Die “Godboek”: nuwe gedagtegenereerder par excellence

  • 4

Toe ek my eksemplaar van God: gesprekke oor die ontstaan en uiteinde van alles by NB se kantore gaan afhaal (Tafelberg is die uitgewer), sê die ontvangspersoon: “ Watter boek? O, die Godboek, hier’s hy.” “Godboek?” Is dit uitgewerspeak vir dié boek in besonder, of maar die normale afkorting vir enige boek met ’n langerige titel, wonder ek. Nadat ek dit begin lees het, het ek besef dat hoe dit ook al genoem word, hierdie boek nog bekend sal raak. Dalk sal mense sommer praat van “Claassen en Gaum se boek”, en die meeste mense wat die kwessies van die mens se ontstaan, moontlike doel, en ook dié van God, of enige god, bevraagteken, sal weet na watter boek verwys word.

Die kwessie van bevraagtekening lê diep genestel in die boesem van hierdie boek. Vir die gelowiges – kom ons noem hulle die Gaums – mag dít ’n adder wees dáár, maar vir die Claassens draai die ganse heelal daarom heen: die “intellektuele uitgangspunt” is om vrae te vra. Voeg daarby die “filosofiese ingesteldheid”, nl om jouself bloot te stel om verkeerd bewys te kan word, en jy kyk uit hulle perspektief na die lewe, die oorsprong én einde daarvan. As daar ’n einde is - want hieroor weet ons min, dalk minder as oor ons eie begin, waaroor ons sedert Darwin wel veel meer kennis opgestapel het, maar steeds baie onseker is.

Claassen se uitgangspunt is juis dat hy nie hoop op ’n ewige lewe in die hel of hemel nie, maar dat hy berus in die hoop dat hy, deur sy fisiese oorskot, byvoorbeeld kompos vir ’n mooi boom mag wees. Inderdaad ’n nederige, maar prysenswaardige, ambisie. Claassen onderskryf dus die teorie dat alle materie wat bestaan, altyd bestaan het in een of ander vorm/kombinasie/konglomeraat en dat dié samestelling periodiek verander – selfs die aarde was eers in ’n ander vorm (die maan was glo eers deel van terra firma) en na sy “dood” (verswelging deur die son, ’n Swart Gat, die wederkoms, ens) sal dit hersirkuleer word. Die Bybel praat van “stof tot stof”, en die wetenskaplikes het húlle terminologie.

So, om te vra of nie te vra nie, dís die vraag – of is dit? Sommige Gaums – inderdaad hy self – sê jy mág, en dat alles gelowiges nie oor dieselfde kam geskeer kan word nie. Soos alle ongelowiges natuurlik ook. Dit blyk dat tussen hierdie twee teenpole daar heelwat variasie op die tema is (die “baie kamers van die Huis van die Vader” in Bybelse terme?): ekstremiste, gematigdes, onsekeres ... Gaum voer aan dat ons vandag dankbaar moet wees dat ons vrae mag vra, maar dit herinner juis aan die eeue van onderdrukking deur die Kerk, en al die wreedhede waarin Claassen en sy sielsgenote (kan mens sê?) “’n broertjie dood” het. Kan mens net sê: “Jammer, ons is net mense?” en dan is ’n lang en brutale geskiedenis vergete?

Claassen voel dat hy nie kan aanvaar dat ’n God met almag toelaat dat daar oor soveel jare deur soveel wesens soveel lyding ervaar is, en nog elke sekonde ervaar word, nie. Vir soveel mense – die kwyning van die Kerk dui op die getalle - is hierdie almag en voorafkennis van wat kom deur God juis ’n onoorkombare intellektuele hindernis. As jy weet iets boos gaan gebeur, waarom dit toelaat? Waarom is al die onregverdigheid nodig?

Neem die natuur as voorbeeld: Waarom al die wreedheid? Mense wat gedurig kwyl en knetter oor hoe mooi die natuur is, weet min daarvan af – diere sterf ’n genadelose en pynlike dood in die natuur – as hulle nie verorber word nie, vrek hulle van honger, dors, siekte en ouderdom: die jagter se koeël is opsluit die genadigste. Al sal ek nooit weer ’n geweer vir dié doel optel nie, vereis realisme dat ek dít erken. Nee, so mooi soos die natuur is, so aaklig is hy ook – ontken jy dit, is jy so oneerlik as wat jy onkundig is. Tog doen mense dit. Op groot skaal. Hoekom? Is die werklikheid te verskriklik om te erken?

In die “Godboek” (ook ander boeke soos The faith Instinct deur Nicholas Wade, 2009) word geïmpliseer dat dit nie slegs gaan oor die bestaan, al dan nie, van God nie, maar ook oor watter sóórt god hy/sy/dit is. Het God ’n Jekyll/Hyde-karakter? In die Bybel staan byvoorbeeld Hy is jaloers en dan weer Hy is liefde. Hy red, Hy delg uit. Hy is lief vir kinders, hy laat toe dat Lot se dogters verkrag word ... So, is God dalk ook Satan - as Hy Drie-enig is, kan hy seker twee-enig ook wees? En, uiteindelik, het ons Die Bybel en die interpretasies van duisende mense oor eeue heen om voorstelle aan die hand te doen. Uiteindelik vra ek: Hoe kan mens in alle eerlikheid anders as agnosties wees? Gaan nóg ’n boek, enige boek, die antwoord verskaf?

Met hierdie kakofonie van vrae in my kop het ek die “Godboek” begin lees, die dag voor die gespreksessie daaroor by die Woordfees, wat op Vrydag 9 Maart sou gebeur. Wat mens eerste opval, is die pragtige voorblad, wat ek verneem het verwys na die see as die plek waarvandaan ons, en dalk alle lewe op aarde, kom. Anders as Claassen se vorige boek, Geloof, bygeloof en ander wensdenkery (Protea Boekhuis, 2007) gee die “Godboek” onmiddelik ’n rustiger en ja, hoopvoller, indruk.

Soos ook Claassen se benadering skynbaar meer empaties geword het – hy het meermale verklaar dat die “geskree op mekaar, soos in Die Burger se brieweblaaie” teenproduktief is en liefs moet end kry. Hy het niks gesê van die dreigbriewe wat hy ook al gekry het nie. En dít van ... Christene? Hoekom so ’n aggressiewe reaksie? Bly die mens nie self ’n geslote boek nie? Blykbaar is dit die samestellers van die “Godboek” se strewe dat nuwe boeke ou “boeke” ontsluit. Dat ons onsself verstaan, en daardeur mekaar – en ons vreemde behoefte om deel van iets te wees wat niemand ooit nog gesien het nie.

Bowenal, wonder mens: Het Claassen (eens bekend vir sy ongeduld met veral dogma) ’n nuwe blaadjie omgeslaan met die nuwe boek? Is hy meer verdraagsaam teenoor ander se oortuigings? Maar indien wel, is die speelveld nie gelyk indien sy teenstanders nie óók by die reëls hou nie, ander is dit ’n geval van “coming to a knife fight with a gun”.

En dis my onmiddellike bekommernis: diegene wat onwrikbare geloof onderskryf, dit inderdaad as die grootste deug bestempel, is uiteraard nie oop vir oortuiging nie. Wat is dan die punt van ’n debat? Wie gaan oortuig word as een kontingent onoortuigbaar is? Of gaan alles hier oor die werwing van nuwe volgelinge? Is dit ook hoekom mense na die gespreksessie sal kom? Of gaan dit soos ’n politieke vergadering wees met “hoor, hoor” en afkeurende geluide wanneer stellings deur die paneel op die verhoog gemaak word?

Donderdagaand begin lees ek toe die boek. Gaum vuur die openingsalvo af en een van die eerste stellings wat my opval, is: “Geloof: ’n waagstuk, ’n sprong, ’n geskenk.” Dit klink na retoriek wat ek al baie gehoor het: mooi en gerusstellend op jou oor, maar ... Volgens Gaum moet mense dus waag, want wie nie waag nie, kan nie wen nie. En wat kan jy wen? Vergifnis en die ewige lewe. Watter groter prys kan daar enigsins wees, óóit? Tog is daar jaarliks minder gelowiges – aldus onlangse statistieke in die media. Mense moet tog baie seker wees van hulle saak as hulle so ’n sprong, maar na die ander kant, maak. Wie is verkeerd/dom/gedoem? Wie is reg/wys/gered?

Christi van der Westhuizen, een van die 24 mense met wie onderhoude gevoer is (12 deur Claassen, 12 deur Gaum), praat in die boek van die “ooglopende wortel-en-stok-benadering” – die hemel/hel- konsep. Haar minagtende verwysing hierna lê dalk die vinger op die antwoord: dat die jonger generasies net nie meer bang genoeg is vir Die Bose, of glo in ’n ewige lewe nie; as daar geen Duiwel is nie, is daar volgens dié siening ook geen God nie. Wat baie mense ook blykbaar nie insien nie, is dat die Bybel nie as ’n bewys beskou word dat God bestaan nie – as mense nie in God glo nie, hoe kan die Bybel dan die bewys wees van Sy bestaan? Hoender-en-eier? Lo-gi-ka?

Vir Claassen is die Bybel vandag net ’n boek, hoewel hy jare gelede “gelowig, intens gelowig” was. Mens kry die indruk dat sy werk as joernalis, die assimilasie van wetenskaplike feite en die wete van die booshede op aarde hom geleidelik oortuig het dat gelowiges deur rooskleurige brille na die wêreld kyk – die “gebroke werklikheid”, soos Gaum dit stel. Hy plaas ook die blaam van oorlog en ander wreedhede op die mens, en verontskuldig God in die proses. Al probleem wat ek hiermee het, is dat wanneer iets wonderbaarlik gebeur, God die eer kry, en as dinge sleg uitdraai, is dit die mens - hoewel die einste sondige mens vooraf alle vertroue in God moes stel om die gemors af te weer. Mens soek vergeefs – nee desperáát – na lógika ...

Gaum beweer dat mense sin in hulle bestaan soek en dit by God vind. “Berusting” is ook ’n woord wat gebruik word en mens wonder of dit nie meer paslik is by die Gaum-benadering, terwyl “sin” juis meer aan die Claassen-kant hoort nie. Dui “sin” nie meer op logiese beredenering nie, terwyl religie alle pretensie tot logika en erkenning van natuurwette afwerp wanneer vrae soos: “Maar wie het dan vir God gemaak as alles gemaak móét wees?” opduik?

Of is die “sin” dan ’n “doel?” Die Plan? Groot gedagte? Weer eens, watter uitgangspunt is die logiese een? Een ding wat mense skynbaar miskyk, is dat baie meer spesies al uitgesterf het as wat nog bestaan. Natuurlike seleksie dui daarop, en daar was baie prototipes, sê die wetenskap (paleontologie). Dit wat ons nou as perfek beskou, is daarvolgens wat oorgebly het – ná vele “oefenlopies”. As dit korrek is, is die Intelligente Ontwerp-idee onsinnig.

Gaum sê dat ons nooit alles sal weet nie en die wetenskap dus nie kan voorgee dat hy Die Antwoord is nie – maar Claassen reken dis dan presies wat die wetenskap voorstaan: om gedurig nuwe antwoorde te soek en uitgediendes te vervang. Só het Einstein eens ook erken dat sy teorieë waarskynlik eendag verkeerd bewys sal word, ’n bona fide filosofiese stelling, want hy aanvaar so dat hy verkeerd mág wees.

Verder bewys die feilbaarheid van die wetenskap (of dan die mens as wetenskap-beoefenaar) nie die bestaan van enige godheid nie. God is slegs een móóntlikheid, aldus agnostici, wat soos Claassen voel dis nie die wetenskap se plig of doel om te bewys dat God bestaan nie, maar diegene wat beweer dat Hy bestaan, moet dit bewys. Slaag hulle daarin, sal wetenskaplikes gedwing word om Sy weg te volg: hulle, as onderskrywers van (meetbare of minstens sigbare) bewyse, moet dan by hulle eie reëls bly en erken hulle was verkeerd.

Een opvatting van die Gaums, dat God (alleen) bo alle reëls, wette en logika staan, irriteer die Claassens: alle beskaafde mense erken dat in hofsake bewyse moet wees, wat die verskil tussen lewe en dood kan beteken. Sodra God egter in die prentjie kom, is Hy die gelowiges se “Get out of jail free card”. Altans dis wat gelowiges dikwels doen as hulle met ongelowiges argumenteer: wanneer die Gaums se antwoorde opgedroog het, sê hulle: “Jy moet glo.”

Indien mens bogenoemde (nogal voorspelbare) tendens in ag neem, is Claassen se irritasie met sulke reaksies begryplik. Sinvolle, produktiewe diskoers vereis eerlikheid, en die hoogste mate van demokratiese beginsels (vryheid van spraak, erkenning van persoonlike regte), en om net te sê “Nee, jy is immoreel en op pad na die hel” wanneer jou teenstander oor meer ammunisie beskik, is soos om willens en wetens in ’n doodloopstraat op te ry. Ry jy maar net om te sien hoe ver jy kan gaan? Want dis my vraag: As slegs een party nie vrae wil vra nie en nie bereid is om verkeerd bewys te word nie, wat is die punt van hierdie oefening?

Toegegee, dis nie noodwendig net die een party wat vas in hulle saak glo nie, want hoewel Claassen dit duidelik stel dat evolusie nie ’n geloof is nie, kan Origin of the species vir sommiges net so “heilig” wees soos die Bybel, Koran, Talmoed, ens vir ander – ja, al is ook ateïsme nie ’n geloof nie. So, of mens van “geloof” of “oortuiging” praat, is die beste strategie dalk dat mens niks met ekstremiste kan uitvoer nie, maar op diegene in die middel van die spektrum moet konsentreer. Ás jy geesgenote (enigsins ’n beter woord?) wil werf. En om eerlik te wees, aan watter ander rede het die “Godboek” sy ontstaan te danke?

Inderdaad, indien mens werklik oor hierdie dinge dink – diep, eerlik, met dien verstande dat jy oortuig kan word deur een van die opponerende partye – is daar ’n intimiderende en oorweldigende volume menings, vervat in dosyne boeke uit alle uithoeke van die ruimte, waarin hierdie idees en argumente gegenereer word, selfs muteer en radikaal kan verander. My gevoel is dat mens ’n punt bereik waar jy oortuig is van een van die twee standpunte en dan nóg boeke lees om jou oortuiging te versterk: ’n soort-soek-soort-hunkering, dus, “a meeting of the minds” in ateïste se geval, en “a meeting of hearts” as jy geloof verlang, wat groepsvorming veronderstel. Volgens Claassen is hierdie kuddedrang een van die gelowiges se vernaamste beweegredes om te wil glo. In die “Godboek” word hierdie behoeftes aan vreesbeswering en behorendheid bespreek en talle bronne word deur die bydraers aanbeveel – “lees hierdie, stop van myne.”

By Erfurthuis dié Vrydag het ’n skare saamgedrom. Ek word later herinner aan die slag toe Jesus gepraat het en mense deur die vensters gehang het om te hoor; hier was dit iets soortgelyk – die gangetjies was volgepak, mense het op die rand van die verhogie gesit, ook die atmosfeer was dig en swaar, en die spanning sigbaar op die gesigte, en nie net op dié van die paneel nie. Dis ernstige sake hierdie. En soos ek gedurende my jare as staatsargivaris opgemerk het, hoe ouer mense word, hoe meer wil hulle weet waarvandaan hulle kom en waarheen hulle op pad is: genealogie aan die een kant en religie aan die ander. As vyftigjarige is ek een van die jongeres in die gehoor (!) en dit val my op dat die afwesigheid van jonger mense daarop dui dat hierdie tema hulle skynbaar min skeel. Die kerke loop glo leeg, die jeug is elders, en na elders op pad. Of is dínk hulle nie aan dié dinge nie? Is die dood nog te ver om jou oor te bekommer?

Terwyl mense rondgeskuif en gestoei het om ’n sitplek te vind, het die paneel ook stelling ingeneem: links was George Claassen, met Dave Pepler van “Groen”-faam aan sy kant, letterlik en figuurlik. In die middel was Elna Boesak, die fasiliteerder, wat waarskynlik al haar ervaring sou benodig om gemoedere te kalmeer (ek praat hier veral van die gehoor, want die paneel was deurgaans gemoedelik), en haar vrae was nie te veel of irrelevant nie; inteendeel, sy het die sprekers voldoende geleentheid gegee om hulle sê te sê, en haar vrae het insig getoon (miskien het haar bekende wederhelf ook insette gelewer). (Terugskouend: een keer het haar simpatie-onderrok wel uitgehang, toe sy aan Claassen wou voorskryf watter boeke om te lees. “Eish, Elna, that’s not cricket,” dink ek toe, maar dit was haar enigste werklike glips.)

Aan die Gaum-kant was Cecile Cilliers toe, met Gaum self heel regs. Met Boesak in die middel as duiwelsadvokaat het die groepie mens nogal aan ’n Middeleeuse hof laat dink: Gaum is Wyse Gryse, hoofraadgewer van die vors (God?), Claassen die jonger Merlin, met Pepler sy assistent (-veldwerker). En Cilliers? Ek is bevrees al posisie wat sy wou hê, op aangedring het, was dié van hofnar: almal, van Boesak tot die mans aan die ander kant, is “Hartjie” en “Liefie” genoem en sy het skynbaar vooraf besluit dat (ligsinnige) humor haar aanvalswapen sal wees; dat sy die opposisie gaan neutraliseer deur hulle as belaglik af te maak. Selfs Boesak was onseker hier – op een stadium vra sy Celliers ’n vraag, waarop sy antwoord: “Ek wil nou eers ’n grappie vertel”, en doen dit terstond, weer eens op ’n minagtende wyse jeens haar teenstanders (in die grap word Dawkins se The God Delusion as irrelevant en belaglik afgemaak), wat egter deurentyd verklaar het dat daar met respek na mekaar geluister moet word, wat ook deur Gaum beaam is. So, jammer ou Liefie, jy het bokkerol bygedra tot die diskoers.

Gaum het wel probeer om reg aan die begin ’n steelhou in te kry deur te sê: “Een deel van die boek is darem mooi”, wat entoesiastiese applous van sy ondersteuners ontlok het. Anders as in die geval van Langenhoven van ouds is sy gekwalifiseerde stelling egter getroef - deur Claassen – met: “Maar my deel van die boek was darem óók mooi.” Hierdie bereidwilligheid van Claassen om sy teenstanders krediet te gee, het hom met eer uit die stryd laat tree.

Pepler het ook beïndruk met sy eerlikheid: in die boek sê hy: “My naam is Dave Pepler en ek is ’n ateïs.” Boesak besef dat dit ’n betekenisvolle stelling is en vra hom hoekom hy dit so gestel het. Waarop hy antwoord dat hy ’n alkoholis is en dit hom aan die tyd herinner het toe hy by ’n AA-vergadering so ’n intieme verklaring moes maak. Mens kan nogal dink dat om te sê “Ek is ’n ateïs” moeiliker is as “Ek is ’n alkoholis.” In die eerste geval word jy aanvaar in ’n geborge groepie en in die tweede gebeur waarskynlik die teenoorgestelde. En hierdie uitsluiting, soos toe Pepler se ouers se huishulp nie toegelaat is om sy vader se begrafnisdiens by te woon nie, was een rede waarom Pepler sy rug op die kerk gedraai het. Gaum se reaksie hierop, deur namens die betrokke gemeente om verskoning te vra, was effe gedronge, en boonop futiel, veral aangesien hy geïnsinueer het dat so ’n geïsoleerde geval nie iemand van God behoort te vervreem nie. Pepler bly hom ’n antwoord verskuldig, maar die feit dat hierdie “geïsoleerde geval” eintlik die amptelike beleid van die NG Kerk was en die houding van die meerderheid NG-lidmate weerspieël het, maak Gaum se insinuasie én verskoning bloot arbitrêr, hoewel sekerlik goed bedoeld.

Wat die gehoor betref: te veel mense het (heel voorspelbaar) gesnork en geknor wanneer Pepler gepraat het – sy stelling dat die titel “ateïs” ’n eer is, het uiteraard nie almal se goedkeuring weggedra nie – en iemand het selfs luid verklaar dat al dié gepratery tydmors is. Mens is geneig om saam te stem - wanneer mense só optree.

Een persoon het later aan my gesê dat sy ’n probleem het met die Tien Gebooie – eintlik net met die Eerste Gebod – wanneer sy sien hoe mense wat die Eerste Gebod onderskryf, geen poging aanwend om die Tweede Gebod te eerbiedig nie. Dit is beslis ’n argument wat te veel gehoor word om te ignoreer: dat die skynheilige optrede van selfverklaarde gelowiges ander juis wegdryf van die kudde. Woorde wek, voorbeelde trek – of nie.

Bygesê: Gaum was wel reg toe hy gesê het mens moenie veralgemeen nie. Die gevaar is dat soos sekere gelowiges reken hulle het die monopolie op moraliteit, net so kan mens nooit aanneem dat alle kerkgangers dwepers is nie. Die oplossing vir die wrywing tussen die opponerende partye is eerstens respek, indien dan nie liefde nie, en om kommunikasielyne oop te hou. Nogal ’n bekvol. En ... haalbaar? Cilliers het verklaar dat sy nie verstaan hoekom ateïste (dalk nie noodwendig ateïste nie? Lees: oppas vir veralgemenings) haar altyd wil oorreed na hulle standpunt nie – en applous van haar ondersteunersgroep gekry. Weer haar strategie om die eerste hou in te kry, dink ek toe – en wat wil sy daarmee bewys? Was dit ateïste wat duisende sendelinge oor eeue heen as kanonvoer in oerwoude en woestyne ingestuur het?

Cilliers het ook gesê sy weet nie hoekom gelowiges alewig vir oorloë blameer word nie (applous; hoor, hoor) en geen antwoord gekry – of regtig gevra – nie: nog ’n speel-vir-die-skare-stelling. Wel, Liefie, miskien moet jy dan vra dat die benamings “Holy War”, “Kruistogte” en so meer deur ’n naamveranderinsgkomitee verander word. “Al” die oorloë is in elke geval nóg ’n veralgemening. En, soos altyd, berus veralgemenings op onkunde. Kennis is mag, Skattie, “the truth will set you free.” Wat dít ook al mag wees, maar probeer tog. Lees met jou kop, nie met jou hart nie, Hartjie.

Ligpunte uit hierdie gespek is dat toe Claassen noem dat niemand tog seker nog kan glo dat die aarde nog net 6 000 jaar oud is nie, daar geen reaksie uit die Gaums se geledere was nie. Sou dit twintig jaar gelede die geval wees? Onwaarskynlik, want Gaum is nogmaals reg wanneer hy sê ons kan nou met mekaar oor hierdie dinge praat, oor ons “gebroke werklikheid” – hoewel ek steeds nie weet wat dié welluidende frase werklik beteken nie. “Gebroke” soos geïsoleerde skerwe, of is dit die skisofreniese lewensbeskouings van só baie mense (wat rasionaliseer oor wie hulle medemens is en wat God éintlik bedoel oor dit of dat)?

Ek dink dat ons minstens nege Gebooie kan saamvat in een oortuiging: “Behandel ander soos jy self behandel wil wees.” Dan sal die kerke voller wees en die redes vir konflik wat in wêreldoorloë uitloop, aansienlik verminder. As die Kerk dit kan vermag, sal ateïste weer moet dink oor die gesegde dat geen mens ’n eiland is nie, en of daar ’n Groot Gedagte agter alles is. Intussen, helaas hou ek nie my asem op nie, want ons weet waartoe die mens in staat is, na albei kante toe, goed of sleg, opbouend of destruktief.

Denkers soos Hegel en Feuerbach het gesê die mens het God geskep, nie andersom nie. As hulle reg is, sou ek dink dis nogal arrogant van ons, veral aangesien ons onsself so ’n prominente tweede plek op hierdie kort pikorde toeken. Boonop aangestel as faktotums van die aarde, maar Pepler voel ons het ons planeet reeds onherstelbare skade aangedoen. Die bewyse is glo oral, sigbaar en meetbaar. Cilliers se verklaring dat sy haar deel sal doen om dié situasie te beredder, sonder ek uit as die grootste grap van die middag. Maar net ’n dwaas sal daarvoor lag: my probleem met naïwiteit is dat ander mense die prys vir die dwaas se onkunde betaal, terwyl die oorsprong daarvan salig voortploeter. Op ’n wolkie. Met of sonder ’n harp.

Wat die Claassen-Gaum boek betref: as dit mense laat dink, is al die insette en tyd wat daarin belê is, die moeite werd. Ek hoop mense lees dit, en maak hulle eie, selfstandige afleidings.

*

’n Paar idees van die filosoof Georg Wilhelm Friedrich Hegel (1770-1831):

Spiritual culture, the modern intellect, produces this opposition in man which makes him an amphibious animal, because he now has to live in two worlds which contradict one another. (1826)

A study of Logic is no more necessary to teach us how to draw correct conclusions, than a previous study of anatomy and physiology is required in order to digest. (1830)

The truth of necessity is, therefore, Freedom. (1830)

Religion and morals, however much they may be faith or immediate knowledge, are still on every side conditioned by the mediating process which is termed development, education, training. (1830)

*

 

Nota: Hierdie stuk is nie ’n resensie nie, maar my gewaarwordinge rondom die boek en die gespreksessie daaroor by die Woordfees. Ek het onderneem om ‘n resensie vir die gemeenskapskoerant Bolander te skryf.

  • 4

Kommentaar

  • Ek stem saam met Panda dat dit 'n goeie aanvulling tot Johannes Comestor se bespreking is. Dit voel amper of ek self by die bespreking was.

    Ek is natuurlik 'n groot aanhager van George Claassen se skrywes en het sommer terstond op die koop knoppie van kalahari gekliek.

    Thomas

  • Duitswester

    na ek Francois se brief gelees het klink dit vir my of die "Godboek" weereens glad nie oor G_d gaan nie, maar oor die mens. Die mens se lui, selfsugtige en self-belangrike karakter kom sterk na vore. Die selfde lui en selfsugtige karakter wat die wêreld verwring het na "instant gratification" "iets-vir niks"

    As dit nie onmiddellik is en gratis is en absoluut geen teenprestasie verg nie wil die mens niks daarvan weet nie.

    Dit is daardie karakter wat die vals apostel Shaul, die Turk van Tarsus se "cristelike" geloof so gewild maak. Die geloof wat vir die moderne mens sê hy kan maar homoseksueel wees, "Jesus" is orraait daarmee. Die geloof wat vir die moderne mens sê "never mind die Ou Testament se reëls, Jesus sal jou vergewe".

    Die selfde geloof wat "instant gratification" gee deur te sê ignoreer alles wat G_d in die Ou Testament gesê het, al wat jy hoef te doen is om in "Jesus" te glo. Absoluut geen gedrag word vereis nie, net 'n vinnige gebedjie "Jesus-ek-glo-in-jou-vat-my-hemel-toe".

    Omtrent soos 'n vinnige "text" op jou "moblie" op pad na 'n orgie toe.

    Ek dink dis daardie "gelowiges" wat gaan hoor "Ek ken jou nie".

     

    Maar laat elkeen vir homself besluit, elkeen gaan self en alleen voor die Regter staan.

     

    Duitswester

     

  • Avatar
    Theodorus Claassen

    Ek sien die bg. artikel verwys n paar keer na die "Claassens" wat sus of so voel. Ek is ook ’n Claassen en skynbaar ver langs familie van George, maar stem beslis nie saam met wat hy kwyt raak nie. Jesus Christus het my van my sonde gered, vergewe en vrygemaak toe ek 24 jaar oud was en deur Sy genade het ek ’n nuwe lewe gekry in Hom. Vervolglik kon ek ook vergifnis en rekonsiliasie soek mwt my mede mens na aanleiding van skade wat ek hulle aangedoen het. Veral ook my ouers. Ek het geloof in ’n onsienbare God wat Homself wegsteek, miskien veral van die wat Hom nie soek nie. Maar wie genade bewys tot in die 1000ste geslag vir die wat Hom lief het. Moet asb dus nie al ons Claassens as eens met George skepties en siniese uitkyk op die lewe plaas nie. Soos ek verstaan stem nie eens van sy eie direkte familie met hom saam nie. George klink maar redelik verward en nie konsekwent met sy eie filosofie nie. As ons net materie is, waarom is hy besorg dat die wêreld so wreed is? Wie het vir hom gesê dis wreed? Volgens hom is dit als net die produk van n groot ontploffing. Hy het duidelik geen lewende Hoop nie en ek bid George dit toe voor hy sterf.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top