Die eksistensiële uitdagings van aftrede – om die kaf van die koring te skei

  • 3

Daar gaan nie ’n week verby waarin koerante en ander nuusbronne nie skryf oor die finansies van die individu, in die besonder oor al die pensioenfondse en ander spaarprodukte wat in die finansiële markte beskikbaar is nie. Finansiële sekuriteit is ’n hoë prioriteit vir alle werkende mense. Individue maak somme en projeksies oor hulle toekomstige inkomste. Baie mense het goed gespaar en voel redelik verseker oor die toekoms. Ander is bekommerd en selfs angstig. Sommige ontken die realiteit van hul situasie.

In die artikel wat volg, fokus ek nie op enige van die hooftemas, soos finansies, eiendom, gesondheid en ander maatskaplike uitdagings in ons gesinslewe wat ons daaglikse lewenskwaliteit voor, gedurende en na aftrede raak nie. Ek wil probeer om iets van die dieper vlakke van ons bestaan, in die 50 jaar en ouer fases van ons lewens (voor, gedurende en na aftrede) te beskryf. Ek doen dit ietwat buite die gewone raamwerk van hoe ons ons identiteit sien en beleef en hoe ons sin maak van ons lewens.

Ek het onlangs afgetree. Met die genade van Bo het ek vir my ouderdom min skete en pyne. Uit ’n sekere oogpunt is ek ’n statistiek: In 2012 was daar 810 miljoen mense 60 en ouer, amper 12% van die totale wêreldbevolking. Teen 2015 sal hierdie getal verdubbel. Regoor die wêreld word twee mense elke sekonde 60 jaar oud. My lewensverwagting is 80 jaar en ouer. Vir elke 100 vroue 80 jaar en ouer is daar slegs 84 manne. Ek weet dat ek net soos die meeste afgetredenes besorgd is oor die sekuriteit van my inkomste sodat ek my verpligtinge kan nakom. Alhoewel ek relatief gesond is, wonder ek of ek steeds toegang sal hê tot ouderdomsvriendelike en beskostigbare mediese versorging. Ek wonder ook of ek in ’n omgewing sal woon wat my oudword sal ondersteun wanneer ek minder beweeglik word en my sintuie en geheue sou verswak.

Ek weet dat die groep waarin ek nou is, nie homogeen is nie – dat ons afgetredenes net so divers is soos enige ander ouderdomsgroep. Ek wil steeds aktief bly en ’n gerespekteerde lid van die samelewing wees. Ek wil soos die meeste ander afgetredenes produktief wees en op een of ander wyse ’n bydra maak.

Ek is baie meer as net ’n statistiek. Ek wil nie gereduseer word tot een of ander maatskaplike en demografiese kategorie nie. Ek weet dat die lewenspad van my oudword fisiese, kulturele, sielkundige en geestelike uitdagings inhou. Die groter prentjie help dat ek  verstaan en aanvaar dat oudword onvermydelik is. Tog het ek uitgesien na my aftrede. Die kinders is versorg, elkeen selfstandig op hul eie lewenspad. Dit gaan ’n tyd vir my en my vrou wees om op ’n ander manier deel te neem aan die lewe en hopelik dinge te doen wat ons nie voorheen kon doen nie. Wanneer kinders hul ouerhuis verlaat, beleef baie ouers dit as ’n pynlike afskeid, gevolg deur die “leë-nes sindroom”. Ek daarenteen, het eerder ’n “leë-nes droom” gehad. Met verwagting het ek my aftrede as een van die drumpels in die trimester van my lewe tegemoet gegaan. My aftrede was nie aanduidend van ’n vaste, overanderende, statiese toestand nie, maar veel eerder ’n innerlike ingesteldheid teenoor die lewe wat ontwikkeling en ontvouing inhou. Ek sou met myself waag, kom wat wil.

Met verloop van tyd het ek ontdek dat die psigiese en geestelike eise en die slaggate soos trots en eersug my ook in die versoeking bring. Deur die eeue het vorige geslagte hulle getrotseer met behulp van simbole, geestelike oefening en ander bronne van wysheid. Die religieuse tradisie waarin ons staan, bevat nie altyd die wysheid vir vraagstukke van die lewe wat elkeen van ons op sy eie in die gesig staar nie. As ons wysheid soek, is die begeleiding wat beskikbaar is nie altyd effektief nie.Die probleem is dat die natuurwetenskaplike mens- en wêreldbeskouing van ons tyd so dominant is dat alle “gode en duiwels” van ons innerlike landskap verwyder is en weg gerasionaliseer is. Ons innerlike lewe ontoeganklik en onsigbaar geword het asof in ’n sonsverduistering. Vir ons as postmoderne mense is die kosmos nie meer betowerend soos in klassieke tye nie. Dit laat ons soms alleen, verward en vertwyfelend. In hierdie feitlik gebaseerde wêreld moet ons die betekenis van ons lewens self vind en skep. Dit is ’n swaar opgawe in hierdie logies en tog gefragmenteerde tye. Nogtans is daar in die rykdom van verhale, mites en legendes belangrike leidrade oor die koers van elke mens se persoonlike innerlike reis. Dit is die uitdaging: hoe om die leidrade op te spoor, sin te maak van hierdie avontuur voordat die Skeidsregter die eindfluitjie gaan blaas.

In my persoonlike en professionele lewe is ek, soos meeste ander mense, deur talle krissise, verliese, en teleurstellings. Ook deur baie toetse, suksesse, versoekinge, verraad, ekstase en talle ontmoetinge met allerhande soorte mense en unieke karakters. Op verskeie kritiese drumpels van elke dekade van my volwasse lewe was ek deur die lewe geforseer om, soms doelbewus, oor my eie lewe na te dink. Heimlik het ek gedink dat daar nog baie goeie dinge kom en dat ek op my ouderdom ’n bietjie wysheid het en goed voorberei is vir wat kom ‒ soos ’n krygsman en held is my ingesteldheid een van opgewonde afwagting en tog paraat, kom wat wil.

In die klassieke mite van Odusseus, die leier en held in Homerus se epiese gedig Die Odusseia1,is daar baie raakpunte met ons lewenspatroon. Ek wil my ontdekking van die sinvolheid van hierdie verhaal wat Homerus 700 v.C. geskryf het, veral vir my aftrede, inweef in my verhaal. Ons het almal ons klein “Odesseë”. Odusseus het na 50 jaar se omswerwinge en avonture teruggekeer na sy eiland om te herenig met sy geliefde vrou, Penelope, sy ou vader Laertes, sy verlangende seun Telemachus en selfs sy sterwende ou hond Argos Nadat hy daar geland het, het niemand hom herken nie, behalwe die ou huishulp. Hy pleit by haar om niemand, ten minste vir nou, te vertel dat hy teruggekeer het nie. Terloops, dit is ook so dat vroue hul mans na hul lang loopbaan, soveel ure nie tuis, nie “herken” nie. Vroue vind dit soms moeilik om hul weg te vind wanneer die manne aftree. Hulle beleef hom dan as “onder hul voete”. Dit neem soms baie tyd en verdraagsaamheid om mekaar weer te vind.

Niks kon my voorberei vir wat sou kom nie Ek was oppad na “my eiland” en terwyl ek nog op see was tref ’n aardbewing my. Ek en my kinders het my vrou en hul ma op ’n onbegryplike manier verloor. Sy sterf op ’n operasietafel tydens ’n redelik standaard chirurgiese ingreep. My eiland het in twee geskeur. Een helfte van die eiland het onder die water verdwyn. In rouklaag, verdwaas en verlore het ek vir maande op die oorblywende deel van my eiland gebly. Al die drome vir die tydperk voor my aftrede, en daarna, is deur die donker water ingesluk. Na maande het ek, koersloos, sonder ’n kompas teruggekeer na die see. Ek het op ’n ander eiland afgekom, daar geanker en ’n vrou in die figuur van ’n Cleopatra ontmoet. Saam met haar op die nuwe eiland wil ek graag my reis voortsit en voltooi.

Odusseus het teruggekeer en met sy vrou, sy seun en sy vader herenig. Met stories soos dié sou ons verwag dat hulle daarna “vir altyd gelukkig gelewe het”. Wat op die oog af lyk soos ’n toepaslike einde skryf Homerus tog twee laaste onderafdelings, ’n soort epiloog. Hy kondig aan dat Odusseus op ’n nuwe en tweede reis gaan. In plaas van rustig aftree word hy herinner aan ’n profesie wat hy lank gelede van die blinde siener Teiresias ontvang het. Hy moet weer die huis verlaat. Dit is sy lot en die gode verwag dit van hom. Hierdie reis word nie in detail beskryf nie, maar neergepen in ’n paar treffende paragrawe.  Miskien dien dit as ’n voorteken van wat met baie van ons sal gebeur. Hier volg ’n opsomming van die sleutelelemente:

  1. Odusseus ontvang hierdie profesie tydens een van die laagtepunte van sy omswerwinge, terwyl hy deur die “koninkryk van die dooies” reis. Dit is so dat ons soms beter hoor wanneer ons ’n laagtepunt ervaar en ons ego stukkend en verswak is.
  2. Teiresias verskyn (weer), soos ’n spook, met ’n goue septer in sy hand en gee aan Odusseus die boodskap. Die goue septer kan interpreteer word as ’n simbool van ’n boodskap uit die hemele wat gesag het.
  3. Teiresias sê vir Odusseus: “Jy moet ’n goeie kwaliteit roeispaan maak en dit ver dra, nie op jou eiland nie maar tot diep in die binneland van die vasteland. Jy dra dit totdat jy by ’n land en sy mense aankom wat nog nooit by die see was en nie eens sout in hul kos meng nie. Hulle weet niks van skepe en roeispane nie”. Odusseus moet die gemak van sy tuiste, sy “eiland”, verlaat en die “binneland” ingaan. Eiland-binneland; deel en geheel; die wêreld na buite en ons wêreld na binne. Die kleiner prentjie en die groter prent.  Om dit, die dele te verbind en te verenig in ’n geheel, is ’n religieus-geestelike ervaring. Die reis na die binneland verbind ons met ons innerlike wêreld. Dit is ’n taak van die later deel van ons lewens, nádie 40er jare, voor, tydens en na aftrede.
  4. Hy moet die roeispaan dra. Dit kan staan vir al die “gereedskap” wat ons bymekaar gemaak en gebruik het in die eerste helfte van ons lewe. Homerus skryf dat die inwoner van die binneland vir hom sê “(ek sien) jy dra ’n gaffel op jou skouer.” Hy sien die roeispaan as ’n gaffel. ’n Gaffel is ’n stuk gereedskap waamee die kaf van die koring geskei word. Odusseus moet die roeispaan net daar stewig in die grond plant en daar los. Slegs dan kan hy terugkeer na sy huis. Plant die roeispaan net daar die gereedskap waarmee jy so hard gewerk het en waarmee jy so produktief in die werkwêreld was, laat dit net daar en skei die kaf van die koring.
  5. Daarna moet Odusseus drie spesifieke diere offer: ’n stormram, ’n teelvark en ’n teelbul, treffende beelde van manlikheid, van manlike vitaliteit, krag en instinktiewe reaksies. Die krag van voortplantingsenergie en vrugbaarheid. Ook hardkoppigheid wat soms grens aan blinde selfgelding en ongekontroleerde emosie. Om die reis voort te sit en die binneland te verken, vereis dat ons iets moet opgee, iets moet laat gaan. Ek kan nie die reis voortsit met die swaard en skild van die krygsman en held nie. Ek moet ander instrumente van my menslike toerusting gebruik. Die offers dui ook op erkenning aan die Skepper van die kosmos en my plek in en verbintenis aan die koninkryk van God.
  6. Slegs na hierdie verdere reis en sy opofferings kan ek rustig en in vrede met die mense om my leef. Teiresias eindig sy profesie met die woorde: “Jou dood sal van die see kom. Jou lewe sal sagkens soos ’n laaggety wegvloei tot jou jare vol is met vrede in jou hart”.

Ek is baie bemoedig deur Odusseus se tweede reis na die” binneland”. Die vraag wat na alles by my opkom is: Hoe skei ek die kaf van die koring? Ek het nie die antwoord nie, maar bied tog my poging om die vraag te antwoord. Vir my is die idee van ’n “bucket list”, voor ek “die emmer skop”, baie insiggewend. Ek het ’n “bucket list” saamgestel vir die dinge wat ek nog graag wil doen, plekke wat ek nog graag wil besoek en sien, die mense wat ek graag wil ontmoet en ou kennisse, vriende en familie met wie ek (weer) wil kontak maak. Sommige van die items op my “bucket list” het ek al begin uitvoer. ’n Paar beplan ek doelgerig. Ander planne, weet ek is dalk glad nie haalbaar nie en sal maar op die horison bly, selfs al bly hulle net as drome. Maar hierdie “bucket list” is my lysie van dinge na die buitewêreld, die “buiteland”. Maar ek het ook ’n innerlike “bucket list” saamgestel met items wat my reis na die “binneland” kan rig – eksistensiële uitdagings. Hier noem en beskryf ek hulle net kortliks. Hierdie “binnelandse” lysie rig my nadenke of selfgesprek, meditasie, gebed en gesprekke met mede-reisgenote.

1. My innerlike “bucket list”

My innerlike “bucket list” sluit my denke in oor wat ek nalaat. Erfenis dui meer op die ontvanger van materiële goedere soos geld en eiendom. Uit die baie verhale wat ons hoor kan die voorwaardes van trusts en testamente ’n seën of ’n vloek wees vir die oorlewendes. Aan die anderkant is my nalatenskap die gevoelde betekenis wat ek nalaat in die gemoed en harte van ander. Belangrike lewenservaringe wat van sleg na beter gegaan het eerder as ervaringe wat eindig in tragedie maak ’n bydra tot toekomstige geslagte – dit genereer ’n meer kragtige en betekenisvolle nalatenskap. Nalatenskap in sy beste vorm is die kern van dankbaarheid dat daar iets is eerder as niks.

2. Daar is iets eerders as niks

Iets eerder as niks? Is daar ’n God die Skepper of is alles toeval?  Die kanse, as ’n mens dit wiskundig sou uitwerk, dat die boustene van lewe toevallig ontstaan het, soos byvoorbeeld DNA (die hoof komponent van chromosome en die draer van genetiese inligting) tot die transkribering van RNA (wat die bloudruk van DNA tot uitvoering bring), en amper 2000 ensiemes (proteïne wat die chemiese reaksie van organiese molekules bespoedig) kan nie numeries bereken word nie. My geloof in ’n Skepper hang nie af van hoe Hy geskep het nie. As die lewe net ’n ewekansige toevalligheid is, is die noodwendige konsekwensie dat daar geen absolute betekenis en doel vir ons bestaan is nie.

3. Om te heg en te ontheg – vashou en laat gaan

Om geheg te wees aan iets of iemand en dan te treur of rou oor die verlies van dit te laat gaan of te ontheg is ’n fundamentele kenmerk van ons lewens. Om die kaf van die koring te skei op die gebied van hartseer en rou oor die verliese, afwesigheid van iets of iemand en die tragedies in ons lewens is ’n groot uitdaging. Maak dit toeganklik vir jouself - eien hulle. Moenie dit in die binnekamers van jou kasteel toesluit nie. Beide om geheg te wees en dan te ontheg of dit te laat gaan, het een ding in gemeen: hulle repudieer ons geneigheid om die alledaagse lewe as vanselfsprekend te aanvaar.

4. Plesier en pyn

Hegting en onthegting, plesier en pyn gaan hand aan hand. Die Britse essayis G K Chesterton het iewers geskryf dat betekenisloosheid nie alleen kom van pyn en lyding nie maar maar eerder van die moegheid en teleurstelling wat ons ervaar oor die leegheid en doelloosheid van ’n grenslose strewe na plesier. Die kaf van die strewe na plesier kan die betekenis van my lewe ’n dodelike wond gee.

5. Die donker kant van die siel

Aftrede en ouer-word kan lei, nie net tot neerslagtigheid, nie maar ook depressie. So byvoorbeeld kan die waarneembare afname van liggaamlike en psigiese funksies in ons gemoed beleef word as ’n aanval op ons identiteit en die erosie van die betekenis en doel van ons lewe. Wat liggaamlik gebeur, eggo in ons gemoed veral as ons innerlike lewe in konflik is met die realiteit van ouer-word.

6. Sosiale isolasie

Isolasie en onttrekking uit die samelewing kan lei tot die gevoel dat ek ’n banneling is op my eiland, ’n uitgeworpene van sinvolle deelname en ’n diepe gevoel van onderwaardering as mens. Om die waarheid van my omstandighede te aanvaar, om my psigiese wonde te eien en die harde terrein van rou en treur te onderskei, behels onder andere dat ek ’n gesprek, wat ek eerder sou wou vermy, moet kultiveer as versoening met myself en ander mense.

7. Tydelikheid

Die tydelikheid van die lewe vereis van my om ’n geestelike ingesteldheid tot verandering, die verbygaande, kwesbaarheid en verganklikheid op te bou. Ek moet ook hier my roeispaan plant.

8. Lewensdrumpels

My lewensgang word gepunktueer deur allerhande soorte drumpels. Aftrede is een so ’n drumpel. Om oor ’n drumpel te tree, transformer my lewe na nuwe, tog onbekende, onsekere, selfs vreesaanjaende onomkeerbare plekke. Tog is hierdie oorgange van die lewe geestelike poorte wat lei na die essensie van wat dit beteken om te lewe.

9. Aannames oor verbondenheid

Die antwoord op die vraag of ek verbind is aan iets of iemand, behoort aan iets of iemand (nie as besitting of eiendom nie) is die bron van my verhoudinge, deelname, interaksie, beweging, oortuigings, werk en strewe. Die kaf van die koring geskei inspireer my vryheid van kulturele kondisionering en is ’n uitdaging om my aannames oor mens-wees en die lewe te bevraagteken. Dit inspireer my soektog na ’n uniek persoonlike verhouding met die dieper misterie van lewe.

10. Ouderlingskap

Ouer-word maak van my ’n “ouderling”. My “ouderlingskap” verbind my met die sorg en rentmeesterskap van die aarde en alle lewende wesens. In dié sin is ouderling die toppunt van wat oudword beteken.

11. ’n Morele orde – goed en kwaad

As ek sê daar is iets soos die bose, moet ek veronderstel daar is iets soos die goeie. En, as ek sê daar is iets soos die goeie, moet ek veronderstel daar is ’n morele orde of wet wat onderskei tussen goed en kwaad. Nog meer, ’n morele orde veronderstel ’n morele Wetgewer. Sonder ’n Wetgewer bly moraliteit ’n abstraksie met geen intrinsieke waarde vir die lewe, myself en ander nie. 

12. Wat is die waarheid?

 Hoe beoordeel ek die waarheid, die goeie en die skone? Die strewe na die waarheid het ’n lang geskiedenis. In my verleentheid oor die kompleksiteit van hierdie vraag, het Felipe Fernandez-Armesto my gehelp om die kaf van die koring te skei met vier kompeterende en terselfdertyd samewerkende kategorieë:

a) Die waarheid, die goeie en die skone wat ek voel, subjektief of persoonlik en intuïtief begryp.

b) Wat ek voel, word aangevul met wat aan my vertel is. Wyse en begaafde mense wat vertel en beskryf wat die waarheid is, soos bevat in die letterkunde, wysheidsliteratuur en religieuse bronne. Hulle is die bemiddelaars van my begrip van die waarheid.

c) Tog keer ek altyd terug na my verstand, my rede as middelpunt in die swaai van die pendulum tussen my skeptisisme, my twyfel en my verwondering en entoesiasme. Wanneer ek my gevoel en passie nie vertrou nie, omdat ek te subjektief is of as ek die gesag van ander verwerp, vlug ek altyd na my verstand, my rede. Wanneer ek dit wat ek sintuiglik waarneem as delusie en my insigte as fantasie of irrasioneel beskou, krul ek op in die baarmoeder van rede. Ek is altyd aangetrokke tot die oortuigingskrag van die “goue middelpunt”. Tog vra ek myself: Is my rede redelik? Of my rede nou in voeling of uit voeling is met die waarheid, het dit tog potensieël ’n voordeel bo die waarheid wat ek voel en die waarheid wat aan my meegedeel en vertel is.

d) Die waarheid soos dit sintuiglik waargeneem word, is verfyn tot die wetenskaplike metode wat ’n dominante metode met al sy verbasende winste van die soeke na waarheid geword het. Maar die wetenskap kan nie die enigste en finale arbiter van die waarheid wees nie.

Die soeke na die waarheid is ’n stryd vol slaggate en gevare. Dit is deel van die oorlog teen chaos, ’n strawwe ritueel om die werklikheid te ontworstel van twyfel en om dit te red van ’n verswelging van niksheid. Geleidelik in die tweede helfte van my lewe beweeg ek uit die saal van reflekterende spieëls met sy verskillende beelde van die werklikheid en waarheid.  Natuurlik maak ek nie staat op net een of twee van die spieëls van epistemologiese metodes nie. Al vier het hulle plek, al vier het hul swakhede, maar almal moet bydra tot ’n weerspieëling van die lewe en my ware self. Dit is ’n kwessie van hoe om te leer hoe om te sien. Dit neem ’n hele leeftyd om die waarheid goed te sien.

Ek het gedink ek het vir myself die antwoorde op vrae soos:  Wat is die betekenis van my lewe? Hoekom lewe ons?  Hoekom is ons op die aarde geplaas in hierdie eeu? Waarvoor lewe ek? En, as ek tot sterwe kom, en niks is blywend nie, watter sin maak dit alles? In die werklike lewe was sommige van my antwoorde gekonstrueer volgens die kollektiewe konformistiese en individualistiese voorhande oplossings wat die opponerende kragte van my vrees vir die lewe en my vrees vir die dood (tydelik) kon transendeer: ’n Goeie man, ’n goeie pa en oupa, ’n goeie kerkman, ’n goeie burger, harde werk en “kultuur”. Aftrede as ’n oorgangsfase lei nie noodwendig tot ’n eksistensiële krisis nie, maar konfronteer ons tog met ’n eksistensiële uitdaging. Aftrede, soos vele ander onderbrekings in ons lewens, lei tot die beëindiging van belonings wat gepaard gaan met prestasie, lojaliteit en ander tradisionele werk en professionele praktyke. So ’n onderbreking of be-eindiging bring nogtans die vrae oor die betekenis en doel van lewe na vore.

Soms word ’n onderskeid getref tussen die betekenis van my lewe en die doel van my lewe. Streng gesproke verwys betekenis na die samehang en orde van die my lewe, hoe alles in mekaar sit, terwyl doel na die gerigtheid, eindpunte en doelwitte wat die moeite werd en vervullend is, verwys. In die gewone gang van die lewe word betekenis en doel as sinonieme gebruik. Die betekenis van lewe word ook bepaal deur die breedte van beskikbare bronne (soos vryetydaktiwiteite, kreatiewe vaardighede, interpersoonlike verhoudinge, geloofsoortuiginge ens) en die diepte van ons waardes waartoe ons verbind is.

Nogtans is daar oomblikke wanneer ek in my gewete in die openheid van my bestaan met my sterflikheid as finale horison gekonfronteer word met die vraag: “het ek, kon ek en moes ek nie?”. Meestal is ’n poging om hierdie vrae te beantwoord, vrugteloos. Party mense, soos hulle ouer word, word soms verteer deur verwyte. Ons wens ons het meer gedoen, meer gesien, meer bereik. Soms wens mense hulle lewens het anders uitgedraai. Soms wens hulle dat hulle kinders of hulle gemeenskap hulle meer waardeer.  Verwyt beteken om te ween, dit is ’n klaaglied oor die dooies, verlore geleenthede; gedane sake; ’n jammerte oor iets gedoen of nie gedoen nie. Eintlik is verwyt die faling van voldoende insig in ons lewens. Verwyt is soos ou vermufte brood ‒ ’n emosie wat geen voedingswaarde het nie. Berou is anders. Dit het inhoud en krag. ’n Krag wat met ons gewete geassosieer word en soos ’n stem uit die diepte van ons siel kom.  Berou is soos ’n beitel wat kap aan die dinge wat ons gedoen het met mindere wysheid. Dit dien ons en laat ons nie slegs skuldig voel nie. Het ek gehoor gegee?  – wat ook ’n “eksistensiële skuld” genoem word. Die lewe skuld my niks nie, maar skuld ek die lewe? Het ek in my on-gehoor-saamheid my oor gedraai na ander belange en daarmee my lewensreis omskep in iets negatief, wat lei tot selfverwyt ,wat my so magteloos gemaak het dat ek ’n slagoffer geword het?  ’n Witgeverfde graf, wat van buite mooi lyk, maar daarbinne vol doodsbeendere is. Ommuur in verveeldheid, want my ontluikende en beblomde wêreld het ’n woesteny van droë klippe en bene word — selfs al het ek soos talle konings in die verlede met titaniese moeite daarin geslaag om ’n keiserryk te skep wat my aansien verhoog en selfs beroemd gemaak het. Man van staal. Masker van staal. Ja, ek het dit baie gehoor: die Clint Eastwood-gesig. ’n Staalhouer. Ek kom uit die harnas net met brandewyn en coke. Heng, en as ek uit is, verloor ek vorm en kan maklik ’n gek van myself maak sonder dat ek dit weet. Die volgende dag hang ek oor ’n draad van staal soos ’n sprinkaan wat die laksman uitgehang het om te droog. Hiermee het ek net nuwe probleme vir myself geskep wat gaan lei tot geleidelike afwagting van my disintegrasie. Oorlog/konflik en onbeheerste humeur is ’n uitlewing van onkunde; verwyte kom te laat. Nogtans besef ek dat elke mislukking om ’n lewenssituasie of lewenseis te hanteer toegeskryf kan word aan my beperkte insig, beperkte bewussyn, gebrekkige innerlike kennis, onbewus. My siening van wat die lewe behoort te wees, korrespondeer nie met die hoe die lewe werklik is nie.

God het my geskape met die vermoë om lief te hê en die opsie om daardie liefde te verwerp; om te vertrou en ook die vryheid om te twyfel; om keuses te maak met ook die verantwoordelikheid om die gevolge van die keuses in die oë te staar en te aanvaar. Die kern van hierdie eienaardige moeilikhed, lê in die feit dat ek baie keer weier om te erken hoe vleeslik ek ingestel is, soms geil en onwelriekend. Dit verberg ek met parfuum, wit pleister en verbeelde her-interpretasies wat maak dat ek die muggies uitskep asof dit iemand anders se fout is en die kameel insluk. My verstand bly toe, gesluier. My gebed word ’n pleidooi: “Here neem die sluier weg. Verwyder die sluier oor my gesig, open my oë”. As die sluier verwyder word, word ek “al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word”. So baie het dit al op verskillende maniere gesê, ons ly almal aan ’n tragiese geval van onvolledige of verwronge identiteit. Die lewensreis vra dat ek met groter volheid myself word, om te word wie ek bedoel is om te wees. Gesluier leef ek vanuit my sosiale persona, soms ook ’n vals self. Ontsluier leef ek vanuit my ware self.

As my lewe nie ’n soeke was na die oorvloedige wat ek fisies, interpersoonlik, moreel, esteties, intellektueel en geestelik nodig het nie, dan sou ek nie myself berustend kon anker in die noodsaaklike nie. Ek is bewus van die balans tussen oorvloed en skaarste op alle vlakke van my bestaan. Ek het my roeispaan geplant en my offer van die bul, die vark en die ram gemaak. Daaruit het ek geleer dat ek met ’n openheid van hart en verstand, met ’n vernuwe dissipline my behoeftes kan vertrou en dat die ongemak wat ek ervaar wanneer my behoeftes nie vervul word en voldoening amper onbereikbaar is, steeds ’n goeie gids vir my lewe is. Dit het op my ouderdom, op my tweede reis, gelei tot uitkomste wat ver anderkant my gevoels- en berekeningsvermoë geleë is.

Die beweging van voltydse werk na aftrede bring komplekse veranderinge in ’n persoon se lewe. Vir party mense wag groot aanpassings in daaglikse aktiwiteite, leef-reëlings en finansiële status. Vir ander is die veranderinge meer sielkundig as ekonomies. Hulle word gekonfronteer met ’n her-evaluering van self-identiteit en sin van eie-waarde.In ’n kultuur wat status hoofsaaklik in terme van beroep definieër, vra aftrede ’n innerlike debat oor die betekenis van werk, oud-word en werkloos wees.

Twee Amerikaanse kollegas, Gail Hornstein en Seymour Wapner het daarop gewys dat die betekenis van aftrede verskeie betekennise vir verskillende individue het:

  1. Vir sommige mense is aftrede ’n oorgang na oudword en bejaardheid. Hierdie oorgang vereis voorbereiding vir die proses van oudword, ’n tyd om af te skaal en die vlak van aktiwiteit te verminder na ’n meer begrensde soort bestaan.
  2. Vir ander beteken aftrede die teenoorgestelde: die verwelkoming van ’n nuwe lewensfase ‒ Om uiteindelik te kan leef volgens ’n mens se eie begeertes en doelwitte, vry van die eise van ander. Aftrede is ’n tyd om nuwe projekte aan te pak, om lang verwagte doelwitte na te streef en die lewe ten volle te geniet.
  3. Of, aftrede is ’n voortsetting van die bestaande fases van lewe. Aftrede word nie beleef as ’n kritiese gebeurtenis van persoonlike belang nie.
  4. ’n Ander groep beleef aftrede as ’n opgelegde onderbreking en die verlies van ’n besonder waardevolle sfeer van werksaktiwiteit. Daar is geen vervanging vir die werkwêreld nie. Aftrede het geen instrinsieke waarde van sy eie nie. ’n Mens pas aan, maar daar is altyd ’n onderliggende verontrusting teenwoordig.

Wat die betekenis van aftrede nog verder kompliseer, is die betrokkenheid van belangrike huisgenote by die proses van beplanning van aftrede. Uit die oogpunt van die huisgenote kan die betekenis van die afgetredene ook enige van die vier bogenoemde stel betekenisse hê vir die huisgenote. Vir party mense is die beplanning van aftrede ’n persoonlike en eie-saak waarby die ander (soos eggenoot en inwonende volwasse kinders) minimaal betrokke is. Sommige huisgenote verkies dat die afgetredene die beplanning self en alleen uitvoer. Ander weer is baie ondersteunend en wil deel wees van die beplanning. Beide kan positief of negatief beleef word. Die rigting van die veranderinge by aftrede en impak op die lewens van almal wat betrokke is word hoofsaaklik deur die vlak van betrokkenheid bepaal. Konflik kan ontstaan wanneer die huisgenote se verwagtinge nie ooreenstem met die afgetredene se perspektief nie.

Watter betekenisse ookal aan aftrede geheg word, vereis nogtans dat ’n mens rekening hou met temas soos oudword en die dood, ’n stadige proses van losmaking van die maatskappy of organisasie waar ’n mens ’n groot deel van jou lewe spandeer het. As afgetredene is dit belangrik om my sin van identiteit te hersien en selfs weer te konstrueer. Wat ek hier wou beklemtoon, is hoe belangrik dit is om ’n interne struktuur te ontwikkel wat die eksterne struktuur wat deur die werk voorsien is, te vervang. 


Eindnota

1 Uit die oorspronklike Grieks vaardig en “raak” vertaal deur J.P. J. van Rensburg. Human en Rousseau, Kaapstad en Pretoria, 1963.

  • 3

Kommentaar

  • Nico M Ferreira

    Tog te bly die gewone twak "dat jy nou 20 miljoen Rand nodig het om af te tree" nie aangehaal word nie.
    As jy nie lus is om die miljoen woorde te lees nie, lees ten minste die laaste drie paragrawe - dis absoluut waar.

  • Iemand moet omtrent akademies geskoold wees en diep dink voor hul aftree.
    Nogtans stof tot nadenke.

  • Gedagtelose dae verkies ek nou: die worsteling na insig oor my bestaansreg en die betekenis van my kortstondige bestaan , het ek in die jonger tyd deurgeworstel. Nou dans ek soos Zorba op die strand en lag so bietjie vir myself oor ek als wou verstaan. Rex verwoord ons reis goed maar die Nederlandse digter sê "die aankoms bly uit": antwoorde en konklusies is soos 'n land wat ons misgevaar het - laat ons die sterre van die dek af bekyk.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top