miljoene jare gelede het lig vanaf ’n ster honderde male groter as
ons son
teen meer as ’n duisend miljoen kilometer per uur gereis om
ons planeetjie
aan die rand van die Melkweg op ’n maanlose nag in die
wye Groot Karoo
as ’n skaars sigbare ligstippeltjie te bereik en saam
met nog biljoene sterre
maar net help om die stikdonker nag te beaam
dit vat ’n Karooskaapboer wat
met sy vroegoggendkoffie vanaf
sy donker agterstoep die dag inkyk
se geoefende oog om die trop
slapende skape daar naby
onder die doringbome
in die dipkampie
te kan uitken
maar op
een
van die kleinerige maer hameltjies
naby die rand van die trop
natuurlik onsigbaar vir die boer
is daar twee vet bosluise
ernstig in gesprek
met watter bogpraatjies
loop jy te koop
dat daar bosluise op
ander skape ook kan wees?
jy weet net so goed soos
ons almal dat ons
die enigstes
die uitverkorenes
is en dat ons net op
hierdie een skaap leef
ek het maar net
gewonder
of dit nie
tog
moontlik is dat daar
dalk
ook bosluise op ander
skape is nie
want hulle lyk darem
eintlik baie soos ons skaap
nee!
dit is onmoontlik!
ons is lank gelede
met uitsonderlike sorg
deur die Groot Boer gemaak
nadat hy ons skaap perfek
vir ons behoeftes geskep het
het hy ons
een vir een
met Sy Heilige Hand
hier neergesit
sien jy dan nie elke dag
hoe hy die trop versorg
maar veral
hoe hy ons skaap nog
meer as
al die ander vertroetel nie?
ja maar
hoe weet ons
dis regtig soos dit gebeur het?
het ons nie dalk sommer net
in die stof uitgebroei
en heel toevallig
op hierdie skaap geklim toe hy
gaan lê het nie?
en
het jy al ooit daaraan gedink
dat die Groot Boer
dalk net
eerder die skape versorg
as wat hy vir ons omgee?
heiligskennis!
hoe durf jy sulke gedagtes kry!
en dit boonop nog hardop sê!
het jy dan nie al gesien
hoe Hy daardie bosluise
wat nie die nodige respek
en vrees
vir hom het nie
die wat sommer so
oop en bloot
in Sy teenwoordigheid verskyn
een vir een
met Sy Heilige Hand verwyder
sodat hulle nie verder
’n slegte invloed
op ons ander kan hê nie?
so sorg Hy
dat hier later net
waarlik eerbiedige
bosluise sal oorbly
luister na my!
vergeet liewer van die ander skape
hulle is net hier om ons skaap te
help soek
na die beste weiding
al wat jy hoef te doen is om
met groot dankbaarheid
die wonderlike Lewensbloed te suip
en uit liefdevolle eerbied vir
die Groot Boer weg te kruip
so was dit
solank ons kan onthou
en so sal dit vir ewig wees
tot Hy uiteindelik die Groot Dag laat aanbreek
die boer drink sy koffie uit en
met net die oggendster
nog sigbaar in die vroeë skemering
jaag hy die trop skape in die drukgangkampie
in die loop van die dag
deursoek en behandel hy die skape
een vir een
teen al wat ’n pes en siekte is
twaalfuur
met ons ou sonnetjie wat
genadeloos
reg van bo op die Karoo neerbrand
kom die kleinerige hameltjie
wat tog so geneig is tot bosluisbesmetting
ook
aan die beurt

