![]() |
|
Kunstenaar van Far Side-strokie: Gary Larson
|
In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.
Die arme mev Lombard van Zeerust – daardie klein dorpie in die destydse Wes-Transvaal. Sy het nog so ewe met haar motor in Gerhard Maritzstraat gery teen ongeveer 55 km/h toe daar 'n perdeby by haar motorkar invlieg. Sy het paniekbevange geraak toe die ding haar in die gesig aanval en haar boonop aan die linkerkant op die oogbal steek. Dit moes soos vuur gebrand het. Later het sy gesê dat sy doodsbang is vir 'n perdeby; trouens, vir énige insekte. Sy is boonop allergies vir 'n bysteek. Dit weet sy omdat sy voorheen deur bye gesteek is en daarna inspuitings moes ontvang.
Volgens mev Lombard se latere getuienis in die hof was sy ongeveer 15 tot 20 treë van 'n stopteken in Gerhard Maritzstraat toe die perdeby haar aangeval het. Sy het paniekbevange geraak en nie behoorlike aandag gegee aan die pad voor haar nie. Sy het nie by die stopstraat stilgehou nie en soos die noodlot dit wou hê, was daar 'n ander motor wat op daardie stadium reeds in die kruising was. Daar was 'n botsing en afgesien van beserings aan die insittendes van die ander voertuig, is beide voertuie ook ernstig beskadig.
Mev Lombard is daarna van roekelose óf nalatige bestuur aangekla (ek vervies my altyd as ons oor die radionuus hoor sus en so is van roekelose én nalatige bestuur aangekla; dis regtens onmoontlik). Ewenwel, mev Lombard is deur die landdros van Zeerust aan die ernstiger klag van roekelose bestuur skuldig bevind en tot R80 of 40 dae gevangenisstraf gevonnis. In vandag se geld is dit 'n boete van maklik R3 500, sou ek reken.
Mev Lombard het teen haar skuldigbevinding en vonnis geappelleer en die saak het op 26 Augustus 1964 voor twee regters van die hooggeregshof in Pretoria gedien.
Die regters het geoordeel dat mev Lombard se verweer eintlik was dat sy haar in 'n skielike noodtoestand bevind het. Die Engelse praat van 'n "sudden emergency". As sy met dié verweer sou slaag, sou dit beteken dat hoewel sy oor die stopstraat gery het, dit nie onregmatig was nie, want dan was daar 'n regverdigingsgrond; 'n regtens aanvaarbare "verskoning", as ek dit so kan stel.
Regter-president De Wet wat die uitspraak gelewer het,1 het gesê daar is baie onverwagte dinge wat op 'n pad kan gebeur. Die ligte van 'n voertuig wat in die nag bestuur word, kan skielik uitgaan en dan word van die behendige bestuurder verwag dat hy sy remme sal aanslaan om 'n ongeluk te vermy. Dit kan ook gebeur dat mens deur die ligte van 'n aankomende voertuig verblind word en dan word dit eweneens van jou verwag dat jy dadelik remme sal aanslaan en stilhou. Dit kan gebeur dat 'n klip deur 'n ander motorvoertuig teen jou motor se windskerm opslaan en dat jy skielik nie voor jou kan sien nie, en dan word dit nogmaals van jou verwag om dadelik stil te hou.
Vir die regter was die feite van mev Lombard se saak nie juis anders as die feite in die voorbeelde wat hy genoem het nie. Mev Lombard was baie naby aan die stopstraat, volgens haar eie getuienis. Teen 'n snelheid van 55 km/h was sy 15 treë van die stopteken en was sy al klaar te laat met die aanslaan van haar remme. Die regter het bygevoeg : "Ek sou verwag dat 'n redelike bestuurder – as 'n perdeby of enige insek by die venster invlieg wat miskien moeilikheid kan veroorsaak – dadelik sy remme [die regter het van ‘brieke’ gepraat!] sal trap en sy voertuig tot stilstand sal bring.”
Onder die omstandighede van mev Lombard se saak was die regter van mening dat sy nie van nalatigheid verskoon kon word nie en dat sy wel skuldig was aan nalatige bestuur.
Haar appèl was dus suksesvol, deurdat haar skuldigbevinding aan roekelose bestuur verander is tot skuldig aan die mindere alternatiewe misdryf, te wete nalatige bestuur. Toe moes die regter oor haar straf besluit en kyk net wat het hy gesê: "Wat die straf betref kan dié subjektiewe elemente tot voordeel van die appellante in ag geneem word: dat sy 'n vrou is; dat sy wel bang is vir 'n by; dat sy groot geskrik het en haar kop verloor het. Die versagtende omstandighede is hier baie ten gunste van die appellante. Myns insiens sal 'n genoegsame straf wees 'n waarskuwing en ontslag"; en hiermee het waarnemende regter De Villiers hartlik saamgestem.
Dis die goeie ou dae toe die feit dat iemand 'n vrou is, nog in haar guns getel het. (Van die ietwat neerbuigende “appellante” in die regter se uitspraak weet ek egter nie so mooi nie.)
1 Vgl S v Lombaard 1964(4) SA 346 (TPD)
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.


