In Die Burger van 24 September 2012 word berig dat die Khoe- en San-stamme die eerste lede van die spesie Homo Sapiens is wat geneties geskei het om ’n aparte groep te vorm. Dit het volgens die berig so 100 000 jaar gelede plaasgevind ... dis nou volgens evolusionêre navorsing wat deur navorsing aan die Universiteite van Witwatersrand in Suid-Afrika en Uppsala in Swede gedoen is. Hierdie navorsing het sowat 2 jaar geduur en is in die vakjoernaal Science gepubliseer.
Die onderbou van hierdie navorsing is natuurlik die evolusie-teorie wat die raamwerk verskaf waardeur die ontwikkeling van alle lewe hier op aarde verklaar word en voorspellings gemaak word hoe lewende organismes toekomstig sal ontwikkel. Alle navorsing, insluitende dié waarna ek hierbo verwys, bevestig die geldigheid van die evolusie-teorie. Nêrens word melding gemaak van ’n skepper-god of dat alle lewensvorme apart en sonder evolusionêre verbintenis deur hierdie god iewers in die verlede geskep is nie. Die rede is natuurlik dat alle navorsing die evolusie-teorie ondersteun en alle kreasionistiese aansprake weerspreek. Indien toekomstige navorsing foute in die teorie ontbloot sal aanpassings aan die teorie gemaak word of selfs vervang word deur ’n nuwe, beter teorie. Die evolusie-teorie word dus met elke stukkie navorsing getoets en die rede waarom dit universeel deur alle wetenskaplikes aanvaar word, is omdat dit telkens die toets slaag.
Charles Darwin, die vader van hierdie teorie word tereg as een van die grootste wetenskaplikes en denkers van alle tye beskou. Enigiemand wat hierdie teorie verkeerd sou bewys en met ’n meer aanvaarbare teorie vorendag kom wat, soos die evolusie-teorie, die herhaaldelike toetsing en ontrafeling van eindelose navorsing en kritiese evaluering kan deurstaan, sal beslis ook beskou word een van die wêreld se bestes. Tog word ons feitlik elke dag hier op die Sê vermaak deur Kobus en sy agterryer Dolfie met allerhande ongesubstansieerde skrywes wat die evolusieteorie afmaak as ’n klomp bog. Die arme goedgelowige Trienie is nou ook al op sleeptou en word lustig meegevoer deur Kobus se openbarings wat hy van sy imaginêre god ontvang. Kobus het selfs ’n term uitgedink vir hierdie gawe om oor sulke kennis sonder enige studie of bewyse te beskik: spirituele intelligensie. Die mees verspotte stellings word gemaak sonder enige eie navorsing of enige verwysing na navorsing wat in portuur-geëvalueerde vakjoernale verskyn het. Dit word bloot in 4 000 woord lange opstelle aan die Sê se lesers opgedis sonder ’n sweempie van bewyse. Van die lesers word verwag om dit te aanvaar alleen op grond van sy eie verklaarde spirituele intelligensie!
Ek daag hiermee vir Kobus, Dolfie, Trienie of wie ook al uit om as een van die grootste denkers of wetenskaplikes van alle tye gekroon te word – kom net met die nodige toetsbare bewyse om julle kreasionistiese aansprake te bevestig. Indien dit ’n bietjie van ’n lang bestellings is vra ek net om vir my een gesaghebbende universiteit in die wêreld se naam te verskaf waar biologiese wetenskappe aan die hand van kreasionisme aangebied word. Die Mormoonse teologiese skool in Salt Lake City is byvoorbeeld nie ’n gesaghebbende universiteit nie – so moenie met sulke klas van instansies ons tyd kom mors nie.
Groetnis
Thomas


Kommentaar
Thomas,
Dankie, vir die bydrae en interessante inligting in Science oor die Khoe- en San-stamme en evolusie, in teenstelling met Kobus de Klerk se onsamehangende 4 000-plus-woorde-getjommel van 19 deser, getitel: “Oor die biologiese natuurlike, seleksie” en waar hy o.a. die onverstaanbare stelling maak dat “die natuurlike verskynsel van biologiese genetiese seleksie in sy wese nie ’n uitvindsel van die tipiese darwinistiese evolusieteorie, is nie”. Bid jou dit aan!– hoe op aarde kan enige teorie enige verskynsel uitvind?
Die verskynsel dat water altyd afdraand loop bestaan bv. sedert die eerste lopende water op die aarde verskyn het en is nie ’n verskynsel wat deur enigiemand of teorie uitgevind is nie. Net so bestaan die verskynsel van natuurlike seleksie ook reeds sedert die verskyning van die eerste lewe op die aarde.
Darwin was maar net die eerste persoon wat dit uitgewys het en oor hierdie waarneming word hy nou deur mense soos Kobus de Klerk geminag en gekleineer! In sy “Origin of Species” verwys hy soos volg daarna: "I have called this principle, by which each slight variation, if useful, is preserved, by the term Natural Selection, in order to mark its relation to man’s power of selection."
Ek hou hierdie spasie dop vir reaksie op jou uitdaging.
Groete
Panda
Dag Thomas,
ek stel voor jy takel meer kennisvolle opponente as die ouens hier op die werf, jy mors jou talent en kennis op hulle. Toets gerus jou formidabele kennis en begrip teen meer waardige opponente soos bv Creation Ministries. Ek dink hulle sal jou meer vermaak as die amateurs hier rond.
Skeppende groete
Duitswester
Thomas,
Nee, ek stem nie saam met jou nie. Die Kreature hier op SêNet mors nie ons tyd nie. Ek was nou die dag by ’n sirkusvertoning, en vir geen oomblik het ek gedink die narre mors my tyd of my geld nie.
Ons het mos eens op ’n tyd ’n Christelike universiteit gehad: die PU vir CHO. Kan dit dalk wees dat die professore en lektore van die Plantkunde en Dierkunde departemente daar het aan die studente geleer dat elke spesie apart en na sy soort geskape is? Ek stel veral belang daarin of hulle by die Dierkunde dept die studente geleer het dat die mens geskape is uit grond en ’n ribbebeen, of het hulle dit dalk oorgelaat aan die Fisiologie dept? Miskien is daar iemand wat ons hieroor kan inlig, vorige studente bv, as jy ook dalk nie weet nie.
Daar is mos sprake van ’n Christelike universiteit stig. Die personeel daarvan sal seker moet geloofsbelydenis aflê, nl. dat elke ding na sy soort geskape is en dat ons voorouers grondhope en ribbebene was.
Ek sou dit nogal geniet het om by so ’n inrigting te studeer. Afgesien van my drankie met die blou etiket, hou ek ook van ’n glasie goeie suiwer wyn, en waar wil jy nou suiwerder kry as wyn wat sonder druiwesap gemaak is?
Groete
Angus
Nou-ja,
aangesien hierdie werf jou so amuseer, het jy al oorweeg om my vraag oor die "Big Bang" so ’n bietjie aandag te gee?
Sal waardeer.
Duitswester
Angus,
Jy wonder oor die PU vir CHO van vroeër. Dit was my Alma gedurende die laat vyftigs en vroeë sestigs en dit het my gedagtes teruggevoer. Die onderwerp van skepping en evolusie is in die Dier- en Plantkundelesingsale sorgvuldig geïgnoreer. Ek dink die dosente en professore het geweet dié kwessie is ’n mynveld en het maar ’n veilige afstand gehandhaaf. Daar was mos die magtige Nasionale Party en onderwysbeleid en die ewe magtige Sinodes van die moederkerke wat oor die skouer geloer het!
Maar – jou graad is teruggehou voordat jy nie twee addisionele kursusse op 1ste en 2de jaar vlak oor Lewens- en Wêreldbeskouing suksesvol afgelê het nie – ongeag jou studieveld. Dit is hoofsaaklik hier waar die ‘CHO-hou’ geplant is.
Maar jy hoef nie net oor die destydse PUK te wonder nie. My broer het aan Tukkies studeer en sy kursus het spesifiek Plant- en Dierkunde ingesluit en hy verseker my dat selfs dáár, die onderwerp van evolusie taboe was.
Maar ek is seker dinge op die PUK het sedertdien drasties in dié opsig verander soos so baie ander dinge. Die Pukke se eerste rugbyspan heet nie meer Theos nie, want dit het glo na baie jare aan die lig gekom dat dit gekoppel kan word aan een of ander Heidense God. Miskien is dit die rede waarom hulle deesdae, anders as vroeër jare, die meerderheid kere die oorhand oor die Shimlas het. Voor die jaarlikse Tokkeloswedstryd word daar – so verneem ek – ook nie meer ‘broederlik’ ooreengekom oor die afskop nie, maar op onchristelike wyse gedobbel deur die opskiet van ’n muntstuk.
Die gedeelte – helfte – van die badkamer wat deur die Tokkelokke vir hulle uitsluitlike gebruik gekonfiskeer is, heet glo ook nie meer die ‘Bad van Betesta’ nie en ek verneem die twee manskoshuise Gatland en Pisvleuel is ook nie meer ’n verleentheid nie – glo lankal gesloop en die kleurryke name seker lankal in vergetelheid gedompel. Ek dink Toy hou nog die rekord van Vleuel (soos daar ordentlikheidshalwe in damesgeselskap na dié koshuis verwys is) se balkon af.
Die Teologiese Skool – alias ‘Angel Factory’ – funksioneer darem glo nog. Almal wat uniform gedra het, was ‘oom Tjaart’ – busdrywers, kondukteurs, verkeerspolisie, gewone polisie en veral die gehate spietkop wat ons gevang het oor ons fietse nie lisensies gehad het nie. Ja – daardie jare moes jy nog ’n lisensie (jaarliks) koop vir jou fiets. En selfs die posman in sy poskantoor uniform op sy fiets – was ook ‘oom Tjaart’.
Ja, en so met die baie veranderings het die ‘CHO’ toe ook uiteindelik geduik en uit die naam verdwyn. Maar ek het ’n vermoede dat die twee vakke oor Lewens- en Wêreldbeskouing nog in stand gehou word – waarskynlik onder ’n ander naamE Ek weet nie wat die status van dans tans daar is nie?
Groete
Panda
Hello Duitswester
Terwyl Thomas wonder of hy die moeite gaan doen om jou te antwoord, hoekom vertel jy nie vir ons hoekom jy tuis voel by die Jehovah Getuies nie?
Chris
Hello Panda
Die volgende onderhoud met Jaco Gericke van Potchefstroom sal jou dalk aangenaam verras:
http://www.pointofinquiry.org/jaco_gericke_confessions_of_a_died-again_christian/
Beste Panda,
Dankie vir hierdie nuus van die Pukke, dis nou rêrig baie interessant. Ek het al gehoor van die Angel factory, en van oom Tjaart. Tjaart van der Walt was mos rektor van die universiteit en later rektor van hierdie factory. O, en later ambassadeur by (ek kan die ding nie meer spel nie) Boputaswana.
Van watter Toy praat jy? Jy meen hulle het die afstande gemeet? Ek het al van die dansery gehoor. Dit was nie toegelaat op die Puk nie, toe stig die verligte Doppers die X-klub, waar hulle lekker kon skoffel.
Groete
Angus
Hallo Chris,
Dankie vir die skakel oor die onderhoud met Jaco Gericke. Baie insiggewend. Ek sou graag Trienie en Dolf en Kobus se kommentaar wou hoor maar ek twyfel of hulle daarna sal wil luister.
Groete
Panda
Dagsê Angus,
Die 'ge-oom-Tjaart-sêery' destyds op die PUK het beslis nie enige verband met Tjaart van der Walt nie. Dit dateer uit 'n era lank voor hy daar voet aan wal gesit het. En 'ja' op jou vraag of die afstande gemeet is tydens die aktiwiteite vanaf 'Vleuel' se balkon. Maar natuurlik? — en daar is boekgehou in 'n amptelike 'rekordboek'. Kyk — daar was destyds 'n 'Groot Frans' en 'n 'Klein Frans' op die PUK maar daar was net een Toy en hy was toevallig nie klein nie. En ek gaan nie meer as dit openbaar maak nie.
Ek het al gehoor van die X-klub waarna jy verwys. Omdat ek nie 'n Dopper is nie het ek nie eers probeer aansluit nie. Die Doppers was 'n baie geslote gemeenskapppie.
Groete
Panda