Die heersende magspolitiek

  • 0
Nomafrench Mbombo (bron: www.westerncape.gov.za)

Die feit dat Helen Zille vir Nomafrench Mbombo in die plek van Theuns Botha as die Wes-Kaapse minister van gesondheid aangestel het, moet gesien word teen die agtergrond van die herskikking van die landspolitiek waarin wit en bruin mense se politieke rol en invloed vervaag het.

Zille, die DA-leier en Wes-Kaapse premier, het Botha einde verlede jaar uitgeskuif ten gunste van Mbombo, wat ’n sterk agtergrond in die mediese veld het. Botha het Mbombo se pos van provinsiale minister van kultuursake en sport oorgeneem.

Dié pos, waarvan die jaarlikse begroting gewoonlik minder as R1 miljard beloop, word in al nege provinsies as die mees junior beskou.

Dit moet vir Botha ’n klap in die gesig wees, omdat hy ook in 2012 uitgeskuif is as Wes-Kaapse DA-leier om vir Ivan Meyer plek te maak. Hy is toe in die nuutsgeskepte pos van onderleier, wat volgens die DA se Wes-Kaapse grondwet min of geen magte het nie, verkies.

Botha se “politieke val” is egter ’n simptoom van die heersende magspolitiek binne die DA tussen die konserwatiewes en die liberales, asook die verswakte posisie van wit en bruin in landspolitiek.

Botha kom uit die NP, wat ná 1994 oorleef het omdat werkersklasbruines dié party ondersteun het. Met die ontbinding van die NP het konserwatiewe wit en bruin NP’s nie kans gesien vir die ANC nie. Hulle is toe in die DP opgeneem wat later die DA geword het.

Meyer, seun van Piet Meyer – ’n voormalige adjunkminister in wyle Allan Hendrickse se ministersraad en oud-LP vir Vredendal – het in die eertydse Arbeidersparty (AP) grootgeword, maar is ironies genoeg geen politikus nie.

Die Meyers, Gerald Morkel en andere het in 1991 as ’n konserwatiewe element uit die AP bedank en by die NP aangesluit omdat die AP by die destydse Patriotiese Front (PF) – bestaande uit die ANC, SAKP, Azapo en PAC – aangesluit het. Dié konserwatiewes wou niks van samewerking met swart mense hoor nie.
Meyer, ’n akademikus, se charisma is dun gesaai en hy het nie duidelike politieke standpunte nie. Hy word grootliks as ’n weifelende politikus binne die DA beskou, omdat hy heeltyd veilig speel.

Sy verkiesing tot Wes-Kaapse DA-leier in 2012 was glo om die bruin DA-steun in dié provinsie te beloon en nie omdat die party geglo het hy is die beste kandidaat nie.

Trouens, sy verkiesing het ’n leiersvakuum in die Wes-Kaapse DA ontketen. Bronne binne die DA sê dit is waarom Zille aangebly het as premier en eintlik nog die nie-amptelike provinsiale leier is.

Die DA hou in Maart sy Wes-Kaapse provinsiale kongres. Die verwagting is dat Meyer uitgestem sal word indien hy hom verkiesbaar sou stel. Bronne binne die DA het bevestig dat Lennit Max veral op samedromming van bruin DA-takke regoor dié provinsie hom alreeds verkiesbaar gestel het.

Tot voor die 2014-verkiesing is die Wes-Kaap as die DA se bakermat beskou, omdat dié party altyd meer stemme daar getrek het. Dié provinsie – met sy wit en bruin konserwatiewes uit die NP en AP – was dus ’n veilige hawe vir die DA.

Nou nie meer nie, want die DA het in dié verkiesing meer stemme in Gauteng gekry. Die magsbalans in die party het dus na die noorde verskuif. Dié party het dus ’n plafon met sy wit en bruin steun bereik. Skielik is bruines en wittes – soos Meyer en Botha – nie meer rigtinggewend nie, maar swart DA’s soos Mmusi Maimane en Mbombo is wel.

Vir die DA om polities te oorleef moet hy homself meer aanvaarbaar maak vir swart mense om meer swart stemme in verkiesings te trek. Zille besef dit en daarom is Botha en Meyer nie deel van ’n toekomstige swart-beheerde DA en swart magspolitiek in die land nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top