Die groot gatslag

  • 2

Foto: Greg Montani | Pixabay

Ons is iewers op ’n teerpad tussen Dar es Salaam en Kilimandjaro. Die ons is ek en my 81-jarige ma wat my in Tanzanië kom join op ’n avontuur van ’n leeftyd. Moshi is ons eerste afdraaiplek vir ’n oorlê aan die voet van die indrukwekkende Kilimandjaro. Hierna volg besoeke aan twee ander “bucket list”-plekke, Serengeti en Ngorongoro, voor sy na Suid-Afrika terugkeer en ek voortgaan met my reis deur Afrika, suid van die Sahara. Die spesery-eiland, Zanzibar, het ons die voorafgaande week betower en is ons vol drif vir die nuwe uitdaging. Dis nou tot ’n snaakse geluid van iewers onder die bakkie opklink. Vir my is dit ’n tragedie in wording toe die klangelang gebeur en aanvanklik probeer ek die onaardige geluid ignoreer. Dit het egter nie te lank geduur nie, want toe ek teen die volgende opdraande wil ratte wissel, is daar niks. Ja, die “clutch” is weg en dit lê op ’n teerpad iewers in die middel van Afrika. My grootste vrees – om iewers gestrand te wees – is besig om ’n werklikheid te word. Die warboel gedagtes wat deur my kop maal is te veel om op te noem en gaan tesame met vele rooskleurige woorde wat alles behalwe goeie bedoelinge het. My ou moeder is natuurlik so koel soos ’n komkommer. Alles is vir haar ’n avontuur en nadat ek die bakkie uit rat uit beur en laat terugloop in ’n afdraaipaadjie in kom ek tot die besef ons sit in tamatiestraat met geen onmiddellike noordelike koesteringe in sig nie.

Dit neem nie lank voor ons omring is deur ’n skare nuuskierige kinders nie. Ma is natuurlik in haar element en hulle vermaak ons, of is dit dalk andersom? Gelukkig hou dit haar besig sodat ek my aandag, vir wat dit werd mag wees, aan die probleem kan wy. Die eerste man op die “toneel” en ook die een wat later saam met sy partners in crime of brothers in arms ons walinzi’s sou wees, volg my op ’n afstand teen die pad af op soek na die moontlike vermiste skakel. Behalwe vir ’n klomp ander goeters wat glad nie aan die bakkie behoort nie, is die soektog totaal vrugteloos. Op daardie stadium besef ek dat daar met my beperkte meganiese kennis ’n ander plan gemaak sal moet word. Met ’n middernagtelike kollekteeroproep iewers vanuit ’n tronk in Amerika van baie jare terug in gedagte, is dit payback time en bel ek my broer in Suid-Afrika. Ek het gelukkig nie eers nodig om daardie episode op te haal nie. Hy begin sy kontakte warm bel. Hoe hy dit regkry weet ek nie, maar kort voor lank is ek in kontak met ’n man genaamd Riaan Marais en ons spreek daarop af dat hy ons die volgende oggend douvoordag uit Dar es Salaam kom insleep. Die nag en al die wrakke teen die paaie is ’n stille getuienis van Tanzaniërs se kamikaze-bestuursvermoëns. Hoe dié mense aan hulle bestuurslisensies kom, gaan my verstand te bowe.

Die keuse is vir ons gemaak en die tafel is gedek vir ’n nag teen die pad in die middel van Tanzanië. Ons spreek sommer vroeg af met die man wat hom op my hakke kom tuismaak het om ons walinzi, oftewel sekuriteitswag, vir die nag te wees. Die deal met Saluman is egter dat hy ten minste nog een ander man saam met hom sal hê en, glo my, die onderhandelinge is nie maklik nie, want ek verstaan boggerol van wat hy sê en hy nog minder vir my. Ons word in die tussentyd deur ’n klomp skoolkinders vermaak, want die pad waarin ons afgetrek het, is die hoofroete na die plaaslike laerskool toe. Teen dié tyd is ons natuurlik celebrities. Die “mzee mwenye umri wa miaka msichana”, oftewel die ou man met die jong vrou, is ’n groot kompliment vir my ou moeder. Aanvanklik snoer die koekies en ander lekkergoedjies wat ma so mildelik uitdeel die kinders se monde, maar nou begin die versoeke vir “money, money, money” oraloor opklink. Dis natuurlik hoekom ons ’n walinzi het, maar ongelukkig vat nie een van die kinders hom kop toe nie. Nadat hy die kinders natuurlik met groot fanfare die vlaktes vol jaag, drentel hulle maar net weer agter hom aan, tot almal se vermaak. Dis nou tot daar so ’n kwaai ouerige omie opdaag en die pawpaw die fan strike, want die oom “vatikaki” en die kinders verkas blitsig. Selfs Saluman kry ’n oorvol van hom en behalwe vir een balhorige kind keer vrede na die lappie aarde terug.

Die geheim van so ’n tragedie is dat jy dit vir jou moet laat werk, en ek is so diep dankbaar vir my ma aan my sy. Dit sou nie dieselfde gewees het sonder haar nie. ’n Jong man, Bryton, kom oor ons pad asof hy gestuur is. Wat in sy guns tel, is dat hy die Rooitaal magtig is en as tolk optree met Saluman, ons walinzi. Selfs met ’n tolk is dit maar ’n geterg om die boodskappe oor te dra. Nog ’n kuiergas is ’n “prokureur” uit Dar es Salaam wat by die huis kom kuier het, en al te vrolik na wyn ruik, en dan is daar so ’n malletjie. Saluman probeer hom heeltyd wegjaag met “you go, you go”, maar hy klou soos klitsgras in ’n wolkombers. ’n Rukkie later maak ’n polisieman sy dramatiese opwagting met ’n geknars van ratte en high fives die wêreld vol, net om my mee te deel dat ek vroeër die dag te vinnig gery het. Met sy “radargun” met ’n kamera, is ek pens en pootjies raakgeskiet, besig om 62 km/h in ’n 50 km/h-sone te ry. Met verlangende oë na die koue “Kili” in my hand en met streng bevele aan die walinzi’s dat hulle ons mooi moet oppas, vertrek hy met ’n vermaning en sê dat ek reeds my straf gekry het, maar versigtig moet wees, want hulle, die cops, is orals.

Die oornagplek is nie net ’n deurgang vir skoolkinders nie, maar ook vir beeste en bokke. Ek weet nie of dit oor ons celebrity-status is nie, maar dit is duidelik dat die diere waarskynlik nog nooit ’n umzungu gesien het nie. Die foto’s vertel die volle verhaal en dit is duidelik dat hulle glad nie die wit gryskopvrou vertrou nie. Ek sou sekerlik ook nie as ek hulle was nie. Sien, die antie het teen hierdie tyd ’n groot vleislus dit alleen behoort ’n oproep tot paniek onder hulle te wees. Dis ons eerste aand op die groot avontuur na die noorde en kan nie meer opwindend raak as dit nie. Die werklike opwinding kom egter wanneer ek my daktent met ma moet deel. Behalwe vir die balhorige kind wat ek glo om ander redes daar rondhang, raak dit heel rustig met Saluman wat lekker met ons sit en babbel. Ons het geen vleis by ons nie en ek slaan sommer vroegaand ’n geïmproviseerde vegetariese dis aan mekaar. Ou Saluman smul saam en maak boonop die bak op so ’n manier leeg dat dit nie eers gewas hoef te word nie. Ek sien sy mond water vir ’n bier, maar iemand moet ons oppas en sy brothers in arms of, soos hy sê, “different brothers from different mothers”, sluit hulle by ons aan as ons oppassers vir die nag.

Dis mos nou net hier waar die nonsens begin. Sien, ma het ’n piepiepot en ek weier dat sy daai ding by ons in die daktent inbring. Of dit nou my ma is of die getjor wat gaan opklink elke keer wat dit gebruik moet word maak nie saak nie. Geen piepiepot daar bo nie, en boonop reën dit heel nag lank, want sien, dis reënseisoen. Dalk is ek maar net bang vir die omvalslag. Ek wil egter nie eers daaraan dink nie en ons maak dit deur die nag in ’n baie klein tentjie. Vroegmôre, terwyl ons wagte aan heerlike bekers boeretroos teug en ek kywie hou, ledig ma haar blaas in die bosse. Sy het dit deur die nag gemaak en nou wag ons net vir Riaan om te arriveer. Dit is nie te lank voor ons ridder daar opdaag met sy dogter Nella as co-driver nie. So kom ons beproewing, of dalk was dit ’n belewenis, tot ’n einde; een wat ons sekerlik nooit ooit sal vergeet nie. Ek wil nie eers begin om te vergelyk wat in Suid-Afrika met ons kon gebeur het nie. Die uiteinde was dat ons werklik gawe mense ontmoet het en nooit bedreig was nie. Met ’n stywe beursie neem Saluman afskeid van ons en hoop die ou seker heimlik dat ons bakkie weer breek volgende keer as ons daar verbykom. Terug by die huis, dis nou in Dar es Salaam, ontmoet ons Riaan se beter helfte en ma van Nella, Hanlie, en word ons soos eregaste onthaal. Dit is in oomblikke soos dié wat jy besef dat daar nog omgee in die wêreld is, meestal op die laaste plek waar ’n mens dit verwag.

“Wakati mwingine kuwashukuru wote unahitaji kuwa.”

“Partykeer is dankie al wat gesê hoef te word.”

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top