Die hond

  • 7

Die hond lewe nog, berus ek myself. Fyn skaduwees ets haar ribbekas teen haar goudrooi pels. Die son is welkom ná die nag se storm. Sy is nou al oud vir ’n rifrug. Sy dra elf jaar se verwesenlikhede en wendings in haar rond. Sy het ’n voorstedelike bestaan in Pretoria geken, en bevind haar tans waar sy gaan aftree, in ’n nuwe huis tussen Rooiels en die Hangklip, tussen mooi dae wat liggies beef in die briesie en die suidooster wat die wêreld skuins waai. Sy aanvaar die nuwe bedeling met sagte, stoïese helaasheid. 

Sy het vir die meerderheid van haar lewe so stil-stil my ma in haar eensaamheid vergesel. Sy het op my skoot opgegooi die dag toe ons haar op  ’n plaas in Delmas gaan haal het, die dag toe sy met haar grootpotige lompheid die huis binnegeval het. Gou sou dit net my ma en die hond in die huis wees; ons, die kinders, was al lank reeds mondig, en my pa, wat nog altyd seker gemaak het dat daar ’n hond in die huis is, was voortdurend oorsee vir werk. Dit is toe met geen opset dat my ma en die hond so saam-saam troos in mekaar gevind het nie.

Die hond is nog hier. Sewe jaar het ek ’n ander land se gewoontes aangeleer, en het ek tydens jaarlikse kuiers aan Pretoria die hond soms onwillekeurig in Frans aangespreek. Maar die hond is nog hier – my ma het elke keer op die lughawe gehuil as ek weer moes weggaan – en nou is ek terug en praat Afrikaans asof ek nooit weg was nie. My ma is intussen dood. Hierdie woorde vergader nog steeds in ’n dissonante uithoekie, daar waar my hartklop in die leemte hop.

Maar die hond is nog hier, warmbloedig; haar hart klop, haar ribbes lyk al hoe skerper soos wat sy in die son asemhaal, soos wat sy verouder. Haar oë is so sag soos haar pels, en wanneer ek haar vryf, vind ek troos in die hap in haar oor waar die bure se hond haar gebyt het, berus ek myself met die verlede se vermaaklike letsels, vind ek vrede in haar vreemde gewoontes wat sy nooit kon afleer nie. Sy het die eerste week by die hondeskool leer sit en poot gee, en die een gebaar het onlosmaaklik deel van die ander geword. Sit-en-poot. En só het sy onverpoos die leë betekenis en aangeleerde seremonie van troeteldier-wees verontagsaam.

Sy het ook deur die loop van haar lewe vir leë oppervlakke begin staar. Mure, gordyne, deure. Ek kan ook nie met sekerheid bepaal wanneer hierdie gedragsafwyking ontstaan het nie, en of dit in die eerste plek ’n afwyking is nie. As jy haar naam roep, sal sy omkyk, oogkontak maak en dan haar kop op haar vlerk rus, net vir ’n asemteug of twee, en weer omdraai om na die muur te kyk. Sy sal jou kom wakker maak en dan voor ’n venster gaan sit waar die gordyne dik soos opaak vooruitsigte hang. Só sal sy sit. Wáárna sy kyk, waarvan sy wégkyk, sal ’n mens natuurlik nooit weet nie. Hierdie is nie ’n peinsende neiging nie; inteendeel: Die mure praat nie juis terug nie – of nog meer inteendeel: die mure word nie as sulks raakgesien nie. Die hond staar sowaar die niet in. Die vraag is net, is dit doelbewus?

Ek bewonder die hond. Sy het ons gesin in sy fleur gesien, en sy het ons huis leeg gesien. Sy was teenwoordig vir die groot ontnugtering. Sy dra ’n beeld rond wat ek nie kan nie. Paramedici het my ma op haar kamermat neergelê, vertel my broer. Die hond het in die kamer ingegaan en stilletjies met haar snoet my ma gegroet.

Die hond het my ma heeltemal dood gesien, al verdiep sy haar soms in niks.

  • 7

Kommentaar

  • Renette Vosloo

    Wow, Jannike. Dit kom lê soomloos by my, waar my hart ook in die leemte hop.
    Dankie dat jy haar sien.

  • Gerda Pretorius

    Die kosbaarheid van 'n hond met 'n unieke persoonlikheid en so deel van 'n gesin se lewe, so mooi verwoord in hierdie skrywe.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top