Die groot verlange

  • 0

Ek het die afgelope maand ’n boek gelees wat reeds in 1984 uitgegee is.

Die boek: Die groot verlange, die verhaal van Eugene N Marais deur Leon Rousseau is vir seker een van die merkwaardigste biografiese werke in Afrikaans.

Nie net vang dit die lewensverhaal en alle moontlike feite oor Marais vas nie, maar skep dit ’n agtergrond van die tye waarin Marais hom bevind het. Vir die leser ontwikkel dit ’n idée van hoe Pretoria, Europa, die Anglo-boereoorlog en die gebeure rondom dit, politiek van die tyd en die ZAR gelyk het. Dit toon ook hoe die samelewing verander tydens die loop van sy lewe.

Dit verduidelik en bespiegel oor Marais se verslawing. Dit lê elke deel van sy volle lewe uit in detail en vertel ons meer oor wat op die agtergrond in die ZAR en in ander dele van die wêreld met merkwaardige mense van die tyd gebeur. Dit keer ook gereeld terug om staaltjies en stories, wat deur Marais se seun self en ander nageslagte van Marais se kennisse aan die skrywer self vertel is, te verduidelik.

Om so ’n vol lewe te dokumenteer is ’n groot taak en dit het Rousseau ’n paar jaar en ’n reis na Londen gekos, maar dit was suksesvol. Dit het een van die belangrikste figure in Afrikaanse geskiedenis tussen twee buiteblaaie vasgevang.

Eugene N Marais het in sy lewe soveel rolle vertolk en so baie bygedra op soveel verskillende vlakke van die samelewing. Van digter, skrywer to natuurkenner, van hipnotis, geneeskundige tot bonatuurlike navorser. Ek glo dat Die groot verlange hierdie lewe uitmuntend uiteensit en verseker Afrikana is, en sal bly.

In Die groot verlange sal elke Afrikaanse leser “weer vrede besef.”

David Steyn

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top