
Foto: Canva
Die kat slaap nog by my
die kat slaap nog by my
die bed snags swart soos ’n tent
leeg soos ’n woestyn
oortjies, voetjies, omgekrulde stert
ek raak weg in die onbeduidendheid
van swiepende sterre
jou paaie soek ek
deur velde
deur sterre aan die brand gesteek
ek is alleen
met die kat by my voete
sy het geval
’n tand gebreek haar mond gesny
ek vang weer jou laaste flikkering anderkant asem
ek vat jou hand
wat stadig sterf
die kat haal asem
op die wit duvet
in haar rus
lewe sy
ek het gedink om na jou toe te kom
dalk kry ek jou rusplek
langs ’n voetpad
tussen verweg sterre
ons kyk op en sien
doringbome
van ver af skitterblink
haar voetjies droom soos handjies
haar stert krul om die wêreld
haar oortjies is wagtorings
in die stilte in

