Die groot plan

  • 0

Dis vroegoggend en bitter koud. Die snerpende wind uit die suidooste huil tussen die geboue deur en warrel koerantpapiere deur die verlate strate. Die dag se eerste lig het al deurgebreek en die strate sal binnekort begin lewe.

Twee bosslapers het die nag onder koerante en kartonne in die inham van ’n winkel se ingangsportaal deurgebring om die koue te ontsnap. Nou sit albei mompelend orent. Hulle weet ’n nuwe dag bring nuwe uitdagings.

“Ons moet loop,” mompel Fielies, die jonger en kleiner een met ’n mond sonder tande.

“Vir wat?” vra Donovan, die groter en ouer een langs hom en trek sy verslete wolmus met sy dun vingers stywer oor sy kop. Sy twee voortande is uit sodat sy woorde met ’n sagte fluitgeluid weerklink.

“Ou Donnie, jy weet mos, as die winkelbaas kom oopsluit dan skel hy weer op ons,” antwoord Fielies. “Sy hart is nie oop nie.”

“Die winkelbaas se moer. Hy kan skel tot ... tot ... sy gat uitdop. Ek is doof,” antwoord Donovan met beslistheid en trek sy maer skouers op om te beduie dat dit hom min skeel.

“En hy roep die polieste my bra en hulle donner ons rond.”

“Ook hulle moere. Die ou tyd is lankal verby. Dis nou Madiba-tyd. Ons het nou regte. Ons kan wees waar ons wil, wanneer ons wil.”

“Sê wie? Dis loitering en trespassing as ons hier bly.”

“Van wanneer af is jy so fokken slim?” wil Donovan weet.

“So gebore,” antwoord hy effens uitdagend en kopskuddend. “Dis te koud hier. Ons gaan hier ook vrek. Ons moet vannag anner, beter plek vat.”

“Waar? Soos wat miskien? Nagskuiling? No ways ... sien my nooit as te never nie. Te veel stront daar. Wil mens reform en bekeer.” Hand swaai in die lug. “My soul kan nie meer gered word nie. Ek het my lifestyle en niemand run my meer nie. Ek’s niemand se kardonkie nie. Ek het ’n beter plan.” Donovan lyk ernstig as hy sy wysvinger dramaties in die lug steek en kringe maak.

“Nog ’n plan, Donnie? Jy en jou planne.” Fielies lag kliphard en sy oë trek op skrefies soos die hardgebakte velvoue sy gesig toetrek. Die lag is oopmond en diep uit sy keel en dit irriteer vir Donovan wat sy hand laat sak en probeer om sy yskoue vingers met sy asem warm te blaas.

“Jy lag verniet. Lag maar. Jy dink net ’n boer kan ’n plan maak. Ek ook, want ek het boerebloed in my are, van my pa se kant af.”

“Ek dog dan jou pa was ’n Kaaskop uit Amsterdam?”

“Amper selde ding, Ek het pedigree en vandag het ek ’n plan. My plan sal werk, ek weet, werk elke keer, elke winter. Lyk ek vir jou miskien onnosel?” Hy klink skielik dreigend en sy oё blits met ’n nuwe intensiteit. Dis asof sy gemoedstoestand plotseling verander het.

Sy maat voel die groeiende aggressie aan. “Orraait, orraait ou Donnie, my bra. Vertel my van jou famous plan,” paai hy met ’n effens kalmerende stemtoon. Hy weet Donovan kan buite homself raak as hy eers kwaad is. As ’n mens vrede wil hê, dan maak jy nie die ou grote kwaad nie. Hy is eintlik ’n goeie mens met tyd vir sy medemens, maar as hy eers kwaad is, is hy ’n ander mens en daai mens wil net breek. En hy kan breek. Dan bliksemstraal en donderweer dit dat die spoeg spat. Daarvoor sien Fielies vanmôre nie kans nie. Netnou kla iemand weer oor rusverstoring en word hulle sommer summier opgesluit.

“Kyk, hier is die ding. Vanaand slaap ek lekker warm en kry dinner en koffie.” Hy lig sy gebalde vuis dramaties onder die koerante uit sodat Fielies die blink yster om sy kneukels kan sien. “Vanaand slaap ek soos ’n lord.”

Fielies se oё rek as hy die metaal sien. “Dis mos ’n knuckleduster wat jy daar het. Wat wil jy met die ding doen? “

’n Lang stilte volg.

Dan praat Fielies weer. “Ek weet. Jy wil iemand bliksem en dan sluit hulle jou op. Lekker cosy daar binne dink jy?”

Die groot ou antwoord nie, asof hy teleurgesteld is in Fielies se skynbare onnoselheid.

 “Assault with a dangerous weapon. Dis groot moeilikgeit, Donnie. Lank tjoekie toe. Nie gewone opsluit nie, maar tussen die hard boys,” waarsku Fielies en skud weer sy klein koppie heftig, asof hy maar te goed weet wat dit beteken. “Nice ouens soos ons hoort nie daar nie. Daai boys daar binne mors met jou. Nie ons type nie.”

“Jy’s weer slim met jou legal stront. Met hierdie ding,” sê die ou grote, en hy swaai opnuut sy vuis, met die yster om die kneukels, heen en weer, “breek ek ’n kar se venster sommer net so. One to tree.”

“Vir wat?” vra Fielies.

“Vir ’n warm bed en peace of mind. Compliments of the taxpayer,” spog Donovan.

“Jy mors nou met my kop, Donnie,” kla Fielies met ’n beswaarde stemtoon.

“Nei, dis genuine. Jy moet luister. Ek kies net die regte kar en die regte plek en ek is well away.”

“Watse kar en watse plek?” vra Fielies met sy koue vingers nou ook voor sy mond om hulle te probeer warm blaas.

“Ah, dis my secret wat jy wil hoor?” Donovan klink geheimsinnig.

Weer stilte.

“Vertel my,” por Fielies sy maat nou nuuskierig aan.

“Dis my plan. Ek sal vertel, maar jy doen jou eie ding met hierdie plan, op ’n ander plek. Nie hier in die omte nie,” eis Donovan.

Fielies se kop knik instemmend.

“Op ’n ander plek?” maan die ou grote weer en woel die koerante wat wil afgly terug oor sy bene. Hy kyk vraend na sy maat, afwagtend.

“Beloof met my hand op die Bybel,” bied Fielies aan.

“Jy’t g’n Bybel nie. Nog nooit gehad nie.”

“Ek promise my bra, genuine.”

“Op jou ma se graf?”

Weer is daar stilte en afwagting. ’n Kopknik van Fielies is genoeg om die ooreenkoms te beklink.

Uiteindelik praat Donovan asof uit die hoogte met ’n stem wat gesaghebbend moet klink. “Jy moet breins hê om die ding reg te doen anders werk die plan nie.”

“As dit vir jou werk, sal dit mos vir my ook werk,” meen Fielies.

“Sê wie? Sê jy miskien, maar jy moet blêddie mooi luister en presies doen wat ek sê.”

“Ek luister, ene ore ou Donnie.”

Donovan maak keel skoon voor hy weer praat. “Nommer een. Jy moet jou victim mooi kies. Jy soek ’n luxury kar met foreign plates. Baie foreign. Gauteng of Eastern Cape of Free state of so. Nie locals nie. ’n Merc of BM of so. Die blink kar se blink mense moet klaar gepark het en al ver weg wees om te gaan shop. Eers dan kan jy slaan. Verstaan jy?”

Fielies knik asof hy verstaan maar vra: “Slaan wat?”

“Push jy my? Ek vertel jou mos.”

“Okay, okay. Ek luister ou Donnie,” paai hy weer die ou grote.

“Waar was ek? O ja, die kar. Jy soek een op ’n besige plek waar baie ander mense rondloop. Hulle moet kan sien.”

Fielies frons en skud heftig sy kop. “Nou weet ek nie so mooi nie. Dis mos dadelik trouble. Helse moeilikgeit.”

“Luister. Jy slaan met hierdie ding,” en hy wys na die metaal om sy kneukels “die kar se venster aan die kant stukkend, moer toe. One shot, een moerse hou.”

“Netso?” Fielies klink geskok. “Maar hoe weet jy daar is iets in die kar wat jy kan vat?”

“Jy kies ’n kar wat niks in het nie. Fokkol op die sitplek. Jy vat niks. Sweet blou boggerol.”

Sy maat frons opnuut. “Maak nie sense, die plan van jou nie Donnie.”

“Wil jy hoor of wil jy loop?” vra Donovan verontwaardig.

“Sorry my bra, sorry man.”

Weer is daar stilte asof Donovan heroorweeg of hy sy plan met Fielies wil deel.

Die spanning word vir Fielies te veel. “Wat gebeur nou?” vra hy. “Almal het nou se tyd founs by hulle en hulle roep dadelik die polieste wat jou kom haal in hulle wa. En dis nie ’n fancy limousine nie. Hulle gooi jou sommer rof in die vangwa.”

Donovan maak asof hy dit nie gehoor het nie en gaan voort. “En vanaand slaap jy lekker warm en die kos is on the house. Sommer ook colour TV, as jy ’n nice dorp gekies het.”

“En dan? As hulle jou charge? Dan sit jy lank, en sonder dop,” stribbel Fielies tee.

“Wie gaan my charge? En vir wat? Ek het fokkol gevat.”

“Die ou van daai kar. Jy’t sy property ge-damage.”

“Jy hou vir jou danig slim. Is jy ’n lawyer? Ek sê vir jou die pote moet die ou van die kar eers gaan soek en kry en bring. En dan moet die kar se man charges press. More of oormôre ry hy terug Gauteng toe. Reken jy die ryk duusman kom al die pad terug vir die court case? Duisende kilometers, net vir een ou venstertjie in sy kar? Never ever my bra, vat dit van my.” Donovan klink selfversekerd.

“En dan?”

“No charge, no case. Die judge sien my nie eers nie en die victim se insurance betaal die skade buitendien. So no damage was done. My boarding and lodging is for free. Gratis en verniet. So everybody lives happily ever after. En vanaand slaap ek lekker warm. Hulle kan my nie hou as daar geen klag is nie. More is ek weer waar ek wil wees, ’n free man,” Donovan lyk tevrede.

Hulle kyk in stilte na mekaar asof die een vir die ander wag om te praat. Die straat voor die winkel begin stadig lewe kry.

Fielies se voorkop trek op ’n plooi soos hy die saak deurdink en vra: “En as hy anyway ’n klag lê omdat hy hoog die donner in is vir jou?”

“Dan moet hy nog ’n eyewitness ook gaan soek. Dit vat tyd.”

“Maar die mense het jou gesien.”

vWat het hulle gesien?”

“Dat jy die venster slaan.”

“Waarmee?”

“Met daai ding,” antwoord Fielies en wys na sy maat se hand.

Donovan skud sy kop. “Jy sien die ding nou en jy weet van hom maar die mense sien hom nie. As your Honour hulle vra waarmee het ek geslaan, dan sê hulle: met die kaal vuis. Dan lag die judge en skud sy kop want ’n man slaan nie sommer ’n kar se venster met jou vuis stukkend nie. My vuis makeer niks, het nie ’n skrapie nie. Ek wys hom vir die hof.” Hy het die yster afgehaal en draai sy hand dramaties in die lug asof hy vir almal wys.

Fielies oordink die saak ernstig voor hy weer praat: “Sê nou die judge koop dit nie en vra jou wat jy so teenaan die kar gedoen het?”

“It could have been an accident your Honour. Ek het net getrip en miskien teen die kar geval your Honour. No criminal intent. Just bad luck. Wie weet, die kar se venster kon al stukkend gewees het. Die witness, as hy een kan kry, kan nie baie seker wees nie en die judge ook nie. Dis sy woord teen myne. Accidents happen your Honour. Dit was rêrig nie opsetlik nie, my kroon.”

Weer heers daar stilte terwyl Fielies ook hierdie verweer van Donovan ernstig oorweeg.

’n Breë glimlag verskyn om Donovan se mondhoeke as hy sien sy maat se vrae het opgedroog. “My kroon se gat.” Hy kyk trots na die yster om sy kneukels en vra: “Het jy ’n beter plan?”

Fielies skud sy kop ontkennend.

“Dis dié plan, en volgende keer doen ons dit weer, want mense vat jou nie hof toe vir peanuts nie. Dit werk elke keer.”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top