Die eensaamheid van eensaamheid

  • 3

Eensaamheid. Wat is eensaamheid?

Is eensaamheid die verdroogde glimlag in jou vriend se gesig as hy vertel hoe sy dag was, maar sonder om te vertel hoe sý dag was. Is eensaamheid die gevoel van die arm student wat, geïsoleerd tussen die mooi, niemand het om sy gedagtes mee te deel nie.

Wat is eensaamheid werklik?

Is dit die ouma wat in haar kamertjie, alleen die tv moet gaan kyk, om haarself geselskap te hou? Of is dit die tiener wat met haar ma iets, enige íéts wil deel, maar bang voel om so te doen.

Wat is die krag van eensaamheid? Lê dit in die seer wat ons moet dra? Of lê dit in die verwagting dat álle mense maar net gelukkig móét wees?

Meer nog, waar lê die oplossing? Lê dit in inkerende sielsondersoek? Godsdiens? Of, massa mense om jou?

As dit só sou wees, was daar nie sielkundiges gewees nie. Ook net ateïste sou werklik eensaam kon wees, en stadsmense sou nooit kon weet hoe dit voel om alleen te wees, in 'n duisend mense se teenwoordigheid nie.

Die mag van eensaamheid is dit: om te glo dat eensaamheid vir ewig is.

Ons kan hóé eensaam wees in ons eie hier en die nou, maar sonder die hoop op ontvlugting vanuit die galg van eensaamheid, en die vernietigende uitwerking wat dit op jou eie klein wêreldjie het, bly dit uiters kompleks en op verskeie wyses sensitief.

'n Man was eendag voorgekeer, en die vraag aan hom gestel: "As jy die land kon regeer, wat sou jy graag wou verander?” Sy antwoord was eenvoudig: "Dat ons mekaar moet groet."

Want deurdat jy iemand groet, erken jy dat hy bestaan. Nie net vir hom nie, maar ook sy hele wese, sy denkwyse, sy hartewense en sy hoop. Sy karakter, sy belangstellings en al die dinamika wat die hóm, uitmaak.

Klein, en tog is die teenoorgestelde nog te meer waar: as ek jou nie groet nie, dan bestaan jy nie. Dit is, myns insiens die oplossing: dat ons die boodskap aan ander kan oordra, naamlik: "Ek aanvaar jou." Want, deur so te doen, leef ons voort op wat ons hoop om te wees. Ligdraers. Én om daardie besonderse boodskap van ander te kan ontvang.

En om dit te glo.

Elridus Grobler

  • 3

Kommentaar

  • Ek is eensaam. Ek weet wat dit is. Daar is mense om my. Ek is nog steeds eensaam. Ek stuur al vir myself "Please call me" boodskappe op my selfoon.

    • Ek is 'n Christen, daarom tel ek my seëninge, hou my besig met hoe goed dit met my gaan en wat JESUS CHRISTUS van my verwag, nou kyk ek watter mense om my probleme het, by hulle raak ek betrokke.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top