In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Vandeesweek presies ’n eeu gelede – op 19 Maart 1913 – het diewe by ’n bekende Kaapse juweliersaak ingebreek en met ’n vet buit weggekom: 5 000 pond se juwele – in vandag se geldwaarde om en by ‘n miljoen rand.
’n Dag na die inbraak het die juweliersaak ’n beloning vir inligting wat sou lei tot die arres van die diewe en die terugvind van die juwele in ’n Kaapstadse koerant uitgeloof.
Die beloning was óók ’n aardige bedrag: 500 pond – vandag seker ver meer as R100 000 – en inligting het die polisie uit verskeie bronne bereik.
Die booswigte is aangekeer en toe het die stryery oor die beloning van 500 pond begin, want daar was talle aanspraakmakers. Die juweliersaak was in ’n moeilike posisie, want hulle kon nie besluit aan wie die beloning betaal moes word nie.
Die saak het hof toe gegaan en ’n regter van die Kaapse hoër hof het beslis dat dit die inligting was wat ene mnr Bloom aan die speurders verstrek het wat direk daartoe gelei het dat die inbrekers aangekeer en die buit teruggevind is. Die hof het egter ook beslis dat mnr Bloom nie regsgeldiglik op die beloning aanspraak kon maak nie.
Teen dié beslissing het mnr Bloom na die hoogste hof van appèl in Bloemfontein geappelleer.
Hoofregter Innes se uitspraak in Bloom v The American Swiss Watch Company1 is tot vandag toe ’n klassieke beslissing in ons kontraktereg.
Kontraktereg, vra jy? Ja wel, dít is waaroor die hof moes beslis: Het daar ’n kontrak tussen Bloom en die juweliersaak tot stand gekom?
Nou, in elke ooreenkoms of kontrak is daar ’n aanbod, en ’n aanname daarvan – selfs al koop ’n mens net ’n dosie vuurhoutjies oor die toonbank. Aanbod en aanname.
In die Bloom-saak het die hof beslis dat daar ’n aanbod van ’n beloning was wat deur enigiemand wat oor inligting beskik het, aangeneem kon word. En dít is waar die knoop gelê het: toe Bloom polisie toe gegaan het met sy waardevolle inligting, was hy nog nie bewus van die beloning wat uitgeloof is nie. Hy het dus nie bewustelik gereageer op die juweliersaak se aanbod nie; hy het nie hul aanbod aangeneem nie. Gevolglik het daar nie ’n kontrak tussen Bloom en die juweliersaak tot stand gekom nie, en was hy nie geregtig op die 500 pond nie.
’n Mens voel – selfs nou, ’n eeu later – nogal jammer vir mnr Bloom. Ek bespeur ook simpatie vir hom in hoofregter Innes se uitspraak. Vir mnr Bloom, sê die hoofregter, is die eindresultaat sekerlik ’n bitter pil om te sluk. Hy het immers sy burgerlike plig nagekom deur onmiddellik, toe dit onder sy aandag gekom het, sekere belangrike inligting aan die polisie te verstrek. As hy ’n rapsie langer gewag het, het die beloning dalk onder sy aandag gekom en kon sy optrede hom ’n vet tjek in die sak gebring het. Nou het hy net met ’n spul regskoste gesit. "Maar," het hoofregter Innes opgemerk, "die regsposisie is duidelik en die appèl moet met koste van die hand gewys word."
Eish!
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

