Die land is gevul met drake
wat aan berge vorm gee
en die lewensbloed
van uitgeputte bouers in die buik
van die luislang stoor,
beskermer van die massas,
teenvoeter vir die noorde
Kom, volg die uitgestrekte spore
van die draak, die padaanduier.
Hoor die geroep van die afgestorwenes!
Hulle doodsreuk van sweet en klei hang in die lug.
Kyk, pyle van krygers vlieg verby vlae
en uitkyktorings stuur kodeboodskappe
met rookpatrone uit
Nou groei toerisme uit dié bloed
en verwonder die wêreld hulle
aan legendes uit klei en steen geskep:
die trane van 'n vrou kan 'n muur laat tuimel
en die lag-sterwe van 'n pa
en seun in herontmoeting
Ons is soos wagters op hierdie muur
versoeners wat met drake speel

