Die hond wat ophou blaf het deur Jo Nel: ’n FMR-boekresensie

  • 0

Die hond wat ophou blaf het
Jo Nel
Penguin Random House South Africa
ISBN: 9781415209301

Vir die masochistiese hoendervelvraat wat floreer op vrees en sielkundige rillers wat jou meesleur na ’n nagmerriewêreld wat jou deurnag wakker hou, is hierdie debuutroman soos ’n inspuiting vir ’n dwelmslaaf – seer, maar salig.

In haar resensie (LitNet, 22 Augustus 2018) meld Gerda Taljaard dat daar in die afgelope vyf jaar ’n hele aantal Afrikaanse romans verskyn het waarin ’n hond as “simbool van die skadukant van menswees” aangebied word – in hierdie geval die mens se gewelddadigheid en brutaliteit.

Honde blaf gewoonlik om hul eienaars te waarsku dat alles nie wel is nie én om oortreders te vermaan om nie nader te kom nie. Die romantitel speel dus in op die onheilsgevoel wanneer blaffende honde skielik stilbly en jy angstig wag op iets onaangenaams en ongewens wat gaan gebeur. Dit herinner egter ook aan die bekende spreekwoord “Blaffende honde byt nie”, wat dan wel mag impliseer dat honde wat ophou blaf, wél byt … en waarskynlik baie seer sal byt.

Benewens die titel is die voorbladillustrasie van ’n boek dikwels ook ’n aanduiding van wat die leser te wagte mag wees. Die voor- en agterblad van hierdie roman bevat wasige beelde van die voor- en agteraansig van ’n kopbeen, wat waarskynlik eerder na die waarskuwingsimbool op gevaarlike kragdrade heenwys as om bloot op die dood of moord te sinspeel. Waar die tande moet wees, sien ons ’n tandarts se ondersoekspieëltjie met daarop die weerkaatsing van ’n priemende, indringende tandartsoog wat waarskynlik verrotting en infeksie vermoed.

Die skrywer, Jo Nel, is inderdaad ’n tandarts wat onder meer in Port Elizabeth en die eertydse Transkei gepraktiseer het. In ’n onderhoud met Cornelle Carstens (Mossel Bay Advertiser, 30 Junie 2018) erken hy dan ook: “Ek het skaamteloos uit my eie lewe geleen.” Hy ken dus die gemoed van ’n tandarts en het ervaring van pasiënte se fobies en vrese aangaande sy beroep. Dit help hom dan om die hoofkarakter se verskuilde aggressie oortuigend te laat klink en dien terselfdertyd as afstandskeppende tegniek om die leser se empatie van hom te weerhou. Trouens, sy beskrywing van die gefrustreerde tandarts se sadistiese hallusinasies herinner sterk aan die sadistiese tandetrekker in die bekende musiekblyspel en fliek van die tagtigs, Little shop of horrors.

Nel plaas die verhaalgebeure in ’n ruimte wat hy deeglik ken, en dit is een van die sterkste pluspunte van hierdie roman. Met die verwysings na plekke en straatname slaag hy daarin om ’n effens vervalle Port Elizabeth waarheidsgetrou te beskryf en terselfdertyd ’n atmosfeer van swakverbloemde onderliggende ongemak te skep. Maar dit is sy intieme kennis van die oënskynlike ongereptheid van die Transkeise Wildekus wat meesterlik aangewend word as senutergende spanningselement. Die malse groen heuwels word mettertyd karbonkels van broeiende onheil en die landelike grondpaaie word verlammende struikelblokke in die wedloop om oorlewing. Pretensielose backpackers en sjokoladedoos-natuurtonele word merkers op die metaforiese smal pad van verraad en onteenseglike ontnugtering.

Die hoofkarakter, Izak Hugo, is ’n onvergenoegde en lewensmoeë tandarts wat nie van kinders, Angus Buchan en poedels hou nie en ’n knaende vermoede koester dat sy lewe meer betekenisvol behoort te wees. Op die verjaardagpartytjie van Annemarie, sy psigiatervriend Johan Malherbe se kil vrou, lig Monet, haar bedorwe Franse poedel, sy been teen Izak se voet. ’n Hoogs geïrriteerde Izak stamp die klein wit hondjie só geniepsig opsy dat hy saggies tjank. Nadat Izak seker maak dat niemand dit gesien het nie, verduur hy die volgende twee uur van vervelige werkspraatjies met die een drankie na die ander.

Die volgende oggend besef ’n geskokte Izak dat hy niks van die vorige aand kan onthou nie. Hy gaan na sy Bantambakkie in die toegesluite woonstelgarage om te kyk of die bottel Wolftrap nog daarin is, en ontdek dan Monet se verwurgde liggaampie in ’n swart sak agterin die bakkie. Dan word ’n hond wat letterlik ophou blaf die katalisator vir ’n reeks intriges wat Izak én die meelewende leser aan hul eie oordeel en begrip laat twyfel. En daarmee begin die proses van geestelike aftakeling en vervreemding so eie aan die sielkundige riller - of in hierdie geval dalk eerder ’n sielkundige “griller”.

Izak bieg teenoor twee van die min vriende wat hy tydens sy agt jaar in PE gemaak het, Dirk Derksen (’n skaamtelose maar eerlike smous en rokjagter met toutjieshare en ’n ongure woordeskat) en Johan (die selfversekerde en gesondheidsbewuste psigiater en sorgsame pa van ’n veeleisende tweeling) oor sy “episodes” van totale geheueverlies en sy vermoede dat hy dalk ’n hondemoordenaar is. Terselfdertyd begin die skadelose (volgens ’n ander karakter “patetiese”) Izak ontstellende drogbeelde sien. Die tonele waarin hy magtelose pasiënte soos die oorgewig meneer Draghoender vasgespe om hul tande sonder verdowing te trek, openbaar ’n onderdrukte aggressie en wraaklus wat hom én die leser laat vermoed dat hy dalk wel tot koelbloedige moord in staat mag wees wanneer ’n oormaat van drank of susmiddels sy selfbeheersing laat knak.

Hoewel die gebruik om kinders en jeugdiges as antagoniste in te span redelik algemeen in films voorkom, is dit hier ’n vars en erg onthutsende spanningstegniek wat behendig deur Nel aangewend word om selfs die parate leser onkant te vang. Aanvanklik treiter die kinders Izak op ’n speelse, koggelende manier deur klappers wat soos geweerskote klap in sy woonstel te gooi, maar namate die verhaal ontvou, verander hulle in groteske metafore vir die onderskatte mag van die jeug in ’n land soos Suid-Afrika, sowel as van die argetipiese slagoffers van ’n stryd wat inderwaarheid nie hulle s’n behoort te wees nie.

Oor die knapbeplande intrige kan ek nie veel sê sonder om die klimaks te verklap nie. Wat die ander aspekte betref, verdien die aweregse onderbeklemtoning en skalkse galgehumor beslis eervolle vermelding. Wanneer Johan byvoorbeeld neerhalend na Izak se verweerde Bantambakkie verwys, sê Izak: “Dis voorbehoeding teen geskeide Millpark-tannies”, en wanneer sy skouer onbeholpe teen die preutse Annemarie stamp, besef hy hy “kan nooit die afstand van ’n drukkie akkuraat skat nie”. Die aanwending van tipies Afrikaanse humor sorg vir heelwat leespret, byvoorbeeld die beskrywing van Izak se ontvangsdame, Magda, se rok “met blokkiespatrone in skakerings van vaalblou, soos ’n verbleikte Hartenbos ATKV-gordyn” en die Malherbe-tweeling se bakleiery in die kar, waartydens hul ma “in ’n stem wat effens hoër as gewoonlik is”, kerm: “Johan! Jaco het vir Sussie gespoeg. Wil jy nie asseblief ietsie sê nie?”

Maar nouja, ’n resensent wat sy naam gestand wil doen, moet seker minstens een “resentment” opper, en hier volg my goedbedoelde kritiek: ’n Goeie skrywer moet ’n meestermanipuleerder wees wat sy leser ongemerk beïnvloed om van die onderskeie karakters te hou al dan nie. Die klem is hier op “ongemerk”. Sodra ’n leser vermoed sy mening word námens hom gevorm, verloor hy die genotvolle en onontbeerlike “aha-ervaring” van selfontdekking wat hom slim, selfvoldaan en leesbevredig laat voel. Nel laat nog te opmerklik deurskemer hoe hy as skrywer oor sy karakters voel en daardeur laat hy deurskemer wie die skurk in die verhaal gaan wees. Taljaard reken in haar bogenoemde resensie dan ook heeltemal tereg dat die “fyn leser” vroeg reeds sal weet wie “die Boss” oftewel die meesterskurk is.

Tog vermoed ek daarteenoor dat die opregte skrikslawe hul nogtans willens en wetens sal onderwerp aan die sogenaamde vrywillige opheffing van ongeloof om saam met Izak Hugo te wroeg en te wriemel om te ontsnap uit die maalkolk van misdaad en misleiding en hul uiteindelik te verlustig in die verrassende ontknoping en die ekstase van “Uitgevang, jou gemene, geslepe gemors!”

  • FMR Boekkeuse word elke derde Woensdag van die maand van 12h00 tot 13h00 aangebied. Amanda Botha is die redakteur/aanbieder. Hierdie resensie is op Woensdag 16 Januarie 2019 uitgesaai.

Die hond wat ophou blaf het deur Jo Nel: ’n resensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top