Die groot koelte deur Leon de Villiers: ’n lesersindruk

  • 1

Lesersindrukke is bydraes van lesers wat uit eie beweging hul indrukke van boeke aan die LitNet-redaksie gestuur het. 

Titel: Die groot koelte
Skrywer: Leon de Villiers

Illustreerder: David Griesel
Uitgewer: LAPA
ISBN: 978-0-7993-8925-8. 

Die groot koelte (2019) is voorwaar ʼn leesplesier en avontuur. Felix en sy leeumaat, Leo, het alleen agtergebly in Afrika nadat al die mense weggetrek het na Antarktika. Klimaatsverandering het die landskap radikaal verander en ʼn besonderse verhaal ontvou aan die punt van Afrika. Met ʼn eerste lees is dit ʼn lekker avontuurlustige boek, maar met die tweede lees kom daar verskeie belangrike aspekte en interessante verwysings na vore. Dit is net die tipe teks wat mens van Leon de Villiers kan verwag, met sy ervaring in die skryf van kinder- en jeugliteratuur.

De Villiers het al verskeie pryse ontvang en het gedebuteer met Aliens en engele (1996), ʼn verhaal oor ʼn seun wie se ouers skei en nuwe verhoudings aanknoop en hy nie noodwendig sy ouers se onderskeie romantiese keuses goedkeur nie. Die pro (1997) ontvang die Sanlam-debuutprys (1997), wat handel oor ʼn tienerseun wat sy beste vriend aan die dood afstaan weens ʼn branderplankongeluk. Daarbenewens ontvang hy die Scheepers-prys vir Jeugliteratuur (1998) en die MER-prys in 1998. Hy ontvang ook die CP Hoogenhout-prys in 2005 en die Alba Bouwer-prys in 2003 vir Droomoog Diepgrawer.

Leon de Villiers is bekend vir sy eerlike hantering van aktuele kwessies, tog is dit sensitief genoeg om nie aanstoot te gee nie. Sy boeke maak dit vir jong lesers moontlik om te verstaan waardeur ander tieners gaan en om ʼn kapasiteit vir empatie te ontwikkel. Hy skryf op so ʼn wyse dat die leser aanvanklik dink hy gaan saam met die hoofkarakter (in hierdie geval Felix) op ʼn avontuur, maar die leser kry baie meer as wat aanvanklik verwag word. Jy word deur ʼn ander se leefwêreld gelei en langs die pad, sou jy ʼn meer volwasse leser wees, ontdek jy ʼn dieper betekenis in die teks. 

In Die groot koelte (2019) word ons vertel van die nagevolge van klimaatsverandering. Die koeldrankadvertensiebord waarteen Felix klippies staan en skiet met sy kettie, maak ons met die eerste oogopslag bewus hiervan. Dit is ʼn Coca-Cola-bord, wat simbolies is van die korporatiewe reuse wat groot bydraers is tot die afval wat jaarliks deur verbruikers geproduseer word. Die seevlak het drasties gestyg en slegs die hoogste punte van geboue is sigbaar vanaf Felix se strand. Die ander nagevolge wat op die voorgrond gestel word, is dat daar geen bome meer is nie, dat daar ʼn droogte heers oor die landskap en dat die reën wegbly. Al die diere maak verskeie opmerkings daaroor. Die verhaal begin met die aankoms van ʼn groep ysbere wat uiteraard skreeu teen die hitte van Afrika.

Hierdie teks kan beskou word as ʼn eerste vir kinder- of jeugboeke wat die onderwerp van klimaatsverandering en aardverwarming nie aanpak as ʼn traumatiese of apokaliptiese gebeurtenis nie. Dit word so verweef met die storie dat dit enige leser van die teks behoort te pla, maar nie die aandag van die storie sal weglei nie.

Felix kom uiteindelik tot die redding van al die diere en die ysbere deur middel van ʼn droom waarin hy met sy ma praat oor hoekom hy alleen agtergebly het toe almal na Antarktika getrek het en dat hy dink sy pa hom agtergelaat het. Dit is ook in die droomgrot waar Felix helderheid kry oor waarom Leo nooit daar is as hy hom nodig het nie, en hoekom niemand behalwe Felix hom kan sien en met hom praat nie. Daar word aan hom vertel van die groot koelte en dat hy die uitverkorene is wat die groot koelte moet bring.

Die ysbere is natuurlik ook belangrike karakters in hierdie verhaal. Elke ysbeer het ʼn beskrywende naam. Veral Diepte en Ysbreker se name versteek baie meer as net bloot hul name. Dit is presies hier waar De Villiers se verhaal lesers aan Maurice Sendak se klassieke kinderboek Where the wild things are (1963) sou kon herinner. Spike Jonze se gelyknamige film van 2009 het veral die psigoanalitiese aspekte van Sendak se kinderboek ontgin en uitgebrei, waar Max se reis na waar die wilde dinge woon, as ʼn reis na sy binnelewe (die binne-leeu) en onbewuste gelees kan word. Die simboliese rol van die see in Where the wild things are (1963) kan direk met die onbewuste verbind word. Op soortgelyke wyse kom die “Witduiwels” oftewel ysbere oor die see, en Felix se lewe is ook regdeur die verhaal verbind met die see en wat of wie die see mag bring. 

Felix en Max mag moontlik dieselfde ouderdom wees en soortgelyke omstandighede beleef, alhoewel Felix nie moet reis na sy onbewuste nie, maar die daad van sy vader wat hom “verloor” het en nie goedsmoeds agtergelaat het nie, kan moontlik die oomblik van katarsis wees wat die oorslaan na die onderbewuste aankondig.

Daar is ook sterk parallelle tussen die karakters van Where the wild things are (1963) en Die groot koelte (2019). Dit is moontlik om te beweer dat Die groot koelte ʼn inspeling op Sendak se Where the wild things are is. Die tema van klimaatsverandering is ʼn kontemporêre aktuele onderwerp, maar word in die werklikheid van die verhaal ingeweef.

Die karakter van Diepte klink baie soos Carol wat in Where the wild things are gelees kan word as die binnebeeld van Max. Net so kan Diepte as die binnebeeld van Felix gelees word. Leo is natuurlik ook ʼn “binne-leeu”, wat tot ʼn mate ʼn verteenwoordiger van die Freudiaanse “superego” is omdat hy altyd sy opwagting maak wanneer morele sake opduik en besluite geneem moet word.                            

Sekere aspekte van Diepte het my aan Alexander in Sendak se verhaal herinner, veral in die filmweergawe. Alexander is die een wat werklik kan sien dat Max met sy eie drange, woede en probleme worstel. Max worstel eintlik met die proses van grootword. Felix gaan moontlik deur dieselfde proses, presies om die gebeure te verwerk wat afgespeel het voor die verhaal aan die leser bekendgestel word, naamlik dat Felix oortuig is sy pa het hom in Afrika vergeet of agtergelaat, alhoewel ons teen die einde van die verhaal verneem dat Felix se pa hom verloor het en aanhoudend na hom gesoek het.

Ysbreker kan tot ʼn mate beskou word as die gedeelte van die onbewuste wat reageer op die vreemde uit vrees, die primitiewe id volgens Freud. Dade van geweld en aggressie spruit gewoonlik uit ʼn ervaring of persepsie van gevaar en vrees vir die onbekende. Beide die karakters KW en Carol in Where the wild things are toon soortgelyke gedrag, veral wanneer Carol uitvind Max is nie regtig ʼn koning nie en dat hy oor vele dinge gelieg het. Felix het natuurlik ook gelieg oor waar die ys is.

Dit is moontlik om die karakters as spieëlbeelde of alter ego’s van mekaar te interpreteer. Dit voeg ʼn verdere psigoanalitiese laag by in ʼn vergelyking tussen Die groot koelte (2019), asook in Where the wild things are (1963). Felix en Ysbreker teenoor Max en Carol kan as mekaar se alter ego’s gelees word, omdat daar verskeie ooreenkomste in hul gedrag is, asook die verandering wat hulle in mekaar teweeg bring soos wat die onderskeie verhale ontwikkel.

Soos met enige metaforiese reis na die onbewuste ontstaan daar altyd die vraag of dit wat jy so pas gelees het, die werklikheid, waarheid was of slegs ʼn versinde of skynwaarheid is. Wat kinder- en jeugliteratuur so wonderlik maak, is dat die lesers daarvan nie omgee oor sulke vrae nie. Hulle koop juis in op daardie problematiek en speel lustig saam met daardie spanning, oftewel “suspension of disbelief”. Ek het dit ook terdeë geniet om saam met Felix sy reis mee te maak.

Dit is ʼn wonderlike boek vir jong lesers tussen die ouderdomme van agt en dertien jaar, maar dis slegs ʼn aanbeveling. Leon de Villiers oortref beslis enige verwagtinge ten opsigte van diepte en genot. Enige kind wat hou van ongewone avonture, waar diere kan praat en enigiets moontlik is, sal hierdie boek beslis geniet.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top