Die hiërargie van begeerte in José Saramago se roman Baltasar and Blimunda

  • 0

Opsomming 

Die rol van persoonlike en kollektiewe obsessionele begeerte en wellus in José Saramago se roman Baltasar and Blimunda is ’n tema wat nie voorheen spesifiek deur literêre kritici ontleed is nie. Hierdie artikel fokus op die verskynsel dat die begeertes wat die dryfveer in die uiteenlopende groep niefiktiewe karakters se lewens kenmerk, ook bepalend is van hulle lotgevalle. Die hiërargie van die status van die karakters in die roman korreleer onderskeidelik met ’n hiërargie van kreatiewe begeerte en immorele wellus, wat krities ontleed word ten aansien van die koning, Dom João V (Johan V, 1689–1750), as die belangrikste persoon in die Portugese Ryk, van sy koningin, en van ander karakters, tot die laagste arbeider wat met die bou van die klooster-paleis by Mafra tot gedwonge arbeid gedoem is. Die ontleding lei tot die slotsom dat Saramago die historiese karakters in ’n slegter lig stel as wat in werklikheid die geval was. Die afleiding word gemaak dat die romanskrywer die historiese gegewe met opset fiktief verdraai het om die tragiek van João V se absolute koningskap wat tot die ondergang en totale bankrotskap van sy ryk gelei het, te beklemtoon.

Trefwoorde: José Saramago; Dom João V; Portugal; klooster-paleis by Mafra; begeerte

Abstract

The hierarchy of desire in José Saramago’s novel Baltasar and Blimunda

José Saramago was awarded the Nobel Prize for Literature in 1998. His novel Baltasar and Blimunda deals with a wide-ranging group of characters in early 18th-century Portugal, from the king to the lowliest labourer. All are driven by diverse desires. Most common are desires of the flesh that drive those who experience its manifold and habitual cravings to submit to immoral behaviour.

The king, Dom João V (John V, 1689–1750), is no exception. He debauches his manhood by being unfaithful to his queen and impregnating countless nuns to produce a “horde of bastards” with his royal semen. He assumes that he is a great king because he wields power and possesses riches. Besides his sexual exploits he routinely passes the time by assembling the blocks of a miniature Basilica of St Peter’s in Rome under the feigned admiring gaze of his courtiers. His desire for an heir motivates him to empty his kingdom’s coffers to build a basilica, convent and palace at Mafra, intended to honour his superstitious vow to the Franciscans that if the seemingly barren queen, Dona Ana Maria de Áustria, bears him an heir he will reward them with such an edifice.

The king’s obsession with the building project at Mafra is related in parallel with the obsession of the priest with an interest in scientific invention, Padre Bartolomeu Lourenço de Gusmão, to build a flying machine.

Intermeshed with the king’s and the priest’s stories are the lives of various other personages whose dreams result in obsessions of lesser intensity than those of the king and the priest. Among them the most prominent are the lovers Baltasar and Blimunda, who are involved with both constructions.

Saramago interweaves fantasy and reality in what he calls a “fairy tale”, but in the end the vicissitudes of all the characters prove that their dreamsend in death and that their creativity, which was driven by desire, has bad, even tragic, outcomes.

Keywords: José Saramago; Dom João V; Portugal; convent and palace at Mafra; desire

1. Tematiese inleiding en metodologiese verantwoording

’n Belangrike tema in José Saramago (1923–2010), aan wie die Nobelprys vir Letterkunde in 1998 toegeken is, se roman Baltasar and Blimunda (Portugese titel: Memorial do convento), wat in die vroeë 18de-eeuse Portugal afspeel, is persoonlike en kollektiewe obsessies wat deur begeerte gedryf word. Hierdie tema as die fokus van die hieropvolgende ontleding van die begeertes van Saramago se fiktiewe karakters, wat geskiedkundige persone, denkbeeldige persone en selfs diere insluit, is bedoel om ’n bydrae te wees tot die benadering wat as die “psigologie van kuns” bekend staan.

Begeerte lei die koning, sy koningin en onderdane wat die veelvuldige en knaende drang tot die uitlewing daarvan beleef, tot dwingende obsessies, meestal met tragiese of noodlottige gevolge. In uitsonderlike gevalle lei die obsessiewe dryfkrag egter tot ’n begeerte om op verskillende wyses kreatief daaraan uiting te gee. Die aard van die ontplooide karakters se begeertes word in hierdie artikel ontleed ooreenkomstig die gevolge daarvan, wat ’n duidelike hiërargiese orde van persoonlike en nasionale tragiek oplewer, met die koning aan die spits.

Die meeste ontplooide karakters in Baltasar and Blimunda – van die Portugese koning tot die laagste arbeider in sy ryk – se lewens word oorheers deur ’n drang na vleeslike genot, wanneer en hoe ook al bekombaar. Die koning, Dom João V (Johan V, 1689–1750), wat die hoogste hiërargiese posisie in die ryk beklee, beskik oor die geldelike en ander middele om sy begeertes, wat wyer as bloot die seksuele uitkring, te bevredig. Ondergeskiktes, onder wie die koningin en die Franciskaanse geestelikes, maar veral die arbeiders as die laagste groep in die sosiale rangorde, bevind hulle in ’n posisie van bestaansoorlewing in diens van die koning, afgewissel deur efemere wellus.

Saramago gee ook ’n teenbeeld van die verrotte sosiale toestand deur die beskrywing van die strewe van ’n priester, padre Bartolomeu Lourenço de Gusmão, met die vermoë tot wetenskaplike denke.1 Sy helpers, Baltasar, ’n voormalige soldaat wat sy linkerhand in die oorlog teen Spanje verloor het, en Blimunda, ’n vrou uit die volk met psigiese gawes, transendeer eweneens die beperkings van hulle uiters benouende situasie. Hulle behaal die bomenslike prestasie om oor ’n tydperk van jare onder die priester se leiding saam ’n masjien te bou wat werklik met die bouers as passasiers kon opstyg en vlieg.

In die roman word gedetailleerde beskrywings gebied van twee terreine waar die buitengewoonste konstruksies gelyktydig plaasvind. Die een is dié van die priester se vliegmasjien waar hy, met die hulp van sy helpers, sy begeerte om te kan vlieg, verwerklik deur ’n voëlvormige toestel, genaamd die Passarola, te bou. Die ander terrein is dié van die koning se veeldoelige klooster, basilika en paleis by Mafra.2 Hierdie monumentale bouwerk is bedoel om sy gelofte aan die Franciskane te eer, naamlik dat as sy Oostenrykse eggenote, koningin Dona Ana Maria de Áustria, vir hom ’n seun as troonopvolger baar, hy hulle met sodanige bouwerk sal beloon.

In die vroeë 18de-eeuse Portugese sosiale konteks is beide ondernemings klaarblyklik bomenslik en albei konstruksies het hulle oorsprong as denkbeelde in hulle onderskeie dromers se obsessiewe begeertes. Die priester beplan sy vliegmasjien om die mensdom se wetenskaplike kennis uit te brei, hoewel steeds gegrond op alchemie en okkulte opvattings. Die koning beplan ’n bouwerk wat nie net die indrukwekkendste in sy ryk sal wees nie, maar met die grootste in die Christendom sal meeding of dit sal oortref.3 Sowel die priester as die koning se strewe het uiteindelik tragiese en destruktiewe gevolge.

Die obsessies van die koning en die priester is die leitmotiewe van die roman. Die verhaal word verbreed deur die lewens van verskeie karakters wat tussendeur gevleg word. Onder die newekarakters is Baltasar en Blimunda, wat by albei konstruksies betrokke is, die prominentste. Die drome van die hiërargies laer persone veroorsaak ook obsessies, maar van ’n mindere intensiteit as dié van die koning en die priester. Niemand ontkom die noodlot wat die koning se bou-ambisie oor Portugal bring nie.

2. Die fiktiewe karakters: ’n ontleding van hulle begeertes en die tragiese gevolge daarvan

Sonder om die chronologie van die roman te volg, word die begeertes van die fiktiewe karakters vervolgens ontleed, voorafgegaan deur die storie van ’n arbeider wat die betekenis van begeerte problematiseer.

Die roman beantwoord die vraag wat Krabbenhoft (2001:123; my vertaling) soos volg stel: “Saramago vra wat sal gebeur as ’n man of ’n vrou uit hulle sosiale rolle tree en op ’n vlak sou optree wat nie deur wette en sosiale instellings bepaal word nie.” Aangesien hierdie kritikus nie sy hipotese oor die roman uitbrei nie, word voorgestel dat die antwoord gevind kan word in ’n storie wat deur ’n ongeletterde arbeider, Manuel Milho, vertel word.

Hoewel dit nie sy vooropgesette bedoeling is nie, problematiseer sy storie die psigologie van begeerte ten opsigte van sosiale rolle. Hy vertel die storie in kort episodes aan ’n uitgesoekte groepie vriende uit die 600 arbeiders (“’n gespuis”, volgens Saramago (235)4 voordat hulle aan die slaap raak na ’n dag van pynlik harde arbeid om ’n enkele blok marmer van 31 021 kilogram met ’n span osse oor ’n lang afstand te sleep na die terrein waar die basilika gebou word. Milho weet self nooit wat in die volgende episode of aan die einde van sy storie sal gebeur nie, maar improviseer die gebeure met elke vertelling.

Die intrige is nie ingewikkeld nie: ’n koningin wat nie seker is of sy ’n koningin wil wees nie, raadpleeg ’n hermiet wat in ’n grot woon oor haar begeerte om eerder ’n vrou as ’n koningin te wees. Die koningin en die hermiet voer ’n gesprek oor hierdie dilemma, waaruit dit blyk dat die hermiet eerder ’n man as ’n hermiet wil wees. Milho sluit die storie, waaraan hy ’n week lank vertel het, met die volgende woorde af: “Die hermiet het opgehou om ’n hermiet te wees en die koningin was nie meer ’n koningin nie, maar niemand het ooit geweet of die hermiet daarin geslaag het om ’n man te word en of die koningin daarin geslaag het om ’n vrou te word nie” (49–50). Die implikasie is dat ontevredenheid met ’n lotsbestemming begeerte tot ’n synstransformasie opwek wat ontwykend blyk te wees.

Gedurende die arbeiders se spekulasie oor die afloop van Milho se storie, wat geheel en al verskillend was van enige vertelling waarna die gehoor van ongeletterde mans ooit voorheen geluister het, vra een van hulle hoe ’n osdrywer ’n man kan word, waarop Baltasar ’n raaiselagtige antwoord gee: “Miskien deur te vlieg” (249). Hierdie antwoord kom van die oudsoldaat wat besef dat hy ’n man geword het toe hy eenkeer saam met padre Bartolomeau in die Passarola gevlieg het, ’n gebeurtenis waarvan nie een van sy vriende, en allermins die Inkwisisie, te wete mag kom nie.

Die les wat uit Milho se storie afgelei kan word, is dat die verwesenliking van ’n begeerte iemand verander, maar dat die uitwerking van sodanige verandering onverklaarbaar en onvoorspelbaar bly. Dit is waarom hy die slotsom tot sy storie uitbrei deur ’n bykomende insig dat indien die koningin inderdaad ’n vrou sou geword het en die hermiet ’n man, dan sou die uitwerking daarvan waarneembaar gewees het, en sou so iets ooit gebeur, sou dit nie sonder ’n duidelike teken geskied nie, maar daar was nooit ’n teken nie.

Hierdie insig wat Milho self uit sy storie aflei, is onwaar in Baltasar se geval, want geen teken het daarop gedui dat hy gevlieg het nie. Wat ongetwyfeld waar is omtrent Milho se slotsom, is dat alle stories in die dood eindig. Die duidelike boodskap is dat alle verhale oor begeerte handel en dat begeerte in die dood eindig. Gevolglik is dit regverdigbaar om die afleiding te maak dat die tema van die roman is dat alle mense, ongeag hulle sosiale status, uiteindelik insgelyks ’n tragiese lot beleef. Die lotgevalle van die karakters versterk die insig dat hulle drome nie net in die dood sal eindig nie, maar dat die kreatiwiteit wat begeerte dikwels oplewer, slegte – selfs tragiese – gevolge sal hê.

Wanneer Baltasar baie jare na die Milho-storie ’n onbeplande tweede, rampspoedige solovlug in die Passarola beleef, neem die Inkwisisie hom in hegtenis en word hy tot die brandstapel gevonnis. Saramago laat die besonderhede van sy gevangeneming en verhoor aan die verbeelding van sy lesers oor, maar die doodsvonnis was hoogs waarskynlik die straf vir die kettery dat hy as ’n blote mens – ’n man – gevlieg het. Ondanks die rampspoedige neerstorting van Baltasar na sy solovlug in die Passarola het hy nietemin sy manwording bevestig.

Die begeertes van die verskillende karakters – sowel mense as gepersonifieerde diere en voëls – word vervolgens bespreek.

2.1 Dom João V

Anders as die fiktiewe koningin in Milho se storie is Dom João V tevrede om die rol van ’n koning te vervul. Hy wíl koning wees. Hy is tevrede met sy titel, maar as ’n man doen hy sy titel oneer aan. Hy word voorgestel as ’n volslae stommerik wat veronderstel dat hy ’n groot koning is omdat hy oor mag en rykdom beskik. Hy verwyl sy tyd met onbenullighede en as ’n roetine-tydverdryf pak hy die blokkies van ’n model van die Petrus-basilika in Rome op mekaar terwyl sy afgetrokke howelinge bewonderend moet toekyk. Wanneer hy nie met hierdie speletjie besig is nie, maak hy ’n bespotting van sy manlikheid deur ontrou aan sy koningin te wees en met ’n patologiese drif ontelbaar baie nonne swanger te maak, welke owerspel tot gevolg het dat sy koninklike saad ’n “horde buite-egtelike kinders” (2) oplewer.

João se grootste begeerte is om ’n troonopvolger te verwek. Aangesien hy bygelowig is, beloof hy onder eed aan die Franciskane, wat vir ongeveer ’n eeu lank petisies om ’n klooster aan die troon gerig het, om aan hulle wens, oftewel begeerte, gehoor te gee, mits sy skynbaar onvrugbare eggenote swanger sou word. Die koning se “buitensporige selfbevrediging wat God beloon het deur dié vergunning toe te staan as die Koningin swanger sou word” (Alves de Paula Martins 2001:42; my vertaling), word deur die skynheilige Franciskane goedgepraat. Hierdie verwronge logika motiveer Saramago as ’n beoordelende stem in die roman se siniese (wan-) voorspelling dat “die Portugese dinastie en die Franciskaanse Orde [...] onderskeidelik [sal] baat by die sekerheid dat daar ’n troonopvolger en ’n beloofde klooster sal wees” (Alves de Paula Martins 2001:42; my vertaling).

Om die koning se seksuele verwording en megalomanie te beklemtoon, dig Saramago ’n droom aan hom toe waarin hy visionêr ervaar dat “die Boom van Jesse uit sy penis spruit, bedek met blare en bevolk met die voorouers van Christus, en selfs Christus self, die Erfgenaam van Alle Koninkryke; dat die boom dan verdwyn en hoë kolomme, kloktorings, koepels en wagtorings van ’n Franciskaanse klooster verskyn” (10). Die romanskrywer evalueer die koning se nagtelike visionêre kettery met die siniese stelling dat “verbeeldingryke konings Portugal tot groot diens was” (10). Terwyl verbeeldingrykheid kreatiwiteit in kunstenaars inspireer, is João se wellustige droom ’n voorbode van onheil in sy koninkryk.5

Die konstruksie van die monastieke kompleks in Portugal, wat deur die koning se bygeloof en grootheidswaan geïnspireer is, het sy mentaliteit nadelig verander. In plaas daarvan om by sy roetine te hou om soos ’n kind met sy boublokkies te speel en as ’n man sy vrou snags twee keer per week te besoek, “met brandende ywer, gretig en opgewonde deur die gedagte aan die mistiese eenwording tydens die uitvoering van sy vleeslike plig” (7), raak hy ontevrede met die miniatuur van die Petrus-basilika wat vir baie jare sy speelding was, en geobsedeer met die begeerte om ’n volskaalse replika van die grootste Christelike bouwerk vir sy eie gebruik in sy ryk te besit. Selfs terwyl die Franciskaanse klooster in Mafra in aanbou was, het hy sy argitek, João Federico Ludovice,6 wat aldaar besig was, ontbied om hom ’n voldonge opdrag te gee: “Dit is my wil dat daar ’n kerk soos die Basilika van die heilige Petrus in Rome vir my hofhouding gebou word, en terwyl hy hierdie woorde uiter, kyk hy uiters strak en streng na die argitek” (264). Dié keer is die eerlike reaksie van ’n ondergeskikte dat hy nie in staat is om die koning se wens uit te voer nie, en die argitek antwoord: “Ek mag ’n beroemde argitek wees, en net so verwaand as enige ander man, maar ek ken my beperkings” (265).

Hierdie uitspraak beëindig die koning se ambisieuse droom om ’n volskaalse Petrus-basilika te besit, maar sy volgende kompenserende bevel aan die argitek is om die Mafra-klooster te vergroot sodat 300 in plaas van 80 monnike daar gehuisves kan word. Dit sou vereis dat nog ’n gedeelte van die bergagtige terrein met plofstof weggeskiet en teen hoë bykomende onkoste gelyk gemaak moes word.

Met die aankondiging van die nuwe onderneming voel die rykstesourier genoop om Dom João te maan dat dit onmoontlik is: “Indien U Hoogheid my sal vergun om reguit te praat, moet ek maan dat ons op die drumpel van bankrotskap staan” (268).7 Nog erger, dit blyk spoedig dat die uitgebreide klooster nie sonder ’n vergrote werksmag gebou kan word nie. Die koning se oplossing vir hierdie probleem is om alle volwasse mans oor die hele land aan te keer, al diegene sonder gebreke (“of selfs met gebreke” (279), om die bestaande, alreeds buitengewoon groot werksmag van 30 000 man, aan te vul. ’n Verdere 50 000 mans, wat van plase en ander arbeidsplekke gewerf of gedwing word, word sodoende tot slawe-arbeid gedoem.

Sy geheel en al egoïstiese synsaard motiveer die koning om sy lot te bekla dat hy moontlik nie lank genoeg sal leef om sy groot begeerte in vervulling te sien en die uiteindelike inwyding van die basilika te beleef nie – ongeag die feit dat hy sy land ruïneer, want die werklikheid op die bouterrein is anders as in die koning se verbeelding: “Dit skyn ongelooflik te wees dat dertien jaar van ononderbroke arbeid so min tot stand gebring het: die kerk is onvoltooid, die klooster rys op na die tweede verdieping aan twee vleuels van die beoogde gebou, maar die res het skaars deurhoogte bereik, en slegs veertig selle is gereed vir besetting, terwyl drie-honderd vereis word” (315).

Nietemin doem daar ’n aanhaling uit die wyse Salomo se spreuke in die tydelik ontstelde gemoed van die koning op terwyl hy oor sy sterflikheid besin: “Tevergeefs, alles tevergeefs, het Salomo eens verklaar, en Dom João V herhaal hierdie woorde: alles vergeefs, om te begeer, is vergeefs, om te besit, is vergeefs” (274). Die onwyse koning los Salomo se dilemma op deur homself wys te maak dat om ydelheid te bowe te kom, “beteken nie dat mens beskeidenheid of selfs nederigheid moet verwesenlik nie; inteendeel, buitengewoon groot ydelheid word daarvoor vereis” (274). Die grootheidswaan van die koning as die opdraggewer van die klooster verblind hom vir die feit dat een rede waarom die enorme bouwerk so stadig vorder, waarskynlik sy eie besluitveranderings is.

2.2 Die Franciskane

Op hulle beurt koester die Franciskane self ’n begeerte tot belangrikheid, “veral om nie wat landbou betref ondergeskik aan die Sisterciënser-orde te Alcabaça te wees nie, en
hoewel die Heilige Franciskus van Assisi met die wildernis tevrede was, was hy ’n heilige en is nou dood” (77). Die geestelike waardes van die volgelinge van die grondlegger van dié orde, wat die beginsel van armoede gehandhaaf het, het teen die 18de eeu in materiële begeerte, oftewel hebsug, verander. Veel erger nog het die broeders die slegte reputasie onder die bevolking bekom as seksbelustige mans. Bluminde se broer, ’n arbeider, verduidelik dat wanneer monnike die bouterrein by Mafra besoek, hulle kom “om met die vrouens te hoereer, en die Franciskane is die ergste van almal” (100).

2.3 Die koningin

En wat het João V se koningin begeer? Word sy ooit ’n vrou? Nee, want deur bloot te begeer wat die koning begeer – naamlik om ’n troonopvolger in die wêreld te bring – word sy nooit ’n vrou uit eie reg nie. Sy bestaan as die produseerder van die koning se nakomelinge, eers van ’n dogter wat bestem is om met die toekomstige Spaanse koning te trou, en dan van anders kinders, wat nie almal oorleef nie.

Saramago beskryf haar as ’n jammerlike en ontgogelde koningin wat sekerheid vind slegs deur elke dag uurliks te bid. Onder meer bid sy “ernstig om verlossing van die marteling om ’n koningin te wees en van die verdriet van vrouwees” (103). Sy sweer die begeerte af om óf ’n koningin óf ’n vrou te wees.

Voorheen het sy wel gedroom van haar begeerte vir die kroonprins, Infante Francisco, die koning se broer (’n niksnuts wat sy vrye tyd bestee deur skote na matrose op hulle skepe af te vuur en van hulle ernstig te verwond en ander selfs dood te skiet). Wanneer Francisco in die afwesigheid van die sieklike koning die koningin se geselskap opsoek en haar die hof maak, spreek hy sy begeerte vir haar ondubbelsinnig uit: “Ek wens regtig dat my broer moet doodgaan, want ek begeer om koning te word en met U Majesteit te slaap. Ek is sat daarvoor om net die kroonprins te wees.” Sy antwoord op ’n wyse wat Milho se storie eggo: “[E]n ek is moeg om die koningin te wees, maar ek kan nie daarna streef om iets anders te wees nie; ek versoen my dus met my lot en bid dat my eggenoot sal leef, opdat ek myself nie met ’n nog erger lot opgesaal bevind nie” (105–6). Sy sluit die gesprek af met ’n insig wat sy uit lyding wys geword het, naamlik dat “alle mans boos is, elkeen op sy eie manier” (105–6).

So beëindig die koningin haar begeerte vir die kroonprins, al sou hy haar enigste ontvlugting van ’n rampsalige bestaan kon wees, want ’n keuse tussen mans as eggenoot is ’n illusie; gevolglik is dit onsinnig om van ’n beter lot as haar lewe saam met die koning te droom. Vir altyd ná die insident met die kroonprins bestaan sy bloot gekondisioneer om niks te bevraagteken nie, nie te dink nie, nie te voel nie, maar te teer op gebede wat haar drome en begeertes vervang. Hierdie piëtistiese bestaanswyse weerspreek Saramago se kategoriese teenstelling in sy eie stem dat “dit drome is wat die aarde laat aanhou wentel” (107).

Gemeet aan hierdie stelling kom die koningin se lewe, ontdaan van die reg op selfbeskikking as ’n vrou, voor as betekenisloos en tragies. Sy is bestem om ’n pakdier te wees soos die osse wat ingespan word om swaar vragte na die bouterrein te sleep waar die koning se megalomaniese droom langsamerhand in klip gestalte verkry.

2.4 Die osse

Die osse as gepersonifieerde wesens is in staat tot ’n bewonderenswaardige afgetrokkenheid oor hulle eie en die arbeiders se lot terwyl hulle gesamentlik swoeg om die enorme marmerblok, wat as ’n monolitiese, naatlose balkon in die basilika moet dien, te vervoer. Dit was sekerlik nie hulle keuse om so ’n bloot simboliese blok as bewys van verwaande vertoon te ontgin en moeisaam aan te sleep nie, want sonder dat enigiemand dit sou opgemerk het, kon die balkon ook anders ontwerp gewees het.

Die verteller kontrasteer die osse se houding met dié van die arbeiders wat, hoewel hulle met rede bedeel is, eweneens by ’n absurde taak betrokke is: “Die beeste langs die pad herkou vreedsaam en betrag die dolle heen-en-weer gehardloop van manne wat bevele uitroep” (238). Die osse het geen selfverwyt nie en beoordeel ook nie die oordeel van die swoegende horde arbeiders wat die klip, gepersonifieer as “jy”, vervloek nie. Die arbeiders vervloek tewens die Franciskaanse geestelikes wat die vervoer van die klip oor ’n lang afstand na die bouterrein beveel het: “Vervloek is jy en vervloek is wie ook al wat beveel het dat jy uit die aarde gegrawe en deur die wildernis aangesleep moet word” (239).

2.5 Die seemeeue

Terwyl die stoïsynse osse se houding ’n kommentaar impliseer oor die hubris van mense wat ondernemings bo hulle middele en kragte probeer uitvoer, roep verwysings na die eweneens gepersonifieerde seemeeue ook hulle onskuld op. Is hulle syn begeerteloos? Nee. Want die skrywer vertel die mite dat God, ná die volvoering van Sy skepping, in die Tagus gebaai het, waar groot swerms seemeeue nog steeds versamel, in afwagting dat Hy weer naby die rivieroewer sal kom baai.

2.6 Padre Bartolomeu

Terwyl padre Bartolomeu een van die meeue dophou wat deur die wind gedra en na die binneland gevoer word, fluister hy: “Voël, mag God jou seën. In sy binneste het hy gevoel dat hyself van dieselfde vleis en bloed gemaak is, sidderend asof hy skielik ontdek het dat vere op sy rug groei. Nadat die meeu verdwyn het, het hy homself verlore in ’n wildernis gevoel” (151).

Die priester identifiseer met gevleuelde wesens omdat hulle kan vlieg, maar die seemeeue se verwagting dat “Hy” weer sal kom, is klaarblyklik ongegrond. Om homself in ’n “wildernis” te bevind, impliseer dat die priester se lot nie verskil van dié van die arbeiders en osse wat ’n klip deur die wildernis sleep nie, maar hy is nietemin anders (ook heel anders as die gelate koningin), want hy het aspirasies om te kan vlieg, dit wil sê om vir ’n metaforiese synsverandering van vlerke voorsien te word.

Die priester se bynaam was Die Vlieënde Man, want hy het twee jaar voor sy ontmoeting met Baltasar en Blimunda twee keer in ballonne wat hy self gemaak het, probeer vlieg. Albei pogings het misluk. Sy derde onbemande ballon het deur ’n venster gevaar en is nooit weer gesien nie. Nadat hy sy verhaal van eksperimentele mislukking op die gebied van die vliegkuns aan Baltasar en Blimunda vertel het, voeg padre Bartolomeu Lourenço by: “’n Man struikel aan die begin van sy lewe, dan loop hy, dan hardloop hy, en uiteindelik vlieg hy” (52).

Wat wel in die guns van die koning gesê kan word, is dat hy nie die Vlieënde Man se poging om ’n “windmasjien” te bou (soos een van die hofdigters dit beskryf) verkleineer het nie, maar hom toegelaat het om op die onteiende landgoed van die hertog van Aveiro by São Sebastião da Pedreira te werk. Die koning wat nog jonk is, amuseer homself ook met speelgoed (82).

Die priester besef sy kuns “val meer binne die jurisdiksie van die Inkwisisie as wat dit met geometriese wette te make het” (53). Hy besef ook “geen mens kan in sy of haar lewe alle begeertes bevredig nie, behalwe in drome” (108). Hierdie mymering is ’n bondige opsomming van die tema van die roman.

Die priester, wat Baltasar en Blimunda se sondige saamwoon kwytskeld, het in die vorm van die Passarola ’n veel groter sondige begeerte in sy blik. Hy erken sy “ambisie en hoogmoed, want hy beoog om eendag in die hemel op te styg, waar slegs Christus en Maria, en enkele uitverkore heiliges nog ooit opgevaar het” (79). Wanneer hy en sy helpers uiteindelik in die Passarola opstyg en vir ’n tydjie die profaniteit van die Inkwisisie ontvlug, beleef hy oomblikke van hoogmoed ten aansien van sy vervolgers. Hy fantaseer met verwaande bevrediging oor sy triomf: “sou hulle my nou kon sien, sou hulle moes erken dat ek die uitverkore seun van God is, ja, ek, padre Bartolomeu Lourenço, nou op my vaart deur die hemele wat ek deur my genialiteit verwesenlik het, maar bygestaan deur Blimunda se oë, as daar sulke oë in die hemel is, en ook deur Baltasar se regterhand” (183).

Teen skemer voer die Passarola as gevolg van ’n gebrek aan sonlig in die globusse kort duskant Mafra ’n onelegante landing uit. Gevolglik dreig die priester om sy masjien te vernietig, maar sy helpers keer hom. Al uitweg was om weg te hardloop en uiteindelik toevlug in Toledo, Spanje, te vind, waar hy later, met die Kerk versoen, sterf.

2.7 Domenico Scarlatti

Blimunda se kuns behels sig; die kuns van Domenico Scarlatti behels gehoor. Hierdie komponis is deur die koning op kontrak uit Londen ontbied om die Infanta (die oudste prinses) te leer om die harpsimbaal te bespeel. Hy wat voorheen gedink het dat net musiek “op lug gedra” word (155), raak met die priester se eteriese droom vertroud. Hy bring sy harpsimbaal na die terrein waar die Passarola gebou word, met die hoop dat sy musiek “daarin sal slaag om met die geheimsinnige substansie in die globusse te harmonieer” (160). Hy het ook ’n wens: “Indien padre Bartolomeu se Passarola ooit sou vlieg, sal ek so graag daarin reis en my harpsimbaal in die lug speel” (165). Scarlatti droom om te hoor hoe sy musiek, bevry van die profane werklikheid, klink.

2.8 Baltasar

Baltasar, wat aanvanklik geglo het dat ’n man nie kan vlieg nie tensy daar vlerke aan sy lyf groei, word die priester se helper. Hy wat ’n soldaat was en net geleer het om dood te maak, se eerste reaksie oor sy nuwe taak is: “Ek weet niks van vlieg nie” (5). Dit is nietemin aan hierdie onkundige man dat die priester die werking verduidelik van die Passarola wat in die skuur op die verbande hertog se landgoed vorm aanneem – aanvanklik kalm, dan met groter opwinding in sy stem. Die oudsoldaat kon aanvanklik slegs ’n voëlvorm in die ontwerp van die masjien herken, maar die priester verduidelik aan hom die ingewikkelde alchemistiese werking van die amber globusse wat met die son se strale die energie sal opwek om te kan vlieg (57).

Terwyl geen van die ander karakters ’n gesamentlik droom koester nie, het die priester, Baltasar en Blimunda ’n gemeenskaplike ideaal, want “al drie het dieselfde droom gedeel, al drie sal sien hoe die vlieënde masjien sy vlerke klap, die son in selfs groter heerlikheid ontplof, die amber die eter aantrek, die eter die magneet aantrek, die magneet die yster aantrek, alles mekaar aantrek, maar die werklike probleem is om te verstaan hoe om die bestanddele in die korrekte volgorde te rangskik” (111). Die ontbrekende element in die reeks is eter. Die priester het in Nederland uitgevind dat dit nie deur middel van alchemie geproduseer kan word nie. Wat hy geleer het, is dat “eter [...] binne-in mans en vrouens gevind [kan] word [...] dit is ’n samestelling van die wille van lewende siele” (115–6). Dit lyk soos ’n donker wolk binne-in ’n mens, ’n verskynsel wat net Blimunda kan waarneem en in ’n glasbol versamel, want sy “kan haar eie oë sien sien” (129).

2.9 Blimunda

In teenstelling met die ander karakters word die uitsonderlik psigies-begaafde Blimunda deur onskuld gekenmerk. Van haar moeder wat deur die Inkwisisie aan “godslaster, ’n dwaalleer en bose hoogmoed” (43) skuldig bevind, lyfstraf toegedien en na Angola verban is, het sy haar okkulte gawe geërf om in mense se siele in te kyk.

Blimunda is via ’n telepatiese boodskap deur haar moeder, toe sy op pad na haar ondergang tydens die auto-da-fé-optog oor Rossio-plein in Lissabon gestap het, aan Baltasar, ’n vreemdeling wat toevallig langs haar gestaan het, gekoppel. Net daarna het die priester hulle nie-amptelik in die eg verbind. Aangesien Blimunda oor ’n visionêre gawe beskik het om deur te “kyk” ook psigies te “sien”, het sy Baltasar beloof om nooit “in sy siel te kyk nie” (47). Haar besluit kan vertolk word as ’n voorbeeldige selfopgelegde beperking om uit liefde nie te begeer om die geliefde in sy diepste wese te besit nie. Vandaar het sy die eienaardige gebruik gehandhaaf om brood te eet voordat sy haar oë in die oggend oopmaak. Sy word dan Baltasar se helper met die bou van die priester se Passarola op die landgoed waar hulle saam woon en slegs die sonde van hulle buite-egtelike seksuele omgang gereeld aan die priester, hulle biegvader, beken.

Soos die priester deur ongeluk getref is, het Blimunda ook ’n omkering van haar geluk beleef. Sy, wat 2 000 wille (d.w.s. wille van lewende siele (116)) versamel het om die Passarola in staat te stel om te vlieg, het haar minnaar/eggenoot verloor toe hy probeer het om die masjien wat ’n dagreis ver van Mafra af in die struikgewas van Monte Junto neergestort het, te herstel, maar dit onverwags met hom binne-in opgestyg het.

Haar noodlot, verduidelik die skrywer, is dat “sy bloot ’n armsalige vrou is wat haar eggenoot verloor het toe hy in die bloute verdwyn het, en hoewel sy alle moontlike towerkuns sal uitoefen om hom terug te kry, weet sy helaas nie van enige towerkuns wat sal werk nie; dus het sy niks bereik deur te sien wat ander mense nie kan sien nie en sy het niks bereik deur wille te versamel nie, want dit is daardie einste wille wat hom in die bloute weggevoer het” (329).

Nadat sy nege jaar lank oor die hele Portugal na Baltasar soek, vind sy hom die sewende keer wat sy deur Lissabon beweeg in ’n auto-da-fé-optog. Deur haar okkulte sien-vermoë eien sy sy wil vir haarself toe, want dit was nie bedoel om na die sterre toe op te styg nie, hoewel hy ’n man geword het deur te vlieg, want sy manwees het aan haar as ’n vrou en aan die aarde behoort. Sy stoflike oorskot is aan die brandstapel oorgelaat. Tragies genoeg is dit Blimunda se laaste begeerte, die enigste begeerte van die veelvuldige begeertes van die karakters wat hier bo bespreek is, wat verwesenlik is.

3. Slotopmerkings

Ten slotte kan ’n beoordeling van die dromers en hulle obsessies gedoen word aan die hand van ’n leidraad wat Saramago self aanbied. Hy noem die verhaal, wat ’n boeiende mengsel van werklikheid en fantasie is, ’n “feëverhaal”. Dit bied ook ’n ernstige begrip van sy karakters se “drome”, ’n metafoor vir hulle begeertes, of, soos dit meestal blyk te wees, hulle obsessies om materiële goedere toe te eien of wat hulle begeer te verwesenlik. By uitsondering dien die droom ook om ’n buitengewone ervaring te beleef en selfs kreatiwiteit op te wek – hoewel die resultaat tragies mag wees en in die dood eindig.

Ewe kreatief as die koning se obsessie met die Mafra-klooster is die obsessie van padre Bartolomeu Lourenço de Gusmão om sy droom te verwesenlik om die Passarola te bou wat hom in staat sou stel om die Inkwisisie te ontvlug. Wanneer dit op Monte Junto neerstort, word hy ironies genoeg vyandig daarteenoor en probeer dit aan die brand steek voordat hy na Spanje vlug as ’n ketter wat van Judaïsme beskuldig word. Terwyl hy en sy bemanning hoog in die lug sweef, voor die Passarola se rampspoedige landing op Monte Junto, sê hy aan Blimunda, wat nie geweet het waarheen hulle vlieg nie: “Waar die lang arm van die Inkwisisie ons nie kan bykom nie, indien so ’n plek wel bestaan” (187). Dit is die prestasie van hierdie intellektueel en die masjien wat hy skep, as verteenwoordigend van ’n verbeeldingryke vryheid wat nieteenstaande alle ortodokse opvattings die moderne idee van die self verwesenlik, soos bondig en insiggewend deur Howe (1987:9) opgesom.

Baltasar en Blimunda se begeerte vir mekaar het ’n werklik mistiese liefdeseenheid van liggaamlikheid en “wille” verwesenlik, wat hulle lewens laat uitstyg bo die oninspirerende beuselagtighede van die onbestendige alledaagse werklikheid. As ’n werklike man en ’n werklike vrou styg hulle inderdaad uit deur ’n alchemistiese eenheid van die son en die maan te verwesenlik, wat in die geval van die Passarola ontbreek. Baltasar se bynaam was Sete-Sóis (Sewe Sonne) en tereg het die priester, ’n praktiserende alchemis, vir Blimunda die bynaam Sete-Luas (Sewe Mane) gegee. Selfs al eindig hulle verhaal in die dood, som Preto-Rodas (1999:16; my vertaling) hulle integriteit soos volg op: “Baltasar en Blimunda was nie net minnaars nie, maar ook menslike rolmodelle in ’n onmenswaardige tydperk.”

Die grootste obsessies word deur João V gekoester. Gekombineer met sy begeerte na mag het sy vleeslik-geïnspireerde drome rampspoedige gevolge vir sy ryk, en sy seksuele misdrywe parodieer die erotiese eenwording van ’n man en ’n vrou. Eweneens parodieer sy selfsug en wanbesteding van staatsgeld op ’n bouwerk ter ere van die feit dat hy ’n troonopvolger verwek het, die begrip van goeie regering.

Sodanige oordeel kan verwag word van die romanskrywer as ’n selfverklaarde kommunis en ateïs wat dus ook teen koningskap gekant is.8 Volgens Marxistiese norme moet absolute koningskap as ’n euwel veroordeel word, omdat dit tot die uitbuiting van die proletariaat lei, ’n tema wat duidelik in Baltasar and Blimunda uitspeel.

Bibliografie

Alves de Paula Martins, A. 2001. José Saramago’s historical fiction. Portuguese Literary and Cultural Studies,6 (Lente), ble. 49–72.

Da Gama, L.F. 1985. Palácio Nacional de Mafra. Lisboa–Mafra: Publicade Artes Gráficas.

Engass, R. 1968. Bernardino Ludovisi – III: His work in Portugal. The Burlington Magazine,110(788):613–9.

Howe, I. 1987. Fuelling the Passarola. The New York Times Book Review, 1 November, ble. 7 en 9.

Krabbenhoft, K. 2001. Saramago, cognitive engagement, and original sin? Portuguese Literary and Cultural Studies,6 (Lente), ble. 123–36.

Le Roux, S.W. en R.C. Fisher (samests.). 2010. Festschrift ter ere van O.J.O. Ferreira. Gordonsbaai: Adamastor.

Maré, E.A. 2010. Die negatiewe voorstelling van die Portugese koning en koningin in José Saramago se Baltasar and Blimunda. In Le Roux en Fisher (samests.) 2010.

Platt, C. 2004. Marks of opulence: The why, when and where of Western art 10001900 AD. Londen: HarperCollins.

Preto-Rodas, R.A. 1987. A view of eighteenth-century Portugal: José Saramago’s Memorial do convento. World Literature Today,61(1):27–31.

—. 1999. José Saramago: Art for reason’s sake. World Literature, 73(1):11–18.

Saramago, J. 1982. Memorial do convento. Lissabon: Editorial Caminho.

—. 2001. Baltasar and Blimunda. Uit Portugees in Engels vertaal deur G. Pontiero. Londen: Harvill Press.

Smith, R.C. Jr. 1936. João Federico Ludovice: An eighteenth-century architect in Portugal. The Art Bulletin, 18(3):273–370.

Eindnotas

1 In ’n nota van die vertaler aan die einde van die Engelse weergawe van die roman skryf Giovanni Pontiero dat padre Bartolomeu Lourenço de Gusmão ’n historiese figuur was wat in 1685 in Santos, Brasilië, gebore is en aan die seminarie te Belém in Bahia studeer het. In 1708 het hy na Portugal gereis en ’n memorandum aan koning João V gestuur in verband met ’n vaartuig wat hy ontwerp het wat kon vlieg. In 1709 het ’n skets van die vaartuig in Lissabon gesirkuleer, en omdat dit soos ’n groot voël gelyk het, is dit La Passarola genoem. In die geskiedenis van die wetenskap word Lourenço onthou as ’n baanbreker op die gebied van lugvaart. Hy is van Judaïsme verdink en het in 1724 vir die Portugese Inkwisisie gevlug, maar is voor sy dood in Spanje met die Rooms-Katolieke Kerk versoen.

2 Vir ’n historiese oorsig oor en beskrywing van die paleis, basilika, klooster, biblioteek, gehoorsaal en bykomende funksies van die Mafra-kompleks, kyk Da Gama (1985).

3 Dit was sekerlik João V se ideaal om die Escorial, wat Filipe II van Spanje se monumentale kompleks, wat ’n paleis, katedraal, panteon, biblioteek en klooster insluit, te oortref. Die kompleks in die dorp San Lorenzo de Escorial, 40 km buite Madrid, is deur Juan de Herrera, ’n Italiaanse argitek wat aan die Petrus-basilika in Rome gewerk het, ontwerp en van 1563 tot 1584 gebou.

4 Alle aanhalings uit die roman is vertalings in Afrikaans uit die Engelse teks deur die artikelskrywer; die bladsynommers tussen hakies verwys na die Engelse uitgawe. Vir vlotter leesbaarheid is leestekens soms in die vertalings bygevoeg, want Saramago skryf in lang, aaneenlopende sinne met min leestekens.

5 Billikheidshalwe ten opsigte van João V behoort gemeld te word dat Saramago die fiktiewe koning in die roman heelwat slegter en tragieser voorstel as wat hy histories was. Vir ’n vergelyking tussen die historiese João V en die fiktiewe koning in Saramago se roman, kyk Maré (2010) en Preto-Rodas (1987).

6 Hierdie argitek was van Duitse afkoms en sy naam was Johann Friedrich Ludwig. Vir biografiese besonderhede oor die argitek van die Mafra-klooster, kyk Smith (1936) en Engass (1968).

7 Platt (2004:161) verduidelik die historiese omstandighede waarin João V se duur argitektoniese onderneming by Mafra moontlik was. Die buitengewone rykdom van João V wat hy vir die klooster-paleis aangewend het, was uit Brasilië afkomstig. Driekwart van die koning se inkomste en die goud wat uit Brasilië ingevoer is, is in bouklip verander.

8 José Saramago is op 18 Junie 2010 in die ouderdom van 87 oorlede. Hierdie uitsonderlike man se romans, waaronder Baltasar and  and  and  and Bluminde nie die minste is nie, spruit voort uit ’n lewenshouding wat in een van sy mees aangehaalde uitsprake saamgevat kan word: “Ek is en was iemand met linkse oortuigings.” Sy pessimisme en ateïsme spruit waarskynlik uit sy bitterlik arm kinderdae en later uit die weerstand wat hy teen António de Oliviera Salazar se totalitêre regime gebied het deur in 1967 by die Kommunistiese Party in Portugal aan te sluit. Hy was sonder apologie tot sy dood toe ’n lid van die Kommunistiese Party. Sy kommunisme was ’n oortuiging wat gemotiveer is deur die besef dat globalisering ’n nuwe totalitêre stelsel is. Ook het hy geglo dat die wêreld ’n beter plek sonder godsdiens sou wees. Die Christendom was, soos die kommunisme, vir gewelddade teen die mensdom verantwoordelik. Die feit dat hy herhaaldelik oor godsdiens geskryf het, blyk ook uit die roman wat in hierdie artikel behandel word, veral die koning en koningin se obsessie met godsdiens. Wat die koning in sy grootheidswaan gedoen het om die volk in ’n enorme bouprojek te verslaaf, kan gesien word as ’n simptoom van kapitalisme, wat hy eweneens as ’n vorm van godsdiens verdoem het. 

 

 


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top