
Ek wil baie graag Hector Pieterson se museum besoek. Hopelik word ek toegelaat om met sy suster, Antoinette, te gesels. Nie oor “It was on the 16th of June as we were marching against the Afrikaans” nie, maar oor Hector die seun.
Het hy van skool gehou? Wie was sy gunstelingsokkerspan? Wat wou hy eendag word?
Op Soweto Tours se amptelike webblad “The Hector Pieterson Memorial – part of the struggle tour” lees ek dat hierdie museum in die 1990’s opgerig is. Kan jy glo, twee blokke van die slagveld af waar bykans 200 kinders hul lewens opgeoffer het teen onderrig in Afrikaans.
In my geestesoog sien ek Hector daardie oggend van 16 Junie 1976 opstaan.
Ma Dorothy moes hom moontlik twee keer aan die skouer ruk. “Kom nou, Hector, jy gaan laat wees vir skool.”
As dit ek was, het ek die kombers oor my kop getrek en snoesig gedut totdat Moederlief met haar vuiste in haar sye dreig: “Hector Pieterson, as jy nie nou dadelik opstaan nie, trek ek jou gatvelle van jou lyf af.”
Sou ‘n beker warm koffie op hom gewag het? Of is net ʼn emmer badwater vroegoggend vir hom gekook?
Ma Dorothy se oë boor in sy rug. “Moenie vergeet om agter jou ore te was nie.”
Hy doop die waslap in die sinkbad, smeer dit seep, skrop om die skulp van sye ore, binne elke oor, om die nek. Sy liggaam – met hoendervleis oorgetrek – ruk.
“Hector, het jy jou huiswerk gedoen?” Ma Dorothy skuif haar kopdoek reg, lippe ‘n reguit lyn: “Antoinette, jy lag verniet vir jou broer; ek wil jou skoolboeke sien voor jy eet. Jy’s nie te oud vir ‘n pak slae nie.”
Hector droog homself af. Sy tande kletter op mekaar.
“Ja, Ma,” sê hy met ‘n knipoog, in Afrikaans.
Antoinette giggel. “Joh. Jy.”
Klam handdoek oor die bolyf, trek Hector sy onderbroek aan. Dan sy broek. Hemp. (Knoop hy ook sy knope van onder vas om seker te maak hy mis nie ‘n knoopsgaatjie nie?) Trui. Kouse en skoene.
Ma Dorothy se wysvinger dans onder sy neus. “Hoekom blink jou skoene nie? Wat gaan vandag met jou aan, Hector? Kom, soen my, ek moet gaan werk, die baas hou nie daarvan as ek laat is nie.”
Op pad skool toe smelt Hector saam met 20 000 kinders uit drie skole. Hy is nuuskierig en wil weet wat aangaan. Die massa skram stadium toe. In Moemastraat wag die polisie op hulle. Gewapen.
Terwyl die kinders “Nkosi sikelel’ iAfrika” sing, beveel luitenant Swanepoel die handvol polisiemanne om te skiet.
Wie de donner skiet op kinders?
Die polisie.
Nie in Rusland nie. Nog minder in Ierland of Israel. Nee, hier in ons eie Suid-Afrika, waar stootskrapers gebruik is vir grondonteiening sonder vergoeding. En dan hunker soveel mense terug na “die goeie ou dae” ...
Sê jy nou vir my: Vir wie?
Die 176 grafte in Avalon-begraafplaas getuig daarvan dat derduisende mense gedurende “die goeie ou dae” saans gebid het: “Verlos ons van die bose.”


Kommentaar
Stefaans, dit slaan diep. Dankie.