk, die NGK, ’n sleutelrol sou kon speel om die Afrikaner se kop te laat draai. Vandaar die prominensie wat die NGK in Afrikaanse en Engelse koerante geniet het. Dat die NGK toe nie die Nasionale Party vooruitgeloop het nie, is geskiedenis.

Toe die politiek in 1990 onomkeerbaar deur FW de Klerk verander is, is die dominante rol van die NGK ook beëindig. Nou sou Kerkbode nie meer weekliks in die nuus wees nie. Daar is nog oor algemene sinodes berig, maar minder prominent.

Die kerk het nie heeltemal van die nuusagenda verdwyn nie, maar in ’n koerant soos Beeld is dit te danke aan ’n kerksakeverslaggewer soos Neels Jackson se volgehoue belangstelling dat daar nog taamlik gereeld oor die kerk se doen en late berig word. By koerante waar daar nie ’n spesialisjoernalis is wat oor kerksake skryf nie, lyk die prentjie anders.

Hoe verklaar mens hierdie algemene tendens van minder kerknuus?

Benewens die genoemde politieke rede is daar die algemene laer profiel van die kerk in ons samelewing. Die redes hiervoor kan elders vollediger beredeneer word, maar een belangrike rede is die gekose nederiger gestalte van die NGK.

’n Sagter aanslag, een met minder politieke invloed en gesag, is nie altyd juis “harde nuus” nie. So gesien is die laer profiel van die NGK eerder ’n kompliment as ’n beskuldiging. Die opkoms van die internet en sosiale media het dalk ook die gesprek en deurgee van inligting na ander platforms verskuif.

Daar is ook die werklikheid dat koerante onder groot druk verkeer. Mediabase wil winste beskerm en laat ervare joernaliste loop en plaas dié wat oorbly, onder groot druk. Ruimte is meer beperk en jonger nuusredakteurs dink anders oor die nuuswaarde van die kerk. Alles sit om in minder dekking van kerksake.

Wat egter ook waar is, is dat mense nie opgehou het om oor geloof te praat en skryf nie. Menings oor geloof het die afgelope jare meer dikwels in By, die Saterdagbyvoegsel van Die Burger, Beeld en Volksblad, verskyn.

In baie gevalle het hierdie debatte ’n dimensie gekry wat nie voorheen in Afrikaanse koerante gesien is nie, naamlik die openlike en uitdagende standpunte van mense wat hul geloof verloor het – nie net in die kerk nie, maar ook in God. Dan is daar diegene wat nie die moed of oortuiging het om openlik ateïsties te wees nie. Hulle parasiteer egter op die Christendom deur kerngeloofswaarhede wat Christene deur die eeue voorgestaan het, te bevraagteken in die naam van die een of ander vae spiritualiteit.

Vir hierdie mense maak koerante ruim plek, wil dit my voorkom. So bly die kerk tog ter sake. Immers is die kerk, aan watter een jy ook al kan dink, ’n geloofsgemeenskap. En dit impliseer om in iets te glo. Betwis jy aspekte van daardie geloof, raak jy aan die hart van die kerk.

Daarmee skep die koerante nie kunsmatige debatte nie. Ek sien om my die verlies aan geloof, die wegdryf van die kerk, die ernstige vrae oor wat dit beteken om in die 21ste eeu nog te glo.

Deur ruimte hieraan af te staan, dien die media tog ook die kerk.

Maar wanneer ’n Lina Spies die kerk onder groot opskrifte “verlaat”, wonder ek oor die koerante se oordeel. Wanneer die gemeenteleraar in die sagste denkbare taal haar namens die kerkraad antwoord, staan dit natuurlik veel minder prominent onder aan die bladsy. Dan wonder mens oor die koerant se motiewe.

Wanneer ek in ’n sinode of kerk sit en waarneem hoe ver die NGK al beweeg het die afgelope 30 jaar, wonder ek hoe mens dit in berigte en artikels kan verwoord sodat diegene wat jare laas in ’n kerk was, en hul persepsies oor die kerk op uitgediende waarnemings en berigte grond, hierdie nuwe werklikheid kan snap.

Maar berigte oor tendense is stof vir minder dramatiese opskrifte – behalwe as daardie tendens dui op die verlies aan lidmate. ’n Berig oor die styl van debatvoering in ’n sinode wat oor die emosionele Belhar-belydenis besin, is nie maklik om aan die nuusredakteur te verkoop nie. En artikels oor die duisend en een dade van liefde deur lidmate as individue of as deel van die een of ander kerklike aksie kan ... wel ... vervelig raak, dan nie?

Hierdie doodgewone liefdesdiens van die kerk in al sy gedaantes voldoen nie aan koerante se daaglikse behoefte aan verkoopbare nuus nie – hetsy nuusteoreties of op die vlak van “gesonder verstand” waarop nuusmense funksioneer. Dis geen aanklag nie, dis ’n verstaanbare feit.

Op die radio is daar eiesoortige beperkings wat nie die gaping vul wat hier bo geskets is nie. Nog minder TV, waar kerklike of geloofsnuus weinig plek kry op ’n medium wat in vele tale ’n uiters versplinterde geloofsgemeenskap (ek bedoel eintlik: verskillende gelowe opgekap in ’n duisend dele) moet bedien.

Al hierdie faktore (en ’n hele klomp ander) dra by tot die konstruksie van kerklike en geloofsrealiteite in die media wat aanvegbaar is. Nogmaals: dis kwalik die media se skuld alleen. Elkeen kies wat hy of sy lees en hoor – en hoe jy dit verwerk en daarvan jou eie werklikheid maak.

Dis op basis daarvan dat mense in mediadebatte betrokke raak – van fundamentalis tot ateïs. Dis op daardie basis dat koerante kies om kerklike en geloofsnuus te konstrueer. Ons moet hierdie werklikhede sien vir wat dit is en dienooreenkomstig dink en handel.

 

  • 1

Kommentaar

  • Dankie Johannes

    Alhoewel ek nie self lidmaat van NGK is, en by ander betrokke is, glo ek dat die NGK nog groot nuus gaan word. Ek sien sy herstel in HERLEWING.

    Waardeer jou artikel.

    Trienie Mahne

     

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top