Die Kaptein se Tier

  • 0

Neels van Jaarsveld en Owen Sejake in ’n opvoering van Die Kaptein se Tier (Foto: Albert Maritz)

Athol Fugard het vir Antjie Krog gevra om sy drama The Captain’s Tiger in Afrikaans te vertaal. Fugard het in Junie 2022 sy 90ste verjaarsdag gevier, en om dié spesiale geleentheid te gedenk plaas LitNet ’n uittreksel uit Krog se vertaling van die teks.

Uittreksel: Die Kaptein se Tier

Athol Fugard
(vertaal deur Antjie Krog)

My ma het nooit moeg geword om vir my die storie te vertel van hoedat sy, toe sy die eerste keer van Middelburg na Port Elizabeth gekom het, verlief geraak het op ’n aantreklike jong man wat klavier gespeel het in die Palmerston Hotel-salon en uiteindelik met hom getroud is nie.
      - Athol Fugard, Cousins

Persone
Die skrywer
Die Tier … die skrywer as ’n jong man
Donkieman … ’n Swahili-bemanningslid van die SS Graigaur
Bettie … ’n foto van sy ma as ’n jong meisie

 

EERSTE TONEEL

Die verhoog. DIE SKRYWER kom op en lui die skeepsklok agt keer.

SKRYWER [aan die gehoor]: Agt keer. Einde van die wagbeurt.

Verbeel jou jy’s aan die stuur van ’n ou vragskip wat stadig oor die Stille Oseaan vaar. Dis die Deadman’s Watch, middernag tot vieruur die oggend, so die stuurkajuit is dof verlig. Reg voor jou gloei die kompaspaneel. Dan en wan kyk jy vlugtig daarna om te sien of alles nog op koers is, maar meestal staar jy uit in die donkerte, sien jy hoe die trotse voormas die sterre vee as die skip sagkens van kant tot kant wieg. Dit is ’n kalm, helder nag en ’n gemaklike draai van die stuur is al wat nodig is om teen die effense deining koers te hou. Die matroos wat by jou oorvat as stuurman, staan langs jou. Jy gee vir hom die kompaslesing en hy herhaal dit net om seker te maak. Jy groet die offisiere en gaan dan af na die skeepskombuis vir ’n koppie sterk, warm tee, en omdat dit so ’n soort nag is, sit jy buite op die dek, miskien sommer op een van die toupale, en drink jou tee en dink jou eie gedagtes terwyl die skip onwrikbaar voortseil met sy boeg wat oplig en sak in ’n ritme so verleidelik soos daardie heupe wat jou in die vorige hawe so ’n goeie tyd gegee het.

Dit is hoe ek sommige van my nagte aan boord van die SS Graigaur onthou. “Graigaur” … ’n Walliese woord. Dit beteken “rots van goud”, maar teen die tyd dat ek by hulle aangesluit het in 1952, het die skip meer na ’n rots van roes gelyk … ’n ou vragsoeker … enige vrag, enige plek … ’n ware seeswerwer.

Toe ek die skip die eerste maal sien, was sy vasgemeer in die hawe van Port Sudan om ’n vrag sout te laai vir Japan. Ek het daardie tyd absoluut niks van skepe geweet nie, dus het dit vir my, van waar ek op die kaai staan en kyk het, baie indrukwekkend gelyk so met die hawe se hyskraan wat sulke stortvloede van glinsterende wit kristalle in haar ruimtes instort. In elk geval, jy kan nie ’n dame soos sy leer ken terwyl sy vasgeboei aan swaar vasmeertoue in ’n stagnante hawekom staan en hordes hawewerkers oor haar krioel nie. Daarvoor moet jy saam met haar op die oop see wees.

Ek het my kans wel ’n paar dae later gekry toe die laaste vasmeertou afgegooi is en die sleepbote haar van die aanlêplek begin wegtrek en omswaai na die opening in die breekwater. Die beeld wat by my opgekom het terwyl ek so daar op die dek staan, en wat nog steeds vir my by haar pas, is dié van ’n oeroue, blinde monster: ’n Diep gerammel styg uit haar maag op soos sy rondsnuffel, lomp op soek na ’n ontsnaproete. Wanneer sy dit eindelik vind en verby die breekwater glip en haar boeg in die vryheid van die oop see doop, dan voel ek iets soos ’n rilling deur haar geroeste ou karkas tril.

Die reis begin.

Ek is twintig jaar oud.

 

TWEEDE TONEEL

Nommer 4-skeepsluik van die SS Graigaur; ’n klein opvouspeeltafeltjie, ’n boks om op te sit, ’n stapel papier, ’n vulpen en ink.

TIER [besig om ’n brief aan sy ma te skryf]:

SS Graigaur
Êrens in die Rooi See
17 Augustus 1952

Liewe Ma

Ek hoop van harte dat Ma nie flou geval het toe Ma die adres boaan die brief sien nie. Dis allesbehalwe ’n grap. Dinge in my lewe het dramaties ontwikkel. Ek skryf hierdie brief aan boord van die stoomskip Graigaur wat op pad is Japan toe.

Net toe ek begin dink my enigste hoop om uit Port Sudan weg te kom, sal maar wees om my te versteek in een van die skepe wat na Engeland op pad is, ontmoet ek kaptein Hersee in die kroeg van die Rooi See Hotel. Ons begin gesels en toe hy van my dilemma hoor, bied hy aan om my aan boord te neem as ’n soort ekstra bemanningslid. Dit beteken dat ek ’n sjieling ’n maand kry, ’n gemaklike kajuitbed in die siekeboeg en drie fantastiese goeie maaltye per dag, en in ruil daarvoor moet ek na die kaptein omsien  … sy kajuit skoonmaak, sy bed opmaak,  sy wasgoed doen, sy kos bedien … ’n soort glorified servant. Sê tog vir Dad dat ek nou in matroostaal bekend staan as Die Kaptein se Tier. Ek het ’n gevoel ons twee gaan baie goed regkom. Dis nog maar net ’n paar dae wat ek aan boord is en het dus nog nie kennis gemaak met die res van die bemanning nie. Die offisiere is wit en die matrose ’n regte pak liquorice allsorts … swart, bruin, geel.

Maar die belangrike nuus, Ma, is dat afgesien daarvan dat ek die wêreld sien, dit nou die geleentheid is om die belofte na te kom wat ek teenoor Ma gemaak het – en dit is om tot rus te kom en ernstig te begin skryf. Ek is nou reg daarvoor. Geen kortverhale of gedigte meer nie – ek mik nou vir die groot een, ’n roman à la Tolstoi, en dit gaan wees oor ’n pragtige Afrikaner-meisie van ’n klein Karoo-dorpie in ’n wit rok. Herken Ma haar? Dis reg! Dis die foto van Ma as ’n jong meisie wat in Ma se slaapkamer hang. Dit gaan my inspirasie wees. Ek gaan al die stories wat Ma my van Ma se lewe vertel het en van wat Ma eendag alles wou doen, saamweef, maar hierdie keer gaan al die drome wat jy gekoester het, waar word. Sodra ek hierdie brief klaar geskryf het – ek skryf dit op die dek buite die siekeboeg, want dis helwarm, Ma – gaan my eerste skryfsessie begin.

Ek pos hierdie brief in Aden. Net nadat ons by Colombo, die hoofstad van Ceylon en die volgende hawe, aangedoen het. Sê vir Pa hy moet ’n kaart kry en dan met ’n rooi potlood en liniaal reguit lyne trek en al die plekke wat ek in my briewe noem, verbind. So kan hy al my reise en avonture volg. Dit gee hom iets om te doen. Van hom gepraat, hoe gaan dit met hom?

Dus Ma: eers Afrika, en nou die wêreld! Die groot avontuur gaan voort.

Jou liefhebbende seun

Die Kaptein se Tier.

Hy vou die brief op en sit dit in ’n koevert wat hy adresseer. Dan berei hy alles met noukeurige sorg vir die eerste skryfsessie voor … maak die vulpen vol ink, rangskik die papier, skuif sy stoel na verskillende kante van die tafel, ensovoorts. Terwyl hy daarmee besig is, verskyn DONKIEMAN op dek. Hy is ’n groot, swart man met woeste gelaatstrekke, ’n kaal bolyf, en hy dra ’n kortbroek en sandale, sy hele liggaam glinster van die sweet. Hy het pas vanuit die enjinkamer na bo gekom en vee sy hande af met ’n olierige lap. TIER probeer glimlag en groet bedees. Hy kry geen reaksie nie en keer selfbewus terug na sy skryfaktiwiteit.

’n Titel word spoggerig neergeskryf.

’n Tweede bladsy word genommer en ’n opskrif by die eerste hoofstuk neergeskryf.

DONKIEMAN hou hom ’n paar sekondes dop, verdwyn dan.

TIER [met oë toe, pen gereed, probeer die foto van sy ma as ’n jong meisie so akkuraat moontlik oproep]: Alles wit … elke ding was wit …’n soort slap hoed … met ’n breë rand … die rok byna tot op die enkels … ’n klein snoer kraletjies om haar nek …

BETTIE verskyn. Sy lyk net soos hy haar beskryf het. Sy staan afwagtend stil, geposeer asof vir ’n kamera.

… in die een hand wit handskoene; in die ander ’n boek … outydse skoene met knopies langs die kant af … en sykouse … ook wit …

Hy swyg.

BETTIE: Gaan voort.

TIER [sy oë nog geslote]: Ek het iets uitgelaat, het ek nie?

BETTIE: Ja, jy het.

TIER: Wat?

BETTIE: Ek gaan nie vir jou sê nie. Jy moet raai.

TIER: Linte? Linte in jou hoed?

BETTIE: Nee.

TIER: Juwele miskien … ’n borsspeld … ’n armband …?

BETTIE: Nee.

TIER: Demmit, ek weet daar kort iets.

BETTIE: Gee jy op?

TIER: Nee! Hoed, rok, handskoene, boek … ag orraait, wat is dit?

BETTIE: Jy’t die roos vergeet.

TIER: Natuurlik! By jou middel … aan jou belt!

BETTIE: Dis reg.

TIER [terwyl hy sy oë oopmaak]: Ja, daar is dit. Nogtans, ek het nie te sleg gedoen nie. Net een vermiste item. Die res is alles reg.

 

Hierdie uittreksel sluit aan by LitNet se gedigtereeks met “teater” as tema, en word aangebied om die dramaturg Athol Fugard se 90ste verjaardag in Junie 2022 te vier.

Hierdie reeks word moontlik gemaak deur die ondersteuning van die LW Hiemstra Trust.

Lees al die bydraes deur digters hier:

Athol Fugard 90: Teatergedigte

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top