Die Kaapse kerk en die Boereoorlog

  • 5

Die Kaapse kerk en die Boereoorlog

Vincent Brümmer, Universiteit Stellenbosch

LitNet Akademies Jaargang 12(1)
ISSN 1995-5928

 

Opsomming

Wat was die houding van die Kaapse kerk en sy leiers jeens die Boereoorlog (Anglo-Boereoorlog / Suid-Afrikaanse Oorlog)? In hierdie artikel word probeer om vier punte te illustreer na aanleiding van die redeneringe van die Kaapse kerkleiers soos dit gerapporteer was in die belangrikste kerkblaaie van daardie tyd, naamlik De Kerkbode (die amptelike blad van die Kaapse kerk) en die Gereformeerd Maandblad (die teologiese blad van die Kerk). Die punte wat ondersoek word, is: (1) die solidariteit van die Kaapse kerk met die Boererepublieke en die maniere waarop aan hierdie solidariteit uiting gegee is; (2) die bestryding van die “rassehaat” tussen Afrikaners en Engelse wat vir die Kaapse kerkleiers verreweg die mees skadelike gevolg van die oorlog was; (3) die lojaliteit van die Kaapse kerk aan koningin Victoria en aan die Britse Ryk; en (4) die verskil in die manier waarop respektiewelik die Republikeinse leiers en die leiers van die Kaapse kerk die Vrede van Vereeniging in 1902 beleef het.


Abstract

The Cape Church and the Anglo-Boer War

What was the attitude of the Dutch Reformed Church in the Cape Colony towards the Anglo-Boer War (South African War) (1899–1902)? The aim of this paper is not merely to report on the attitude of the Cape church, but to illustrate it with extended quotations from statements made by its leaders as these were published or reported mainly in the two most important journals of the church: De Kerkbode, which was the official weekly journal of the church, and Gereformeerd Maandblad, the monthly theological journal of the church edited by J.I. Marais and C.F.J. Muller of the church’s theological seminary in Stellenbosch. Looking back from a contemporary perspective, the attitude of the church as expressed by its leaders seems remarkably ambivalent. On the one hand their sympathies were obviously with the Boers in the Republics. They shared the same ancestry, the same faith and the same language. On the other hand they were loyal subjects of Queen Victoria and felt at home in the British Empire. They did not, therefore, share the republican ideals of the Boers in the Republics. This paper will illustrate this ambivalence by discussing the following four points: (1) the various ways in which the leaders of the Cape church expressed their solidarity with the Boers; (2) their attempts to counter the growing estrangement between the Afrikaans and the English sections in South Africa as a result of the war; (3) their expressions of loyalty to Queen Victoria and the British Empire; and (4) the way they responded to the Peace of Vereeniging in 1902 and how this differed from the response of the republican Boers.

The church leaders in the Cape expressed their solidarity with the Boers in mainly three ways: In line with their pietistic tradition, they first of all tried to provide spiritual guidance to the Afrikaners in the Cape and the Republics in order to help them cope with the trauma of the war in the light of their faith. Secondly, they repeatedly issued protests against the war in the form of official statements and memorandums to the colonial authorities, and also by distributing an interesting 24-page pamphlet in Britain in which they tried to counter the often slanderous propaganda against the Afrikaners in the Cape and the Republics. Thirdly, they provided spiritual and material assistance to the Boers in the Republics and the Boer prisoners in British prisoner-of-war camps.

For the leaders of the Cape church the most disastrous effect of the war was that it led to estrangement between the Afrikaner and English sections of the population. In many statements they pleaded for reconciliation between Afrikaners and English and protested against expressions of hatred and enmity from both the Afrikaners and the English.

The loyalty of the Cape church to the queen and the Empire was expressed in a particularly graphic way when Queen Victoria died in 1901, when the war and the suffering of the Boers in the Republics was at its high point. In memorial services in the Cape churches the church leaders expressed their great love and admiration for their beloved queen and their genuine grief at her passing.

The Boers in the Republics experienced the peace of Vereeniging in 1902 as a humiliating defeat. The Cape Afrikaners and the leaders of the Cape church welcomed it with great joy as the termination of the suffering of the war. For the Boers in the Republics the most disastrous result of the war was the loss of their independence from the British Empire. For the leaders of the Cape church the greatest disaster was the estrangement between the Afrikaners and the English. In the years following the war one of the most important features of politics in South Africa was die difference between those who hankered after the restoration of republican independence from the Empire and tried to foster the separate identity of the Afrikaners and those who wanted to reconcile the English and the Afrikaners and to weld them together into one bilingual South African nation with a common South African identity.


1. Inleiding

Wat was die houding van die Kaapse kerk jeens die Boereoorlog (oftewel Anglo-Boereoorlog of Suid-Afrikaanse Oorlog)?1 Hierdie vraag word beantwoord aan die hand van die uitsprake van kerkleiers2 veral in die vernaamste kerkblaaie van daardie tyd, naamlik De Kerkbode (die amptelike blad van die Kaapse kerk) en die Gereformeerd Maandblad (die teologiese tydskrif van die kerk onder redaksie van J.I. Marais en C.F.J. Muller van die Kweekskool op Stellenbosch).

’n Terugblik op die Kaapse kerk gedurende die Boereoorlog wys veral dat die houding van die kerk(leiers) jeens die oorlog op ’n (vir huidige waarnemers) merkwaardige manier dubbelsinnig was. Enersyds was hulle simpatie duidelik by die Boere, terwyl hulle andersyds lojaal gevoel het aan koningin Victoria en die Britse Ryk. Vir hulle was die grootste ramp van die oorlog nie die verlies van onafhanklikheid van die Boererepublieke nie, maar die vervreemding en “rassehaat” tussen Afrikaners en Engelse waartoe die oorlog aanleiding gegee het. Hierdie dubbelsinnige houding word mooi uitgedruk in die memorandum wat die moderatuur op 30 Junie 1899, in die aanloop tot die oorlog, aan die goewerneur van die Kaapkolonie, sir Alfred Milner, gestuur het. Daarin skryf hulle:

Die spanning tussen die Hollandse en Engelse rasse in hierdie Kolonie en in die Transvaal wat die laaste tyd sterk toegeneem het, het ons met groot besorgdheid vervul, en hierdie besorgdheid is verhoog deur die oorlogsugtige houding aangeneem deur ’n invloedryke deel van die plaaslike en die Britse drukpers. … As verkondigers van die Evangelie van vrede, as verteenwoordigers van ’n kerk wat één is in geloof, taal, lidmaatskap en bloedverwantskap met die burgers van die Transvaal en as lojale onderdane van ons geliefde Koningin, wens ons by U Eksellensie aan te dring om niks na te laat wat kan help om aktiewe vyandelikhede te verhinder nie. Ons ys by die gedagte aan die onvermydelike gevolge van só ’n gebeurlikheid. Die rassegevoel tussen Afrikaners en Engelse sal verskerp word, die breuk tussen die twee seksies in ons Suid-Afrikaanse samelewing sal onherstelbaar word, die gehegtheid van Haar Majesteit se lojale Hollandse onderdane sal die mees gedugte skok ondervind wat dit nog ooit ondergaan het, en die hoop op ’n verenigde Suid-Afrika sal vir altyd verdwyn. (De Kerkbode, 10 Augustus 1899, ble. 495–6).3

Hierdie memorandum is onderteken deur J.H. Hofmeyr (moderator), A. Moorrees (assessor), J.J. Kotze (aktuarius) en C.F.J. Muller (skriba). Moorrees en Muller was later professore aan die Kweekskool.

Die belangrikste punte in hierdie memorandum is die volgende: Eerstens voel die leiers van die Kaapse kerk in geloof, taal en afkoms sterk verwant aan die Transvaalse Boere. Dit is duidelik dat hulle simpatie in die oorlogsdreiging by die Transvaalse Boere lê. Dit beteken, tweedens, egter nie dat hulle die republikeinse ideale van die Boere gedeel het nie. Inteendeel, hulle beskou hulleself as lojale onderdane van hulle “geliefde Koningin”. Hulle grootste sorg is, derdens, dat ’n oorlog tussen Engeland en die Boererepublieke sou lei tot ’n onherstelbare breuk tussen Afrikaners en Engelse, die twee “rasse” in die Suid-Afrikaanse samelewing.

Hierdie punte kan nader toegelig word met verwysing na die uitsprake van die Kaapse kerkleiers in De Kerkbode en die Gereformeerd Maandblad. Hierdie twee tydskrifte was verreweg die belangrikste spreekbuise waarin die kerkleiers hulle standpunte uitgespreek het en waar die gevoelens en opvattings wat in die Kaapse kerk geleef het, tot uitdrukking gekom het. Ook interessant is ’n pamflet wat die Kaapse kerkleiers in 1900 in Engeland uitgegee het waarin hulle die standpunt van die Kaapse kerk oor die oorlog verdedig het en probeer het om te antwoord op die lasterlike propaganda wat gedurende die oorlog in Engeland teen sowel die Kaapse as die Republikeinse Afrikaners versprei is (Hofmeyr 1900). Dit is veral belangrik om die standpunte van die Kaapse kerkleiers getrou weer te gee en om aan te toon hoe hulle vir hierdie standpunte geredeneer het. Vir hierdie doel is dit noodsaaklik om hulle standpunte en argumente in hulle eie woorde weer te gee. Bowendien kan hulle gevoelens en emosies oor die oorlog alleen in hulle eie woorde toereikend weergegee word. Om hierdie rede word in die onderstaande ondersoek gebruik gemaak van uitvoerige aanhalings en nie volstaan met ’n interpretasie of opsomming van hul standpunte nie.

Veral die volgende punte word ondersoek: eerstens die solidariteit met die Boererepublieke; tweedens die bestryding van “rassehaat” tussen Afrikaners en Engelse; derdens lojaliteit aan koningin Victoria; en, vierdens, reaksie op die vrede in 1902.


2. Solidariteit met die Boererepublieke

Die Kaapse kerk het tydens die oorlog intens meegeleef met die Boererepublieke. Hierdie solidariteit het veral op drie maniere tot uiting gekom: troos en bemoediging vanuit die geloof, protes teen die oorlog en hulp aan die slagoffers van die oorlog.

2.1 Troos en bemoediging vanuit die geloof

In ooreenstemming met sy piëtistiese tradisie (Brümmer 2013) het die Kaapse kerk probeer om gelowiges in die Kaap en ook in die republieke te help om die trauma van die oorlog vanuit hulle geloof te verwerk. In Augustus 1899, nog voor die begin van die oorlog, het die moderatuur alle gemeentes opgeroep tot ’n “dag van verootmoediging en gebed”:

Baie rampe tref ons, en die grootste wat oor ons kan kom, bedreig ons, naamlik ’n oorlog tussen die Ryk waaronder ons staan en ons broeders na die vlees en na die gees in die Transvaal. … Laat ons Sondag 20 Augustus wy aan ’n dag waarop ons Gods aangesig soek en ernstig om vergewing van ons sondes, die afwending van die oorlog en die seëninge van vrede en eendrag vir Suid-Afrika smeek. Hy sal ons genadig wees en ons gebede nie tevergeefs laat wees nie. (De Kerkbode, 10 Augustus 1899, bl. 496)

In die verslag in De Kerkbode van 24 Augustus 1899, bl. 530, is vermeld dat hierdie dag van verootmoediging en gebed in die Kerk “algemeen en met groot erns waargeneem is”. In die preke by hierdie geleenthede is daar

met vermyding van die politieke toestand, vir sover dit moontlik was, gewys op die plig van verootmoediging weens sonde, oor die vreeslike gevolge van ’n oorlog waarvoor daar geen genoegsame oorsaak bestaan nie, en op vertroue in die God van vrede wat nie sal beskaam nie. Ook in die Vrystaat en die Transvaal is hierdie dag as een van boete en gebed waargeneem.

Aan die einde van 1900 het die moderatuur die kerklidmate weer opgeroep tot so ’n dag van gebed, en daar was selfs sprake daarvan dat dit uitgebrei sou word tot ’n “week van verootmoediging en gebed” (De Kerkbode, 27 Desember 1900, bl. 803).

In dieselfde gees het De Kerkbode reëlmatig probeer om gelowiges te help om die ramp van die oorlog vanuit hulle geloof te verwerk. ’n Goeie voorbeeld hiervan is die “Woord voor den Oorlogstijd” in De Kerkbode van 4 Januarie 1900, ble. 5–9,waarin die skrywer (waarskynlik die redakteur) ’n lang oordenking skryf waarin gelowiges opgeroep word om nie moedeloos te word nie, maar te vertrou op die krag van die gebed:

Laat ons ons harte meer vir die lig van Sy Woord en Gees oopstel en leer om meer gehoorsaam te wees aan die duidelike voorskrifte van Sy Woord en die tere leiding van Sy Gees. Indien ons só handel, sal ons vrede in ons land hê, en dit baie spoedig. Mag die Here dit gee! Amen.

So ook verskyn daar op 22 Februarie 1900, ble. 117–22, in De Kerkbode “Een Woord naar aanleiding van de omstandigheden des lands”. Hierdie preek (die skrywer word nie vermeld nie) is gelewer in Oktober 1899, net na die uitbreek van die oorlog:

Duisende in Suid-Afrika is in diepe droefheid gedompel. Hulle is met vrees vervul. Hulle gaan die toekoms met angs tegemoet. Hulle verkeer in gevaar om alles te verloor wat die mens hier op aarde dierbaar ag: hulle aardse besittings, hulle vryheid, hulle bloedverwante, hulle lewe. Wie kan die lyding beskryf van duisende angstige, tere, liefdevolle moederharte in hierdie pynlike dae! Ons het daarom behoefte aan vertroosting en bemoediging.

Die preek wat hierop volg, probeer om uitgebreid vanuit die geloof hierdie “vertroosting en bemoediging” te bied.

2.2 Protes teen die oorlog

Die kerkleiers het herhaaldelik sterk proteste laat hoor teen die oorlog in die algemeen en ook teen die manier waarop die oorlog gevoer is. ’n Goeie voorbeeld hiervan is die ope brief wat Andrew Murray vlak voor die uitbreek van die oorlog in Ons Land geskryf het. Hierdie brief is ook (op die dag na die uitbreek van die oorlog) opgeneem in De Kerkbode van 12 Oktober 1899, ble. 648–9.

In sy antwoord op die memorandum van die moderatuur van die kerk in Junie 1899 was sir Alfred Milner se standpunt:

’n Kragtige oorsaak van die teenswoordige onrus bestaan in die feit dat ’n groot en invloedryke deel van die blanke bevolking in die Transvaal beroof is van elke aandeel in die regering van die land en ly onder ’n gevoel van ongelykheid en onreg. Hy [Milner] glo dat hy, deur te soek na ’n middel teen hierdie stand van sake, probeer om die grootste struikelblok te verwyder wat in die weg staan van die vriendskaplike gevoel en harmoniese samewerking van die twee vernaamste blanke rasse in Suid-Afrika waarvan die welvaart van Suid-Afrika afhang. (De Kerkbode, 10 Augustus 1899, bl. 496)

Murray stem nie saam met hierdie diagnose nie. Hy argumenteer dat die oorlog eerstens onnodig is omdat die geskil oor die uitlanders ook deur arbitrasie opgelos kan word, en tweedens dat dit om ander motiewe deur Engeland gevoer word. Die uitlander-stemreg is alleen maar ’n verskoning en nie die eintlike rede vir die oorlog nie. Hy skryf:

As die oudste leraar in die NG Kerk, as iemand bekend, en soms selfs verkeerd beoordeel deur my eie volk weens my lojaliteit aan die Britse belange, as iemand wat in Engeland nie onbekend is as ’n leraar en ’n werker in die diens van die Heer en van die menslikheid nie, waag ek dit, op die dringende versoek van baie mense in die land, om hierdie beroep te doen ten gunste van die vrede. Ek smeek die regeerders en die volk van die grootste Christelike nasie in die wêreld om nie oorlog te maak met die jongste en kleinste van haar vrye state nie.

Wat is dit wat die oorlog nodig maak? Nie die susereiniteit van die koningin nie. … Selfs al sou hierdie susereiniteit bestaan, is die betekenis daarvan te vaag om bloedstorting vir die onderhouding daarvan nodig te maak. Britse heerskappy en oppergesag in Suid-Afrika is nie die oorsaak van die oorlog nie. Dit was nie prysgegee toe onafhanklikheid [in 1881] aan die republiek gegee is nie, en dit word ook nie ontken nie.

Die stemreg is nie die oorsaak van die oorlog nie. ’n Sewejaar-stemreg is toegestaan, en skikkings is getref vir ’n vyfjaar-stemreg.

Die enigste oorsaak van die oorlog is die onafhanklikheid van die republiek wat weier om aan haar te laat dikteer aangaande haar binnelandse sake. Sy is gewillig om besprekings en vriendelike raadgewing toe te laat. Sy het getoon dat sy bereid is om daarop te handel en het toegestem tot ’n gesamentlike kommissie van ondersoek. Die enigste doel van die organiseerders van die agitasie wat gelei het tot die oorlog is om die onafhanklikheid van die republiek te vernietig deur langsamerhand aan die uitlanders ’n oorwegende invloed te gee of om die republiek tot ’n Britse kolonie te maak.

Die begeerte van Engeland om regverdig en grootmoedig te wees in Suid-Afrika word dikwels ondermyn deur ’n onvermoë om die Afrikaner Boer en die sterkte van sy liefde tot vryheid te verstaan of om te simpatiseer met sy aspirasies en sy vertroue te wen. Dit was hieraan te wyte dat die anneksasie [in 1877–81] so hopeloos misluk het en tot so ’n ramp gelei het. … Dit is dieselfde neiging wat die oorsprong van hierdie oorlog is; dit kan tot niks anders as nog vreesliker rampe en verwoesting lei nie, vir Suid-Afrika en vir die Ryk. …

Ek smeek die Britse volk ten behoewe van honderdduisende van die Hollandssprekende bevolking wat tot ons Kerk in hierdie kolonie behoort, om stil te staan en ’n ander politiek te volg. Ek vra of die nasie wat in die hele wêreld die hardste roem op haar vryheid en op wat sy gedoen het vir vryheid, nie die vryheid van die republiek behoort te beskou as heilig en net so onskendbaar as haar eie, en dit die basis te maak van al haar onderhandelinge nie? …

Ek glo met my hele hart dat Engeland in baie opsigte die edelste en die mees Christelike volk in die wêreld is, die grootste mag ten goede en ten kwade. Ek kan nie glo dat die Engelse kabinet indien dit nie mislei is deur eensydige en valse voorstellings aangaande die noodsaaklikheid, die duur en die resultaat van oorlog nie, ooit daarmee sou gedreig het nie. Ek kan nie glo dat die Engelse volk sy toestemming tot ’n oorlog sal gee wat, selfs as Engeland sou oorwin, in niks anders kan eindig nie as die verdelging van twee vrye republieke, in die dood van tienduisende manne wat besluit het om te sterf vir hulle vryheid, in die vervreemding van ons hele volk en in die ewigdurende rassehaat vir baie nageslagte. …

Daar is duisende godvresende mense in hierdie land wat onafgebroke bid vir vrede. Ek roep tot al Gods kinders:– Kniel neer langs ons, verenig u as één met ons en kyk of ons God nie nog uitredding sal skenk nie.

Kortom: volgens Murray is die uitlander-stemreg alleen maar ’n verskoning vir die oorlog. Die eintlike rede is die Engelse imperialistiese ambisies wat die Transvaal sy onafhanklikheid nie gun nie en daarom die mislukte anneksasie van die Transvaal in 1881 nog steeds wil omkeer.

In die Gereformeerd Maandblad het J.I. Marais dit nog meer eksplisiet gestel: die oorlog is bedoel om wraak te neem oor die Engelse nederlaag by Majuba:

Niks onwaardigers is denkbaar as dat ’n groot Ryk negentien jaar lank ’n nederlaag onthou en ’n oorlog ter vernietiging van ’n republiek regverdig deur die begeerte om wraak te neem oor die terugslaan van één regiment in ’n skermutseling op die grens nie. Hoe dikwels moet die son ondergaan op ons wraak sedert 1881! (Gereformeerd Maandblad, Maart 1900, bl. 133. Sien ook Gereformeerd Maandblad Augustus 1899, bl. 53.)

Die Kaapse kerkleiers was veral teleurgesteld oor die houding van die kerke in Engeland ten aansien van die oorlog. Van die Christene in Engeland met wie hulle hulle geestelik verwant gevoel het, het hulle meer simpatie verwag. In die loop van 1900 het hulle ’n uitgebreide pamflet onder die titel The Dutch Reformed Church and the Boers in Engeland laat versprei waarin hulle hulle houding ten aansien van die oorlog verdedig het. Die pamflet begin met die volgende woorde:

The undersigned, ministers of the Dutch Reformed Church in South Africa, occupying influential positions within that body, consider it their duty to give public expression to their views regarding the present war between Her Majesty’s Government and the two Republics, and openly protest against the many misrepresentations which have tended to increase the bitterness now existing between the two white races in this country.

In die pamflet word enersyds uitgebreid verklaar dat die Kaapse Afrikaners lojale onderdane van koningin Victoria is en andersyds sterk geprotesteer teen die oorlog. ’n Groot deel van die pamflet word gewy aan die beantwoording van die baie lasterlike wanvoorstellings wat in Engeland versprei word oor die Afrikaners in die Kaap en in die Republieke en word veral die sendingwerk van die Kaapse kerk uitgebreid verdedig. Die pamflet was onderteken deur J.H. Hofmeyr, A. Moorrees, A. Murray, J.H. Neethling, N.J. Hofmeyr, J.I. Marais, P.G.J. de Vos, C.F.J. Muller, A.I. Steytler en J.P. van Heerden "as representing the Moderamen of the Church, its Foreign Missions Committee and the senior congregation of Cape Town".

In November 1900 is daar ’n predikantekonferensie op Stellenbosch gehou “ten einde die haglike toestand waarin Suid-Afrika tans verkeer in ernstige en biddende oorweging te neem”. ’n Verslag van die konferensie het verskyn in die De Kerkbode van 6 Desember 1900, ble. 755–7. Teen daardie tyd het die Engelse reeds Bloemfontein en Pretoria beset en het die oorlog in ’n guerrillastryd verander, waarop die Engelse geantwoord het met konsentrasiekampe vir die vrouens en kinders van die Boere. Die predikantekonferensie het besluit om ’n verklaring op te stel waarin hulle ten sterkste protesteer teen die Engelse se manier van oorlogvoering, wat in stryd was met die Haagse Vredeskonvensie, wat ook deur die Britse regering onderteken is. In die verklaring, onderteken deur ds. J.R. Albertyn en die Kweekskoolprofessore Hofmeyr, Marais, De Vos en Muller, lees ons die volgende:

Eerstens verklaar ons plegtig dat ons, sowel as die orige predikante van die N.G. Kerk in die algemeen, niks gedoen het om hierdie oorlog in die lewe te roep of die bestaande beroering in die Kolonie te veroorsaak nie. Ons het alles in ons vermoë gedoen om die oorlog af te weer en so alle bitterheid van gevoel wat onvermydelik daaruit gebore word, te voorkom. … Ons verklaar ook nadruklik dat ons binne ons konstitusionele regte handel wanneer ons ons innige oortuiging uitspreek aangaande die onregverdigheid van die oorlog, of ons simpatie betuig met ons stam- en geesverwante in die Republieke. … Ons bekragtig opnuut wat vroeër meermale in ons naam getuig is, aangaande die onnodigheid van hierdie oorlog; aangaande die moontlikheid om die bestaande geskil deur arbitrasie in die gees van die Haagse Konvensie op te los; en aangaande die verskriklike gevolge van só ’n oorlog vir die hele Suid-Afrika. Ons betreur dit ten diepste dat daar geen gehoor gegee is aan hierdie waarskuwings en smekinge nie, en noudat hierdie verskriklike gevolge reeds gesien word, verklaar ons nogmaals dat daar na ons oordeel geen ander middel is om ’n einde aan die bestaande rampe te maak en aan Suid-Afrika ’n duursame vrede te besorg nie, as om die twee republieke hulle vryheid te laat behou. … Die magtige Engeland het tog waarlik nie die klein strokie grond nodig wat vir ons broeders hulle alles is nie. …

Ons veroordeel die manier van oorlogvoering nie minder as die oorlog self nie, en wys in besonder op die volgende feite:

(1) Die verbanning van predikante en die ontwyding van kerkgeboue …

(2) Die vernieling van eiendomme …, en

(3) Die verbanning van vroue en kinders. …

Onder die vreeslike leuse: Bring julle manne tot onderwerping of sterf van honger! word vroue en kinders van alle lewensmiddele beroof, terwyl ’n aansienlike aantal vroue as krygsgevangenes weggevoer en in kampe geplaas word, deur soldate bewaak en met hulle kinders blootgestel word aan die ongemak en gevare wat onvermydelik aan só ’n bestaan verbonde is. Ons verhef ons stem teen hierdie dade as in stryd met die konvensies wat onder beskaafde volke van krag is en veral in stryd is met die beginsels van internasionale reg wat uitdruklik en opnuut deur die Haagse Konferensie bekragtig is en waaraan Engeland op so ’n nadruklike wyse haar goedkeuring geheg het. …

Hierdie verklaring is toe deur ’n afvaardiging van vier predikante, onder wie professor Hofmeyr, as ’n versoekskrif aan die goewerneur van die Kaapkolonie aangebied. Dit het nie veel resultate opgelewer nie.

Sy Eksellensie het die adres aandagtig aangehoor. Hy meen dat daar op niemand in die republieke druk uitgeoefen is om die eed van getrouheid af te lê nie, en dat, in die geheel gesien, die oorlog van beide kante só gevoer is dat dit, na sy oordeel, die humaanste oorlog is wat tot nog toe gevoer is. Hy beloof op ons versoek dat hy ons adres aan haar majesteit sou stuur. (De Kerkbode, 13 Desember 1900, ble. 782–3)

2.3 Hulp aan slagoffers

Benewens troos en bemoediging vanuit die geloof, en herhaalde proteste teen die oorlog, het die Kaapse kerk op verskillende maniere probeer om hulp aan die slagoffers van die oorlog te bied. Hier is twee voorbeelde.

Vanuit die kerk is daar veel gedoen om geestelike versorging en materiële hulp te bied aan die Boerekrygsgevangenes in die kamp op Groenpunt in Kaapstad en ook in St. Helena, Indië en Ceylon. Ds. A.F. Louw, wat die hele oorlog in die kampe op St. Helena deurgebring het, het gereeld breedvoerige en boeiende verslae van sy werk onder die krygsgevangenes in De Kerkbode gepubliseer.

In Oktober 1900 het ’n kommissie bestaande uit die Kweekskoolprofessore Hofmeyr, Marais en Muller, die predikante J.H. Neethling van Stellenbosch, A.A. Louw snr. van die Paarl en Andrew Murray van Wellington, en (as sekretaris) W.J. Viljoen van die Victoria College op Stellenbosch, ’n oproep aan alle predikante, kerkrade en gemeentes van die Kaapse kerk gerig. Hierdie oproep is gepubliseer in De Kerkbode van 22 November 1900, ble. 731–2. Hulle skryf:

Ons is besonder dankbaar en bemoedig deur die hartlike en gulle manier waarop bygedra is tot die verskillende fondse wat byeengebring is in verband met die nood en die ellende wat deur die oorlog teweeggebring is onder ons stam- en geloofsgenote. ’n Beroep het reeds uitgegaan (1) vir die weduwees en wese, (2) vir die gewondes, (3) vir die krygsgevangenes en (4) vir die verarmde koloniste in die distrikte onder krygswet. Soos nooit tevore nie het die harte en beurse van “ons mense” vir mekaar oopgegaan. Hierdie fondse groei dan ook nog steeds aan. Niemand moet sy hande in hierdie saak slap laat hang nie.

Die vraag ontstaan nou egter of die tyd nie aangebreek het om ons aandag te bepaal by ons verarmde mense in Transvaal, die Vrystaat en Natal nie? Dit is onnodig om hier ’n opsomming te gee van alles wat daar reeds onder “ons mense” gebeur het en nog daagliks plaasvind. Na die oorlog sal die aantal verarmde en geruïneerde huisgesinne dié van die wese en weduwees sekerlik oortref: en hulle behoeftes waarskynlik ook van 'n ernstiger aard wees. Baie van hulle sal niks meer as die blote grond hê om op te woon nie, sonder slagvee en sonder trek-diere om mee te ploeg; terwyl baie andere ook ontrief sal wees omdat die huise verbrand en die plase moontlik ook aan hulle ontneem sal wees. …

Daarom het ondergetekendes die vrymoedigheid om andermaal ’n beroep te doen op die goedgunstige medewerking van alle Afrikaners en Afrikaans-gesinde vriende in die Kaapkolonie en elders. Die nood is hoog: en het dikwels reeds tot hongersnood gestyg. … Daarom het ons dit goedgevind om die volgende voor te stel, in die vertroue dat die betrokke persone onmiddellik aan die werk sal gaan: …

Dat elke Predikant en Kerkraad versoek word om dadelik ’n kommissie van kollektante te benoem, om elke plaas en huisgesin in die gemeente te besoek en te kollekteer vir hierdie doel: geld of vee (veral aanteel-vee). … Dat van elke Kerkraad verlang word om vir die gekollekteerde vee (indien dit nie vireers by die gewer kan bly nie) geskikte grond en wagters te vind waar dit voorlopig onder goeie toesig versorg kan word. …

Dat elke Predikantsvrou vriendelik versoek word om ’n susterswerkgroep op tou te sit, met vertakkinge in die verskillende wyke, of in verband met Jeug- of Strewersverenigings, tot die vervaardiging veral van kinderklere, en onderklere vir mans en vrouens. …

Die ondergetekendes voel dat dit hoogs noodsaaklik is om die vereiste goedere en vee so spoedig moontlik aan die noodlydendes te besorg. Maar aangesien die weg hiertoe op die oomblik nog geslote is, moet alle voorsorgmaatreëls op die hier bo beskrewe manier geneem word, om op die kortste kennisgewing die versending van die ingesamelde goedere te verseker. …

Die inisiatief berus dan in elk geval by die Leraar en sy wederhelf saam met die Kerkraadslede en hulle vrouens, in elke gemeente. En sonder aarseling koester die ondergetekendes die hoop dat hierdie broeders en susters met blydskap en waar enigsins moontlik, selfs te midde van die veelvuldige eise van hierdie tyd, die wiel aan die rol sal sit. …


3. Bestryding van “rassehaat” tussen Afrikaners en Engelse

Die oorlog het nie alleen tot die opheffing van die onafhanklikheid van die Boererepublieke gelei nie, maar ook tot verwoesting en ellende in die Republieke. Die Kaapse kerk het dus baie gedoen om hulp en steun te bied aan hulle volks- en geesverwante in die Republieke. Vir die leiers van die Kaapse kerk was die ergste gevolg van die oorlog egter dat dit gelei het tot verwydering en “rassehaat” tussen Afrikaners en Engelse. Hulle het daarom alles in hulle vermoë gedoen om versoening te bepleit en om te protesteer teen alle uitinge van “rassehaat” by albei groepe.

In die Gereformeerd Maandblad het prof. Marais van die Kweekskool herhaaldelik geprotesteer teen uitinge van haat en minagting teenoor die Afrikaners en veral ook teen die kerk van die Afrikaners. Wat hom veral grief, is dat hierdie soort “rassehaat” ook voortkom uit die monde van predikante in die Engelse kerke aan die Kaap. So verwys Marais byvoorbeeld na die toesprake wat gelewer is op ’n openbare vergadering in die Good Hope Hall in Kaapstad:

As die toesprake op hierdie vergadering die mening van die oorgrote meerderheid van ons Engelse medekoloniste sou verteenwoordig, sou ons wanhopig word oor die toekoms van Suid-Afrika. Ons het egter die vertroue dat die invloedrykste en besadigste manne hulle sou skaam oor dit wat hier gesê is. Ons teken protes aan teen dit wat deur ’n gevierde spreker, ’n evangeliedienaar, gesê is en dit is vir ons pynlik dat in die vergadering geen enkele stem van afkeuring gehoor is nie. Die eerwaarde spreker het die griewe van die uitlanders bepleit – waarteen niemand beswaar kan maak nie, indien dit op ’n waardige, fatsoenlike, verstandige en oortuigende manier bespreek sou word. Die spreker het egter te velde getrek teen die Boere in die algemeen en teen die kerk van die Boere in die besonder: “As die Boer ’n seun het wat totaal ongeskik is om enige saak te bedryf, of enige besigheid te onderneem, dan was dit natuurlik om hom af te sonder vir die evangeliebediening (gelag). En indien hierdie mense nou groot, lomp, sleggehumeurde, nuttelose seuns het, dan lyk dit die regte saak om hulle in die Johannesburgse polisie te plaas” (gelag). … Solank evangeliedienaars hulle in sulke woorde uitlaat, en ingang vind by ’n gehoor van Kaapstadse ingesetenes, waaronder baie, miskien selfs die meerderheid, voorgee dat hulle tot ’n Christelike kerkgenootskap behoort, is daar waarlik nie die minste kans tot toenadering en verbroedering nie. … Ons sien in hierdie soort uitlatings die aankweek van rassehaat wat allesbetreurenswaardigs is. (De Kerkbode, Februarie 1899, bl. 152).

In die Gereformeerd Maandblad van Oktober 1899, bl. 87 gee Marais nog ’n paar voorbeelde van hierdie soort “rassehaat” van die kant van Engelse in Suid-Afrika:

Die Christian Express byvoorbeeld spot met ons dag van gebed en verootmoediging, en sou graag ’n oorlog sien ontbrand. ’n Engelse predikant, Rev. Baumgarten, skryf uit Johannesburg oor die boere, wat soos Jakob baie “godsdienstig maar ook baie onsedelik” is, wat in groot getalle na hulle “nagmaal” opkom en as hulle weer huis toe gaan, hulle aan die onsedelikheid oorgee wat by hulle tweede natuur geword het; wat hulle swartes op gewetenlose manier onderdruk; en onder die plak staan van Hollanders wat “nóg godsdienstig nóg sedelik is”, ens. En dan verwonder ons Engelse landgenote hulle dat ons hierdie dinge teenspreek en daaroor verbitterd raak?

Dit is duidelik dat die leiers van die Kaapse kerk veral diep gegrief was oor die feit dat daar gespot is met hulle dag van verootmoediging en gebed. Dit was nie ’n uiting van “rassehaat” net teenoor die Afrikaners nie, maar ook teen die spiritualiteit van hulle kerk – en dit vanuit Engelse kerklike kringe!

’n Paar maande later gee Marais nog ’n voorbeeld hiervan:

Onlangs is daar op Stellenbosch ’n Presbiteriaanse gemeente gestig deur ’n predikant wat uit Johannesburg gevlug het. Nie lank na sy optrede nie het hy hom sterk uitgelaat oor die “sentimentele gesanik” van die N.G. Kerk op haar dag van verootmoediging. Hy is nog jonk en onervare en sal later wel tot ander insigte kom. (Gereformeerd Maandblad, Maart 1900, bl. 132)

Hierdie soort “rassehaat” was egter nie alleen onder die Engelse te vind nie, maar ook onder Afrikaners. ’n Halfjaar vóór die uitbreek van die oorlog skryf Marais onder die kop “Afrikaanse Jingoisme” as volg in die Gereformeerd Maandblad, April 1899, ble. 185–6:

Onlangs het ons geskryf oor ’n vergadering in Kaapstad waar ’n evangeliedienaar hom in smalende terme uitlaat oor ons Boere. … Met diepe smart moet ons nou iets vermeld wat ons onlangs onder oë gekom het, en ons laat sien dat daar in Hollandssprekende kringe ’n bitterheid heers wat haar weerga selfs nie op die berugte vergadering in die “Good Hope Hall” gevind het nie. In die Desember uitgawe van Ons Tijdschrift verskyn daar ’n verhaal van ’n sekere A. J.v.d.W. uit P (waarskynlik Potchefstroom?) aan die slot waarvan die skrywer as profeet optree en op die koelbloedigste manier praat van “’n dag van afrekening tussen Boer en Brit wat sal kom, so seker as die son skyn”. Dan trek hy te velde teen sekere denkbeeldige “verraaiers” wat op daardie dag na vore sal kom. “Vir jare al is hierdie soort verraaiers onder ons volk wat ontrou is aan hulle volk. Verraaiers wat ons volkssedes, ons volkstradisies, ons volkstaal diep verag, verfoei en met die voete vertrap en dit voor die swyne van verbastering en verengelsing, van die aanbidding van ’n vreemde taal werp. … En as die dag van worsteling aanbreek waarna die Afrikanerdom vir altyd óf vry óf kneg sal moet wees, laat daar dan vir die verraaiers geen genade wees nie. … Laat Engeland ons maar die oorlog verklaar, as John Bull ten minste nog so eerlik kan wees. Ons sal dan as God met ons is, staande bly teen haat, verraad en geweld.” Wat sê ons lesers van sulke strydlustige taal? Dit is sekerlik nie bereken om vrede en eensgesindheid in Suid-Afrika te bevorder nie! Deur sulke uitlatinge word die vlam van rassehaat aangeblaas, wat ’n verwoestende, allesverterende vuur kan word. … Die Afrikaanse Jingoisme is ’n ewe sieklike verskynsel. Dit skerm altyd in die lug teen denkbeeldige gevare en vyande. Dit dink die slegste, is agterdogtig, kleingeestig en bekrompe. Dit kweek rassehaat en wek die onedelste hartstogte by die Afrikaner.

Ook gedurende die oorlog het Marais herhaaldelik gepleit dat Afrikaners nie die Engelse volk sal gaan haat nie. So skryf hy byvoorbeeld in die Gereformeerd Maandblad van Maart 1900, bl. 164:

Die Engelse volk is vir ons op die oomblik meer as ooit ’n raaisel. … Die trots en die selfgenoegsaamheid van die Britte het ons altyd gehinder. Hulle gee die indruk asof die goeie God die wêreld geskep het om deur die seuns en dogters van Albion geëksploiteer en besigtig te word. … Vir húlle vaar die bote op die Ryn; vir húlle ry die sneltreine; vir húlle is daar ’n spoorbaan op die Rigi; vir húlle rook Vesuvius; vir húlle staan die piramides nog in die woestyn en wemel die noordse strome met forelle. Baie min Engelse doen die moeite om ’n vreemde taal te leer. Hulle verwag dat almal hulle taal sal verstaan en praat. … En tog sou ons dit diep betreur en afkeur as ons die Engelse volk sou gaan haat. Haat is nooit Christelik nie. Alle haat is uit die Bose. Ons mag alleen die sonde verfoei. Laat ons nie vergeet nie dat ons tog ook groot verpligtinge teenoor die Britse volk het. Baie takke van handel en nywerheid bloei by ons as gevolg van ons betrekkinge met Engeland. Baie werksaamhede tot uitbreiding van Gods Koninkryk sou gestaak moet word as die Engelse hulle daaraan sou onttrek. En wat het ons tog nie baie te danke aan die Engelse literatuur nie! … Onder die onderdane van Koningin Victoria is daar baie opregte Christene wat hulle geloof met ’n Christelike wandel versier. En nou is hierdie volk – ons kan dit nie anders insien nie – met ’n gees van blindheid geslaan. Nie net een party nie, maar alle partye skenk hulle goedkeuring aan ’n oorlog wat Engeland, of sy nou wen of verloor, nooit tot eer kan strek nie en die verontwaardiging opwek van byna die hele beskaafde wêreld. Ook hulle, aan wie se agtenswaardige karakter en vroomheid ons nie twyfel nie, steun ’n man soos Chamberlain in wie die skaduweekant van die Engelse volkskarakter beliggaam is.

In die Gereformeerd Maandblad van April 1900, bl. 178, skryf hy weer:

Dat ons die Engelse politiek veroordeel, spreek vanself. Ons deel die wantroue van duisende binne en buite die Britse Ryk in die noodlottige staatkunde wat aanleiding gee tot dit wat nou plaasvind op Suid-Afrikaanse bodem. Nou wil ons egter klem lê op één besonderheid waarby ons al vroeër die aandag van ons lesers bepaal het: … Dit sal vir ons pynlik wees as mense die Engelse volk sou gaan haat omdat die Engelse leiers ons land in só ’n ramp gedompel het. Ons kan nie vergeet dat Engelse Christene die sending ondersteun en dat die herlewing op die gebied van die Christelike filantropie grotendeels aan Engeland en die Engelssprekende lande te danke is nie. Ook Suid-Afrika mag nie vergeet nie dat die sending in ons land uit Engeland kragtig ondersteun word en dat ons op hierdie gebied baie kan leer van ons Engelse geloofsgenote. Ook dit spreek vanself. Daarom is dit vir ons so pynlik om te sien hoe doof die Engelse oor is vir die stem van geregtigheid, om nie eers te praat van die stem van vrede nie.

Dit is duidelik dat die leiers van die Kaapse kerk die vervreemding tussen Afrikaners en Engelse as gevolg van die oorlog diep betreur het. Vir hulle was hierdie vervreemding en wedersydse “rassehaat” ’n ramp vir die toekoms van die samelewing in Suid-Afrika. Die vraag was of hierdie kloof ooit oorbrug sou kon word. In die jare na die oorlog sou hierdie vraag die politiek in Suid-Afrika beheers (Giliomee 2003). Die sogenaamde “konsiliasiebeleid” van die Suid-Afrikaanse Party onder Botha en Smuts was gerig op versoening tussen Afrikaners en Engelse. Hulle moes saamgesmee word tot één tweetalige Suid-Afrikaanse volk. Hierin is hulle egter van twee kante teengewerk. Enersyds het die Engelse “jingo’s” aan die Kaap saamgestem dat Engelse en Afrikaners één volk moet word. Dit moes egter geskied deur die Afrikaners tot Engelse te maak. Hulle houding was bepaal deur die Engelse arrogansie waarteen Marais so sterk beswaar gemaak het. Aan die ander kant was daar ook groeiende teenstand van die kant van die opkomende Afrikanernasionaliste vir wie die ideaal van eenheid alleen tot die ondergang van ’n aparte Afrikaneridentiteit sou lei. Volgens hulle bly Afrikaners en Engelse dus twee aparte volke wat wel vreedsaam langs mekaar kan woon in Suid-Afrika maar nooit één volk kan word nie. Hulle teenstand teen eenheid het dikwels die vorm aangeneem van wat Marais “Afrikaanse Jingoisme” genoem het en wat hy net so sterk betreur het as die Engelse variant.


4. Lojaliteit aan koningin Victoria

Vir die Boere in die Transvaal was die Engelse ’n vreemde volk wat ’n vreemde taal gepraat het en ’n ander kultuur gehad het waarin die Transvalers hulleself nie herken het nie. Hulle was bewus van hulle eie identiteit, wat sterk verskil het van dié van die Engelse. Hulle selfstandigheid as onafhanklike republiek was vir hulle daarom baie belangrik en hulle het die Engelse gevrees as ’n bedreiging daarvoor. Vir hulle was die oorlog ’n manifestasie van dit wat hulle altyd al van Engeland verwag en gevrees het. In teenstelling hiermee het die leiers onder die Kaapse Afrikaners, en dus ook die leiers van die Kaapse kerk oor die algemeen, wel ’n groot mate van affiniteit gevoel met Engeland en met die Engelse kultuur (Giliomee 2003, hoofstuk 7). Ons het gesien dat Andrew Murray die Engelse “in baie opsigte die edelste en mees Christelike volk in die wêreld” genoem het. Marais het getuig van sy geneentheid tot die Engelse kultuur en van sy groot waardering vir die Engelse literatuur. Hy was daar ook van bewus dat die koloniale Afrikaners op die terrein van handel en nywerheid baie te danke het aan hulle bande met Engeland en dat Engelse geloofsgenote ’n onmisbare bydrae gelewer het tot die sending, die filantropie en die algemene ontwikkeling aan die Kaap. In teenstelling tot die Transvalers het die Kapenaars groot waarde geheg aan hulle deelgenootskap in die Britse Ryk. Dit was hulle band met die buitewêreld en 'n waarborg vir hulle veiligheid. Vir die Transvalers was die oorlog begryplik. Hulle het nie anders verwag van die Engelse nie. Vir die Kaapse Afrikanerleiers was die feit dat so ’n groot deel van die Engelse volk hulle regering in die oorlog gesteun het, ’n raaisel. Dit was onbegryplik dat “ook hulle aan wie se agtenswaardige karakter en vroomheid ons nie twyfel nie, steun [verleen aan] ’n man soos Chamberlain in wie die skaduweekant van die Engelse volkskarakter beliggaam is”. Ten spyte van die oorlog het die Kaapse Afrikaners hulle nog steeds lojale onderdane van koningin Victoria gevoel en vas geglo dat die oorlog ook vir hulle geliefde koningin ’n bron van groot verdriet was.

Hierdie lojaliteit het duidelik geblyk met die dood van koningin Victoria in Januarie 1901, toe die ellende van die oorlog en die kampe ’n hoogtepunt bereik het. In De Kerkbode van 24 Januarie 1901 (waarvan al die bladsye swart omrand was) het die redakteur die dood van die Koningin as volg aangekondig (ble. 51–2):

HAAR MAJESTEIT KONINGIN VICTORIA is nie meer nie. Hierdie tyding is gister, nie alleen deur die lengte en breedte van die uitgebreide Britse Ryk nie, maar ook oor die hele beskaafde wêreld met innige simpatie en diepe aandoening verneem. Die liefde en agting vir HAAR MAJESTEIT was diep gewortel in die harte van miljoene van haar onderdane wat uit één mond sal getuig: ’n Waardige Vorstin, ’n voorbeeldige Moeder, ’n edele en vrome vrou is heengegaan! Ons hoef alleen te herinner aan die hartlike wyse waarop haar 50ste en 60ste jubeljare gevier is, ook deur die lengte en breedte van ons land, as bewys van die ruim plek wat ons GEËERBIEDIGDE KONINGIN in die harte van haar onderdane van alle nasionaliteite gehad het. … Die gerug is die laaste tyd meermale versprei dat dit sleg gaan met die gesondheid van ons koningin, en dat sterfgevalle in die kring van haar naaste verwante, en bekommernis oor die rampsalige oorlog in Suid-Afrika Haar Majesteit se kragte ondermyn het. … Ons wil alleen met hierdie reëls, ook namens ons Kerk, hulde bring aan haar eervolle gedagtenis, en ons verenig met die duisende wat rou oor haar heengaan. Ook is dit ons vurige bede dat die Here die nagelate familie sal troos, en die troonopvolger vir sy gewigtige taak sal toerus.

In die volgende uitgawe van De Kerkbode (ook met swart omrande bladsye) op 7 Februarie 1901, ble. 80–3, word verslag gedoen van die roudienste in verskillende NG Kerke in die Kaap en van die herdenkingsredes wat by hierdie geleentheid uitgespreek is deur prof. Hofmeyr op Stellenbosch, ds. J.P. van Heerden in die oggenddiens en ds. Z.J. de Beer in die (Engelse) aanddiens in die Groote Kerk in Kaapstad, ds. D.J. leR. Marchand in die Nuwe Kerk in Kaapstad en ds. A. Moorrees (later professor aan die Kweekskool) in die Paarl. Al hierdie redes het gespreek van groot liefde en lojaliteit teenoor die oorlede koningin. Ter illustrasie word aangehaal uit die verslag van die redes van prof. Hofmeyr en ds. Van Heerden.

Hofmeyr het o.a. die volgende gesê:

U sien die Huis van God in rougewaad. Dit is die uitdrukking van dit wat in ons harte omgaan. Met miljoene treur ons om die verlies wat ons getref het met die dood van ons geliefde koningin. Haar heengaan word gevoel as ’n ramp wat nie alleen haar volk nie, maar ook die wêreld getref het. Geen vors of vorstin was meer bemin en geag as koningin Victoria nie. Sy was ’n vrou met ’n buitengewoon helder verstand. Sy was altyd op die hoogte van sake. Sy het die gewig van haar roeping besef, en in alles haar eie selfstandige oordeel gehad. Sy was ’n voorbeeld vir almal, as eggenoot, moeder en grootmoeder. Sy was geliefd deur haar naaste betrekkinge, en bemin deur haar persoonlike dienaars en dienaresse en deur al haar onderdane. Sy was hoog geag deur die hele beskaafde wêreld. Haar hof was vir die howe van Europa ’n voorbeeld van sedelike reinheid. Sy was by uitnemendheid vredeliewend. Sy het meer as één stryd gestry teen ’n oorlogsugtige eerste minister, en het deur haar kragtige wil hierdie stryd gewen. Meer as een dreigende oorlog het sy op hierdie manier afgeweer. Sy het ’n hart gehad vir die lyding van haar onderdane. By kleinere en grotere volksrampe het sy dit laat sien. Sy het ten diepste die lyding gevoel wat aan haar volk deur die huidige oorlog aangedoen word. Dit moes vir haar baie swaar gewees het om na 15 maande die oorlog ten koste van so baie lewens te sien voortduur, nadat aan haar voorspel is dat dit maar van korte duur sou wees: Haar vroulike en moederlike hart kon dit moeilik dra dat duisende huisgesinne in rou gedompel was, te meer omdat sy die dood van ’n kleinseun as slagoffer van hierdie oorlog moes betreur. Hierdie lyding het haar gesondheid geknak en haar dood verhaas. Wie weet wat sy ook vir ons Boere in die Republieke, en veral vir hulle vrouens en kinders, gevoel het?

Laat my nog één trek van haar karakter noem: sy het God gevrees. Dit was haar gewoonte – dit het sy self bely – om in die gebed krag te soek vir die vervulling van die sware pligte waartoe sy dikwels geroep is. Wanneer sy deur een of ander rou getref word, dan soek sy in die gebed haar troos by God. En God was met haar. Hy het haar beskerm teen die aanslae op haar lewe, en haar in staat gestel om tot in ’n baie hoë ouderdom met ’n helder verstand, ’n gesonde oordeel, bewonderenswaardige takt, en getrouheid aan haar gewete en haar God, haar volk te regeer. En wat sal ons sê as ons aan haar troonopvolger dink? Die liefde hoop alle dinge. Laat ons dus die blye hoop koester dat hy die gewig van sy verantwoordelikheid diep sal voel, en ernstig, ja biddend daarna sal strewe, om in die voetstappe van sy moeder te wandel. Dit sou sekerlik die bede van sy moeder gewees het. Laat dit ook ons bede wees. En die God van alle genade, verhoor ons en spaar koning Eduard VII tot seën van die Britse Ryk, en in die besonder vir Suid-Afrika, tot in lengte van dae.

Van Heerden het

’n ernstige en gepaste leerrede uitgespreek, waarin hy verwys het na die die innige droefheid waarmee die tyding verneem is van die dood van Haar Majesteit ons geliefde Koningin, nie alleen deur die hele Britse Ryk nie, maar deur die hele beskaafde wêreld. Nie in die minste nie word haar heengaan betreur in Suid-Afrika deur die Hollandse bevolking in wie se harte agting en liefde vir Haar Majesteit diep gewortel was. In geen deel van die Britse Ryk was meer persoonlike agting vir haar dan in Suid-Afrika nie, waar, onder die Boerebevolking daar byna geen woning aangetref kan word waarin portrette van die goeie koningin nie te vind is nie. Nêrens het mense meer blyke van agting en liefde gegee aan haar wat, soos ons vertrou, nou die rus ingegaan het wat vir die volk van God oorbly nie. As die Moedergemeente van die N.G. Kerk in Suid-Afrika wil ons in die openbaar getuig van ’n innige gevoel van die groot en treurige verlies wat ons gely het, en terwyl ons God dank vir haar geseënde lewe, buig ons nederig voor Hom neer, want Hy doen wat goed is in Sy oë. God het haar lank vir ons gespaar, maar nou het die Doodsengel haar kom afmaai, en ons wil ’n krans op haar graf lê. As gemeente wil ons innige simpatie betuig met die Koninklike Familie in hulle verlies van ’n voorbeeldige moeder wat in liefde regeer het. Dit is ook die begeerte van ons harte om ’n ernstige gebed op te stuur vir hom wat as koning die troon bestyg het. Mag God aan hom wysheid gee in die behartiging van die belange van ’n groot Ryk. Mag die God van die Hemel die koning behoed. …


5. Reaksie op die Vrede in 1902

Hoe het die oorlog in 1902 tot ’n einde gekom, en hoe het die Boere in die Republieke en die Kaapse kerkleiers onderskeidelik die vrede ervaar?

5.1 Die einde van die oorlog en die Boere se reaksie

In Junie 1900 het die Engelse magte Pretoria ingeneem en in die loop van Augustus die spoorlyn na Lourenço Marques (nou Maputo) verower. Kruger het na Europa gevlug. In November is lord Roberts terug na Engeland en is hy as bevelvoerder van die Britse magte deur Kitchener vervang. Volgens Roberts was die oorlog so te sê verby en was daar van die Boere alleen nog ’n “few marauding bands” in die veld. Hierin het hy die Boere gruwelik onderskat. Botha het die sterk gedemoraliseerde Transvaalse kommando’s herorganiseer en daar is begin met ’n guerrilla-oorlog onder leiding van genl. De Wet in die Vrystaat, genl. De la Rey in Wes-Transvaal en genl. Botha in Oos-Transvaal en die Hoëveld. In die tweede helfte van 1901 het genl. Smuts met ’n kommando die Kaapkolonie ingetrek. Op hierdie manier het die “few marauding bands” die Engelse oormag vir nog meer as ’n jaar besig gehou. Teen die begin van 1902 het dit egter duidelik begin word dat die Boere nie kon reken op militêre steun uit die buiteland nie. Bowendien het die Boeremagte uitgeput begin raak en was hulle gedemoraliseer as gevolg van die Engelse beleid van plaasverbranding en konsentrasiekampe. Ook Botha se plaashuis in Vryheid het in vlamme opgegaan.

In Januarie 1902 het Abraham Kuyper uit Nederland die Engelse regering begin aanmoedig om met die Boere te onderhandel. Die Engelse het toe die Boere oor hierdie inisiatiewe ingelig. Na aanleiding hiervan het die Boereleiers in April 1902 in Klerksdorp vir ’n kajuitraad bymekaar gekom.

Wat die militêre situasie betref, was Botha, De la Rey en De Wet dit met mekaar eens dat hoewel die situasie beroerd was, die gees van die burgers sterk genoeg was om nog ’n tyd lank deur te veg. Wat die politieke situasie betref, was daar ’n fundamentele meningsverskil aangaande die beëindiging van die oorlog. Aan die een kant was daar diegene wat dit met pres. Steyn eens was dat daar slegs één voorwaarde was waaronder vrede gemaak kon word, en dit was die behoud van onafhanklikheid van die Boererepublieke. Aan die ander kant was daar diegene wat saam met Botha gemeen het dat die Boere deur hulle heldhaftige verset die vyand se ontsag en die mensdom se simpatie afgedwing het, maar tog geen redelike vooruitsig meer op oorwinning gehad het nie. Hulle moes nou maar die kans aangryp om, ter wille van die toekoms van die volk, ’n ooreenkoms te sluit waarin die naaste aan onafhanklikheid gewaarborg sou word, naamlik selfregering en ekonomiese herstel vir die Vrystaat en die Transvaal.

Vir Steyn en sy medestanders was selfregering onder die Britse vlag nie genoeg nie.

Even if given self-government that would not mean independence; a people moving from independence to self-government lost in status and was morally endangered thereby. The Afrikaners did not dare to lose in self-respect, and they could only retain it if they were prepared to live in poverty under their own flag, rather than in riches under a foreign flag. (Meintjies 1969:168)

Sonder dat hulle hierdie onderlinge meningsverskil uit die weg kon ruim, het die Boereleiers in April in Pretoria met Kitchener ’n onderhoud gehad. Toe dit duidelik word dat die Britse regering nie bereid was om toe te gee aan pres. Steyn se eis om herstel van onafhanklikheid nie, het die Boereleiers besluit om dan maar die kommando’s in die veld 60 afgevaardigdes te laat kies (30 uit Transvaal en 30 uit die Vrystaat) om verder met die Engelse te onderhandel.

Op 15 Mei 1902 het die onderhandelings in Vereeniging begin. Genl. Smuts, wat onder vrygeleide van die Engelse uit die Kaapkolonie gekom het, het hom ook as raadgewer by die 60 Boereonderhandelaars gevoeg.

Die eerste drie dae in Vereeniging het die Boere onder mekaar probeer om die geskil tussen die oorlogsparty en die vredesparty uit die weg te ruim. Wat hierin ook ’n rol gespeel het, was die Vrystaters, wat die meerderheid van die oorlogsparty gevorm het, se irritasie met die Transvalers, van wie die meeste vrede wou maak. Hulle het die indruk gekry dat die Transvalers, wat eintlik die oorlog begin het, nou agter hulle rug vrede met die Engelse wou maak sonder om hulle voldoende daarin te raadpleeg. Ds. Kestell het dit as volg gestel:

Die gesindheid (onder die pro-oorlog manne) was om in elk geval vol te hou tot na afloop van die beraadslaginge; en indien dit dan blyk dat diegene, wat teen voortsetting van die stryd stem, só baie in getal is dat dit onmoontlik sou wees, vir hulle, om alleen oorlog te voer, dan te sê: Hulle, wat opgee, dwing ons ook tot oorgawe. Ons is daartoe gedrywe! – So, dink hulle, sal die ganse wêreld dan sien wie dit was wat op die laaste vergadering deur die Afrikaner-volk gehou, tot die laaste volhard het. (Engelenburg 1928:77)

Op 16 Mei het Botha in ’n toespraak getoon dat hy ’n pragmatis was:

Daar is gesê: Ons moet veg tot die bitter einde. Maar niemand wys waar die bitter einde is nie. Is dit daar, waar elke man in sy graf lê of verban is? Ons moet nie die tydstip, dat elk een in sy graf lê, as die bitter einde beskou nie. Doen ons dit, dan word ons oorsaak van die volk se dood. Wat my persoonlik betref, daar is niks wat my belet om die oorlog nog voort te sit nie. My familie is versorg. Ek het goeie perde. En wanneer ek let op wat die vyand gedoen het, dan sê ek: “Liewers dood dan ingee!” Dog ek moet nie op myself let nie, maar op my volk en op die manne wat moet veg. Ek verseker julle dat ons toestand swaar is; en wanneer ek sake vir julle blootlê, dan doen ek dit nie om te ontmoedig nie dog opdat julle ’n juiste insig kry van wat my plig is; want julle moet hier ’n baie gewigtige besluit neem. Ek het altyd gemeen dat wanneer ons sien dat sake só met ons loop dat ons deur honger tot oorgawe gedwing word, ons terme moet aanneem alvorens ons ten ondergaan en solank as wat ons ’n nasie is. Ons kan nie wag totdat ons aantalle verminder is tot ’n paar duisend man en dan probeer onderhandel nie. Dan sal dit te laat wees. Indien ons wil onderhandel, is dit nou die tyd. As God wil, moet ons, hoe bitter ook, terme maak. Ons kan nie maar blind voortgaan en sê dat ons op God vertrou nie. Wondere kan gebeur; maar dis nie vir my of vir julle nie om te sê wat God se wil met ons is of dat die Heer ons die onafhanklikheid sal laat behou. … Ek voel dat ons volk hom verdedig en gestry het beter as enige volk ter wêreld. Ons klein volkie het in hierdie stryd reeds méér opgeoffer as enige nasie, in die geskiedenis bekend. En dit sou my bitter spyt as ons volk verlore moet gaan of moet veg tot almal dood is of gevange, en die onafhanklikheid tog verlore is. Indien ons nie terme maak nie, is ons volk absoluut gerinneweer; maak ons wél terme, dan kry ons Verantwoordelike Bestuur en bly ons taalregte behou. Mag hongersnood ons land teister sonder dat vrede by traktaat verkry is, dan kan die Engelse voedsel verskaf op voorwaarde dat die ontvanger getrouheid sweer. Sal ons veg tot ons volkome oorweldig is? En dan 30 jaar moet laat verby gaan vóór ons weer opkom? (Engelenburg 1928:79–80)

Hierdie toespraak het ’n diep indruk gemaak en die oorlogsparty laat wankel. Tot teleurstelling van die oorlogsparty het genl. De la Rey nou ook sy twyfel laat vaar en hom heelhartig agter Botha geskaar. Hierdeur was die oorlogsparty duidelik ’n minderheid wat byna uitsluitlik uit Vrystaters bestaan het. Die volgende dag het hulle besluit om Botha, De Wet, De la Rey, Hertzog en Smuts namens die twee regerings met Milner en Kitchener te laat onderhandel oor énige onderwerp en daarna die resultaat aan die vergadering voor te lê vir goedkeuring.

Hierdie onderhandelinge het op 28 Mei in Melrose Huis in Pretoria plaasgevind. In die onderhandelinge het Milner ’n onversetlike benadering gevolg met die bedoeling om die Boere finaal te verneder en tot onderwerping aan die Britse gesag te dwing. In teenstelling tot Milner het Kitchener vurig na vrede verlang en was hy daarom bereid om so ver moontlik die Boere se wense tegemoet te kom en ’n aanvaarbare kompromis te soek.

Die uiteindelike traktaat het uit 12 artikels bestaan. Die Boere moes hulle wapens neerlê en die gesag van die Engelse koning erken. Alle krygsgevangenes sou gerepatrieer word en die rebelle in die Kaap sou amnestie kry. Die burgers sou hulle wapens onder lisensie kon behou met die oog op hulle persoonlike veiligheid. Nederlands sou in die openbare skole van die twee nuwe kolonies geleer word wanneer die ouers daarom vra, en dit sou ook in die howe gebruik word waar nodig vir die effektiewe handhawing van die wet. Die militêre administrasie sou so gou moontlik deur verteenwoordigende institusies vervang word ter voorbereiding van selfregering vir die twee kolonies. Die Britse regering sou £3 miljoen beskikbaar stel vir die herstel van oorlogskade en sou bowendien die Republikeinse banknote erken en gunstige lenings aan boere verskaf.

Met hierdie voorstelle het die afvaardiging toe na Vereeniging teruggekeer.

Pres. Steyn was woedend oor die uitslag, wat hy beskou het as verraad teenoor die Boerenasie. Teen hierdie tyd was hy egter ’n baie siek man wat half verlam in sy tent gelê het en nie self aan die beraadslagings kon deelneem nie. Botha het in die vergadering gepleit vir die aanvaarding van die ooreenkoms. Hulle het geveg vir hulle onafhanklikheid en baie daarvoor opgeoffer. Maar hy was nie bereid om die Afrikanervolk self op te offer vir ’n onafhanklikheid wat nou tog verlore was nie. De la Rey het hom hierby aangesluit en gesê: “Julle kan nou maar sê wat julle wil, en besluit wat julle wil; maar wat julle ook doen, hierdie vergadering is die einde van die oorlog.”

Die emosies het egter hoog geloop. In sy Steyn-biografie vertel Johannes Meintjies:

Steyn was not present when the deputation laid the terms and a report before the rest of the sixty delegates, and he was perturbed when Barry Hertzog burst into his tent while the discussions were being held to report that a violent verbal exchange had taken place between Generals De Wet and Botha. De Wet had accused Botha and Smuts of having talks with Kitchener and Milner behind their backs. (This was a reference to the famous scene in which Kitchener had prophesied a change in government in England to Smuts, with the promise of a constitution for South Africa.) Hertzog feared a serious clash would take place unless Steyn intervened. De Wet was summoned to Steyn’s tent after the meeting. Steyn discussed the matter with him and pointed out that it would be a disgrace if the two chief Boer commanders were to be at loggerheads and even come to blows as he had heard. “Let matters be, Krisjan,” Steyn urged. “That which has been done cannot be undone.” De Wet acquiesced and never referred to the matter again, but from that day onwards his hatred for Louis Botha grew to unreasoning proportions and was to find expression in the Rebellion of 1914 (Meintjies 1969:175).

Die volgende oggend het Botha en De la Rey na De Wet gegaan en vir hom gesê dat as hy die stryd wou voortsit, hy dit alleen moes doen sonder die Transvaal, en dat as die Vrystaat alleen verder veg, hulle op die ou end alleen maar minder gunstige voorwaardes sou kry as dié wat nou aan hulle voorgelê is. Om die pil vir die bittereinders te versoet het Smuts en Hertzog daardie middag ’n kompromis voorgestel. Die Britse voorwaardes sou onveranderd bly, maar daar sou ’n inleiding aan toegevoeg word waarin die Boere verklaar dat hulle die Britse voorwaardes aanvaar alleen omdat hulle daartoe gedwing is. Die skuld vir die verwoesting van die Republieke word aan die Engelse militêre magte toegeskryf en die verwagting word uitgespreek dat die omstandighede wat geskep is deur die aanvaarding van die Engelse voorwaardes, vinnig sou verbeter, sodat die Boerevolk daartoe gebring sal word om die voorregte te geniet waarop hulle reg het.

Met hierdie wysiginge is die ooreenkoms op die middag van 31 Mei deur die 60 Boere-afgevaardigdes aanvaar. Vier-en-vyftig van hulle, insluitend De Wet, het daarvoor gestem en ses daarteen.

Dieselfde aand is die ooreenkoms met Milner en Kitchener in Pretoria geteken.

Daardie aand het die Boere by hulle tente ’n klein graffie gegrawe en die Vierkleur daarin begrawe. Die oorlog was verby.

Dit is duidelik dat die Vrede van Vereeniging vir die Boere ’n bittere pil was en nie ’n bron van vreugde nie. Hulle het geveg om hulle onafhanklikheid van die Britse Ryk te behou, en die vrede het beteken dat hulle hierdie onafhanklikheid moes prysgee. Uiteindelik het hulle hulle in meerderheid by die vredesverdrag neergelê, maar alleen omdat hulle deur die oormag van die Engelse daartoe gedwing was. Dit was nie van harte nie.

5.2 Die kerkleiers se reaksie

Die kerkleiers in die Kaap het die vrede heeltemal anders belewe. Vir hulle was dit die einde van die ellende van die oorlog en ’n rede tot groot vreugde en dankbaarheid. In De Kerkbode van 12 Junie 1902 het die redakteur die vrede as volg aangekondig:

Wie het nie met dankbaarheid die blye tyding verneem wat vanaf 2 Junie deur die lengte en breedte van ons geboorteland en oor die hele beskaafde wêreld versprei is nie? … Volgens die nuusblaaie is die tyding dan ook in baie stede en dorpe met blydskap en geesdrif ontvang. Laas Vrydag het S.E. die Goewerneur ’n proklamasie uitgevaardig waarin Sondag 8 Junie as ’n dankdag en Maandag as ’n openbare vakansiedag bepaal is. Hierdie proklamasie sal waarskynlik die meeste buitegemeentes van ons Kerk nie betyds bereik om dit algemeen bekend te maak nie; tog twyfel ons nie daaraan nie dat die lofstem orals in God se Voorhowe verneem sal word: “Gee eer aan die Heer! Halleluja! Halleluja! Dat u klanke Hom, die God van vrede, sal dank!” Immers Gods kinders het die Here aanhoudend en ernstig gebid om vrede en om wysheid en genade aan die leiers aan albei kante in hulle beraadslagings. … Ons het net gehoor dat die Moderatuur van ons Kerk ook besluit het om ’n dankdag te bepaal.

Hierdie dankdag het toe op 13 Julie in die gemeentes van die Kaapse kerk plaasgevind. In De Kerkbode van 24 Julie, ble. 495–6, was daar ’n verslag van die woorde van prof. Hofmeyr in die Nuwe Kerk in Kaapstad:

Ons gee nie aan die mens nie maar aan God die eer dat daar ’n einde gekom het aan die verskriklike oorlog tussen Brit en Boer. Ons glo dat God beskik oor die lotgevalle van volkere, huisgesinne en individue. Daarom het ons van die begin van die oorlog nie opgehou om God vir die herstel van die gebroke vrede te smeek nie. Nadat ons lank gewag het, het God ons gebed verhoor. Die vrede het nie gekom soos baie dit begeer het nie; tog kom dit van God en sal ons God daarvoor dank.

Weet u waarin ek die goeie hand van God veral bespeur? Dit is dat die afgevaardigdes in Vereeniging na lang en ernstige beraadslaginge eenparig besluit het dat die tyd vir onderwerping gekom het – dat die lyding wat deur die oorlog aan hulle volk veroorsaak is, sy hoogtepunt bereik het en dat die heil van die volk onderwerping noodsaaklik maak. Een van hulle vernaamste generaals, wat eers tydens hierdie beraadslaginge tot hierdie oortuiging gekom het, het gesê: “Ek meen dat dit geloof in God is dat ons tot Hom sê: nie ons wil nie maar u wil geskied.” Mense het my meermale tydens die oorlog gevra waarom die voormanne van ons Kerk geen poging doen om die strydende burgers te laat verstaan dat alle verdere verset hopeloos is nie. Dan antwoord ek dat só ’n vraag alleen bewys dat hulle die Boere nie ken nie; en dat solank hulle nie sélf oortuig is van die hopeloosheid van hulle saak nie, hulle hulle deur niemand, ook nie deur ’n engel uit die hemel, daarvan sal laat oortuig nie.

Wat ’n ramp sou dit gewees het – en daar was gevaar voor – as één deel van die afgevaardigdes hulle vóór en ’n ander deel hulle téén die neerlê van hulle wapens verklaar het. Die goeie hand van God het hierdie ramp genadiglik afgewend. God se naam word daarvoor geprys. Dit is aan die eenparigheid van die afgevaardigdes te danke dat die volk in hulle besluit as in die wil van God berus. Vandaar die algemene rus waaroor die wêreld verbaas is.

Intussen, terwyl ons God dank vir die geslote vrede, is daar in ander opsigte nog geen vrede nie, en mag ons gebed om vrede nie ophou nie. Laat my slegs twee dinge noem. Terwyl die oorlog aan die gang was, het meer as sesduisend Boere hulle by die Brit gevoeg om met hom teen hulle voormalige medeburgers en medestryders te veg. Dit was ’n ontsettende verskynsel. Wat was die onvermydelike gevolg hiervan? Dat daar ’n diep kloof tussen Boer en Brit gevestig is. As hierdie kloof nie oorbrug word nie, sal die huislike, die maatskaplike en die kerklike lewe in baie gevalle jammerlik daaronder ly. Sal dit tot ’n gewenste versoening tussen hierdie twee partye kan kom? By die mens sal dit onmoontlik wees; maar wat by die mens onmoontlik is, is moontlik by God. As die Gees van God, wat die Gees van vrede is, soos nooit tevore nie die harte aangryp, dan is die dag van versoening tussen beide partye naby. …

Die ander donker wolk wat ek in die oog het, is die volgende. Ons God het, soos die geskiedenis ons leer, Suid-Afrika aan die blanke rasse, veral aan die Engelssprekende en die Hollandssprekende ras toevertrou. Hulle behoort, elk met behoud van sy eie nasionale karakter, saam te werk tot welsyn van die geheel. Die een mag nie sy eie belang dien ten koste van die belang van die ander nie. As hulle dit doen, sal albei daaronder ly. Dink aan die woord van ons Heer dat ’n huis wat teen homself verdeel is, nie kan bestaan nie. Ons gaan ’n droewige toekoms tegemoet as die twee rasse, in plaas van saam te werk tot die algemene welsyn, mekaar sou teenwerk. Maar ook hier antwoord ons dat wat by die mens onmoontlik is, moontlik is by God. Daarom sal ons nie ophou om God hierdie gewensde seën te vra nie. Hoe sal hierdie seën tot ons kom? Daar is sowel by die één as by die ánder ras ’n kern van verstandige manne. Laat hulle wederkerig mekaar met agting en toegeneentheid bejeën, laat die een die goeie opspoor en erken wat daar by die ander is, laat die een die regte van die ander eerbiedig, laat die een die ander vertrou, en bo alles, laat die een met die ander wedywer om die welsyn van almal te behou.

Mag die goeie Gees van God, wat die Gees van vrede is, dit hiertoe bring, en daar sal deur die hele land ’n beter gesindheid versprei word as wat daar ooit tevore bestaan het. Mag ons God hierdie gebed verhoor en hierdie wens vervul tot verheerliking van God se Naam.

Kortom: Almal, sowel in die Republieke as in die Kaapkolonie, was bly en dankbaar dat die ellende van die oorlog verby was. Vir die Boere was die grootste ramp van die oorlog egter dat hulle hulle onafhanklikheid van die Britse Ryk moes opoffer. In die jare na die oorlog het baie van hulle bly hunker na ’n kans om hierdie onafhanklikheid te herstel. Vir die Kaapse kerk was die grootste ramp van die oorlog dat dit gelei het tot vervreemding tussen die twee “rasse” in Suid-Afrika. In die jare na die oorlog sou hulle bly strewe om versoening teweeg te bring en om eenheid in die Suid-Afrikaanse samelewing te herstel.


Bibliografie

Brümmer, V. 2013. Vroom of Regsinnig? Teologie in die NG Kerk. Wellington: Bybelmedia.

De Kerkbode, 1899–1902.

Du Plessis, J. 1920. Het Leven van Andrew Murray. Kaapstad: Zuid Afrikaanse Bijbelvereniging.

Engelenburg, F.W. 1928. Generaal Louis Botha. Pretoria: Van Schaik.

Gereformeerd Maandblad, 1899–1900.

Giliomee, H. 2003. The Afrikaners. Kaapstad: Tafelberg.

Hofmeyr, J.H. en F.W. Reitz. 1913. Het Leven van Jan Hendrik Hofmeyr (onze Jan) Kaapstad: Van de Zandt de Villiers.

Hofmeyr, J.H., Moorrees, A., Murray, A., Neethling, J.H., Hofmeyr, N.J., Marais, J.I., De Vos, P,G.J., Muller, C.F.J., Steytler, A.I., Van Heerden, J.P. 1900. The Dutch Reformed Church and the Boers. Londen: W.H. Roberts.

Kestell, J.D. 1911. Het Leven van Prof. N.J. Hofmeyr. Kaapstad: Hollandsch-Afrikaansche Uitgevers-Maatschappy.

Louw, A.F. 1958. My Eerste Neëntig Jaar. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.

Meintjies, J. 1969. President Steyn. A Biography. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.

Meurs, M. 1997. J.C. Smuts. Staatsman, Holist, Generaal. Amsterdam: Suid-Afrikaanse Instituut.

Mouton, F.A. 2011. Prophet without Honour: Afrikaner, South African and Cape Liberal.Pretoria: Protea.

Nasson, B. 1999. The South African War 1899–1902. Londen: Edward Arnold.

Pretorius, F. 1998. Die Anglo-Boereoorlog 1899–1902. Pretoria: Protea.

—. 2007. De la Rey. Die Leeu van Wes-Transvaal. Pretoria: Protea.

Reitz, D. 1999. Adrift on the Open Veld. The Anglo-Boer War and its Aftermath 1899–1943. Plumstead: Stormberg.

Reitz, H. 1946. The Conversion of a South African Nationalist. Kaapstad: Unie-Volkspers.

Van den Heever, C.M. 1944. Generaal J.B.M. Hertzog. Johannesburg: A.P. Boekhandel.

Van Schoor, M.C.E. 2007. Christiaan Rudolph De Wet. Krygsman en Volksman. Pretoria: Protea.

Eindnotas

1 Oor die Boereoorlog is daar die afgelope jare baie geskryf, veral na aanleiding van die honderdjarige herdenking van die oorlog. Vir ’n nuttige oorsig oor die gang van sake gedurende die oorlog kyk o.a. Engelenburg (1928), Nasson (1999), Pretorius (1998) en Giliomee (2003, hoofstuk 8). Die fokus van hierdie artikel is egter nie die gang van sake in die oorlog nie, maar die standpunte van die belangrikste rolspelers (en dan veral die leidende figure in die Kaapse Kerk) oor die oorlog, en die manier waarop hulle die standpunte verdedig het. Met die oog hierop is die primêre literatuur hulle eie geskrifte en, as sekondêre literatuur, die (outo)biografiese werke oor hulle. Vir biografieë van Boereleiers in die Vrystaat en die Transvaal sien Engelenburg (1928), Meintjies (1969), Meurs (1997), Pretorius (2007), Van Schoor (2007), Van den Heever (1944), Reitz (1999), Reitz (1946).

2 Vir die Kaapse kerkleiers is veral die jaargange van De Kerkbode 1899–1902 en die Gereformeerd Maandblad 1899–1900 geraadpleeg (weens die oorlog het lg. in 1901–1902 nie verskyn nie). Hierdie blaaie is verreweg die belangrikste spreekbuise waarin hulle hulle standpunte gestel en verdedig het. Ook interessant is die pamflet van Hofmeyr (1900) wat die Kaapse kerkleiers in Engeland gepubliseer het. Tersaaklike biografieë van Kaapse kerk- en politieke leiers is Du Plessis (1920), Kestell (1911), Louw (1958), Hofmeyr en Reitz (1913) en Mouton (2011).

3 Ter wille van die leesbaarheid is al die aanhalings uit die Nederlands verafrikaans. Akademiese fynproewers kan egter die weergawe kontroleer, aangesien die verwysinge volledig aangee word.

 

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


  • 5

Kommentaar

  • Avatar
    Meyer de Kock

    Van die predikante in die Kaapprovinsies is uit hul dorpe verwyder en as "undesirables" beskou a.g.v. hul simpatieke houding teenoor die Vrystaatse en Transvaalse burgers tydens die Anglo-Boereoorlog. So bv. is ds. W.P. de Villiers van Carnarvon saam met sy gesin in huisarres geplaas in Beaufort-Wes as "undesirables" en moes hulle elke oggend voor die stadsaal aanmeld.

  • Avatar
    George Bekker

    In die titel van die artikel word die woord “Boereoorlog” gebruik terwyl die formele benamings Anglo-Boereoorlog / Suid-Afrikaanse Oorlog ook in die teks voorkom. Stem met die ou Boerekrygers saam dat die informele benaming “Engelse Oorlog” moet wees en nie “Boereoorlog” nie. Die artikel word sterk aanbeveel.

  • Inderdaad George Bekker! Na die lees van die artikel verstaan ek - dom soos ek is - vir die eerste keer die sin daarvan dat mense hulleself "Boere-Afrikaners" noem. Die artikel vul gedeeltelik 'n leemte in "Vroom of Regverdig" en die twee saam is 'n waardevolle bydrae tot die verstaan van die NG Kerk vandag - 'n soort oorwinningstoespraak van die piëtisme. Navorsing behoort nou die storie te vertel hoe die NG Kerk sy lojaliteit van die British Empire na die Afrikaner-empire oorgeskuif het. Dit lyk vir my piëtisme en empire "go together like a horse and carriage".

  • Avatar
    Vincent Brummer

    Nee Koos piëtisme gaan nie noodwending saam met (Britse) empire nie, maar wel met versoening, ook tussen Afrikaners en Engelse. Wat jy die Afrikaner empire noem hang weer saam met apartheid tussen Afrikaners en Engelse. Die verskuiwing van die een na die ander het gepaard gegaan met 'n verskuiwing in die spiritualiteit van die NG Kerk. In my boek 'Vroom of Regsinnig?' dui ek twee soorte spiritualiteit in die NG Kerk aan met die terme ‘vroom’ en ‘regsinnig’. Die Nederlandse teoloog Herman Bavinck het indertyd die verskil tussen hierdie twee omskryf deur te onderskei tussen mense wat hulle geloof bely en mense wat glo in die belydenis. Die ‘vromes’, soos Andrew Murray en Nicolaas Hofmeyr, het hulle geloof bely, nie alleen in woorde nie maar ook in dade. Die liefde van God was die ‘hoofwaarheid’ van hulle teologie, die basis van hulle spiritualiteit en die inspirasiebron van hulle diensbaarheid in die samelewing. En hierdie diensbaarheid was groot!
    Hulle het hulle beywer vir die sending, vir die verkondiging van die liefde van God aan alle volkere, en vir die onderwys. Murray was die stigter van onder andere die Grey Kollege in Bloemfontein, die Hoër Meisieskool in Worcester en die Hugenote Kollege in Wellington. Hofmeyr was die stigter van die Bloemhof Hoërskool vir meisies op Stellenbosch en saam met John Murray en Jan Neethling (die ‘Stellenbosse driemanskap’) stigter van die Stellenbosse Gymnasium, wat later sou uitgroei tot die Victoria College en die Universiteit van Stellenbosch.
    Ook het hulle hul beywer vir emansipasie. Sendingwerk was vir hulle nie alleen ‘siele-wen’ nie, maar ook emansipasie van die volkere van Afrika. In hulle ywer vir die onderwys het hulle spesiaal aandag gegee aan hoër onderwys vir vroue. Hulle het dus ‘n groot bydrae gelewer aan vroue-emansipasie in ‘n tyd toe hierdie woord nog nie eens bestaan het nie! Ook het hulle hul beywer vir die emansipasie van die ongeletterde Afrikaners op die platteland (die sogenaamde ‘armblankes’).Ten slotte het hulle gewerk aan versoening in tye van politieke spanning, en dus vir eenheid tussen Afrikaners en Engelse, die ‘twee rasse’, soos hulle destyds genoem is. Kortom, vrome piëtiste soos Andrew Murray en Nicolaas Hofmeyr is deur hulle geloof in die liefde van God geïnspireer tot intense diensbaarheid aan die samelewing in Suid-Afrika. Hulle het hulle geloof nie alleen met die mond bely nie maar ook aktief uitgeleef. Hulle was hiertoe ‘gedring deur die liefde van Christus’ (2 Kor. 5: 14). Aan die ander kant was daar in die NG Kerk ook die ‘regsinniges’ wat geglo het in die Gereformeerde belydenis. Hulle inspirasiebron was die Nederlandse teoloog Abraham Kuyper wat die Gereformeerde belydenis gemaak het tot die grondslag van ‘n neo-Calvinistiese ideologie. Soos by Calvyn was die soewereiniteit van God die ‘hoofwaarheid’ van sy teologie, die basis van sy spiritualiteit en die inspirasiebron vir sy diens aan die samelewing. Die absolute soewereiniteit van God het veral tot uitdrukking gekom in die dubbele predestinasieleer van Calvyn. Volgens hierdie leer het God van alle ewigheid af bepaal watter mense uitverkies sal word tot heil en watter mense vir ewig verwerp sal word. Die implikasie hiervan is dat daar twee soorte mense in die wêreld is: die uitverkorenes en die verwerptes. Hulle kan nooit saamgevoeg word nie omdat hulle op verskillende ‘wortels’ gegrond is. Deur die algemene genade kan hulle egter wel saamwerk en in vrede saamleef, maar hulle kan nooit één word nie.
    Abraham Kuyper het hierdie leer gemaak tot die grondslag van ‘n neo-Calvinistiese ideologie wat in Nederland ontwikkel is tot ‘n aparte ideologiese ‘suil’ wat alle terreine van die lewe gedek het. So was Abraham Kuyper die stigter van ‘n aparte Gereformeerde Kerk, ‘n aparte politieke party, aparte skole, ’n aparte koerant, ‘n aparte vakbond, ensovoorts. Selfs ‘n aparte boktelersvereniging – almal ‘op gereformeerde grondslag’. So moes die neo-Calvinisme dien as alternatief vir ander ideologieë soos sosialisme, liberalisme, humanisme, Rooms-Katolisisme, ensovoorts. Die hele Nederlandse samelewing is op hierdie manier verdeel in aparte ideologiese hokke. In Suid-Afrika het die neo-Calvinisme die vorm aangeneem van ‘n ‘Christelik-Nasionale’ ideologie. ‘Christelik’ het hierin Gereformeerd beteken en ‘Nasionaal’ Afrikaner-nasionaal. Die implikasie was dat Afrikaners en Engelse in Suid-Afrika kan saamwerk en in vrede saamwoon maar nooit één ‘Suid-Afrikaanse’ volk kan word nie omdat hulle op verskillende ‘wortels’ gegrond is. Aanvanklik het dit veral gegaan om die skeiding tussen die ‘twee rasse’, Afrikaners en Engelse. Op die duur het die neo-Calvinisme hoe langer hoe meer ontwikkel tot ‘n apartheidsteologie waarin die apartheidsbeleid van die Nasionale Party teologies geregverdig is. Sover as wat ek kan sien, het die invloed van die neo-Calvinistiese spiritualiteit van mense wat glo in die belydenis vandag in die NG Kerk baie sterk afgeneem. My vraag is hoe dit vandag gaan met die spiritualiteit van mense wat hulle geloof bely?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top