Die Grysland-verblyf
Jaco Fouché
Uitgewer: Kwela
ISBN: 9780795702969
Prys: R127.50
Jaco Fouché skryf oor beskadigde buitestanders. Die karakters in sy debuutroman Die ryk van die rawe bly ’n mens jare later steeds by. In sy Twee dae in Mei word onder meer gekyk na hoe verskillende karakters probeer om van alkoholisme “genees” te word. En in Die Grysland-verblyf word die agteruitgang van Phillip, iemand wat aan skisofrenie ly, beskryf. Phillip se vreemde gedrag laat mense van hom af wegvlug en versterk sy isolasie.
Fouché maak van ’n derdepersoonsverteller gebruik. Omdat die verhaal oor ’n skisofreen handel, sou dit dalk minder verwyderend gewees het as die gegewe deur ’n “ek” karakter weergegee is. Die beelde, stemme en vrese is immers iets wat net in Phillip se kop bestaan en regverdig dus ’n vertelling vanuit ’n eerstepersoonsperspektief."
Nietemin, die boek is ’n nugtere blik op die verskriklike siekte wat skisofrenie genoem word.
Phillip ervaar van die klassieke simptome van iemand wat aan paranoïese skisofrenie ly: hy ruik vreemde reuke, hy hoor stemme, hy glo ander wil hom skade doen en hy glo ander lees sy gedagtes. Daar is veral drie knaende stemme wat onder meer in dakbalke skuil en vir hom sê: “Dis goed dat jy gekom het. Ons sal jou nie so erg slaan nie” (78). Selfs in die kos in die woonstel waar hy alleen woon, skuil gevaar. Hy durf dit nie eet nie. Die stemme vertel hom hy is ’n mislukking wat sy pa teleurstel.
Hy tree vreemd op, soos om ongenooid by vreemdes op te daag en aan te kondig hy is daar om ’n partytjie by te woon (84). Interessant is die drogverskyning van die gure Black Edna. Die karakter se verskyning word amper terloops genoem, maar by die leser is daar dadelik die herinnering aan Black Edna in Fouché se Die ryk van die rawe – een van die interessanter karakters. In die boek is sy ’n oorgewig karakter wat met haar comics verpletterende kommentaar lewer en in ’n versonke woonstel, onder grondvlak, woon. Dis asof dié karakter van Die ryk van die rawe, vir wie Ratkas vrees maar ook vreemd tot aangetrokke is, in gesprek tree met Phillip, wat nie meer kan onderskei tussen wat werklik en onwerklik is nie, se onbewuste. Ook in Die ryk van die rawe vervaag die grense dikwels – onder meer wanneer Ratkas en Edna ’n intieme oomblik deel, en tydens die seksuele groepvergryp waartydens ’n jong vrou sterf.
Vir die skisofreen is medikasie die antwoord om ’n redelik “normale” lewe te lei. Dit gaan goed met Phillip terwyl hy sy medisyne drink, maar wanneer hy ophou, begin die stemme hom weer treiter – selfs in die klein dorpie in die Karoo waarheen hy vlug. Phillip vlug van die een stad en die een dorp na die ander in ’n desperate poging om onder meer werk te vind en dan om weg te kom van die gekheid van die stad sodat hy in vrede kan gaan skilder.
Fouché se roman bied ’n meer hoopvolle toekomsvisie vir mense wat aan skisofrenie ly. Dis in kontras met Papawers, ’n boek waarin die Nederlandse skrywer Ingrid vander Veken haar stiefseun se hartverskeurende lyding as skisofreen uitbeeld. Die boek, wat oorspronklik in Nederlands geskryf is, het onlangs in Afrikaans verskyn. Vander Veken se stiefseun het meestal geweier om sy medisyne te drink en het ontken dat hy geestesversteurd is. Met tragiese gevolge. Daarteenoor erken Phillip in Die Grysland-verblyf dat hy siek is, en besef hy die waarde van medikasie. Dit is sy redding.
In die literatuur oor skisofrenie word dikwels beklemtoon dat ’n ondersteunende gesinsverband positief tot die bestuur van die toestand bydra. In Die Grysland-verblyf begin Phillip ’n verhouding met ’n ou kennis en hulle is skynbaar vir altyd gelukkig saam. Maar hoewel ’n liefdevolle lewensmaat inderdaad ’n skisofrenie-lyer kan bystaan, is die beskrywing van die (her)ontmoeting en die verhouding en Phillip se pad na genesing te skraps. En dit lyk ook net te maklik dat Phillip onder invloed van sy lewensmaat by die kerk die aanvaarding en antwoorde vind waarna hy heeltyd soek. Dis asof Fouché gejaagd na ’n einde toe geskryf het. Man ontmoet vrou en tjoeftjaf is die lewe is op pad na ’n sprokiesverhaaleinde. ’n Mens sou graag meer wou lees oor hoe die vrou en Phillip tot die besluit kom dat sy haar lewe sal wy aan iemand wat dalk enige oomblik weer ’n psigotiese insinking kan ervaar. Die leser kan dalk verkeerdelik onder die indruk kom dat liefde inderdaad alles oorwin en selfs ’n lewenslange, ongeneeslike toestand soos skisofrenie kan genees.
Die Grysland-verblyf is soms humoristies en soms hartverskeurend. En hoewel daar voor in die boek duidelik gemaak word dat ooreenkomste met die werklikheid slegs toevallig is, voel die “verhaal” baie soos iets wat die skrywer self deurgemaak het.


Kommentaar
Ek is Elize Taylor en my seun Abe Fourie (37) is Desember 2016 deur Valkenburg-hospitaal gediagnoseer as skisofrenies. Hy’s terug by my in Boksburg en ek het al sy goed uitgesort. Het sy ID, bestuurderslisensie weer gekry en kry ook nou maandeliks Sassa-ongeskiktheidstoelaag en moet ook weer Desember 2017 die Sassa-dokter sien en sien ook die staatskliniek maandeliks en kry ook sy maandelikse medikasie. Ek soek ’n plek vir hom om te gaan bly omdat ek tans op 60 afgetree het en op pensioen is. Kan u my help asb want ek wil nie hê hy moet weer terugval nie. Hy bly op die oomblik in my huis saam met my jonger seun maar ek gaan my huis moet verkoop want my pensioen is te klein. Ek het alreeds baie ouetehuise geskakel oral maar hulle kan my nie help nie. As ek ’n plek kan kry waar hulle hom ’n werk en verblyf kan gee sal ek dit hoog op prys stel. Hy drink ook sy pille self en is glad nie dom nie.
By voorbaat dankie.
Goeie naand.
Ons familie het ’n onskuldige Christen-sussie, Anelize Heydenreich, en na ons moeder se dood is niemand instaat om Anelize te huisves nie.
Sy verdien net ’n Sassa-toelaag en huidiglik bly sy in ’n plek in Danville Pretoria. Sy rook nie, drink nie en is uiters netjies.
Ons kort blyplek vir Anelize en ons weet nie meer waarheen nie want meeste plekke soek R4000+ per maand, wat ons nie kan bekostig nie.
Wat staan ons te doen om ’n gesubsidieerde veilige hawe vir Anelize te kry, waar hulle skisofrenie verstaan?
Dankie vir jul tyd.
Hoop julle kan moontlik help.
Groete,
Juanita