Angus,
Jy het nie gedeel met die kwessie van darwinistiese evolusioniste wat mekaar beskerm, nie. Dokters, advokate, regters, prokureurs, sorteer mekaar uit, ja, maar evolusioniste? Jou meerderes weerspreek jou – die feite ook. Die evolusionistiese leuens is steeds in handboeke (jy onthou mos die Ernst Haeckel geval en ook die storie van die gespikkelde motte se geen frekwensies wat bloot heen en weer geskuiwe het maar as kamstige darwinistiese evolusie voorgehou word en dit steeds elders die rondte doen as evolusionistiese waarheid, terwyl daar beweer word dat hulle motte in die lab geteel het en dooie motte aan die boom gegom het om voor te gee daar is baie sulke motte vir ’n NOVA dokumentêr).
Jy erken teorieë wat julle saamflans kan nie die toets van die tyd deurstaan nie? Nou ja, waarom stry ons dan? Dan erken jy mos ook darem dat die goed nie as waarheid en feit verkwansel kan word nie – jy wil weet wie noem dit onbetwisbaar en onomstootlike ‘bewyse’ vir die mees kontroversiële aansprake van die darwinistiese evolusioniste? Kyk gerus na sommige van die korrespondensie van Jurie van den Heever en George Claassen, om maar twee plaaslike voorbeelde te noem.
Uit jou reaksie oor ek jou by hulle ingesluit het, is dit dus redelik om die afleiding te maak dat jy nie met hulle saamstem, nie? In hierdie verband maak jy ’n interessante aanmerking, naamlik dat die wetenskap sonder die evolusieteorie ‘ondenkbaar’ sou gewees het, want dit ‘verklaar’ kwansuis as model en help kwansuis met die oplos van probleme wat andersins ondenkbaar sou gewees het. Hierdie argument kan beide kante toe sny. Eerstens kan dit beteken dat evolusioniste die spul aan die gang hou of sonder werk sit. Maar dit kan ook beteken dat jy, wat jy so pas gesê het, weerspreek, want as jy die vae, wye stelling maak dat dit dinge ‘verklaar’, dan beteken dit dat dit as onbetwisbare feite daaromtrent aanvaar word – en dit is bepaald nie die geval, nie. Daar is sekere enkele aspekte van die praktiese evolusieleer wat sekere dinge verduidelik, maar baie beslis nie in die darwinistiese lukraak-ewekansige ongerigte seleksie/mutasie verband, nie.
Die evolusieleer verklaar, byvoorbeeld, nie soogdiere nie – soogdiere verklaar hul eie soort. So ook met alle ander soorte. Biologie kon beter doen sonder die flambojante, filosofiese maar onbewysbare darwinistiese evolusie teorieë wat daaraan gekoppel, word. Die Woord se skeppingsgebeure in nie ’n ‘model’ nie, maar feite (hoewel kripties) en nie ’n biologie handboek nie en gee ook nie voor so te wees, nie. Ek het dit mos reeds so verduidelik. Maar wat baie duidelik vasstaan, is dat die biologiese wetenskap se bevindinge, gestroop van die evolusionistiese hipotese en teorieë, juis die kriptiese gegewens in die Woord oor die skepping, onderskraag.
Dit verbaas my dat jy nie kan begryp dat God uit ’n ribbebeen van ’n mens, ’n ander mens kon skape, nie. Maar jy is bereid om te glo dat ’n mens en alles anders, uit ’n eenvoudige selletjie iewers in die verskiet ontwikkel het en dit nogal toevallig, so! Nee, wat, Angus, iemand het eenkeer gesê dat dit baie makliker is om die Woord se skeppingsgebeure te glo, al word nie alles daaromtrent op hierdie stadium verstaan nie, as om die verregaande fabelagtige aansprake van die darwinistiese evolusieleer te moet probeer glo.
Jy verdraai natuurlik ook my verduideliking oor die Bybel – is jy dan so moedswillig? Ek het nié gesê dat, soos jy dit stel, dat die Bybel nie letterlik nie, maar metafories gelees moet word, nie, maar ek het gesê dat sommige feite en ware gebeure in die Woord by wyse van metafoor, beeldspraak, simboliek, ens., verduidelik word volgens die idioom van die tyd. Die beeldspraak, metafore en dies meer verwys elkeen na werklikhede, nie fabels, nie.
Jy sukkel blykbaar steeds om te begryp dat ek sê die Woord se gegewens oor die Goddelike skepping is ooggetuie materiaal. Lees weer wat ek presies daaroor skrywe, dan hoef ek dit nie weer hier te herhaal, nie. Dit is en sou, sinneloos wees om dit te wil bewys wat deur eerstehandse Ooggetuie verklaring reeds verklaar, is. Glo dit. Maar as jy dan nie wil nie, is die onus op jou om te bewys dat dit nie so is, nie. Hoe gaan jy daardie bewyslas, kwyt? Jy wil die vaste feite van die Woord vergelyk en dieselfde behandel as wat jy teorieë wat nog bewys staan te word? Ag nee, wat. Dit is jou verlies as jy nie die Woord kan aanneem, nie. Jy sal nooit ooit slaag om die Woord verkeerd te bewys, nie.
Weereens, jou hantering van die fossiele is maar soos die N P van Wyl Louw se Raka deur onderwysers en dosente – daar word allerlei uitgedinkte, maar onoorspronklike betekenisse aangeheg. Die beenfragmente wat gevind word, met gebit soos dit is, het geen etiket of geskrif wat sê ‘ek was ook ’n mens’ nie. Die Fabelagtige afleidings word deur jou in daardie verband, gemaak. En dit bly nie daar, nie, jy dig ook sommer daaraan toe dat dit net mense kan wees wat regop kon loop. Watter bewys kan jul hoegenaamd daarvoor kan voorhou? Én, julle formeer ook sommer fabelagtig ’n hele nuwe generasie, ’n spesie, aan die paar stom beenfragmente. Julle gaan erger aan met die paar stukkies been, as wat die onderwysers en dosente met Raka aangaan.
Moet dus nie sê die fossiele spreek vir sigself, nie – hulle is stomgeslaan deur julle fabelagtige vindingrykheid met hulle. Goed en wel, dit is jul prerogatief, maar moet dit dan nie as wetenskap probeer parodieer, nie.
Terloops, die enigste werklike allegorieë in die Woord, is die klompie gelykenisse van die HERE Jesus Christus – en HY bied dit doelbewus só aan. Sien gerus maar weer Markus 4:9-12. Jy sal dan steeds nie die Woord verstaan nie, terwyl ons as gelowiges dit verstaan, maar hopelik sal jy na hierdie herinnering daaraan, begryp waarom jy die Woord nie kan begryp nie en ook, hopelik, hoe sinneloos en effekloos jou geredekawel daaromtrent, is.
Jy sê die Woord loop die laaste tyd onder kritiek deur? Kan jy so oningelig wees? Die Woord loop al vir die afgelope baie eeue konstant onder verbete kritiek deur – sonder effek. Tewens, die Woord floreer daarop.
Kobus de Klerk.

