Die Eurovision-liedjiekompetisie: oud, maar nog nie koud na 61 jaar?

  • 0

www.eurovision.tv

 

Tydens ’n studieverblyf in Engeland in die sestigerjare het ek in 1964 die televisieprogram (toe nog swart-en-wit) Eurovision Song Contest gesien. Ek het uit die staanspoor van die aanslag gehou: ’n voorloper van die huidige Idols-tipe programme, maar dit gaan in die eerste plek oor die liedjie wat deur die land ingeskryf is.

Die wenner dié aand was ’n skroomvallige sestienjarige Italiaanse meisietjie, Gigliola Cinquetti, met die oulike liedjie, "Non ho l'età per amarti" ("Ek is te jonk om jou lief te hê"). Die liedjie was ’n onmiddellike treffer en word vandag nog soms gehoor en is hier beskikbaar:

Sedert dit in 1956 begin het, word die eindronde jaarliks in elk van die deelnemende lande regstreeks uitgesaai. Die deelnemende lande is lede van die Europese Uitsaai-unie en bestaan hoofsaaklik, maar nie net, uit Europese lande. Aanvanklik was dit net die Beneluxlande, Duitsland, Oostenryk, Italië en Frankryk, maar spoedig het die Skandinawiese lande en meer onlangs Rusland en die voormalige Oosblokstate ook aangesluit. In 2015 is Australië ter viering van die kompetisie se sestigste verjaarsdag genooi om aan te sluit. Daar is ’n groot groep Eurovision-entoesiaste in dié land.  In 2016 was daar 42 deelnemende lande.

Die eindronde word aangebied in die land van die vorige jaar se wenner. Elke deelnemende land stel ‘n beoordelaarspaneel aan wat vir enige land kan stem, behalwe hul eie. Verder dra die stemme van die kykers ook dieselfde gewig as dié van die panele.

Die soort liedjie wat uitgevoer word is gewoonlik populêr, maar altyd redelik konvensioneel, ’n soort luisterliedjie. Van die sangers wat wenliedjies gesing het sluit Udo Jürgens, Sandie Shaw, ABBA, Vicky Leandros, Celine Dion en Frida Boccara in.

Om verskeie redes was dit nog nooit die Suid-Afrikaanse televisiekyker beskore om die Eurovision-kompetisie te sien nie, maar met die internet is dit deesdae moontlik. Die program word ook soms op spesialiteitskanale op skotteltelevisie uitgesaai. Op Eurovision se webblad word die geskiedenis weergegee, asook die name van deelnemers oor die jare. ’n Mens kan ook na video-opnames van die inskrywings kyk.

Die eindronde van Eurovision 2016, wat op 14 Mei in Stockholm gehou is, het heelwat onbedoelde internasionale drama opgelewer. Nadat die stemme van die beoordelingspanele getel was, was die volgorde van die lande: Australië, Rusland en die Oekraïne.

Nadat die kykers se stemme getel is, was die Oekraïne egter die wenner, hoewel hy nie deur die panele of die kykers eerste geplaas was nie. Die probleem was dat die sangeres van die Oekraïne, Jamala, se lied, 1944, ’n hoogs emosionele ballade was oor Josef Stalin se deportasie na die Krim-Tartare se Sentraal-Asië, ’n groep waartoe haar ouma behoort het.

Die Krim-Tartare was glo simpatiek teenoor Adolf Hitler.

Die strofes is om die beurt in Engels en Krim-Tartaars gesing:

Where is your heart?
Humanity rise.
You think you are gods
But everyone dies.
Don't swallow my soul.
Our souls.

Die reëls van Eurovision verbied uitdruklik liedjies met ’n politieke inslag en, gedagtig aan die onlangse Russiese inval in die Oekraïne, het die Russe aanvanklik beswaar teen die insluiting van die lied gemaak. Die beswaar is egter verwerp omdat dit oor ’n persoonlike ervaring van die sangeres gaan en nie soseer oor die politiek nie. Binne ’n Suid-Afrikaanse konteks sal die lied ons herinner aan die afbrand van plaashuise en konsentrasiekampe gedurende die Anglo-Boereoorlog, asook die gedwonge verskuiwings in Distrik Ses.

Ten slotte wil dit voorkom asof die Eurovision-liedjiekompetisie – wat deur die jare allerweë as ’n saambindende faktor beskou is vir die deur oorlog verdeelde Europa – hom nou vasgeloop het teen die realiteit van die huidige wêreldpolitiek. Daar word seker asem opgehou oor die aanbieding van 2017 se eindronde in Kiëf in die Oekraïne.

Die (volgens my bra powere) Duitse inskrywing, “Ghost”, gesing deur Jamie-Lee, het laaste gekom.

In die Duitse pers en sosiale media word nou bespiegel dat die min stemme dalk die gevolg is van ’n Europese reaksie teen Angela Merkel se vlugtelingpolitiek.

Bronne:

http://www.theguardian.com/commentisfree/2016/may/15/eurovision-europe-divide-russia-ukraine

https://en.wikipedia.org/wiki/Eurovision_Song_Contest

http://www.eurovision.tv

http://www.welt.de/vermischtes/article155391575/Was-Deutschland-beim-ESC-reformieren-muss.html

 

  • Die Eurovision-liedjiekompetisie is op Saterdagaand die 14de Mei op DStv se kanaal 431 uitgesaai.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top