Skoon wasgoed-rubriek: Die glibberige woord

  • 4
  • Frederik de Jager skryf tweeweekliks ’n boekerubriek vir LitNet.

’n Gedrukte boek is nooit presies dieselfde as die manuskrip wat by die uitgewer aangekom het nie. Nou praat ek van konvensionele kommersiële uitgewers. Plekke waarvan die druknaam waarmerk is van ’n sekere gehalte in sowel die keuse van publikasiemateriaal as die versorging daarvan.

Met versorging bedoel ek beide taal- en inhoudelike versorging: Is die innerlike landskap van die boek logies, oortuigend en effektief uitgelê? Is daar te veel of te min van iets? Hou die argumente steek? In fiksie beteken dit die artistieke argument wat die boek maak; in niefiksie die feitelike. En is die mees gepaste taal aangewend? Is dit oordeelkundig op die formeel-informeel-spektrum gekalibreer? Is woorde reg gespel, sinne helder gebou of onverstaanbaar verknot? Is die idioom eg, die frasering juis en elegant?

Ek eet my hoed op as enige boek deur die hele gebruiklike proses van uitgee gaan sonder dat daar een enkele regstelling was. Dit is byna onmoontlik dat ’n skrywer genoeg objektiwiteit oor het teen die tyd dat die manuskrip klaar is. Die mense wat hulle hiermee bystaan, is ’n ketting kundiges wat van binne die uitgewershuis na buite strek en weer binnetoe: buite- en binnekeurders, redakteurs, uitgewers en proeflesers.

In die legendariese Jürgen Fomm het Tafelberg-uitgewers selfs ’n produksiehoof gehad wat goeie raad met taal en inhoud kon gee na hy ’n manuskrip deurgelees het met die oog op die ontwerp van die boek. Herr Fomm, wat as rou Duitser daar begin werk het, was uitsonderlik, maar hy was ’n lewende demonstrasie van hoe ’n uitgewery wat die naam werd is, vanuit elke kantoor omgee vir elke boek wat daar uitgaan. Van die rekenmeester tot die bode.

Ek het hóéveel selfgepubliseerde boeke gesien waarvan die bindwerk by die geringste hantering uitrafel en die inhoud ook nie beter bestand is teen inspeksie nie. Dit omdat die kundige sorg van ’n goeie uitgewery gemakeer het. Maar dit wil nie sê dat elke boek by ’n uitgewery perfek van die drukkers kom nie. Die skrywer, wat deur finale proewe af te teken die laaste sê behoort te hê oor die inhoud, kan vasskop oor iets téén die raad van sy redakteur in. Of die redakteur is nie heeltemal opgewasse vir die taak nie. Die hemel weet, ek is aan diep kante van swembaddens ingegooi waar dit onaanskoulik was hoe ek spartel in stede van swem.

Die volmaakte boek bly ’n uitgestelde idee. Hiervan sou ek leer, en nooit ophou leer vandat ek my eerste pos as boekuitgewer gekry het nie.

As jy saam met my en ander dinosouriërs op skool was, is die kanse goed dat daar op die een of ander boek wat jy gebruik het, die naam JL van Schaik afgedruk gestaan het. ’n Woordeboek of ’n handboek of ’n voorgeskrewe boek, of die boekie met die geestige verhoogdramas van Gerhard J Beukes. In As die nefie kom kuier het ek die ondeunde knaap gespeel wat – onder ’n tafel, as ek reg onthou – ’n soen by ’n meisiekind steel. So leer mens jou maskers in die lewe aanpas.

Na ek afgestudeer het, is ek terug skool toe, hoewel dié keer as die teikenfiguur voor teen die swartbord. Van leerling na leerkrag. Sulke hiërargiese terme word nie meer vandag geduld nie. Ek het gou gesien ek is nie uitgeknip vir dié rol nie en het my pad gevind tot by JL van Schaik-uitgewers in Pretoria. Dit was die begin van ’n lewenslange betrokkenheid by boeke.

JL van Schaik was in uitgewersterme iets soos ’n terugreis na die Groot Knal, die beginpunt van wat ’n durende uitgewersbedryf sou word in diens van ’n snel ontwikkelende en uiteindelik ’n sterk en volwasse letterkunde in Afrikaans. As instansie van die groot diepgang van die Europese boekmaakwêreld het die Nederlander Johannes Lambertus van Schaik sy boekwinkel in 1914 in Pretoria oopgemaak. Hy het vroeg begin om talentvolle skrywers uit te gee, beginnende met Jochem van Bruggen in die jare twintig en gevolg deur skrywers soos CM van den Heever, AG Visser, Mikro en Uys Krige. Hy het die invloedryke jeugreekse van Stella Blakemore uitgegee: Maasdorp en, onder die skuilnaam Theunis Krogman, die ikoniese Keurboslaan-boeke.

Toe ek in die laat jare tagtig daar kom, het ons nuwe uitgawes uitgebring van ’n reeksie van hierdie titels, soos Van den Heever se Somer en Laat vrugte, Van Bruggen se Die sprinkaanbeampte van Sluis, en die vermaarde roman Bart Nel deur J van Melle. As jy my portuur is of ouer, maar ek vermoed ook van jonger, sou hierdie roman iewers in jou geestelike bloedstroom gekom het.

Jan van Melle was ’n Nederlander wat in Suid-Afrika kom skoolhou het in die eerste jare van die twintigste eeu. Bart Nel, de opstandeling het in 1936 in Nederlands verskyn, maar met Afrikaanse dialoog. Van Melle het sy boek self in Afrikaans verwerk in ’n uitgawe van 1942 onder die titel En ek is nog hy, maar met die herdruk daarvan in 1950 is die oorspronklike titel gedeeltelik herstel tot net Bart Nel. Ek sou raai dat die boek, en die hoofkarakter, toe reeds so ingeburger was dat die naamtitel voldoende was.

Die Afrikaanse uitgawe, terloops, het nie oorspronklik by Van Schaik verskyn nie, maar by Voortrekkerpers. Van Schaik se eerste uitgawe is van 1960. Die drukgeskiedenis vanaf 1960 vertel iets van die durende belang van die roman:

1960-uitgawe – 9 drukoplae tot 1969
Tweede uitgawe 1971 – 12 drukoplae tot 1981
Eerste uitgawe in sagteband 1984 – 2 drukoplae tot 1985
Tweede uitgawe in sagteband 1988.

Dit is van voorskrywing op skole en universiteite dat jy só ’n publikasiegeskiedenis kry.

Die 1988-uitgawe

Die 1988-uitgawe is die een waar ek by was. Ons het besluit om die 1942-uitgawe as bronteks te gebruik. Van Melle se eie teks, dus. Toe ons dit vergelyk met die jongste uitgawe, van 1984, was dit duidelik dat daar baie aan die teks verander is. Die opmerklikste hiervan was in woorde wat rasmerkers is, en uitsluitlik woorde vir swart mense.

Verbeel jou ’n boek wat in 1936 geskryf is en wat in 1914 tot 1918 afspeel. Verbeel jou daar staan: “Die werkers keer terug huis toe.” Ek versin dié reëltjie omdat ek nie ’n eksemplaar van die 1984-uitgawe byderhand het nie, maar dit is in dié trant dat daar na swart mense verwys is. Heeltemal ongeloofwaardig. By nadere inspeksie kon jy duidelik sien hoe die terme van tyd tot tyd versag is, van uitgawe na uitgawe. Van die oorspronklike, wat hard geland het op die sensitiewe oor van die tweede helfte van die eeu, is hulle telkens verander volgens wat in die tyd as sosiaal aanvaarbaar beskou is.

Die progressie was iets soos kaffernaturelbantoewerker. Wat gebeur het, is duidelik: Wat vandag as aanvaarbaar beskou word, word môre taboe, en wat môre aanvaarbaar is, is oormôre nie meer nie. ’n Oneindige verglyding, dus. ’n Soortgelyke proses het byvoorbeeld in die VSA voorgekom, waar Negro selfs ten tye van die Civil Rights Movement van die jare sestig nog aanvaarbaar was, tot waar die gebruiklike term vandag African American is. Dit sal ook weer verander.

Maar ’n belangriker verwysing vir ons was die MA-verhandeling van Etienne van Heerden by Wits net die vorige jaar: “’n Resepsiegeskiedenis van raspejoratiewe in geselekteerde Afrikaanse prosatekste”. In dié studie beskryf Van Heerden presies hierdie proses soos wat dit oor ’n aantal boeke heen manifesteer. In Bart Nel het ons ’n longitudinale voorbeeld daarvan in ’n enkele teks. Of hierdie veranderings die eensydige werk van die uitgewer is en of die skrywer daarin geken is en daarmee akkoord gegaan het, weet ek nie. Dit mag in korrespondensie staan. Die argief van JL van Schaik is by Unisa, en hierdie boek se redaksionele geskiedenis is potensieel boeiende magistermateriaal.

Dit was fassinerend, maar hoe gemaak? Ons instink was dat die oorspronklike herstel moet word. Ons het gekonsulteer. Onder meer Tony Links, destyds hoof van Afrikaans by die UWK, het dié gedagte ondubbelsinnig ondersteun, omdat die redigering ’n stel vervalsings was. Hoe kan ons uit die letterkunde leer presies hoe dinge was as ons die lens met Vaseline gaan smeer?

Wat ek my nie herinner destyds geopper is nie, is iets wat ons vandag alte goed besef: Hierdie redigerings gaan alles eintlik maar oor die gevoelighede van wit mense. Hoe pynlik sekere terme vir húlle raak; dit wil sê: hoe pynlik die verleentheid. Hoewel die benoemdes sekerlik ook nie met die rassetaal van enige bepaalde tyd akkoord gegaan het nie, vertel ’n edisiegeskiedenis soos hierdie ’n versteekte verhaal van immer meer gesofistikeerde vooroordeel by die noemers. In sosiopolitieke terme vertaal: Hulle, die wittes, behou die agentskap. Vir die benoemdes sou van hierdie, of al hierdie terme pejoratief gewees het, al was hulle in die wit gemeenskap nie taboe nie.

Die skooluitgawe

Maar goed, met die besluit eenmaal geneem om die Bart Nel-teks van suiwerings te suiwer, het ’n tweede probleem ’n lae hou na die rekenmeester gemik: Wat nou van skoolvoorskrywing? Ek wil nie somme rondstrooi nie, en ek het ook in die hoedanigheid waarin ek destyds by JL van Schaik was, nooit syfers gesien nie, maar die skoolmark moes die uitgewery oor die jare, soos ’n betroubare melkkoei, diep in die room gehou het. Dit was onvoorstelbaar dat die opvoeders ’n boek met k-woorde aan die bloedjies in hulle sorg sou voorskryf.

Juis in my eie onderwysjare moes ek ’n siniese definisie van skoolhou hoor: om vals pêrels voor ware swyne te werp. Die vals pêrels in Bart Nel moes dus vir die skoolmark in die boek bly, en daarvoor is ’n parallelle skooluitgawe gemaak. ’n Dapperder uitgewer sou dalk voet by stuk gehou het, maar Van Schaik was in daardie tyd reeds oorgekoop deur Nasionale Boekhandel, dit wil sê Naspers, en die base sou vir seker nie gedoog dat so ’n groot mark versmaai word nie. Geld troef ideologie – maar dan is geld self natuurlik die sterkste ideologie.

Ek dink darem ons het die pejoratiewe vir die skooluitgawe minder kru versag as in die voorafgaande. Die blote gebruik van ’n oksimoron soos “kru versag” wys jou in hoeke knope mens jou met hierdie soort oefening vaswikkel.

By dit alles moet gesê word dat hierdie pejoratiewe, pertinent soos hulle was, geheel en al nie is waaroor dit in die boek gaan nie. Dis nie ’n meesterteks vir Wit-Bo-ideologie nie, al reik sy romanwêreld ook nooit buite die kring wat deur dié ideologie, universeel indertyd, omskryf word nie. Maar wat die roman so durend maak, is sy moderniteit, die strak en juiste karakterisering, die afwesigheid van versiering, wat alles saam ’n sekere tydloosheid daaraan gee. Ek gebruik die woord “tydloosheid” egter katvoetig.

In later jare het Tafelberg dié titel saam met ander oorgeneem toe Van Schaik ’n suiwer opvoedkundige uitgewery geword het. Hulle het ’n mooi uitgawe daarvan gemaak vir hulle reeks klassieke Afrikaanse boeke. Ek het dit nie onder oë gehad nie, maar ek glo die teks is onaangetas. Ek dink egter nie die boek word meer so wyd voorgeskryf nie. Ons leef in ander tye. Ek het min twyfel dat van so ’n boek mense vandag ’n snellerwaarskuwing vooraf sou eis. Pasop as jy oopmaak, daar is oop drade binne wat jou mag skok. Skok, en die atmosferiese woede van ons tyd mag voed.

Wat jou net wys: dinge word nie makliker nie, net op nuwe maniere moeilik.

  • 4

Kommentaar

  • Avatar
    Chris Marnewick SC

    Ai, Frederik, ek onthou nou (nadat ek vir jare nie daaraan gedink het nie) dat ek en jy een k-woord in Shepherds & Butchers verander het waar dit herhaaldelik in die oorspronklike teks van 'n polisieverklaring voorgekom het. As ek reg onthou het ons darem die vervangende woord in hakies [*] gebruik om aan te dui ons het met die teks ingemeng.

    Ja, Bart Nel in sy skooluitgawe was my voorgeskrewe boek in Afrikaans in matriek. Dit was 'n sware boek om te lees, en nog swaarder om te waardeer. My matriekklas het baie lekkerder gelees aan Die Snydokter van Stalingrad van Heinz Konsalik, wat ons onder mekaar gedeel het.

  • Avatar
    Marko van der Colff

    Fredrik, dankie. Dit is 'n 'propperse', deurdagte stuk skryfwerk. Ek het dit terdeë geniet én waardeer. te min Afrikaanse lesers ken die veelbewoë geskiedenis(-sie) van ons uitgewersbedryf. Ek sien reikhalzend uit na jou volgende bydraes.

  • Avatar
    Zirk van den Berg

    From the sublime to the ridiculous: Ek was betrokke by vertalings van Wilbur Smith se werk. Dit was interessant dat die vertalings in die 1970s die seks versag het, terwyl ons probleem hedendaags veral die rasverwysings was. Wat in die 1960s vir 'n heel progressiewe Rooinek gaaf was, was in die 2010s vir Boere onaanvaarbaar. En dan was daar die seksisme, en die feit dat dit as 'n pluspunt aangebied word dat die held in die afgelope jare 500 olifante afgemaai het... Tydloosheid se voet.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top