Die elfde gebod: Moenie ’n doos wees nie!
Gerhard Ras
Uitgewer: Gerhard Ras
ISBN: 9781928456971
Ek moet begin deur te sê hierdie is ’n boek wat álmal moet lees. Ja regtig. Meer daaroor later, maar eers ...
Toe ek dié boek oopslaan, kon ek nie anders as om ná die eerste paragraaf vinnig te loer wie die uitgewer is nie (weens ’n paar sensitiewe woorde wat beslis nie elke tweede mens sal geval nie).
Komende van ’n man, maak dit seker sin dat hy sal verkies om die woord “doos” te gebruik bo “poephol” … dit is immers nié deel van sy anatomie nie. Ek, as vurige feminis, is egter nie so seker dat Die elfde gebod ’n menigte vroulike lesers sal laat toustaan nie; inteendeel, ek dink Die elfde gebod mag dalk ook, soos die vorige tien gebooie deesdae, deur millennials vermy word. Die implikasie van een woord, hoe waar ook al, is een wat beslis sensasie wek en tonge sal losmaak; hy slaag dus daarin dat mense twee keer na dié buite-die-boks-opskriffie sal kyk. Maar ons kan dit ook nie ignoreer dat ons ’n baie konserwatiewe nasie is nie. Ek is redelik seker dat as hy byvoorbeeld die woord “poephol” sou gebruik het in plaas van die gekose woord, meer mense van beide geslagte dit onder oë sou wou kry uit nuuskierigheid sonder om verleë te voel.
Wat my dan by die inhoud van die 130-plus-bladsy-sagtebandboek bring. Wat Gerhard skryf, is die reine, heilige waarheid en ons almal ken ’n “doos”, of jy nou wil of nie, en meestal wil jy nie. Maar hulle ís daar, meestal op plekke waar jy hulle nie kan vermy nie. Hulle werk meestal op jou senuwees en toets jou bloeddrukgrense. Ek wil jou aanspoor dat as jy oor die skok van die woordjie kan kom, kry gerus Die elfde gebod onder oë. Ras skryf gemaklik en ’n mens kan jou dikwels met die situasies vereenselwig. Situasies wat mens warm om die kraag maak, maar met sy geestige vertelling kan mens tog die humor daarin sien en selfs daaroor glimlag.
Dié boek is inderdaad in gemaklike praattaal geskryf en deurspek met brutale eerlikheid. Ek gaan nie uitbrei oor die inhoud van die teks nie – ek weier bloot om enigiets te verklap. Ek gaan jou wel waarsku om ’n doos snesies byderhand te hou, want as jy dit nié gaan gebruik nie, wel, dan is jy ’n gevoellose doos. Alhoewel die boek handel oor Ras se eie lewe en ondervindings, is dit ’n ongelooflik ryk vertelling van hartseer, liefde en die harde werklikheid wat die lewe op jou kan laat neerreën. Ons kan nou eenmaal nie daarvan weg kom nie: dit wat by jou bek uitgevlieg het, kan nooit weer teruggetrek word nie, so leer liefs iets uit die situasies waarin Gerhard hom bevind het, voordat jy ’n doos van jouself maak. Die interessante vertellings van Ras se loopbaan in die politiek is nie verrassend nie; ek was wél meer verbaas om dit nie net te vermoed of te weet nie, maar swart op wit te sien. Tog het ek behalwe die eerlike opsomming daarvan, die kortlikse geskiedenis van ons land, sy rasse, partye en onderskeie konflikte baie interessant gevind. Dis nie altemit wie die wortels van apartheid, een van die grootste onophoudelike kopsere in ons land, gegrawe het nie.
Ná voltooiing van die boek is ek steeds seker die woord kan vervang word, want dit gee nou maar eenmaal meer aanstoot aan die vroulike spesie. Jy sou eerder lesers wou lok as om hulle af te skrik. Ek moet bieg, ek sou die woordjie plek-plek met ’n selfs kleurvoller woord kon vervang het en haal my hoed af dat Gerhard sy composure behou het. ’n Koffietafelboek is Die elfde gebod beslis nie, en ook nie een wat jy aan jou kinders wil verduidelik nie. Soos my jongste gevra het: “Mamma, wat beteken daai woord?” ’n Moet-lees is dit wel.
Ras slaag beslis daarin om nie net wenkbroue te laat lig vir die voorblad nie, maar om die leser aan te gryp met ’n hartlike verhaal van iemand wat baie deurgemaak het en gespaar is om vandag self sy storie te vertel, op sy manier. ’n Letterlike voorbeeld van moenie iets op sy voorblad takseer nie. En as jy werklik die hele boek deurgelees het en nie verstaan hoekom jy dit moes lees nie, neem ten minste sy wyse advies ter harte. Kry beslis Die elfde gebod onder oë.

