Die gaping tussen ryk en arm word word vergroot deur ’n eentalige bestel op alle landsburgers af te dwing

  • 1

Die een oomblik word Nomantu Nkomo-Ralehoko as die nuwe LUR vir onderwys in Gauteng aangewys, en almal is opgewonde en het verwagtinge dat sy alle tale goedgesind gaan wees. Ek het Woensdag, met die aankondiging van Nkomo-Ralehoko se aanstelling in die onderwysportefeulje ’n vlaag van opgewondenheid beleef en gehoop dat dit ’n stap in die regte rigting sou wees – dat sy die waarde van moedertaalonderrig sal besef en dit sal predik. Die euforie was egter van korte duur, want net die volgende dag is Panyaza Lesufi terug in sy pos.

Volgens die Gautengse premier David Makhura en die minister van basiese onderwys Angie Motshekga het Lesufi baie goeie werk gedoen en daarom is hy terug in sy pos as Gautengse LUR vir onderwys, ondanks sy omstrede uitlating van twee weke gelede: “Waarom nog veg vir Afrikaans?”. Soos ek al talle male genoem het, moet die veralgemening dat Afrikaans aan ’n sekere “ras” behoort, asook die voortgesette etikettering van Afrikaans as die “taal van apartheid” – vandaar die aanvalle teen Afrikaans – stopgesit word. Volgens Statistieke SA se Algemene Huishoudelike Opname- (GHS-) verslag 2018 is meer as driekwart (77,4%) van bruin individue se huistaal Afrikaans, terwyl 20,1% Engels as huistaal het. Meer as drie vyfdes (61,2%) van wit Suid-Afrikaners praat Afrikaans tuis en 36,3% het Engels as huistaal. Hierdie individue kan nie die reg ontsê word om moedertaalonderrig te ontvang nie, daarom sal ons vir Afrikaans en al die ander inheemse tale veg.

Dit is wêreldwyd bewys dat mense se optimale potensiaal deur moedertaalonderrig ontsluit word. Die ANC roem daarop dat Suid-Afrika 'n ontwikkelende land is en tog word duisende landsburgers hul moedertaal, hul sleutel tot ontwikkeling, ontsê. Hierdie teenstrydighede gaan die regering nog duur te staan kom, want die gaping tussen die elite wat Engels verkies en die massas wat in hul moedertaal ’n bestaan voer, word deur hierdie kortsigtigheid net nog verder vergroot. Die voorheen benadeeldes word nou die teenswoordig benadeeldes! Diegene vir wie die toekoms maar somber lyk, moet bewus gemaak word van die ontsluiting van die mensepotensiaal deur Afrikaans en die ander inheemse tale. ’n Groot ophef word gemaak van dekolonisering, maar alles word voor die voet verengels, asof Engels nie ’n koloniale taal is nie. Dit help beslis nie die massas wat in haglike omstandighede leef nie; inteendeel, hulle word verder benadeel.

Ek doen daarom ’n beroep op Panyaza Lesufi dat hy sy siening oor Afrikaans sal verander en eerder sal fokus op die mensepotensiaal wat Afrikaans en die ander gemarginaliseerde inheemse tale kan ontsluit – in belang van die opvoedkundige en ekonomiese voordele vir ons land. Die Afrikaanse taalgemeenskap en die ander taalgemeenskappe móét met Lesufi in gesprek tree. Ons kan nie langer toelaat dat die opvoedkundige, ekonomiese, sosiale, kulturele en geestelike waarde wat in die inheemse tale opgesluit lê, deur persoonlike politieke agendas ondermyn word nie.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top