Die einde van die man?

  • 3
Koop The Second Sex by kalahari.com
Koop Men are from Mars, women are from Venus by kalahari.com
Koop Y – The descent of men by kalahari.com
 

Toe Simone de Beauvoir in 1949 haar grensverskuiwende blik op die 20ste-eeuse vrou met The Second Sex werp, het sy beweer: “’n Man sal nooit ’n boek oor die besondere toestand van die mansmens skryf nie” – ’n siening wat sedertdien herhaaldelik verkeerd bewys is.

Die komplekse verhouding tussen die twee geslagte en die wyse waarop hierdie verwantskap uiting vind in Homo sapiens, het deesdae ’n populêre tema geword, en die antropologiese, psigiese, fisieke en ander verskille tussen vrou en man, in al hul groeistadiums, vind gereeld uiting in wetenskaplike en ook pseudowetenskaplike studies. Boeke oor die tema – dink maar aan Men are from Mars, women are from Venus deur John Gray, waarvan meer as sewe miljoen verkoop is – haal gereeld die topverkoperlyste.

Een van die eerste van hierdie boeke was Jeremy Cherfas en John Gribbin se The redundant male – Is sex irrelevant in the modern world? wat in 1985 verskyn het. In ’n bespreking van die boek in The New York Times verwys Lionel Tiger, professor in antropologie aan Rutgers-universiteit en skrywer van Men of groups, na statistiek oor mans: Cherfas en Gribbin “describe how males are more than three times as likely as females to die between the ages of 20 to 30, from accident, suicide, homicide and self-poisoning, usually with drugs and/or alcohol. The authors relate this to blundering reproductive self-advertisement, to males' overkill effort to impress females with their energy and valor. They link the sexual double standard to men's effort to enjoy both frequent opportunities to father offspring, preferably without the cost and travail of rearing them, while retaining some sense that the children they do help raise are their own.”

Die onmoontlike posisie waarin professionele vroue verkeer wat ’n gesin moet versorg en ook ’n loopbaan moet volg, het skerp in die kollig gekom toe Anne-Marie Slaughter van Princeton-universiteit se politiekewetenskapdepartement in ’n omstrede artikel in The Atlantic Monthly (Julie/Augustus 2012) veral feministe die harnas ingejaag het. Haar artikel, “Why women still can’t have it all” is daarna meer as ’n miljoen keer op die tydskrif se webwerf gelees en het tot ’n stroom briewe gelei, heelwat ter ondersteuning van haar standpunt. Slaughter was twee jaar lank die direkteur van beleidsbeplanning in die Amerikaanse departement buitelandse sake, die eerste vrou wat die pos beklee het, en het ten nouste met Hillary Clinton, die minister van buitelandse sake in die Obama-administrasie, saamgewerk. Sy het egter teruggekeer na Princeton omdat sy nie haar werk in Washington en haar gesinsverpligtinge in Princeton met mekaar kon versoen nie.

’n Insiggewende boek, waarskynlik die sterkste vanuit ’n wetenskaplike oogpunt van al die stroom boeke wat oor die man-vrou-onderwerp verskyn het sedert De Beauvoir se boek die feministiese bal aan die rol gesit het, is die genetikus Steve Jones se Y – The descent of men. Jones is bekend as een van die min wetenskaplikes wat toeganklik oor komplekse wetenskap kan skryf en is talle kere bekroon vir sy boeke. The language of the genes het in 1994 die Rhône-Poulenc-wetenskapboekprys gewen en sy herbesoek van Darwin se The origin of species in Almost like a whale (1999) het die kortlys van dieselfde prys gehaal. Soos met laasgenoemde werk bring Jones weer ’n besoek aan een van Darwin se belangrike werke en Y – The descent of men is ’n fassinerende en hoogs insiggewende studie van die manlike spesie in die natuur, gebaseer op nuwe kennis sedert Darwin se The descent of man in 1871 gepubliseer is.

Waar Darwin hom in The origin of species nie oor die mens in die evolusieproses uitgelaat het nie, doen hy dit twaalf jaar later deeglik in The descent of man en toon uitvoerig aan waarom die mens ’n primaat is wat van ander ape afstam – ’n bevinding wat in die 20ste eeu en die eerste dosyne jare van die 21ste eeu universeel  aanvaar word, “except by those determined to delude themselves,” soos Jones opmerk.

Jones se boek toon aan hoe moderne biologiese studies deel van populêre kultuur geword het, maar dat dit ’n probleem skep omdat mense dikwels te hoë verwagtinge van die wetenskap het. Wetenskap is die beste manier om die wêreld te begryp en Jones haal die Nobelpryswenner-fisikus Niels Bohr aan wat wetenskaplike beoefening vergelyk het met die opwasproses ná ete: vuil skottelgoed, ’n vuil opwaslap en vuil water, maar – asof deur toorwerk – kom skoon borde aan die anderkant uit. Oor filosofie het Bohr ironies opgemerk dat die resultaat dieselfde is, maar sonder die water.

Twee van die interessante feite wat Jones oor die manlike geslag noem (hy neem nie net Homo sapiens se mans onder oë nie, maar ook ander soogdiere en spesies s’n), is:

  • Mans van die spesie Homo sapiens kopuleer ongeveer 50 miljard keer ’n jaar, wat neerkom op ongeveer een miljoen liter semen per dag, soveel soos die Vaalrivier by sy oorsprong lewer. Maar elke sekonde, in ruil vir hul 200 000 miljard globale sperms, word net vyf kinders gebore.
  • ’n Man wend hom tien keer meer tot moord as ’n vrou, en het ’n vyf keer groter kans om vermoor te word.

Een van die interessantste hoofstukke in Y is “Man mutilated”, ’n skerp wetenskaplike blik op die mense se tradisies van besnydenis, manlik en vroulik, en kastrering. Jones skryf: “All mammals possess a prepuce, but Home sapiens alone has the urge to destroy it.” Hy verwys na Maimonides, die Joodse filosoof en geskiedskrywer uit die 12de eeu, se absurde siening in Guide for the perplexed dat besnydenis “’n weg is om die man se morele tekortkominge reg te stel”. ’n Vyfde van die mans op aarde – ongeveer 700 miljoen – is besny en Jones maak die geldige opmerking dat die meeste mense in die ontwikkelende wêreld die genitaliese mutilasie van meisies verafsku, “but their brothers are still attacked without question”. Vandag is geen mediese organisasie ter wêreld ten gunste van besnydenis nie, selfs nie te midde van twyfelagtige studies wat toon dat besnydenis MIV/Vigs kan voorkom nie. “[T]hose who do it must realise that they do so for reasons symbolic rather than scientific.”

Jones se ontleding van die manlike geslag, die Y-chromosoom-draer, span wyd en hy kom tot die gevolgtrekking dat ons, danksy moderne biologiese wetenskap, genetika en studies van die sosiale interaksie tussen mans en vroue die afgelope eeu, in die middel is van die opkoms van die vrou met ’n ekwivalente daling in die waarde en status van die man. Hy beskryf die man se kwynende lot as “geënkodeer in die Y-chromosoom”.

Jones se gevolgtrekking, al dink mans hulle is steeds die konings van die planeet, is dat seks nie die wêreld laat draai nie. Of, in die meer ekonomiese woorde van Mark Twain: “Die mens is die enigste dier wat bloos – of dit behoort te doen.”

  • 3

Kommentaar

  • Klink my Niels Bohr was die Peter de Villiers van fisika... 🙂

     
    In ieder geval, vroue kan teorieties reeds sonder mans klaarkom, noudat kloningstegnologie beskikbaar is. Mens kan jou 'n toekoms voorstel waarin mans uitgewis word en daar net vroue oorbly. 
     
    Met kloning kom nuwe probleme, maar ek dink binne die volgende paar dekades sal tegnologie bestaan waardeur vroulike selle kunsmatig in spermatozoa omskep kan word, waarna twee vroue, of selfs 'n enkele, kinders kan produseer deur in vitro bevrugting wat nie blote klone van hul ma is nie. 
     
    Ek wonder of enige wetenskapfiksieskrywers hierdie tema al ontgin het. Dalk tyd vir Leon Rousseau om aan 'n Fritzina Deelman-boek te begin werk?
     
    Die fundamentaliste is in vir 'n harde tyd...
     
     
  • julle moet tog asseblief nie dat Kobus hier lees nie. Hy gryp na elke strooi om  maagdelike geboorte van die bybel te bewys -- selfs partenogenese.

  • Baie interessante artikel George.  Ek dink juis die yljins is bio-ingenieurswese-wesens en/of klone - hulle is die robotniks wat moet kom takies verrig, waarnemings doen en dan verslag gee.  Ek reken met bio-ingenieurswese is ons op pad soontoe maar tot dan reken ek seks het gekom om te bly en as dit gaan gaan ek saam.
    Niels Bohr was 'n interessante ou.  Op 'n kol het iemand hom gevra hoekom 'n wetenskaplike soos hy 'n hoefyster as gelukbringer teen sy ski-hut se deur vasgespyker het en sy verduidelik was dat hy gehoor het dat, selfs al glo jy nie daaraan nie, werk dit nog.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top