Die hond wat ophou blaf het deur Jo Nel: ’n resensie

  • 1

Die hond wat ophou blaf het
Jo Nel

Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781415209301

Oor die afgelope vyf jaar het daar ’n hele aantal romans in Afrikaans verskyn waarin honde ’n deurslaggewende rol speel; onder andere in John Miles se Op ’n dag, ’n hond (2016), Ilse van Staden se Goeie dood wat saggies byt (2016), en natuurlik Willem Anker se Buys (2014). Die honde wat in hierdie boeke voorkom, word telkens meer as net gewone honde – hulle ontwikkel tot ’n simbool van die skadukant van menswees, van die mens se wreedheid en boosheid, maar ook van die mens se gewete, onderbewuste en van die dood.

Dit is dan ook die geval met Jo Nel se debuutroman, Die hond wat ophou blaf het.

Op die omslag verskyn die wasige beeld van ’n menslike skedel in die agtergrond, terwyl ’n tandarts se spieëltjie in die voorgrond opdoem – ’n glurende oog daarin gereflekteer. Reeds met die optel van die boek vermoed die leser dus dat die bose en dood, soos dit enige goeie sielkundige riller betaam, heeltyd net onder die oppervlak teenwoordig sal wees; dat dit soos in NP Van Wyk Louw se “Ballade van die bose” immer in die karakters se spoor sal trap “soos ’n goeie hond”.

Die eerste hond wat die hoofkarakter, Izak Hugo, se pad kruis, is ’n ietwat nare Franse poedel met die naam Monet. By ’n partytjie lig Monet sy been teen Izak se skoen; drie bladsye later is die hond dood – ’n hond wat ophou blaf, maar ’n hond wat nie ophou spook by Izak nie.

Die tweede hond wat genoem word, is ’n jong golden retriever wat “beskuldigend” vanuit ’n tydskrif se voorblad na Izak kyk, en dan is daar die eienaardige ou tannie wat met Weimaraner-oë na hom staar. Derdens kom die fris bulhond Winston aan die beurt, en uiteindelik die twee mensvreterhonde De la Rey en Hertzog.

Jo Nel | Foto: Cornelle Carstens

Deur die loop van die roman ontwikkel hierdie doodgewone honde tot ’n simbool van die mens se gewelddadigheid en brutaliteit, veral wanneer Izak en sy vriende soos diere deur bendelede gejag word, en wanneer twee kinders vermoor word. Die honde word egter ook ’n metafoor vir “[d]ie aantyging dat [Izak] iets anders kon gedoen het, iets anders kon gewéés het” (318), as die gefrustreerde, swartgallige tandarts wat sy werk verpes en hom aan drank vergryp om uit sy benouende omstandighede te ontsnap. Soos ’n hond wat snags onophoudelik en skril blaf, knaag die wete dat hy iets meer betekenisvol kon wees.

Die dooie poedel wat Izak in sy bakkie ontdek, is net die begin van sy nagmerrie, en net die begin van die dolle vaart waarteen die roman wegspring. Daar is dreigbriewe, agtervolgers met Madiba-mombakkies, geheimsinnige selfoonboodskappe, klappers wat ontplof, troeteldiere wat tydens inisiëringsrituele verwurg word, wilde jaagtogte, sowel as Izak se episodiese geheueverlies weens migraines.

Wanneer Izak ’n bebloede byl en afgekapte neus in sy motorhuis aantref, verloor hy finaal sy greep op die werklikheid – ’n tipiese kenmerk van die sielkundige riller, waar die klem val op die hoofkarakter se onstabiele psigologiese toestand en die gepaardgaande drogbeelde en verwringings, sodat die grens tussen werklikheid en waanbeeld byna heeltemal vervaag.

Was Izak dus verantwoordelik vir die dood van ’n jong bendelid tydens een van sy “episodes”? Het hy, wat as kind van boosheid weggevlug het in sy drome, nou self die boosheid geword? Het die slagoffer die geweldenaar geword, die vlugteling ’n jagter? En indien Izak nie die moordenaar is nie, wie is dit dan? Of is énigiemand onder sekere omstandighede tot moord in staat – selfs die moederlike Rose, die simpatieke psigiater Johan, of die rokjagter Dirk? Dit is die vrae waarmee Izak, asook die leser, gekonfronteer word.

Een van die spanningvolste dele in die boek is waar Izak en sy vriendin Rose deur ’n heuwelagtige Transkeilandskap moet vlug van inwoners wat hulle wil wreek op die dood van twee tienerseuns. Met hierdie uitmergelende jaagtog, die eksentrieke karakters van Rose en Dirk Derksen, die deurlopende galgehumor, sowel as die doodsangs wat jou gedurig soos ’n rottweiler aan die keel gryp, hoef Jo Nel beslis nie terug te staan vir gesoute rillerskrywers soos Irma Venter, Martin Steyn of Chris Karsten nie.

Soms kry die leser die gevoel dat die intrige se legkaartstukkies nie heeltemal wil pas nie en dat die skrywer dit wil indwing deur onnodig lang verduidelikings en deur twee sleutelkarakters eers heel aan die einde by te sleep. Verder sal die leser wat fyn lees, reeds uit die staanspoor weet wie “die Boss” is, maak nie saak hoeveel vals leidrade geskep word nie.

Nietemin het Nel daarin geslaag om ’n hoogs leesbare en pakkende sielkundige riller te skryf wat die leser sal laat naels kou, en wat sal sorg vir lekker Desembervakansievermaak – in ’n koel grasdakrondawel iewers aan die Wildekus, waar ’n hond die hele nag veraf maar deurdringend blaf ...   

Gerda Taljaard-Gilson is ’n skrywer en akademikus van Pretoria.

  • 1

Kommentaar

  • Lekker boek! Ek het dit baie geniet! Veral die bekende en herkenbare PE-tonele. Skryf nog enetjie, Jo Nel!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top