Die helaasheid van die dinge deur Dimitri Verhulst: ’n boekresensie

  • 0

Dimitri Verhulst: Die helaasheid van die dinge, Protea Boekhuis, Prys: R225

“Hy sê julle is minderwaardige mense. Swakkelinge. As julle soort nie kunsmatig aan die lewe gehou word deur die welsynsdienste nie, sou julle al lankal gekrepeer het. In die natuur sou julle nie ’n kans gestaan het nie, daar sou sterker spesies julle uitgewis het om die balans te herstel ...” (104).

Hierdie venynige blik op die Verhulst-familie van Reetveerdegem in Vlaandere is nie ver van dit wat die leser tot op daardie stadium in die roman sou kon afgelei het nie. Dit is die woorde van Dimmetrie se maat uit ’n hoër sosiale klas, eintlik die siening van dié se pa wat pas die vriendskap verbied het. Dit dui trouens nog ’n fase aan in Dimmetrie, soms Kleintjie genoem, se geleidelike ontworsteling aan hierdie taai kultuur van die onderste deel van die Vlaamse arbeiderswêreld waarin hy gebore is.

Dimitri Verhulst se Die helaasheid van die dinge bied ’n outobiografiese terugkeer na sy jeugwêreld. Hoe na aan die feite beweeg word, is moeilik te peil. Voor in die teks word die leser gewaarsku met die uitspraak: “Die moontlike ooreenkoms van sekere karakters in hierdie boek met bestaande persone berus op louter mensekennis.” Hierop volg nog twee motto’s, uit die werk van Pierre Michon en Francisco Unbral, wat beide wys op die onmoontlikheid om die verlede vas te vang.

Nostalgie word van die begin af deur siniese formulering beveg. Die karakter wat uiteindelik, byna terloops, as heldin van die sloppewyk na vore tree, is Dimmetrie se ouma, oor wie hy meld: “Hierdie vrou, dié verskrompelde en stinkende hopie, was my ouma. Maar as iemand my ma was, dan was dit sy.” In die loop van die vertelling is sy konstant lojaal teenoor haar seuns ondanks hul onverantwoordelike en rowwe leefstyl. Dat sy in die geheim sou ingryp om Dimmetrie te red, kom daarom as byna terloopse, maar totale verrassing teen die einde. Teenoor haar as demente bejaarde wat waarskynlik niks meer verstaan nie, sit hy uiteindelik nog belydenisse en maak, verkeerdelik oortuig daarvan dat hy hiermee finaal afskeid aan die neem is. En sy: “Sy staar na my asof ek op die televisie is!”

Die ontromantiserende styl word nog verder versterk deur dikwels die hoogstaande naas die banale te plaas. So word Dino Buzzati se tese dat die deelnemers aan ’n groot fietsren aangedryf word deur die Idee, geplaas teenoor ’n voorloper in Reetverdeem wat “poepdronk” sy skof afsluit.

Een van die sterkpunte van die vertelling is trouens die manier waarop stukkies belangrike inligting versprei word agter ’n reeks “stories” wat die familiegeskiedenis moet illustreer. Nagenoeg elke “hoofstuk” word ’n storie met sy eie spanningswekker. In “Only the lonely” kom die balju op die TV beslag lê weens een van die ooms, Zwaren, se onbetaalde skuld. Dit is egter slegs vyf uur voor ’n uitsending van die sanger Roy Orbison, ’n familie-idool, se terugkeer tot sy loopbaan. Zwaren slaag teen alles in om wel ’n gesin te vind wat bereid is om hierdie klomp wildewragtigs in hul woonkamer te ontvang om na hul held te luister terwyl hulle uitbundigheid kennelik heelwat skade aan die interieur veroorsaak.

Hierdie stories word in alle banaliteit deurgaans boeiend aangebied. Die toppunt vir my is “Die ronde van Frankryk” (die Vlaamse naam vir die Tour de France). Daar is goeie rede waarom die vertaler die Vlaamse naam hier behou het, want van ’n letterlike fietswedren is hier geen sprake nie. Trouens die kombinasie van die Verhulste se gehegtheid aan uitspattige drinkpartye en tekens van oorspronklikheid, selfs flitse van genialiteit, word hier tot die uiterste na vore gebring.

Die leser verneem eers van die wakker kroegman Omer se plan vir ’n fietsren vir nakende deelnemers. Die stryd tussen voorstanders en teenstanders het met inmenging van die owerheid daarop uitgeloop dat deelnemers darem in onderbroeke gekleed was. Omer het dit nog opgevolg met ’n kompetisie vir die “wêreld-suiprekord”. Laasgenoemde het die Verhulst-broer Herman uiteindelik nie slegs die wêreldkampioenskap besorg nie, maar ook ’n langdurige hospitaalverblyf omdat hy direk na die stryd die snelweg op die verkeerde baan binnegejaag het. Nogtans gryp die idee die jongste broer, Potrel, se verbeelding en kreatiwiteit aan. Hy ontwerp ’n meerdaagse drinkwedstryd op dieselfde basis as die Tour de France. Potrel word self deelnemer namens die familie. Die verloop word weergegee in die terme van ’n herkenbare joernalistieke kommentaar soos gebruiklik by hierdie soort wedrenne, iets wat in Vlaandere nie slegs ’n sportsoort is nie maar ’n belangrike kultuurverskynsel.

Terwyl ’n mens die boek as ’n familieroman kan lees, duik dieselfde sosiale kwessies op wat ons eie Jochem van Bruggen in die jare dertig van die vorige eeu in sy Ampie-trilogie aan Afrikaanse lesers voorgehou het. En etlike aspekte wat in die destydse Carnegieverslag oor die “armblanke”-probleemstudies identifiseer word, is hier herkenbaar. Dit sluit die neiging in van groepvorming en weerstand teen die deel van die samelewing en die owerheid wat opheffing en ontwikkeling voorstaan. Die mate waarin oorerflikheid ’n rol speel, blyk onder meer wanneer Dimmetrie se opstêrse stadsniggie saam met hulle in ’n kroeg beland en haarself totaal onkapabel drink. En wanneer hy ten slotte met sy eie seuntjie van vyf by die ooms beland en die kind al gou die aanklank by hulle kry wat hy nie met sy pa het nie. Dit sluit taalgebruik in. Hul gebruik van dialek is deel van die groep se afsluitingmeganismes ten opsigte van die buitewêreld. Die ontmoeting laat die klein Joeri alreeds besluit om van “pis” eerder as “piepie” te praat en hy ken al opeens ’n vuil kroegliedjie. Dit nadat hy ook ’n gelukskind ten opsigte van die dobbelmasjien geblyk het.

Dat die vertellende skrywersfiguur, Dimmetrie van ouds, self nie so ver staan van sy familie soos wat hy hom verbeel nie, skemer soms deur in uitsprake soos die volgende wanneer hy (weliswaar met ironie) sy kind sit en beskou: “Die mensdom het te veel opgebou – as sy generasie nie met afbreek begin nie, gaan ons ernstige probleme hê.”

Die gesoute Daniel Hugo moes waarskynlik soms sy hoof gehamer het om by Afrikaanse ekwivalente vir die lang sinne deurspek met Vlaamse dialekwoorde uit te kom. Die titelwoord “helaasheid” is sover ek kan vasstel, net soos in Afrikaans ’n neologisme afkomstig uit die standaardtaalwoord “helaas”, dws ’n smartlike uitroep. In die roman verwys dit na die “ewige afloswedloop” tussen generasies van familieverwante “waarvan niemand die sin verstaan nie”.

Hugo se besluit op “geraamtewerf” vir “knekelwei” (die begraafplaas) laat my agterna steeds wonder oor die gevoelswaarde. Die Vlaamse woord kom nie eens in my driedelige Van Dale voor nie. ’n Hinderlike geval is die term “spikes” vir die skoene wat vader Dimie aan sy seun present gee om aan ’n veldloop deel te neem. Letterlik is die vertaling na “spykerskoene” wel korrek. Maar nóg in Vlaams nóg in Afrikaans sal iemand aan landloop deelneem in spykerskoene, wel in hardloopskoene, deesdae soms effens spottend tekkies genoem. Gebruik Verhulst hier ook ’n dialekwoord of ’n Vlaamse variant vir tekkies wat nie tekkies is nie?

Met Die helaasheid van die dinge word die Afrikaanse leser toegelaat tot ’n deel van die Vlaamse samelewing waaroor die toeris en bewonderaars van Breugel en Rubens of die skone argitektuur van Brugge skaars oor kan droom. Dit is egter ’n mentaliteitslaag wat hom ongemerk uitstrek onder die welvarende skyn van alle sogenaamde Eerste Wêreld-lande en aansluit by ons eie John W Fredericks se film Noem my skollie. Dit is hardebaard-materiaal en tog nog nie met sulke skerp stoppels soos wat ons eie kontrei kan oplewer nie, weens die afwesigheid van bloedwarm misdaad.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top