Die impeachment-sirkus

  • 4

Die doel van ’n sirkus is om mense te vermaak met asemrowende toertjies en liggaamlike vaardighede wat hulle nie aldag sien nie. Die uitsendings van die impeachment1 van Donald Trump was inderdaad ’n sirkus, met die een asemrowende swaai van die woordartieste na die ander en toertjies wat ’n gewone mens na sy asem laat snak. Ek was vasgenael. Ek kon myself nie wegskeur nie en moes my slaappatrone aanpas sodat ek nie ’n enkele toertjie mis nie.

Die VS se Raad van Verteenwoordigers stem vir Donald Trump se impeachment (Foto: Openbare domein, Wikipedia)

Die gestileerde skyngeveg (nog ’n sirkusvaardigheid van veral narre) word vir ure onderhou met ’n meesleurende geveinsdheid van elke deelnemer sodat jy jou asem ophou en wag om te kyk wie ’n sweempie van realisme gaan bring en sodoende op die vangnet sal val. Maar die aanhoudende fasade van verontregting deur die Trump-span en die aanhoudende kammageveg vir eerlikheid deur die Raad van Verteenwoordigers hou so lank aan dat jy begin vergeet dat dit enigiets met die werklikheid te doen het. En jy begin elke swaai en elke poets van die sirkusartieste meeleef. Jy besef dan: Hierdie is die realiteit, maar in ’n unieke, magical vorm. So magical dat dit enige fiksie sal oorskadu. Facts are stranger than fiction.

Met ’n gewone sirkus weet jy dat die sirkustent een of ander tyd afgeslaan gaan word en die unieke artieste in hulle karavane na die volgende plek gaan reis, met mak leeus en olifante in tou. Maar dié realisme, magies soos dit aangebied is, gaan ongelukkig nie verdwyn nie; dit gaan net meer klandestien word, soos Amerikaanse politiek regtig bedryf word – agter die skerms.

Wat was dus so fassinerend van hierdie sirkus? Anders as, byvoorbeeld, ons eie voormalige president wie se manewales suiwer tragies was en sy poging om ’n alternatiewe narratief van verontregting daar te stel eintlik blote sprokies was? Die eerste fassinerende aspek was die gapings tussen die twee narratiewe van elke span. Terwyl ons ons eie gaping tussen die tragiese en die sprokie met afgryse aanskou het, was die spasie in die impeachment baie nouer – maar tog wesenlik. Met ons vooroordeel ten gunste van Westerse beskawing verwag jy dat daar gou tot die essensie van die saak gekom gaan word. Dit is tog die wêreld se grootste demokrasie, met die beste breine, ensovoorts ensovoorts, wat hier swaarde kruis. Enige belaglikheid sal spoedig te berde gebring word en op die vangnet gewerp word. Maar nee, behalwe vir die woorde Trump, impeachment, constitution en the American people wat vrylik deur beide spanne rondgeslinger word, is dit duidelik dat hierdie twee spanne twee heeltemal verskillende goed, in woord en in konsep, beskryf en bespreek.

Indien die proses op die Sokratiese manier beskryf sou word, sou dit soos volg kon lyk:

Raadslede: Daar is oorweldigende getuienis oor die korrupsie en die ondermyning van die kongres.

Trump-span: Julle weerhou getuienis van die senaat.

Raadslede: Ons moet getuies dagvaar om te kom getuig om by die waarheid uit te kom.

Trump-span: Julle het genoeg getuies; hoekom soek julle nog?

Raadslede: Die grondwet vereis ’n verhoor met getuies en dokumente.

Trump-span: Die grondwet vereis ’n regverdige proses, maar ons kon nie getuies voor die kongres ondervra nie.

Raadslede: Ons kan nie toelaat dat ’n president sy mag misbruik en politieke teenstanders laat ondersoek nie.

Trump-span: Die president was bekommerd oor korrupsie in ’n ander land waarvoor Amerika geld gee.

As die Raadslede se dialoog op sy eie gelees word, maak dit sin – so ook die Trump-span s’n. As hulle egter teenoor mekaar gelees word, is die gaping duidelik. En so het dit vir twee weke aangegaan en daardie gaping het hardnekkig bly bestaan – asof dit deur die een of ander magiese krag daar gehou word.

Die tweede aspek wat asemrowend was, was die pers se mening oor wat gebeur. Die pers was eweneens onbewus van die gaping, en joernaliste het bloot hulle politieke drom geslaan, sonder ’n sweempie van objektiwiteit oor byvoorbeeld wat Biden in die Oekraïne gedoen het wat vir Trump so aantreklik was om te ontbloot, of hoekom Trump vir Giuliani soontoe gestuur het.

Maar nog belangriker is dat almal hierdie gaping, wat deur hierdie sirkus ontbloot is, ignoreer. Hoe kan die wêreld se grootste demokrasie regeer word deur ’n mens wat nie die meeste stemme van die mense op hom verenig het nie? En hoekom is die magtigste politieke besluitnemer, naamlik die Amerikaanse Senaat – nie verteenwoordigend van die wil van die meerderheid mense in die land nie?2 As dit so was, het hierdie sirkus nie eers plaasgevind nie. Trump sou eenvoudig nie die verkiesing gewen het nie.3 Die antwoord hierop kan alleenlik beteken dat die Amerikaners sal moet erken dat hulle nie ’n werklike demokrasie is nie. En daarvoor is hulle nog nie reg nie; nie die politici, die pers of die mense nie. Daai spookasemstorie het hulle al te lank vir die wêreld gevoer om nou ’n ommekeer te maak. Maar solank dit so bly, sal hierdie tipe van sirkus van tyd tot tyd voorkom en ongelukkig meer en meer skade aan die konsep van demokrasie doen – soos ons hier plaaslik tans alreeds weet.

So hoekom dan hierdie sirkus? Dis bloot omdat die demokrate nie ’n kandidaat het wat Trump sal kan wen in ’n verkiesing nie en omdat die republikeine nie ’n ander kandidaat as Trump het wat ’n verkiesing teen die demokrate kan wen nie. So wat maak hulle? Hulle hou ’n sirkus waar die demokrate probeer om Trump swart te smeer en die republikeine hom as ’n held voorhou. Dit is al manier wat hulle het om die gebreke in hulle demokrasie te verbloem en hulle eie unieke vorm van staatskaping te ignoreer.

Daarenteen is ons eie sirkus, waar Zondo se eierdans om nie die hele boel se vingers in die geldlaai vas te knyp nie, besig om nimmereindigend en koersloos aan te donder.

1 Volgens die woordeboek beteken die woord impeach om iemand in ’n staat van beskuldiging te plaas. Daar is nie ’n enkelwoordvertaling vir impeach nie.

2 Volledigheidshalwe: Die senaat bestaan uit twee lede per staat, maw Kalifornië, met 40 miljoen inwoners, se twee stemme tel dieselfde as Montana, met 1 miljoen inwoners, se twee stemme. Daarenteen is die Raad van Verteenwoordigers (waarvan Pelosi die speaker is) meer verteenwoordigend met rofweg een kandidaat per 35 000 mense, maar is magteloos, soos die impeachment-sirkus uitgewys het.

3 Trump het gewen omdat die meeste state, en nie die meeste mense nie, vir hom gestem het. Die meeste mense het vir Hillary Clinton gestem.

  • 4

Kommentaar

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Net enkele observasies.

    - Ek is nie 'n Afrikaanse proffie nie maar ek verneem op die radio dat daar wel 'n woord vir "impeachment" in Afrikaans bestaan, en dit is glo die woord "ampsaanklag", maar die woordjie vind skynbaar nie veel vastrapplek onder die volk nie.

    - Elke verkiessing in die VSA is 'n mediasirkus. Die politiek daar is een groot sirkus.

    - Die Clintons is nie veel beter as die Trumpe nie. Inteendeel, Clinton se deelname aan die verkiesing het waarskynlik bygedra tot Trump se oorwinning.

  • Avatar
    Gustaf Claassens

    Oeeeee, dis 'n lang debat die ene. Kom ons volstaan maar net om te sê dat ALLES oor Party, eie belang en veral mag, gaan. Politiekery dus! Niks meer en niks minder nie.

    En ja, dit is altyd 'n sirkus.

  • Avatar
    Chris Marnewick SC

    Die impeachment verhoor in die Senaat was 'n klassieke voorbeeld van die teenstelling tussen 'n argument wat op die emosies speel en 'n kil argument wat op feite of regsbeginsels steun.

    Die een vra vir 'n emosionele respons, die ander vir 'n rasionele oorweging van die inhoud van die getuienis.

    Soos met Michelle Burger se getuienis in Oscar Pistorius se saak: Geweldige emosionele inpak, maar nie versoenbaar met die mediese getuienis nie. (Sy het vas geglo dat sy vir Reeva hoor skree het voor, gedurende en NA die "skote" geklap het maar dit kon nie Reeva gewees het nie want sy was reeds deur die derde of vierde sKoot gedood.)

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top