Die enigste oplossing vir geweld en seer

  • 2

Ek is nie skrywer maar lees SêNet-briewe gereeld. Vernaam die oor Godsdiens, Evolusie en KdK se briewe fassineer my geweldig. By hom leer ek hoe om vir God te veg. Maar, dit is 'n heel ander prentjie om binne in die geveg te staan waar net God oplossings kan bied, as om oor Hom te skryf! Daarom wil ek graag iets neerpen ...

Vrydagaand die 19de sit ek voor 'n groep verwese vroutjies aan my toegeken. Van hulle, wat wel die moed het om op te kyk, pleit traanbenat. Ek sien verwerping, verkragting, aborsie, vrees, huweliksprobleme, sonder werk, sonder kerk, selfs haat teenoor God omrede van 'n kind afgesterwe? Dit voel of my hart wil bars. Maar ek knyp my trane vinnig terug, hulle is opsoek na iemand sterk. Iemand in beheer, wat kan help, verstaan – kan luister. Iemand om na te gryp voordat selfmoordgedagtes 'n waarheid word ...

Regdeur die naweek werk ons hard. By so 'n vrouekamp is gemiddeld 40 groepies van 10 vroue elk en het jy net 'n naweek om Jesus aan hulle voor te stel. Getrou werk die kosbare Heilige Gees saam deur diep verborge seer te openbaar en bitterwortels uit te trek. Selfs verwerping in die moederskoot. Daar is dan vryspraak, emosionele en liggaamlike genesing, bevryding.

Maandagoggend ry ek deur 'n sopnat Polokwane werk toe. Halfpad, in Dorpstraat, kry ek die 1ste ongeluk. Iemand het van baan verander sonder om te kyk. 'n Ouer dame staan geskok langs die pad en staar na haar gestampte voertuig. Vier blokke verder, die volgende ongeluk. Iemand het in die eenrigting ingedraai, kop aan kop. Aaklige gesig. In my binneste skiet ek 'n gebedjie op: "Dankie Heer, dat U my so baie bewaar ..." 

Af met Suidstraat bly ek die minste. Gee liewer pad waar ek kan en ry in veiligste bane. Naby my werk beweeg ek verby die swart afgebrande hof met sy dak wat ingeval het en sien dat 'n groot Jakarandaboom voor my werk ontwortel het. Gelukkig is dit al uit die pad gesleep. Erge wind en reën gewees oor die naweek? – wonder ek. Terwyl ek my Mazda se deur toeslaan word alles skielik stil om my. Onheilspellend stil, selfs in my binneste. 'n Beklemming trek oor my wese. Mense is stukkend. Aardseisoene is deurmekaar. Politiek onrustig. (Waarom het hof afgebrand, om leiersbewyse te smoor?) Godsdiensverskille en mense wat stry oor God?

Maar waar is die kerk? Is hulle nie veronderstel om politieke standaarde en waardes daar te stel? Om in beheer van skole en landswette te wees? Aborsie en verkeerd teen te staan? Maar die kerkleiers kyk anderpad en sit sitplekke warm binne in die kerk. Daar is niks so gevaarlik soos politieke leiers wat 'n vals evangelie preek! Soos Jes 5:20 dit uitdruk: "Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die lig duisternis maak en die duisternis lig, wat bitter soet maak en soet bitter." Alles voel vir my net te stil. Soos 'n stilte voor die storm? Ek wonder of God vervolging gaan stuur?

Kerkgeskiedenis het my geleer dat slegs 'n vervolgde kerk wakker skrik. 'n Slapende kerk staan net op wanneer dit vervolging in die oë staar. Vervolging suiwer. Ek is onrustig. Klink nie na goeie nuus. Ons kan baie leer by vervolgde Christene. Onverbiddelike geloof, toewyding in gebed en liefde vir die studie van God se Woord. As ek so lees wat sommige skrywers hier op SêNet skryf wat nie eens aan die Bybel glo, klink dit amper of hulle eerder die skrifte ken! Betwisbare motiewe moet verdwyn. Vervolging maak dapper en lei tot verdieping in onbeskaamde getuiedraers. Gemaklike, irrelevante of ontoegewyde louwarm Christene wat maklik kompromitteer is eintlik gevaarlik.

Politieke leiers kan nie 'messias' speel. Waarvoor veg ek? Vir dit wat ek weet: bv dat 'n vrou wat haar kind geabborteer het, of in stukke moes uitsny uit haar baarmoeder emosioneel nooit weer dieselfde is nie. Sy word net stukkender. Net Jesus kan weer vir haar 'n heel hart inplant. Dat 'n huwelik tussen lede van dieselfde geslag geen vreugde of vrede inhou. Dat 'n pa van die huis wat drink en drugs groot hartseer aan sy familie besorg. God haat egskeiding. God haat sonde. (Let wel, hy haat nie die mens.) Hoekom? – omrede Hy jammer is vir die mens wat gebukkend onder hierdie dinge staan en nie lewe in oorvloed kan beleef. 

Dit bring ons terug by die wet. God het die wet vir die mens gegee sodat die mens vanuit beskerming kan leef en homself vrywaar van toekomstige seer en benoudhede. God het nie die wet ingestel vir God nie, of om Sy wil af te dwing. Maar wel dat die mens 'n riglyn sal navolg waarvolgens hy rustig kan lewe. En dit is die plig van die kerk om dinge in die lig van God se Woord te beoordeel en waarheid te onderhou. Anders staar die mensdom vernietiging in die gesig. 

Sterkte op jou lewenspad.

Trienie Mahne

  • 2

Kommentaar

  • Trienie,

    Jy hoef nie ’n skrywer te wees om jou punt oor te dra nie – ek dink jy het dit heeltemaal goed gedoen. Dit is regtig hartverskeurend om die wêreldse agteruitgang te sien waar mense God verwerp of “skyn” christene is of weier om vir hul geloof op te staan. Ons enigste redding en heil lê slegs en alleen in Jesus Christus ons Here. Daarom hoef geen iemand wat ín Christus is meer te vrees nie! Abraham Lincoln het gesê: “I can see how it might be possible for a man to look down upon the earth and be an atheist, but I cannot conceive how he could look up into the heavens and say there is no God.”

    Jy is ook reg dat daar wel baie ongelowiges is wat baie kennis oor die Bybel het, maar kennis van die Bybel op sig self, bring nie ware geloof nie – Nee, ware geloof is ’n gawe van God tot redding vir elkeen wat God se genadeversoening in en deur Sy enigste Seun, Jesus Christus, aanneem. Onthou ook dat die satan en sy trawante die Bybel seer sekerlik beter ken as enige mens ooit kan én hulle sidder van angs!

    Hou goeie moed, die Here is naby.

    Sterkte en vrede vir jou.

    Dolf

  • Kobus de Klerk

    Trienie,

     
    Baie dankie vir jou diep, sielvolle en sterk geloofsgetuienis. Ons het meer mense soos jy en Dolf, ons plaaslike staatmaker, nodig - en daarmee bedoel ek lekker uitgesproke ware Christene soos jy en Dolf en Henry en die ander.
     
    Julle getuienis is so kosbaar en insigvol. Heerlik om dit hier te kan lees.
     
    Groete
     
    Kobus de Klerk
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top