
Foto: Canva
Die karwag
Maria is net soos haar heilige naamgenoot nie van smart gespaar nie.
Drie maande na haar man se dood het sy by haar dogter se oop graf gestaan. Haar enigste erfenis was vier jong kinders wat sy moes versorg.
Die verroeste Datsun-bakkie stop voor Simm & Seuns. Maria se oë is geswel en haar skouers hang swaar.
Die jongste twee kinders sit op ’n kombers voor die bakkie en speel met los klippies. Al die vensters, asook die canopy-deur word oopgemaak vir lug teen die versengende Desemberhitte.
“Môre, Meneer.”
“Môre, Maria.”
Die winkelier kyk haar agterna.
Sy vee vir hom die winkel skoon voordat haar skof op die parkeerterrein om 7:00 begin.
“My vrou het ’n kospakkie gestuur, Maria.”
“Baie dankie, Meneer.”
Maria was die vloer en ook die stoep. Die kliënte moenie kla dat Meneer Simm se winkel vuil is nie.
Kwart-voor-een ry Maria om die ander twee kinders by die skool te gaan haal.
Toe sy terugkom, ry sy die bakkie agteruit tot onder een van die skadunet-parkeerplekke.
“Wie gee jou die reg om hier te parkeer,” skree Daan Botha. “Betaal jy my miskien per maand?”
“Die kinders kry so warm, Meneer.”
“Vat jou gebroedsels en skoert.”
Maria ry vorentoe.
Die kinders sit in ’n ry voor die bakkie. Elkeen kry ’n broodjie. Daarna stuur hulle ’n glasie om vir ’n slukkie aanmaakkoeldrank.
Die twee ouer kinders maak hul boeke oop en doen huiswerk. Hulle maak beurte om hul gesig met die klam lap af te vee.
Die volgende paar dae is Maria vroeër as gewoonlik op haar pos. Haar blou oë is minder geswel en ’n glimlag speel om haar mondhoeke.
Meneer Simm kyk stip na Maria, maar sê niks.
“Seker nie geld vir drank nie,” skinder mense agter toe hande.
“Seker ’n nuwe kêrel.”
Maria neem dankbaar elke fooitjie wat sy verdien.
’n Ouerige dame sit ’n noot in Maria se hand.
“Baie dankie, Mevrou.”
Die vrou glimlag.
“Mevrou.”
“Ja, Maria?”
“Mevrou, ek het gedroom ek is in die hemel.”
“Dis mooi, Maria.”
“Iemand het gesê Hy is lief vir my.”

