Die keiser is waarlik kaal

  • 0

Brett Murray se verfkwas het die pruttende pot genaamd die Suid-Afrikaanse samelewing deeglik geroer. Zuma-volgelinge beskou die kunswerk as nog ’n voorbeeld van hovaardige wit rassisme, terwyl ’n ander, skouerophalende reaksie is: Kru, ja, maar hy’t daarvoor gesoek, het hy nie?

Met die ou-ou konflik tussen kunstenaarsvryheid en persoonlike waardigheid kom ook ander regskwessies na vore. Weens sy aktiewe politieke rol geniet die president, anders as sy seremoniële voorganger van weleer, nie wetlike beskerming van sy waardigheid nie. Sou Jacob Zuma hom in persoonlike hoedanigheid weens eerkrenking op die howe beroep, sou sy amp en aansien natuurlik ter sake wees. Privaatheidskending is dit nie, want genadiglik weet ons nie of die onderste helfte van die skildery ook ’n portretstudie is al dan nie.

Gelukkig is die hele affêre nie sonder humor nie. Een van vele moerige Pretorianers wil weet of nog ’n straatnaamverandering aan die kom is: Stormvoëllaan na Zumalaan. Volgens Blou Willem behoort die skildery eintlik beeldhouwerk te word. Neffens oom Paul, want sodoende kry ’n paar duiwe darem ekstra wyevlerk-sitplek. Eersteklas.

Die woord satire se Latynse oorsprong is satura, wat letterlik “slaaiemengelmoes” beteken. Dit het eers later literêre betekenis gekry toe spotskrywers ’n mengelmoes vorme en style gebruik het om sosiale kommentaar te lewer. Die satirikus gebruik genadelose, skerp spot om wanpraktyke aan die kaak te stel, weliswaar met die langtermynoogmerk van regstelling of verbetering van die voorwerp van bespotting. Satire is dus in wese korrigerende sosiale kommentaar. Hoewel dit humoristiese elemente mag bevat, verskil satire van humor. Laasgenoemde wek ’n gevoel van deernis, dalk ’n kopskuddende laggie. PG du Plessis se meesterlike koöperasiestories is goeie voorbeelde hiervan. Daarteenoor is satire se spot bedoel om ongemak en spanning te skep.

Die krasse of meer subtiele aard van die satire word deur sekere faktore bepaal. Streng sensuur kan die satirikus noop om tog sy gehoor te bereik deur fyner te spot en sodoende onder die owerhede se moniteringsradar te beweeg. Magsoorwig of “omgewingslawaai”, soos massasteun vir die teiken, kan die satirikus noop om “harder” te praat. Ook ter sake is of die wantoestand waarteen hy rebelleer, die satirikus bloot amuseer of woedend maak.

Zuma is nie die eerste president wat kunstenaarsreaksie ten opsigte van die meer suidelike dele van die anatomie ontlok nie. Bill Clinton het weens die Monica Lewinsky-episode veel spot verduur. Per slot van rekening: Hoe privaat is ’n openbare figuur se private dele as sy regeervermoë heuplangs in gedrang gebring word? Op die vooraand van die Clintons se ampsbesoek aan Suid-Afrika is Air Force One deur Zapiro as ’n reusagtige, vlieënde fallus uitgebeeld – ’n twyfelagtige kompliment vir Bill en vir Boeing.

Zuma-ondersteuners is verkeerd as hulle beweer dat hulle president vir die wraak van kunstenaars uitgesonder word. ’n Satirikus is per definisie genadeloos in die keuse van kwets- en kwespunt. So het Zapiro byvoorbeeld op grafiese (en vir baie) smaaklose wyse met PW Botha se beroerte die spot gedryf.1

 

 

Van Zapiro gepraat: sy bekende verkragtingspotprent waarin ’n magtelose, maagdelike Justitia aan die genade van Zuma en sy helpers oorgelaat is, het ook ’n storm ontketen en tot regoptrede gelei.

Nog ’n kunswerk wat hewige ANC-reaksie ontlok het, is Yiull Damaso se parodie op Rembrandt se bekende Die Anatomieles van Dr Nicolaes Tulp. In die 2010-weergawe het Damaso die Rembrandt-figure met bekendes in die Suid-Afrikaanse samelewing vervang. Dit beeld 'n lykskouing op 'n gestorwe oudpresident Nelson Mandela uit. Johnson Nkosi, wat as 12-jarige Vigs-aktivis aan MIV oorlede is, staan by die gedissekteerde linkerarm van Madiba. Onder sy aandagtige gehoor tel openbare figure soos president Zuma, oudpresidente De Klerk en Mbeki, asook Helen Zille. Die skildery is in 'n Johannesburgse inkopiesentrum ten toon gestel.2

 

 

Te midde van luide reaksie uit ANC- en SAKP-geledere en dreigemente van strenger mediabeheer het Damaso verklaar dat die kunswerk as politieke stelling bedoel is, naamlik dat Nelson Mandela nie vir altyd gaan lewe nie en dat daar nou reeds gebou moet word aan 'n nuwe samelewing.

Damaso se kunswerk (wat, soos die Murray-skildery, ook as in swak smaak beskou is) dwing die kyker om die volgende vraag te vra: Wat gaan verhoudinge in die land wees sonder die ikoon Mandela se samebindende, versoenende rol? Dit kom ook voor asof die kunstenaar op enersyds kru en andersyds subtiele manier die spot dryf met Madiba-manie, in dié opsig dat Suid-Afrikaners verkies om beide die onafwendbaarheid en nabyheid van die bejaarde leier se dood te ignoreer. Gevolglik word belangrike debatsvoering op die agtergrond geskuif.

Oor Damaso se kunswerk het ANC-segsman Jackson Mtembu (’n man wat hom in die verlede stroomop in ’n Kaapse eenrigtingstraat bevind het) die meerderheidsopinie oor die skildery soos volg verwoord: "In African society it is a foreign act of ubuthakathi (bewitch) to kill a living person and this so-called work of art … is also racist. It goes further by violating Tat' uMandela's dignity by stripping him naked in the glare of curious onlookers, some of whom have seen their apartheid ideals die before them." Hierdie verwysings na rassisme en ’n onbegrip vir Afrika-kultuur het ook in die Murray-sage opgeduik.

Murray se kunswerk is ongetwyfeld geslaagde satire. Die skildery is  deel van ’n groter uitstalling waarin die verval van die ANC uitgebeeld word – ’n eens trotse bevrydingsbeweging met ’n bedenklike rekord as regering. Die stormagtige reaksie is ook betekenisvol: massabetogings; ’n boikot van die konsekwent-weerstandige City Press; gelyktydige vandalisme deur twee mense met verskillende dryfvere; ’n senior advokaat wat in trane uitbars, kwansuis weens ou struggle-wonde.

Ook op langer termyn ontketen Murray se satire debattering van belangrike kwessies.

Die ooglopende in die skildery verwys sekerlik na Zuma se vele huwelike, die swangerskap van Irvin Khoza se dogter en sy eie weergawe van die gebeure wat tot die verkragtingklag teen hom aanleiding gegee het. Daar is egter ’n meer subtiele, belangriker  betekenis: die driehoek van titel (The Spear), fallus en spies as deel van die ANC se wapen (“Spear of the Nation”) is betekenisvol. Dit lewer kommentaar op agteruitgang in ANC-leierskap sedert Madiba die tuig neergelê het. 

Of die verbetering wat die satirikus nastreef in die Murray-geval, gou gaan intree, kan nie met sekerheid gesê word nie, in elk geval nie voor Mangaung nie. Tog openbaar die ANC se reaksie ’n reaksionêre bekrompenheid: die  kunswerk getuig van tipiese wit rassisme. Dit het trouens ’n paar Murray-kwas-hale geverg om ’n organisasie wat grondwetlike waardes bely, tot kwas-hale van “ons”-en-“hulle”-rasse-veroordeling en veralgemening te beweeg. Trouens, dit was Gwede Mantashe (een van die Zuma-kornuite in die verkragtingspotprent) wat oor nasionale nuus verklaar het: “Our people are getting impatient ...” Of dit beteken dat ongrondwetlike teenoptrede of grondwetwysigings ons voorland is, word nie gesê nie. Dat ’n wit minderheidsgroep as sodanig gedoog word en in hulle pasoppens moet wees, word wel gesuggereer.

Dit is nie nodig vir die doeleindes van hierdie artikel om die bewese en vermeende wanpraktyke van die Zuma-administrasie te lys nie. Kenmerkend is ’n voortdurende geknoei en gestoei rondom besluite en besluitnemers integraal tot die regsproses. Steeds boaan die lys is die verstommende vroeë vrylating van die veroordeelde bedrieër Schabir Shaik. Presies watter magte en kragte meegewerk het dat nie ook Zuma op korrupsieklagte vervolg is nie, is danksy moedige pogings van die DA dalk nog bepaalbaar. Heel onlangs berig Beeld dat Booker Nhantsi (eggenoot van die waarnemende hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag) dermate oorweeg word vir die pos van staatsregsadviseur dat die betrokke departement met hom “gesprek voer”. Die stertjie van die storie is dat Nhantsi (voormalige baas van die Skerpioene) in 2005 tronk toe gestuur is omdat hy as prokureur trustgeld van ’n kliënt gesteel het. Presies hoe lank hy agter tralies deurgebring het, weet ons nie, maar in 2010 het president Zuma sy mag gebruik om Nhantsi se skuldigbevinding en misdaadrekord te skrap!

Die disrespek wat staatsdepartemente, en veral plaaslike owerhede, vir kontraktuele verpligtinge en hofbevele openbaar, is skokkend. Zuma kan nie sy hande in onskuld was nie – dis deel van sy administrasie en die gevolg van ’n verkiesing (hetsy op nasionale of plaaslike vlak) wat onder die ANC-banier geveg is.

Voeg hierby bitterbek Blade Nzimande se ongerepudieerde uitsprake oor die howe. Die appèlhof se bevinding dat Zuma se aanstelling van Menzi Simelane as hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag onreëlmatig was, het Nzimande as ’n vorm van “judisiële diktatuur” afgemaak, en na die haatspraakbevinding oor die “Skiet die Boer”-liedjie gesê dat die howe nie die bevoegdheid het om die ANC se struggle-geskiedenis te beoordeel nie. Nzimande se uitsprake is verontrustend, veral omdat dit van ’n senior minister en aartskommunis afkomstig is. Wat is Nzimande (en dalk Zuma) se visie vir regters as bewakers van die grondwet? Gaan hulle vlerke geknip of die regbank met handperdjies bevolk word?

Bogenoemde en ander bedenklike optredes van die Zuma-regering getuig van arrogansie en skaamteloosheid. Die ANC se oorweldigende magsposisie het veel hiermee te doen.

Teen hierdie agtergrond kan Brett Murray as satirikus nie verkwalik word wanneer hy hom tot ekstreme sosiale kommentaar wend nie. Vermoedelik amuseer die tekortkominge in die Zuma-mondering hom nie, maar maak dit hom woedend. Dit verskaf Murray sekerlik groot persoonlike genot om te hoor dat skaamtelose regeerders darem iets as “skokkend” of “skandelik” ervaar. ’n Regering wat sy skaamte verloor het wanneer dit oor  belangrike kwessies gaan, verdien om aan die knaters gegryp te word – al is dit by wyse van beelding.

Die keiser is kaal, dit weet ons almal. Murray en ander beoefenaars van satire wys vir ons presies hóé kaal die kaalkopkeiser is. En buitendien, die ANC-regering se ooglopende achilleshiel vir die goedgemikte satire maak van hom ’n gewillige slagoffer. Daar is ongetwyfeld nog aan die kom. En die ANC se reaksie op daardie skerp spot gaan eweneens interessant wees.

Nou wil Blade Nzimande die skildery laat vernietig en durf dit glo nie die land verlaat om aan die buitelandse koper gelewer te word nie. Ag nee, doktor Nzimande, Suid-Afrika is nog lank nie ’n kommunistiese staat nie. Vernietig? Dis nie wat ’n regering met nasionale bates aanvang nie!

 


 

1 Zapiro: End of Part One (David Philip, 1998)

2 Mail & Guardian, 8 Julie 2010 en Beeld, 20 Julie 2010

 


 

Lees ook Kerneels Breytenbach se mening oor die Zuma-skildery.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top