My ouma en oupa Fourie het kort na mekaar gesterf. Ouma was die laaste twee jaar nie gesond nie, maar Oupa het skielik gesterf sowat twee maande voor haar.
Ouma het ná haar troue saam met Oupa hier in die Oos-Kaap kom bly op sy familieplaas. Ouma het van die Vrystaat gekom en al die verskrikkinge van die oorlog meegemaak en Oupa het as rebel in die oorlog geveg. Oupa het dikwels staaltjies uit daardie tyd vertel, maar Ouma nooit nie. Sy was ’n baie geslote mens en het soms die indruk gegee dat sy koud en afsydig is, maar vir Oupa het sy altyd ’n sagte woord en ’n vriendelike glimlag gehad.
Na Oupa se dood, toe ek so ongeveer agtien jaar oud was, het sy my eendag geroep en ’n pragtige kamee-borsspeld gewys.
“Hierdie borsspeld het ’n geskiedenis wat ek nou vir jou gaan vertel. Ek vertrou die borsspeld en my verhaal aan jou toe omdat jy my naam het en omdat jy baie na my aard. Ek dink jy sal verstaan wat ek vir jou probeer sê.”
Hierdie is my ouma se verhaal.
My ouers, my ouer broer, ek, my jonger sussie en my klein boetie het op ’n plaas in die Vrystaat geboer. Ons was ’n gelukkige gesin en aangesien ons nie ver van die naaste dorp gebly het nie, het ons nie gevoel dat ons afgesonder is van ander mense nie. Met die boerdery het dit goed gegaan en ek kan sê dat ons taamlik welaf was. Dit is nou totdat die Engelse ons lewens kom verwoes het.
Sonder my ouers se medewete het daar ’n verhouding ontwikkel tussen my en Henry, die seun van ’n Engelse handelaar op die dorp. Hy en sy pa het die onderneming saam bedryf. Alhoewel my ouers van sy gesin gehou het, het ons probeer om die verhouding tussen ons geheim te hou, aangesien gevoelens tussen die Engelse en Boere nog nie gaan lê het ná die Eerste Vryheidsoorlog en die slag van Majuba nie. Ons was seker naïef om te dink dat daar iets van ’n verhouding tussen ons sou kon kom, maar ons het mekaar liefgehad en het nie aan die struikelblokke op die pad gedink nie. Ek was ’n kranige ruiter en hy ook, dus was die afstand na ons ontmoetingsplek by die rivier naby die dorp nie vir ons te veel nie.
Toe die oorlog uitbreek, het Pa en broer Jan dadelik begin gereedmaak om te gaan veg. Ma was platgeslaan, maar het geweet dat dit nie anders kon nie. Ons het dadelik begin om beskuit te bak en uit te droog. Lientjie was ’n sieklike mensie en kon nie eintlik help nie, maar het die klaar gedroogde beskuit en biltong in sakkies gepak vir Pa-hulle om saam te neem.
“My vrou,” moes Pa later waarsku, “ons sal nie plek hê vir soveel proviand nie. Ons kan nie die perde so oorlaai nie.”
Die afskeid het ons sonder woorde gelaat. Pa het nog gewaarsku: “Julle moet tog op julle pasoppens wees. Hier is baie loslopervolk en ander skelms wat nou brutaal kan word omdat hulle weet dat julle alleen hier op die plaas is. Sorg dat julle saans en bedags ook, sover moontlik, die deure gegrendel hou. Miskien moet julle maar met ou Martiens se hulp sakke mielies, koring, groente, droë vrugte en so aan in die grotte hier naby gaan wegsteek. Druk dit tog net op Martiens se hart dat hy nie met die ander werksmense moet praat daaroor nie. ’n Mens weet nooit wie se ore dit kan bereik nie.”
Na hulle vertrek was Ma dwalende; Pa was haar hele wêreld. Saans by die huisgodsdiens het sy ernstig gebid dat haar Hemelse Vader sy hand oor Pa-hulle sal hou en ons “land sal bewaar van die oorlogswolwe wat ons wil vernietig”. Die gevoel van onheil en beklemming wou nie wyk nie.
Toe het ons nog nie geweet van die Verskroeide Aarde-beleid wat Lord Roberts sou uitdink en Kitchener sou vervolmaak nie.
Na Pa se vertrek het Henry die wens uitgespreek dat ons moes trou sodat ek en Ma, Lientjie en Benno by hom op die dorp kon gaan bly. Alhoewel my hart ja gesê het, het ek geweet dat dit nie moontlik sou wees nie. Sonder Pa se goedkeuring sou Ma nooit haar konsente gee nie en ek het ook gevoel dat dit verraad teenoor Pa sou wees. Buitendien sou dit ook vir sy ouers ’n bitter pil wees om te sluk.
Henry het, ten spyte van sy teleurstelling, eendag op die plaas kom kuier. Ma het geweet dat dit nie om dowe neute was nie, maar sy het hom gasvry ontvang en met grasie onthaal. Sy het hom egter gevra om nie weer te kom nie, aangesien dit vir hom en sy ouers, en ons almal, baie onaangename gevolge kon hê as die Engelse daarvan sou uitvind.
Sy het geweet dat ons mekaar weer by die rivier sou ontmoet en het my gewaarsku: “Ek weet dat julle verlief is, my kind, maar moenie vir Henry sê van die goed wat ons in die grotte wegsteek nie en moet nooit iets sê van jou pa-hulle se bewegings in die veld nie. Onthou, hy is en bly ’n Engelsman en ’n mens weet nooit wanneer hy gedwing kan word om inligting bekend te maak nie.”
Ai Ma, het ek eenkant gehuil, waarom moes my hart oor die draad gaan kuier? Waarom het ek nie liewer verlief geraak op ’n gawe boerseun nie?
Teen hierdie tyd het gerugte ons begin bereik van huise wat afgebrand word; vrouens, kinders en ou mense wat te voet of op ossewaens aangedryf word na konsentrasiekampe. Die verskrikking van die oorlog het ál nader gekom en Ma het geweet dit is net ’n kwessie van tyd voordat dit ons ook sou bereik. Sy het al hoe onrustiger begin word en haar huisaptekie uitgebrei met medisynes wat sy op die dorp gekoop kon kry. Meestal Lennon se tinkture; pille en “doepa” van kruie wat sy in die veld bymekaar gemaak het. Met my en Martiens se hulp het sy saans van ons beste meubels na die grotte begin aanry. Ons het ook weer opnuut beskuit gebak en gebêre, en ook biltong wat Pa nog gemaak het. Dít, droëvrugte, koffie, tee en sout is in sakkies gepak en alles is tussen ons verdeel en saam met Ma se medisynevoorraad tussen klere verpak wat ons sou saamneem as ons die huis moes ontruim. Ons het maar gehoop dat die Engelse nie dít ook sou konfiskeer nie.
Henry het al hoe ongelukkiger geword en ook in hom het die onrus toegeneem: “If only I could protect you and your family from all this atrocities. I am ashamed of the cruelty and brutality with which my fellow Englishmen are conducting this war. I wish I could do more for you.”
Gewoonlik het ons om die beurt mekaar se taal gepraat, maar sy emosie en diepe onrus het nou vir hom te veel geword, sodat hy teruggeval het op sy moedertaal.
“I brought this brooch with me today. It belonged to my grandmother. She gave it to me when she lay dying and said I should one day give it to the woman that I love dearly.”
Trane het in my oë geskiet en ek kon net oor sy blonde hare streel toe hy die kamee aan my bors steek. Al wat ek vir hom kon gee, was ’n lok van my donker hare. Dit het hy toegevou in sy sakdoek asof dit die grootste skat is en stilswyend het ons langs mekaar gesit met ons arms om mekaar gevou en gewag vir die skeiding wat moes kom.
Ons dag van onheil het gouer aangebreek as wat ons gedink het. Een oggend terwyl ons besig was om ontbyt te eet, het Martiens aangejaag gekom terwyl hy van ver af skree: “Die Kakies kom; die Kakies kom! Hulle is net agter die koppie.”
Vervaard het ons rondgespring, maar daar was niks wat ons kon doen nie. Die Engelse het alles voor die voet verwoes, al die vee en pluimvee doodgesteek of doodgeskiet en al die graansakke waarop hulle hul hande kon lê met bajonette deurboor asof hulle gedink het daar kruip Boere weg in die sakke. Ma en ons almal het gepleit, maar die Kakies was doof. Lientjie en Benno het krampagtig aan my en Ma vasgeklou en ek kon sien dat Ma se kragte min raak. Die meeste werksmense het die veld in gehardloop, maar Martiens en Lya het gebly en met trane in hul oë van ons afskeid geneem. Ma wou dat Lya saam met ons gaan, maar die Engelse wou nie. Ma het hulle hande styf in hare vasgehou en in hulle taal gevra dat hulle mooi na die werf moet kyk en na alles wat ons weggesteek het. Wie weet, het sy gesê, miskien kom daar nog van die diere wat weggehardloop het terug na die huis en kan hulle daarvan leef. Sy het ook gesê hulle moet van die saad wat weggesteek is, gebruik en dit saai vir hulle eie gebruik.
“Hamba kaghle, my nonnatjies en ou Bennotjie,” het Martiens geprewel terwyl die trane oor sy en Lya se wange loop.
Die Engelse het ons darem toegelaat om die slope te hou waarin ons die eetgoed en medisyne weggesteek het. Hulle het seker besef daar kan nie Boere in wegkruip nie. Holderstebolder is ons op die wa geboender en is ons weggedryf van al ons wêreldse goed. Ma het saggies gehuil toe sy terugkyk en sien hoe haar huis en meubels in vlamme opgaan.
Die konsentrasiekampe was swak beplan, swak georganiseer en swak bestuur. Die tent wat aan ons toegewys is, kon die ysige winterkoue nie buite hou nie. Die algemene higiëne was swak, kosrantsoene was ontoereikend, en die water was meestal ondrinkbaar. Ma het daarop aangedring dat ons dit kook voordat ons dit drink, maar brandhout was skaars.
Lientjie se swak gestel kon nie weerstand bied nie en toe ’n maselepidemie uitbreek, kon selfs Ma se medisyne nie help nie. Toe ons sien die einde is naby, het Ma haar in haar arms geneem en al wiegend met haar op die bed bly sit. Lank nadat die asempie nie meer daar was nie, het ek probeer: “Ma, ons moet haar nou laat gaan; sy is nie meer hier nie.” Sy het my net met leë oë aangekyk en ek moes later die kampsuster gaan haal om te kom help. Vir dae daarna het sy net strak voor haar sit en uitkyk en ek, met die hulp van die huisaptekie en met Lientjie se gesiggie gedurig voor my, moes alleen veg om Benno deur die masels te kry.
Toe ons kort daarna verneem dat Pa en Jan gevange geneem is en na Ceylon op pad was, was dit vir Ma die laaste strooi. Sy het nie meer belanggestel om verder te leef nie; sy was oortuig daarvan dat sy Pa nie weer sou sien nie. Sy het al hoe swakker geword en toe sy diarree opdoen as gevolg van die swak kos en besmette water, het sy vinnig gesterf.
Nou was dit net ek en Benno wat oor was. Jan was ’n onwerklikheid waarop ek nie wou hoop nie.
Ná die vredesluiting is ons saam met kennisse wat familie kom haal het, terug plaas toe. Daar was alles darem nie so onherbergsaam soos wat ek gevrees het nie. Twee vertrekke van die huis het nie heeltemal afgebrand nie en met Martiens se hulp en ’n paar verroeste sinkplate wat rondgelê het, kon ons dit leefbaar maak. Martiens het die paar vee en hoenders wat hulle in die omtrek kon kry, weer teruggebring plaas toe. Die paar meubelstukke en voorraad wat ons in die grotte weggesteek het, was grotendeels nog daar.
Ma was toe reg: Pa het gesterf in die kamp op Ceylon en is daar begrawe. Jan het teen sy sin die eed van getrouheid aan die Britse vors geteken en sou terugkom plaas toe sodra hy die lang reis terug afgelê het. Dit sou maande duur. In die tussentyd het ek en Martiens en Lya die wêreld rondom ons leefbaar probeer maak en die honger van ons lywe probeer hou, maar ons het geweet dat ons net besig was om water te trap totdat Jan opdaag.
Henry het kom kuier. Ek het hom verwag, omdat Martiens gesê het hy het die laaste maande kort-kort ’n draai op die plaas kom maak. Hy het my teen hom vasgehou en ons het saam gehuil, want ons albei het geweet dat die wêreld rondom ons te onherbergsaam was vir ons liefde. Liefde alleen sou nie die geweldige bitterheid wat die Boere teenoor die Engelse gevoel het, kon oorbrug nie. Ek was emosioneel dood en wou nie weer my hart aan iets of iemand heg nie. Ek wou die borsspeld aan hom teruggee, maar hy het my hand toegevou en gesê: “No, keep it and remember me as I will remember you.”
My hele bestaan het nou daarom gegaan om Benno gesond en veilig te hou. Dan was daar ook Martiens en Lya wat van my afhanklik was. Om Benno te sien ontdooi ná die ontheemde lewe wat ons in die kamp moes lei, was vir my ’n vreugde. Soggens het hy vroeg uit die bed gespring, gou sy pap afgesluk en uitgehardloop na waar Martiens doenig was. Middagete het hy dan kom vertel:
“Ousus, jy moet sien hoe ons boontjies groei. Ek en Martiens het dit geplant en nou maak ek dit elke dag nat as Martiens so sê. Ons sal darem nie doodgaan van die honger as ons boontjies het om te eet nie, nè Ousus?”
Dan kon ek hom net teen my vashou en my bes doen om nie te huil nie oor die lewe wat ons eens gehad het op hierdie plaas saam met Ma en Pa en Lientjie. En ja, ook saam met Henry, al was hy dan net deel van my herinneringe en my pyn.
Tog sou ons nie oorleef het as dit nie was vir die voorraad wat Henry gereeld gestuur het nie. Self het hy nooit weer plaas toe gekom nie, maar een van sy werksmense het kort-kort kos en ander noodsaaklikhede gebring. Die briewe wat ek teruggestuur het om dankie te sê, het ek lig en onpersoonlik gehou, maar ek het geweet dat hy daarvoor leef soos ek vir syne.
“Die res van die storie ken jy,” het Ouma voortgegaan. “Jou oupa het daar by vriende kom kuier en ná ’n paar keer se kuier het hy my gevra om te trou en saam met hom hier te kom woon. Ek het van hom gehou en gegryp na die geleentheid om weg te kom sodat ek nie so naby Henry hoef te wees nie. Benno het saamgekom, teen Jan se wil, en hier is ons nou almal, en in hierdie aarde sal ek binnekort gaan rus.”
“Ai, Ouma, was dit darem alles die moeite werd?”
Sy bly ’n rukkie stil en draai haar kop weg. Sê dan: “My kinders en my kleinkinders het dit vir my die moeite werd gemaak. En jou oupa was goed vir my. As daar tekort geskiet het, was dit van my kant af; jou oupa se liefde en sorgsaamheid was altyd daar. Dit het ons deur baie driwwe getrek.”
“Debbie,” het sy gesê, “ek wil hê jy moet ná my dood hierdie borsspeld terugneem na Henry en sy mense. Ek weet dat hy nog leef en dat die familie nog steeds die winkel het. Sy vrou is ’n jaar of wat gelede oorlede. Ek sal die borsspeld toedraai en die adres daarop sit en jy moet dit asseblief terugbesorg aan die mense aan wie dit behoort.”
Ná Ouma se dood het ek ’n briefie gestuur na die adres op die pakkie en die situasie verduidelik. ’n Rukkie later het ek ’n brief ontvang van ene John-Henry Watson, Henry se kleinseun. Hy het gesê dat sy oupa my graag sou wou ontmoet en het my genooi om te kom kuier. Dit het my moed gegee om my motor te pak en te vertrek op die langste reis van my lewe.
Op die dorp gekom, het ek eers na die kantoor van John-Henry se prokureursfirma gegaan. Hy het saam met my na sy oupa se huis gegaan nadat hy eers gebel het om hom voor te berei op ons koms. Die ou man het ons buite ingewag, al twee my hande in syne geneem en gesê: “Welkom, Debbie. Jy lyk net soos jou ouma, Debora. Jou hare herinner my ook sterk aan haar. Ek het nog steeds die lok wat sy daardie dag vir my gegee het, die laaste keer toe ons saam gekuier het. Dit voel vir my asof sy nou hier by my is.”
Met my hand nog steeds in syne het hy ons die huis in geneem en nadat hy gereël het dat die bediende tee bring, het hy verskoning gemaak om die brief te gaan lees wat saam met die pakkie gekom het. Toe hy terugkom, was daar trane in sy oë. “Wat ’n wonderlike geskenk het jy vandag vir my gebring, Debbie. I am at peace now and can go to my grave with a happy heart.”
Die borsspeld is nog in ons familie. Die dag toe ons verloof geraak het, het John-Henry dit vir my aangesteek. Dikwels daarna het ek gewonder of dít nie was waarop Ouma gehoop het nie, die dag toe sy my op daardie pad gestuur het.


Kommentaar
baie dankie, ek het hierdie storie baie geniet.