Die kat kom terug

  • 0
Koop Billy Bragg & Wilco se Mermaid Avenue by Kalahari.com.

Billy Bragg & Wilco: Mermaid Avenue

Toe die legendariese Amerikaanse folk-sanger Woody Guthrie se gesondheid in die vroeë jare sestig begin ingee het, het hy dikwels besoek van ’n baie jong Bob Dylan ontvang. ’n Vriendskap het ontwikkel. Guthrie het Dylan ’n hoop ongebruikte, ongepubliseerde lirieke gewys en gesê as hy die dag dood is, kon Dylan dit kom haal en gebruik.

Guthrie is in 1967 dood, en toe Dylan die lirieke wou afhaal, het Guthrie se seun, Arlo, geweier dat Dylan by die huis inkom. Dylan het gesê de moer daarmee, ’n lang zol geswaai en Highway 61 Revisited gaan klaarmaak.

In 1992 het een van Guthrie se ander kinders, Nora, vir die Britse sanger Billy Bragg gevra of hy kans sien om musiek te skryf vir die lirieke. Hy was ’n bok vir sports en het sy vriende in die Amerikaanse groep Wilco gevra of hulle wil meedoen.

En so het Mermaid Avenue tot stand gekom. In plaas van saam te werk, het hulle die liedjies verdeel en afsonderlik musiek daarvoor geskryf. Hier en daar het ’n stel lirieke hulle baasgeraak, en dan het hulle die musiek saam geskryf (“Hoodoo Voodoo”, byvoorbeeld).

En toe het hulle dit saam opgeneem.

Ek gee toe dat ek meer van Wilco hou as van Bragg, maar hierdie album is ’n samesmelting van albei se style en goeie hoedanighede. Dis ’n groot plaat, met musiek van ons era eerder as Guthrie s’n.

En tog is daar ’n onmiskenbare Guthrie-gees wat deurstraal. Die rede daarvoor lê opgesluit in die lirieke self. Guthrie was ’n folk-sanger wat met ’n spesifieke ritmiese aanslag en lengte van versreëls gewerk het. Hy sou ’n totale fokop gemaak het van Roy Harper se Stormcock.

Guthrie werk met die herhalende patrone van folk-musiek, die soort liedjiestrukture wat ook die jong Dylan se musiek so formeel laat aandoen – “Come you Masters of War” en daai moves. Hy is nie verhewe bo die vraag-en-antwoord-liedjie nie (vgl die ongelooflike “Walt Whitman’s Niece”), en sy temas is dikwels geanker in die soort romantiek wat eie was aan die musiek van die jare vyftig, voordat Pete Seeger en Guthrie die nuwe geslag geïnspireer het om weird musiek te maak (“Birds and Ships”).

Dan is daar ook ’n gawe knypie politiek uit die laaste jare van Guthrie se aardse bestaan (“Eisler on the go”), en ’n interessante kykie op die ou Americana van “The Streets of Laredo” in die liedjie “The Unwelcome Guest”. Van laasgenoemde gepraat: daar is darem niks soos ’n geil pedal steel guitar op sy tyd en plek nie.

Gaan soek gerus hierna. Dit behoort tans meer volop te wees, omdat dit heruitgereik is saam met ’n tweede album van liedjies uit Bragg en Wilco se opnames. Dit heet Mermaid Avenue: The Complete Sessions.

Nuwe uitreikings deur ou bekendes

Willie Nelson (79) bly steeds die immergroen rebel. Op sy jongste album, Heroes, heet een van die snitte “Roll Me Up And Smoke Me When I Die”.  Nelson word op die album bygestaan deur ’n paar mense wat nie so oud soos hy is nie (Sheryl Crow, Snoop Dogg), maar ook deur ’n paar mense wat met hul looprame by die ateljee opgedaag het (Kris Kristofferson, Merle Haggard).

Patti Smith (66) was agt jaar laas in die ateljees gewees. Maar sy is duidelik erg gestimuleer deur die welslae van haar memoir, Just Kids, en haar optrede in Jean-Luc Godard se rolprent Film Socialisme. Gevolglik kan ons uitsien na ’n nuwe album deur Smith, getiteld Banga. Een van die kitaarspelers daarop is ’n minnaar van jare gelede, Tom Verlaine.

Smashing Pumpkins: Billy Corgan (45) lei sy groep terug na die strydperk met Oceania. Dis hul negende ateljee-album, en volgens die Amerikaanse kritici die groep se beste album ooit. “More synth, less snarl” (Boston Phoenix).

The Beach Boys – That’s Why God Made the Radio:  Ek’s ’n lewenslange bewonderaar, en was bly toe hierdie album sommer binne ’n week Billboard se Top 10 gehaal het. Dit klink goed, selfs uitstekend, maar hier’s die aaklige waarheid. Die oorspronklike lede is almal tussen 65 en 70 jaar oud, en die meeste van hul sang is sterk ondersteun deur die lede van Brian Wilson se groep, veral Darian Sahanaja en Jeff Foskett. Kom ons gee dan maar krediet aan Brian Wilson se produksieleiding.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top