Die gebruik van kinderprenteboeke as selfbeeldbouers in die onderrig van agtergeblewe kinders

  • 1

“When someone, when the gangster say, when the gangster say ... get the gun, you must say: ‘Ek is ’n Babalela, los my uit!’

Luister self hoe die graad 3-leerder van Athlone North Primary dit verwoord.
(Die video is 2 min 37 sekondes lank.)

1. Inleiding

Hierdie artikel het dit ten doel om te toon hoe die skenking van kinderleesboeke, nie opvoedkundige tekste nie, ’n verskil kan maak aan die leerders in ’n agtergeblewe gemeenskap en dat sodanige skenkings wel binne die departementele riglyne val.

1.1 Kewtown

Athlone North Primary is geleë in Kewtown, ’n bitter arm woonbuurt in Kaapstad, reg langs die rioolwerke. Bendegeweld is iets waarmee hierdie kinders daaglik te doene kry.

Op 5 Maart 2014 berig EyeWitness News:1

CAPE TOWN – Western Cape police are investigating a case of murder after a 16-year-old boy was killed in a suspected gang-related shooting in Athlone.

The police's Thembinkosi Kinana says the incident happened in Kewtown on Tuesday afternoon.

“According to the information, the teenager was coming from school when he was caught in the crossfire of people who were apparently fighting.”

A 31-year-old man was also wounded in the shooting and rushed to hospital.

No arrests have been made at this stage.

Op 15 Maart 2014 word nog twee mense doodgeskiet2 – ook in kruisvuur. Albei het ’n paar honderd meter van Athlone North Primary gesterf.

Hierdie mense was skynbaar net per ongeluk op die verkeerde plek – “collateral damage”, soos die Amerikaners so graag sê.

Dié gemeenskap weet egter ook dat jou uur soms bepaal is deur die geweer. Op 31 Julie 2012 berig Summer Jacobs in die People’s Post:3

THE Kewtown community is bracing itself for war after yet another life is claimed by the deadly grip of gangsterism.

Tension filled the streets as people went in their droves to the kifayat (Muslim funeral) of Munier Cox last Tuesday.

Cox (20), a member of the Americans, died after being shot in the back of the head last Monday.

He was playing soccer on a pitch between Block One and Block Two in Dr Abdurahman Avenue when he was gunned down by an unknown man.

Dié sokkerveld is minder as 500 m van Kewton North Primary. In hierdie geval was dit klaarblyklik nie ’n ongeluk nie.

Google gerus Kewtown. Bendegeweld en tik is groot probleme in hierdie omgewing.

Dit is hier, in dié arm buurt waar kinders honger skool toe kom (daar is ’n voedingskema gekoppel aan die skool) en waar verskeie leerders MIV-positief is, dat kinderboeke ’n groot verskil gemaak het in die jong leerders se selfbeeld.

1.2 Uiteensetting

Hierdie artikel val van hier in drie dele uiteen:

  • Die impak van geskenkboeke op die leerders van Kewtown
  • Die uitkomstes wat die leerders in leesboeke gesien het, gemeet aan die kurrikulum
  • Die dilemma of boeke lesse moet bevat of nie.

2. Die skenking

Vroeg in 2013 het ’n paar van ons kinderboeke aan Athlone North Primary geskenk. ’n Aantal maande later het Anna Tshivhase laat weet dat veral één boek die kinders se verbeelding aangegryp het en ’n baie groot verskil maak in die verstaan van hoe die kinders hulleself sien. Dié teks is Babalela4 van Martie Preller.

2.1 Babalela

Die Babalela is ’n klein, pers wesentjie wat kan vlieg. Behalwe ’n bulderende stem is daar nie veel aan hierdie gediertetjie nie. Dít is skynbaar waarmee talle kinders identifiseer: die Babalela is normaal en klein, dit het nie superkragte nie, het geen geslag nie en ook geen ras nie.

In Babalela, die eerste boek in die reeks, word die Babalela deur ’n groot man gevang en in ’n boks gedruk. Uiteindelik is die woede wat binne hierdie diertjie opbou so groot dat dit bulder: “Ek is ’n Babalela, los my uit!”

Hierdie kreet, teen ’n oormag, bewerk soveel konsternasie dat die diertjie kan uitglip en terugvlieg na “diep, diep in die donker bos” waar dit hoort. Dít het die graad 3-kinders van Kewtown só aangegryp dat die Babalela se kreet ’n mantra geword het. Weer en weer wou hulle die boek hoor, maar baie gou het hierdie mantra ook deel van hulle selfbeeldontwikkeling geword.

Die sosiale probleme waarmee hierdie kinders worstel, is vir hulle ’n ewe groot oormag as die enorme man wat die piepklein Babelela vang en in ’n boks stop. Hierdie kinders is ook nie fisies in staat om teen die euwels in hulle omgewing te baklei nie, maar as die Babalela kan sê “Ek is ’n Babalela, los my uit!”, dan kan hulle ook.

2.2 Verdere Babalela-ontwikkelinge

Om ’n Babalela te wees, het nou in Kewtown die betekenis van: “Ek is spesiaal.”

Die Babalela staan ook op teen onreg.

Die mantra word nou gebruik in die skool om die kinders te help om te verstaan dat hulle mag nee sê vir situasies wat nie goed is nie.

Iets soos: “As iemand met my wil lol, moet ek sê: Ek is ’n Babalela, los my uit!”

Tshivhase gebruik hierdie twee maatstawwe ook om die leerders teen boelies te help. ’n Babalela is spesiaal en mag vertel as daar geboelie word, maar ’n Babalela práát, ’n Babalela swaai nie vuis nie, en ’n Babalela mag ook nooit ander boelie nie.

Die leerders het egter self verdere gebruike van die mantra gevind: tydens ’n gesprek oor renosterstropery het een van die kinders opgemerk dat die renoster ook moet sê: “Ek is ’n Babalela, los my uit!”

Gou het die leerders in Kewtown die Babalela se kreet begin toepas op ander objekte, soos blomme, wat alte maklik kan seerkry. Die kinders sê: “As iemand ’n blom wil pluk, moet ek sê: Nee, dit is ’n Babalela, los dit uit!”

Die Babalela-boodskap is só suksesvol dat die skool tans gesels oor die moontlikheid om die Babalela op strategiese plekke in die skool te verf as ’n stille boodskap vir kinders om nooit die essensie van Babalela-wees te vergeet nie.

2.3 Babalela-hemde

As deel van ’n geïntegreerde kunsklas het die leerders toe vir hulleself “spesiale hemde” gemaak met “Los my uit!” wat daarop geverf is.

Dié hempies word deesdae met trots gedra en kinders wat nog nie Babalela-hemde gemaak het nie, kan nie wag tot hulle beurt kom nie.

2.4 Parmant

Vroeg in 2014 het ons nog boeke aan die skool geskenk, en ’n tweede boek het uitgestaan: Parmant5 van Leon de Villiers.

Parmant is ’n klein krokodilletjie wat vreeslik oulik is. So oulik is hy, almal wil aan hom vat. Hy weet egter dat hy mag “nee” sê en doen dit dan ook deeglik deur vir al die groter diere te sê: “Dit is mý lyfie, en ek sê: nee, nee, nee!”

Vir Tshivhase is hierdie storie, en die kinders se reaksie, verblydend – ook bevrydend. Vir té lank, sê Tshivhase, is onderwysers opgelei om aan die leerders te vertel dat “dit wat onder jou swembroek is” joune is, en dat mense nie daaraan moet vat nie. Die probleem is dat teistering begin lank voor die geslagsdele aangeraak sal word, en kinders is tot nou nie die reg gegun om daarteen te baklei nie.

Parmant het nie daardie probleem nie. Sy héle lyfie is syne, en hy sê nee as hy ongemaklik is.

2.5 Selfagting en die reg om nee te sê

Beide die Babalela en Parmant leer vir die kinders van Kewtown dat dit reg én goed is om “nee” te sê.

In ’n samelewing waar partriargale norme geld, en dikwels sonder die liefdevolle teenwoordigheid van ’n pa as speelmaat en beskermer, is hiérdie boodskap belangrik.

2.6 Boeke as aansporingsmiddel

Die genot van kinderboeke in hierdie arm gemeenskap is só waardevol dat die kinders (ons praat van graad 3-leerders) deesdae ekstra hard werk in die klas om ’n tydjie af te knyp om te mag lees. Tshivhase laat leerders toe om, as hulle klaar is met hulle werk, die kinderboeke in die klas te lees.

Die heel beste werkers (nie noodwendig die slimstes nie) mag selfs ’n kinderboek huis te neem vir die aand. Só word hulle ook verantwoordelik gehou vir die versorging en bewaring van tekste.

2.7 Hank Zipzer en die plaaslike biblioteek

Teen die einde van 2013 het my seun via ’n bibliotekaresse se aanbeveling die Hank Zipzer-boeke6 ontdek. Hank is ’n baie slim seun, maar hy het ’n aantal leerprobleme. My seun kon hom ontsettend goed hiermee vereenselwig en ons het ’n aantal van die tekste aangekoop. Hierdie tekste is toe aan Anna Tshivhase geleen. Die leerders was so mal daaroor dat hulle onmiddellik meer van die reeks wou hoor.

Tshivhase het die leerders toe vertel dat ons knaap dit via ’n biblioteek ontdek het. Sy moedig nou die leerders aan om ook die plaaslike biblioteek te gaan besoek – iets wat al hoe meer gebeur soos wat die leerders die vreugde van kinderboeke, nie net Hank Zipzer nie, ontdek.

2.8 Verdere leesprogramme by die skool

Athlone North Primary doen baie om leerders aan te moedig om te lees. Daar kom weekliks ongeveer dertig vrywilligers na die skool toe om kinders wat sukkel met lees, te help.

3. Die kurrikulum

Suid-Afrika se kurrikulum, bekend as die National Curriculum Statement (NCS), word deur voorskriftelike beleidsdokumente beheer. Die Afrikaanse vertaling is die Nasionale kurrikulumverklaring (NKV). Elke vak het ’n spesifieke dokument, bekend as ’n Curriculum and Assessment Policy Statement (CAPS), ’n term wat dikwels7 in Afrikaans as die Kurrikulum- en Assesseringsbeleidverklaring (KABV) vertaal word.

Die KABV is só voorskriftelik dat elke onderwyser veronderstel is om dieselfde werk in dieselfde week regoor die land te dek.

Om hierdie soort voorskriftelikheid prakties toe te pas, nooi die Departement van Basiese Onderwys op ongereelde tye uitgewers uit om voorleggings te maak van handboeke wat volgens hierdie beleid geskryf en gestruktureer is. Die boeke moet ook inpas by die tydindeling soos deur die KABV voorgeskryf. Skole moet dan handboeke aankoop vanaf ’n lys wat deur die departement goedgekeur is.

Hoe pas die boodskap wat die graad 3-leerders uit Preller en De Villiers se tekste gekry het, by die kurrikulum?

Vir diegene wat nie bekend is met die NKV nie, plaas ek hier die volledige kurrikulum vir die eerste kwartaal van Lewensoriëntering Graad 3, soos voorgeskryf in die toepaslike KABV. Die stuk verskyn op bladsy 54.8 Let daarop dat “Feelings” en “Keeping my body safe” die twee uitkomstes is wat hier van toepassing is:

Topic: About me – 6 hours
• What a timeline is
• Timeline of own life – include date of birth, starting school, at least one interesting fact
• An interesting object from my past

Topic: Feelings – 6 hours
• Things that make me happy and things that make me sad
• Recognising feelings – such as anger, fear, worry, loneliness
• Good ways to express what we feel
• Apologies – how to say sorry
Note: Use pictures, stories, rhymes, puppets and masks

Topic: Health protection – 3 hours
• Basic first aid practices in situations such as nose bleeds, animal bites, cuts and burns
• Basic health and hygiene – include not touching other people’s blood

Topic: Keeping my body safe – 6 hours
• We are not safe with everyone
• Rules to keep my body safe
• Trusting “Yes” and “No” feelings
• How to say “No” to any form of abuse
• How to report abuse
Note: This topic should focus on the prevention of physical and sexual abuse

Topic: Rights and responsibilities – 6 hours
• Learners’ rights and responsibilities
• Rights and responsibilities of others
- At home
- At school
- In our community
- In the environment

Religious days and other special days – 3 hours.

Lesers sal sien dat die boodskappe wat Tshivhase se klasse uit hierdie twee kinderboeke kry, goed inpas by die voorskrifte van die KABV.

3.1 Hulpbronne en die KABV

Die departement stel gereeld hulpbronne aan leerkragte beskikbaar. Ook verskeie nieregeringsorganisasies en privaat maatskappye stel geld en hulpbronne beskikbaar om die taak van leerkragte in die klaskamer makliker te maak.

Een voorbeeld hiervan is die HIV and Aids Lifeskills and Sexuality Education Primary School Programme9 wat deur die departement beskikbaar gestel is. Hier is bladsy ix uit hierdie geskrif.

Die vaardigheid om néé te sê word op bladsy 4 herhaal.

Verder is die subteks van hierdie dokument, soos geskets in ’n prentjie onder die opsomming van Lewensoriëntering se uitkomstes, duidelik: “I am special” (bladsy 16).

Dit pas perfek by die boodskap wat Tshivhase se klas uit Babalela en Parmant gekry het.

Daarteenoor is die fokus van ’n ongedateerde plakkaat, deur die SABC10 geborg en deur die departement geëndosseer, veel kleiner.

Die lesplan, wat die plakkaat vergesel, fokus net op privaatdele, nie die hele lyf nie. Hier is die eerste twee punte op die lys onder die hofie THIS IS MY BODY!

  • Using the poster, explain that everyone’s body belongs to themselves. Explain that everyone has private parts (the parts covered by a costume). Discuss why they are private.
  • Before the lesson make some small stickers (or pieces of paper with some Prestik) which the learners can stick on the poster, to show which parts are private. Explain that no one is allowed to touch our private parts. No one is allowed to touch or do things to our bodies that make us feel uncomfortable or scared. Discuss the “no entry” sign and ask them how this relates to our bodies.

Die volgende twee punte op die lesplan, gekoppel aan die SABC se plakkaat, is meer holisties – let veral op na die suggestie van ’n liedjie wat kinders leer om “nee” te sê (en die afwesigheid van ’n goeie voorbeeld).

  • Role-play different actions young children can take to avoid potentially abusive situations. For example:
  • o Run away
    o Scream very loudly
    o Tell an adult that you trust, like your mother, teacher or Gogo

  • As a class, make up a song that starts with “This is MY body, it belongs to me” or something similar. Sing this song often with your learners.

Dié plakkaat en meegaande lesplan is deur die departement geëndosseer. Hulle vervul beslis ’n funksie, maar die fokus is kleiner en die trefkrag minder as die twee kinderboeke wat Tshivhase gebruik – en wat nie ’n endossering dra nie.

3.2 Die problematiek van “voorgeskrewe boeke”

Indien boeke soos Babalela en Parmant so goed werk, sou dit sinvol wees om die tekste voor te lê aan die departement as voorgeskrewe werke?

Die antwoord hierop is tweeledig, maar eintlik “nee”.

Ek was 2002 tot 2008 betrokke by Bateleur Books, ’n uitgewer van skoolhandboeke (wat later deur Nasou Via Afrika gekoop is). Bateleur Books het op daardie stadium ’n ooreenkoms met LAPA Uitgewers aangegaan om handleidings by die bestaande kinderboeke te skryf, en Parmant en Babalela was deel van daardie aksie.

Dit het gefaal, hoewel sommige provinsiale departemente wel van die tekste as hulpbronne goedgekeur het. Die grootste rede waarom dit nie gewerk het nie, was dat ’n hele aantal amptenare aangedring het op veranderinge aan die stories – en dit in boeke wat lankal uitgegee en deur die mark getoets is.

Verder is die KABV vir tale baie rigied en die dokument skryf voor wat leerders moet lees – en wanneer. Daar word dus deesdae van uitgewers verwag om leestekste (“readers”) saam te stel wat by die kurrikulum pas.

3.3 Die kinderboek as hulpbron in die klaskamer

Tog belet die departement nié onderwysers om kinderboeke in die klaskamer te benut nie. Inteendeel. Die departement sien storieboeke as ’n noodsaaklike hulpbron in die lewensoriënteringklas. Op bladsy 13 van die KABV vir Lewensoriëntering11 word dit baie duidelik vermeld. Onder die hofie “2.5 Resources for Life Skills” staan daar dat “information and story books (library)” in die klaskamer gebruik behoort te word. Op bladsy 54, waar kwartaal 1 se kurrikulum uitgespel word, staan: “In addition to the standard resources for Life Skills you will need: pictures, stories, rhymes about feelings, puppets and masks.”

Onderwysers moet dus nie huiwer om, soos Tshivhase, kinderboeke in die klaskamer te gebruik nie.

4. Móét daar 'n “les” wees?

Een van die grootste probleme van leestekste in die klaskamer is die verwagting dat alle boeke ’n duidelike les moet bevat, terwyl kinderboeke eintlik vir die genot daarvan gebruik en gelees moet word – soos Tshivhase dit so goed doen.

Hierdie kwessie – of boeke lesse moet bevat of nie – is ook onlangs in die media deur twee Afrikaanse kinderboekskrywers aangespreek.

 

Keina Swart, wat reeds ’n ATKV-Veertjie12 vir een van haar kinderboeke verower het, skryf op Sondag 2 Maart 2014 die volgende in Rapport:13

Kinders wil nie boeke lees met “lewenslesse” in nie. Hulle wil nie “preke toegedraai in papier” hê nie, dankie. Hulle wil lees vir die lekker daarvan; sonder dat die een of ander slinkse grootmens besig is om hulle subtiel te breinspoel om beter mense te word.

Dít, kortliks, is wat al hoe meer “kenners” van kinder- en jeugboeke ons wil laat verstaan. 

Ek sukkel met dié ene, want van die lekkerste boeke wat ek as kind gelees het, het my die een of ander “lewensles” (jip, die gewraakte woord) geleer.

Vir my is die kruks van haar argument in dié paragraaf:

Of die skrywer met opset ’n lewensles in ’n storie inskryf of per ongeluk of glad nie, as dit ’n goeie boek is, maak dit hoegenaamd geen verskil nie. En as daar iets te lere is, sal kinderlesers, nes volwassenes, aan die einde van ’n goeie boek teruglê en vir ’n wyle dink: Wat maak ek met dié nuwe inligting? Wat sou ék gedoen het as dit ék in hierdie storie was?

Swart se teks het ’n ander kinderboekskrywer laat reageer. Op Maandag 3 Maart 2014 skryf Jaco Jacobs,14 iemand met tientalle toekennings en 86 kinder- en jeugboeke agter sy naam, op sy blog:15

Nou, laat ek uit die staanspoor sê dat ek baie respek vir Keina as skrywer, rubriekskrywer en resensent het. Maar ek kan in hierdie geval nie heeltemal met haar saamstem nie, miskien omdat ons die probleem verskillend verstaan.

Die voorbeelde van boeke met “lesse” wat by die artikel genoem word (Droomoog Diepgrawer, How to train your dragon, ens), is tog almal vermaaklike stories sonder ’n lewensles wat voor jou neus rondgeswaai word, nie waar nie? En hier is my teorie daaroor: ’n Goeie storie, het ek nog altyd geglo en as evangelie verkondig, doen sy werk haas ongesiens, sonder dat ’n skrywer doelbewus daarmee hoef in te meng en ’n “boodskap” daarop probeer afdwing. ’n Goeie storie, glo ek, kán jou nie onaangeraak laat nie – as dit oortuigend vertel word, met oortuigende karakters wat oortuigende emosies en relevante probleme teen ’n oortuigende agtergrond beleef, dan verander ’n storie (selfs die eenvoudigste kleuterverhaal) jou met die lees daarvan. Dan verskaf dit inderdaad soms “tips” of “lesse” oor hoe om die wêreld te oorleef.

’n Aantal paragrawe verder skryf Jacobs:

Nie dat ek myself nou as kenner gaan probeer uitgee nie. Maar waaraan ek wel ’n broertjie dood het, is stories waarin volwasse skrywers eintlik maar so ’n bietjie neersien op kinders; waarin hulle met ’n agenda skryf. En glo my, ek kry byna daagliks met voorbeelde hiervan te doen. Skrywers en aspirantskrywers wat met die houtlepel in die hand skryf om kinders te leer van dissipline en goeie maniere en “asseblief” en “dankie” en moenie in jou neus krap nie.

Dit is, vermoed ek, ’n oorblyfsel uit ’n tydperk toe geglo is kinders moet gesien en nie gehoor word nie. Dit is ’n houding wat sê dat kinders nie die reg het om ’n boek te lees bloot omdat dit lekker is nie – nee, boeke móét léérsaam en ópvoedkúndig en stígtelik en góéd vir jou wees. Dis ’n houding wat kan deursuur deur ’n hele literêre sisteem, van skrywers en uitgewers en die onderwysdepartement en resensente (en ander “kenners”) tot ouers en onderwysers ... en die arme kind. Dis ’n houding wat ons in ’n land met ’n leeskrisis nie kan bekostig nie.

Nou, ek weet voor my siel dié houding is hoegenaamd nie die uitgangspunt wat Keina huldig of in haar artikel bepleit nie. Maar jare lank was dit juis die houding wat die Afrikaanse kinderboekwêreld gerig het. Trompie en Saartjie en Asterix is as ongewenste snert afgemaak, juis omdat dit nie “goeie literatuur”, deurdrenk van lewenslesse was nie.

Ek kan nie anders as om met Jacobs saam te stem nie. My pa het vas geglo dat strokiesprente boos was, en daarom was Asterix en Obelix, Kuifie, en talle sulke ander tekste my nie beskore nie. Gelukkig het ek baie gou ontdek dat woorde ook prente in my kop losmaak, en van daardie dag af was ek ’n kranige leser.

Hoewel ek dus hier skynbaar kant kies téén Swart, wil ek dit duidelik stel dat haar artikel eintlik baie dieselfde sê as myne.

Swart maak die punt dat ’n goeie boek wel die leser kan laat dink. Daarmee stem ek volmondig saam. Die probleem is dat ek, as uitgewer, weekliks swak tekste sien wat “lesse” teen kinders se koppe wil gooi. Sulkes hoort in die snippermandjie.

Die verdere probleem is ook dat ons onderwysdepartement nog nie gewillig is om die publikasie van leestekste in die klaskamer aan uitgewers oor te laat nie – hulle dink hulle weet beter. Nou moet ek tog ’n lansie breek vir die talle skrywers wat wel uitstekende leestekste onder moeilike departementele voorskrifte produseer. Ek het dit ook al gedoen en was al as uitgewer betrokke by ’n hele aantal meer. Daar wórd goeie tekste vir die klaskamer gelewer. Tog kan min van hulle die suiwer genot van ’n heerlike storie klop.

Daar is ’n volgende probleem met Keina Swart se argument – en een wat haar eie (uitstekende) boeke te kort doen. Talle klein uitgewerye wêreldwyd, ook in Suid-Afrika, weet dat daar mammas en oumas is wat graag “opvoedkundige” boekies vir hulle kinders koop. Hierdie uitgewerye oorrompel dan die mark met swak produkte, dikwels vol foute en gruwelike tekeninge, want hulle weet Mamma koop liewer ’n “opvoedkundige” boekie as ’n pryswenner van Keina Swart. Dan sit Mamma daar en kan nie verstaan dat haar telg nie van lees hou nie.

Martie Preller se Babalela gryp kinders aan. Hulle geniet dit. Sy het dit nie vir klaskamergebruik geskryf nie. Preller beskou haar jong lesers as ontdekkersreisigers:16 “Hulle bevind hulle skielik in ’n wêreld wat hulle moet verken. Hulle voel verward en oorweldig deur soveel vreemde dinge en dan moet hulle, nes elkeen van ons, hul eie lewens­paadjies vind,” sê sy.

Lesers kan gerus hierdie onderhoud tussen Martie Preller en Amanda Botha17 luister: http://iono.fm/e/77026.

Leon de Villiers se Parmant is iets wat klein kindertjies oor en oor wil hoor. Ek weet, want ek het dit al baie vir my eie seun gelees, en telkemale vir ander kinders.

Albei tekste was egter al op die rak lank voor die KABV vir Lewensoriëntering geskryf is. Tog kon ek toon dat die leerders se genotvolle reaksie op hierdie twee boeke strook met van die uitkomstes van die KABV.

Dit is ook belangrik om Tshivhase se gebruik van hierdie tekste in die klaskamer te verstaan. Sy gebruik hulle nié in die eerste plek as lewensoriënteringwerkboeke nie. Sy gebruik hulle as storieboeke. Tshivhase beloon die leerders met heerlike stories. Die res volg.

Om na Jacobs se blog terug te keer:

Kinders en tieners is nié net wandelende issues en probleme nie – hulle is volwaardige mense, en as lesers verdien hulle meer respek as om bloot die teiken vir preke en lewenslessies te wees. Kinders kan, glo ek, ’n grootmenspreek ’n myl ver raaksien en hulle hou selde daarvan, veral as hulle dit tot vervelens moet hoor.

Die kinders van Kewtown hét probleme. Die lesse wat hulle leer uit Bababela en Parmant is duidelik. Die genot wat hulle put uit Hank Zipzer is onverbloem. Die krag van hierdie boeke lê in die eerste plek in die genot wat hulle vir die jong lesers verskaf.

4.1 Die les vir volwassenes

Hierdie teks is helaas geskryf om inligting oor te dra en daar lê twee belangrike lesse opgesluit in Anna Tshivhase se ervarings in die klaskamer.

Een van die beste goed wat mense vir sukkelende skole kan doen, is om uitstekende storieboeke, nie opvoedkundige tekste nie, aan daardie skole te skenk.

Onderwysers moet nie huiwer om uitstekende storieboeke in die klaskamer te lees nie – die KABV beveel dit aan. Daar is ook niks mee verkeerd om stories te gebruik wat pas by die temas wat in die KABV aangespreek word nie, maar maak seker dat die storieboeke wat gebruik word, in die eerste plek bewese suksesse buite die klaskamer is.

4.2 Hoe weet ma’s en oumas wat is goeie boeke?

Hierdie pa vra. Gaan na ’n goeie boekwinkel en vra die personeel. Verushka Louw van The Book Lounge in Kaapstad is ’n kenner. Sy het gesê ek moet Diary of a Wimpy Kid18 vir my seun koop. Sy was reg. My knaap het reeds al die Wimpy Kid-boeke en hy kan nie wag vir die volgende een om te verskyn nie.

Vra die kinders. My einste knaap se bibliotekaresse het vir hom gesê Hank Zipzer is lekker om te lees, want sy maats hou daarvan. Sy was reg. Die graad 3-leerders in Athlone North Primary was mal hieroor. Hank Zipzer, meer as enige ander leesboek, word nou deur die einste kinders in die Athlone-biblioteek gesoek.

Vra die syfers. Daar is reeds meer as 75 000 kopieë van die Babalela-reeks verkoop.

Vra diegene wat pryse toeken. Pryse is omstrede, maar hulle gee darem tog ’n aanduiding van wat ander van ’n skrywer dink. Leon de Villiers het reeds verskeie toekennings vir sy werk verower, waaronder die Alba Bouwer-prys vir kinderliteratuur, die CP Hoogenhout-medalje en die Scheepers-prys.

4.3 Opsomming

Dié artikel het dit ten doel gehad om twee kinderboeke wat geliefd geraak het in Athlone North Primary te meet aan die hand van departementele voorskrifte.

Dit bepleit nie dat hierdie twee tekste deel moet word van ’n kurrikulum nie, maar dit toon hoe uitstekende kinderboeke, wat ten eerste geskryf is om jong lesers te vermaak, die vermoë het om vir die leerder heelwat lewensvaardighede te leer.

Die artikel toon ook hoe die skenk van goeie leestekste aan agtergeblewe skole, en juis nié noodwendig “opvoedkundige” tekste nie, ’n enorme impak op ’n gemeenskap kan hê.

Dit maak sin om af te sluit met ’n laaste aanhaling uit Jaco Jacobs se blog, waar hy en Keina Swart mekaar vind:

So, met die slotsom van Keina se artikel stem ek min of meer saam: ’n Goeie boek is ’n goeie boek, punt. Of nog beter, kom ons noem dit sommer ’n lekker boek, want dis immers wat dit is – daai soort boek wat voel of dit net vir jou geskryf is of wat jou tone kleintyd laat omkrul het van lekkerkry. En stories is fantastiese, kragtige goed waarsonder die wêreld minder sin sou maak.

 

Eindnotas

1 Isaacs, Lauren. 2014. Kewtown teen killed in gang crossfire. Eyewitness News, 5 Maart 2014. http://ewn.co.za/2014/03/05/Boy-16-killed-in-suspected-gang-shooting.

2 Vergelyk hierdie nuusberig op E-nuus: https://www.youtube.com/watch?v=xScGtENnTWo.

3 Jacobs, Summer. 2012. Kewtown fears gang payback. People’s Post, 31 Julie 2012. http://www.peoplespost.co.za/articledetails.aspx?id=29560.

4 Preller, Martie. 2013. Babalela. Pretoria: LAPA. (Dit is die eerste van vier boeke in die reeks. Die ander se titels is Diep diep in 'n donker, Los ons uit! en Ons kan!.)

5 De Villiers, Leon. 2011. Parmant. Pretoria: LAPA.

6 Winkler, Henry en Lin Oliver. 2003. Niagara Falls, Or Does It? New York: Penguin. (Dit is die eerste van ’n reeks van sewentien boeke. Klik hier vir meer inligting: http://www.penguin.com/static/pages/youngreaders/children/features/hank_zipzer.)

7 Daar is steeds verwarring oor die amptelike vertaling, want die meeste riglyne en skrywes van die departement is in Engels.

8 Department of Basic Education. 2011. Curriculum and Assessment Policy Statement Grades R-3 LIFE SKILLS. Pretoria: Department of Basic Education.

9 2006. HIV and Aids Lifeskills and Sexuality Education Primary School Programme. Pretoria: Department of Education.

11 Department of Basic Education. 2011. Curriculum and Assessment Policy Statement Grades R-3 LIFE SKILLS. Pretoria: Department of Basic Education.

12 Swart, Keina. 2011. Hoekom praat grootmense so snaaks? Pretoria: Protea. (Dié boek wen die 2011 ATKV-Kinderboektoekenning Selfleeskategorie: Graad 1–3.)

13 Swart, Keina. 2014. Móét daar 'n les wees? Rapport, 1 Maart 2014. http://www.rapport.co.za/Weekliks/Nuus/Moet-daar-n-les-wees-20140228.

14 Jaco Jacobs het al verskeie ATKV-toekennings ontvang. Hy is ook al bekroon met die Alba Bouwer-prys en die CP Hoogenhout-medalje. Sy boek Suurlemoen is deur die Suid-Afrikaanse been van IBBY aangewys as ereboek in die kategorie Afrikaans.

16 Botha, Amanda. 2014. Diep insig lei tot stories wat betower. Die Burger, 21 Februarie 2014. http://www.dieburger.com/vermaak/2014-02-21-diep-insig-lei-tot-stories-wat-betower.

17 Op Maandag 10 Maart 2014 het Amanda Botha op die US Woordfees met Martie Preller gesels. Die gesprek is opgeneem en beskikbaar gestel deur iono.fm: http://iono.fm/e/77026.

18 Kinney, Jeff. 2007. Diary of a Wimpy Kid. Puffin: New York. (Dit is die eerste boek in die reeks; lees gerus meer hier: http://www.wimpykid.com.)

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 1

Kommentaar

  • Die essay van Izak de Vries oor die betekenis en waarde van kinderboeke en die tuis bring daarvan by jong lesers is opnuut 'n bewys van hoe noodsaaklik dit is dat volwassenes die voortou sal neem om die kind so jonk as moontlik aan die avontuur van lees voor te stel. Die boek bied aan die jong leser nie net vermaak nie, maar is 'n belangrike instrument om die kind te bemagtig met taalgebruik, selfvertroue om jou gedagtes in woorde uit te druk en met die boek as bondgenoot nooit eensaam hoef te voel nie. Baie dankie vir hierdie waardevolle en insiggewende bydrae.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top