Die geheim van finansiële sukses

  • 1

Die basiese resep vir finansiële sukses is bykans honderd jaar gelede vervat in ’n boek met die titel The Richest Man in Babylon, waarvan ’n groot deel reeds in die 1920’s geskryf is. Die bestanddele van daardie resep het tot ’n groot mate onveranderd gebly. Die wêreldbekende treffer dien vandag nog as handleiding en aansporing vir mense regoor die wêreld om ’n finansiële sukses van hulle lewe te maak.

Die eerste Afrikaanse uitgawe van die boek (vertaal onder die titel Die rykste man in Babilon) is in 2008 deur Naledi gepubliseer, met finansiële teksaantekeninge deur Hein Kruger, ’n onafhanklike ekonoom en besturende direkteur van die beleggingsfirma Kruger Internasionaal.

Tydens volgende maand se US Woordfees is Hein Kruger deel van ’n paneel wat teen die agtergrond van dié boek gaan gesels oor geldsake en die geheim van finansiële sukses. Jean Oosthuizen wou van hom weet waarom die boek so immergewild is en of die inhoud daarvan in die taai ekonomiese klimaat waarin ons vandag leef, steeds finansiële sukses waarborg.

Almal soek na die geheim vir finansiële sukses. The Richest Man in Babylon deur George S Clason is ’n wêreldwye topverkoper waarvan daar meer as twee miljoen eksemplare verkoop is. Waaraan is die sukses van die boek te danke?

Mense het ’n behoefte aan ’n “resep” om iets aan te pak wat vir hulle moeilik lyk. Om suksesvol te wees met geld is by uitstek so iets. Dit val omtrent in dieselfde kader as om gewig te verloor of om fiks te word. Hierdie boek het ’n resep wat werk, as jy dit natuurlik getrou met selfdissipline oor ’n lang tyd konsekwent volg, net soos wat die skrywer dit benadruk. Die boek skep ’n geloofwaardigheid deurdat dit setel in 2 000 jaar gelede se Babilon met ’n verhaalstyl wat die leser laat voel asof dit werklike geskiedenis is. So laat dit die leser intuïtief die persepsie vorm dat die boek ’n eeue oue suksesresep bekendmaak.

Hein Kruger

’n Groot deel daarvan is reeds in die 1920’s geskryf. Beteken dit geldbestuurbeginsels bly deur die eeue dieselfde, ongeag die ekonomiese klimaat van die dag, en tot watter mate is dit op Suid-Afrika van toepassing?

Die predepressiejare van die 1920’s en daarna herinner baie sterk aan die resessie sedert 2007 tans in die wêreld en ook Suid-Afrika. Dit was jare, soos nou, waarin die momentum van ekonomiese groei jan alleman so saamgesleep het dat hulle begin glo het dat die goeie jare nooit sal ophou nie. Dit het daartoe gelei dat mense die vleis gebraai het voor die bok geskiet is en gevolglik met geleende geld te lank te hoog bo hul vermoëns begin leef het. Dit is ’n sikliese tendens en herhaal hom deur die eeue. Die beginsels in Die rykste man in Babilon neem dit onder die loep. Die destydse Babilon was bekend as een van die mees welvarende stede in die wêreld, maar met ’n toenemende gaping tussen armer en ryker wordende mense. Dit was in die 1920’s so en dit is vandag so, veral in Suid-Afrika. Niks is nuut nie.

Jy verwys na die toenemende gaping tussen ryk en arm. Dit is wêreldwyd besig om groter te word. ’n Al hoe kleiner persentasie van die wêreld se bevolking besit ’n al groter deel van die ekonomiese koek. Is dit nie ’n resep wat op ’n ramp afstuur nie?

Dit kan gewis afstuur op ’n ramp en is gewoonlik deel van die siklus van sukses, gevolglike oordaad en dan ineenstorting wat soms gepaard gaan met geweld. Trouens Josef het die Farao in toentertydse Egipte gewaarsku dat ’n tydperk van welvaart gevolg word deur ’n tydperk van armoede omdat eersgenoemde tot oordaad lei.

Hoe keer ’n mens so ’n dreigende ramp?

Die resep wat Josef aan die hand gedoen het, was dat daar gedurende die welvarende tyd gespaar moet word om die droogte te oorbrug. Dit het daartoe gelei dat Egipte daarna ’n groot voorsprong behaal het bo die nasies wat dit nie gedoen het nie. Die siklus en die verhaal is eeue oud en nog leer mense nie.

Die ekonoom Dawie Roodt het in ’n onderhoud met LitNet gesê hy is nie bekommerd oor die groeiende gaping tussen ryk en arm nie, want die armes in ons land is beter af as in die verlede. Stem jy daarmee saam?

Dawie doen gewoonlik deeglike navorsing oor ’n onderwerp voordat hy hom daaroor uitlaat. In ’n mate is dit wat hy sê, dieselfde as wat ek sê, en dit is dat hoewel 54% van Suid-Afrikaners onder die armoededrempel leef, en die helfte van hulle selfs onder die broodlyn leef, sien ons nie hongersnood in die land nie. Dit beteken dat daar nie talle mense is wat daagliks van honger omkom nie. Met die kennis en vaardigheid uit opleiding en met werksetiek, deursettingsvermoë, selfdissipline en geduld is sulke mense meer gemotiveerd as middelklas mense om uit hul armoede te ontsnap.

Volgens die boek is die beginsels van rykdomskepping nie moeilik nie; dit hang net af of ons die beginsels wil toepas of nie. Wat is die hoofbeginsels van finansiële sukses?

Spandeer deurlopend minder as wat jy verdien en bêre die geld waar jou eiers in meer as een mandjie is, uitbroei en nog eiers lê. Wees geduldig; gebruik eers na ’n lang tyd net ’n gedeelte van die groei en ploeg die res terug. Mens koop jouself nie ryk nie, veral nie aan polisse nie.

Waarom sukkel ons dan so om armoede uit te wis as dit so eenvoudig is?

Die sleutelwoorde is selfdissipline, harde werk, deursettingsvermoë en geduld. Bitter min mense beskik oor al vier hierdie eienskappe. Maar aan die ander kant word mense nie hierdie beginsels geleer nie. Die verhaal in hierdie boek gaan juis daaroor dat ’n ryk man die beginsels van sy suksesresep aan ander mense geleer het. Hulle moes egter die vier genoemde eienskappe oor ’n lang tydperk toepas om suksesvol te kon wees. Tien jaar is die goue tydperk.

Die basiese beginsel van die boek wentel om die raad dat mens een tiende van alles wat jy verdien, moet spaar. Geld daardie beginsel vandag nog en kan finansiële sukses regtig op so eenvoudige beginsel berus?

Eintlik gaan dit daaroor dat jy minstens een tiende moet spaar. Maar ja, dit is so eenvoudig en enigiemand kan dit doen, maar dis nie maklik nie, anders het almal dit gedoen. As jy net ’n tiende, of anders gestel, tien persent, spaar, gaan dit langer neem as iemand wat vyftien persent spaar.

Maar wat van diegene wat so sukkel om kop bo water te hou dat hulle skaars kan uitkom met wat hulle het? Hoe kan daar van sulke mense verwag word om ’n tiende van hulle inkomste te spaar, en selfs al doen hulle dit, sal dit enige wesenlike verskil maak as hulle so min verdien?

Die resep gaan juis oor die armstes van die armes wat die resep toegepas het en sodoende aan hul armoede ontsnap het en dan weer die resep oorgedra het aan ander en dit nie vir hulself gehou het nie. Daar is eerlike mense in informele nedersettings wat leef op bedrae wat mense in hoër inkomstegroep as onmoontlik beskou. Of overgesetsynde, daar is iemand wat altyd finansieel slegter daaraan toe is as jy. Die sogenaamde tiende is gewoonlik maar ’n klein deeltjie van die verskil wat jy vir jouself moet spaar en dan belê sodat dit kan begin groei. Die boek behandel dit spesifiek dat mense altyd begeer om meer te verdien om uit hul “armoede” te ontsnap, en as hulle dan ’n verhoging kry, styg hul spandering minstens pro rata en is hulle pro rata dieper in die knyp as voor die verhoging. Dis dieselfde deur die eeue, want die mens is dieselfde.

Arkad, die rykste man in Babilon wat beweer die sleutel tot rykdom is om een tiende van alles wat jy verdien, te spaar moes eers sy gehoor oorreed om te spaar. Hoe oorreed mens jou gehoor om te spaar?

Dit help as die dosent, of eerder mentor, iemand is wat sukses met die resep behaal het en nie aan jou ’n skema probeer verkoop waaruit hy of sy ryk word nie. Sukses spoor mense aan om dieselfde resep te bly volg en dit lei tot meer sukses.

Jy is volgende maand deel van ’n paneel wat tydens die US Woordfees oor geldsake gaan gesels. Wat sal jou belangrikste boodskap aan die gehoor wees?

Die resep het vir my mentors deur die jare gewerk, dit het vir my kollegas op die paneel gewerk, en dit het vir my gewerk. Daar is vir ons geen voordeel in dat jy die resep moet volg nie en selfs my tantieme uit Die rykste man in Babilon is honderd persent aan liefdadigheid geskenk. Ek het sedert die publikasie van die boek in Afrikaans talle ongevraagde getuienisse gekry van mense wat sukses gesmaak het deur die boek te lees en die beginsels te volg.

In een van jou finansiële teksaantekeninge in Die rykste man in Babilon waarsku jy teen slenters waar goedgelowige mense hulle geld verloor. Hoe moet gewone beleggers sonder ’n sterk finansiële agtergrond weet waar hulle geld veilig is en waarvoor hulle op die uitkyk moet wees?

Bly binne die statutêr-gereguleerde finansiële omgewing, want dit is daargestel om jou te beskerm. Dis net so maklik om te kontroleer as om te weet wie ’n statutêr-geregistreerde medikus is. Die wêreldwye korrelasie tussen alle slenters is dat dit gou- rykword-skemas is wat hoër opbrengste beloof as wat die gereguleerde omgewing bied. Dit kom altyd tot ’n val.

Die finansiële beginsels wat jy hier bo skets, is goed en wel, maar wat help dit as die regering nie sy kant bring ten opsigte van werkskepping en gesonde finansiële bestuur nie? Wat is jou finansiële raad aan Suid-Afrikaners is wat op die oomblik noustrop trek?

Dit is nie regerings wat mense ryk maak nie. Dit is mense wat hulself ryk maak deur opofferend harde werk en dienste of produkte aan ander mense te bied. Suid-Afrika beskik oor ’n baie sterk informele sektor wat ontleders en ekonome in die formele sektor telkens op die neus laat kyk omdat hardwerkende entrepreneurs wat werk vir ander skep ’n onsigbare verbruiker die lig laat sien wat veroorsaak dat die formele ekonomiese data nie altyd wil klop met die werklikheid nie. Begin jou eie onderneming, hoe klein ook al aanvanklik. Dit lei tot ware welvaart vir jouself en andere.

Dit is nie net diegene wat werkloos is of noustrop trek wat bekommerd is nie. Baie mense wat finansieel welvarend is, oorweeg dit om die land te verlaat. Hoe optimisties is jy oor Suid-Afrika se ekonomiese toekoms as mens kyk na die huidige regering se oënskynlike ideologiese verwardheid?

Politieke, ekonomiese en ideologiese verwarring skep krisisse en krisisse skep geleenthede. Dit is wat tans in Suid-Afrika aan die gebeur is en uit die as sal ’n feniks verrys. Finansieel welvarendes vlug gewoonlik uit sulke omstandighede om hul welvaart te beskerm. Dit is deel van die siklus.

Jy het ’n interessante kronkelpaadjie na sukses as een van Suid-Afrika se geldkenners gestap en meer beroepe beklee as baie ander mense. Jy was onder meer soldaat, joernalis, eiendomsontwikkelaar, aandelehandelaar en stigter en besturende direkteur van jou eie onderneming, Kruger Internasionaal. Wat was die grootste finansiële les wat jy gedurende jou loopbane geleer het en waaraan skryf jy jou sukses toe?

Om uiteindelik die gratis kennis en beginsels wat mentors soos Anton Rupert, Albert Wessels, David Meades en talle andere aan my gegee het, in die praktyk te implementeer. Om te weet dat ek ’n Skepper het wat alles aan my voorsien wat ek het en om dit met ander te deel tot Sy eer.

Jy is ook die skrywer van die boek Leer meer oor geldsake. Waaroor gaan die boek?

Dieselfde storie, net op ’n ander manier vir ’n jonger gehoor vertel, met ’n meer praktiese, herkenbare hedendaagse aanslag. Dit sluit ook uittreksels uit my eerste boek, Begrotings, in om die belangrikheid van ’n begroting as fondament van jou finansiële sukses te beklemtoon.

Is daar enige nuwe finansiële raad wat ons dalk binnekort in boekvorm uit jou pen kan verwag?

Ja, vir seker; die uitgewer sal dit binnekort bekend maak en hoop om dit Augustus vanjaar op die rak te hê. Die konteks is verskillend van die bogenoemde boeke, maar uiteindelik dieselfde eeue oue resep.

  • Hein Kruger neem op 9 Maart tydens die US Woordfees deel aan RSG se gespreksreeks oor geldsake. Die tema van die gespek is “Wat is die geheim van finansiële sukses? En is daar ’n seker pad na geluk en rykdom?”. Jannie Mouton en George Claassen gesels saam met hom geldsake teen die agtergrond van die wêreldwye treffer The Richest Man in Babylon. Die gesprek vind op 9 Maart om 10:00 in die Boektent plaas en toegang is R50.
  • Klik hier vir die volledige US Woordfees-program.
  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top