
Foto: Canva
Die ewigheid
As iemand my sou vra
hoe lank die ewigheid is?
Sou ek sê:
“Een maand lank.”
Dertig dae se windwaai,
dertig dae se kwaad,
dertig dae se donderweer
en dertig dae se son.
Die ewigheid
is dertig dae se herfs
in dertig dae se lente.
Waar bloeisels spat in trane
en die liefde waai soos blare.
Dit is die ewigheid,
’n vreemdeling se smart,
wat dwaal in die kringe om ’n mond.
Grys in gesprekke
wat doelloos rondkyk en verlang.
Die ewigheid,
staan en tuur oor onbekende water,
wat golwe maak soos liefde.
Dit raak aan iemand.
Dit raak aan niks.
Die ewigheid is net alleen.
Die ewigheid
Is nie lag nie,
ook nie huil nie.
Die ewigheid,
Is bloot,
dertig dae.

