Die droom vir NALN leef voort: ’n Gassprekersblik by die NALN45-gedenkgeleentheid, 24 Maart 2018

  • 1

Dames en here

Een oggend, so ’n jaar of vyf gelede, hoor ek op RSG ’n verslag oor die Museum van Historiese Motorfietse op Deneysville.

Die eienaar, John Boswell, praat deernisvol oor die meer as honderd ysterperde wat hy daar uitstal. Die oudste in sy versameling is eerder nog ’n fiets-met-’n-enjintjie-aan en stam uit 1906. Kosbaar in sy versameling, vertel hy, is die modelle waarmee renjaers van die ou Noord- en Suid-Rhodesië, en van die ou Republiek, kampioene geword het: Triumphs, Honda Black Bombers, Jawas.

Tja, nogal nie goeters om sommer so, sonder dat jou beskermengel Politieke Korrektheid se vlerkvere rys, te noem in die huidige klimaat nie, dag ek nog. Syne is so ’n kleinskalige weergawe van Johan Rupert se veteraanmotor- en -motorfietsversameling op sy wynplaas L’Ormarins, daar tussen Pniel en Franschhoek geleë. En daar is al by die hekke van daardie landgoed getoi-toi iewers die afgelope jare.

Terloops, toe ek ’n paar maande gelede op ’n dag daar was, het daar ’n saamtrek van Ferrari-eienaars hom afgespeel. Ek oordryf nie: tientalle en tientalle Ferrari’s, van so ver as van Saoedi-Arabië af gekom. Pronkperde, die karre én die eienaars!

Maar terug na John Boswell se Deneysville-motorfietsversameling: Uit die radiogesprek met hom het geblyk dat sy versameling hom plesier en trots besorg. Dis iets sinryks in sy lewe as motorfietsliefhebber. Hy kon sommer heelwat historiese en maatskaplik-ekonomiese kennis tot sy motorwerktuigkundigheid toevoeg. En dit geld nie net vir hom nie. Ander motorfietsentoesiaste het geesdriftig getuig van hoe waardevol sy werk ook was vir húlle én hulle waardering vir die masjinerie waarmee hulle sulke lekker ritte onderneem.

Vir die hele Deneysville hou Boswell se stokperdjie voordele in. Naweke kom bikers en motoriste van oraloor Deneysville toe om sy ysterperdveterane te bewonder – én om geld te spandeer daar in Deneysville se restaurante, kroeë en oornagplekke.

Slegs iemand soos ek, wat van motorfietse g’n bout of moer weet nie, het by die aanhoor van die RSG-insetsel ’n oomblik lank moes wonder: ’n help-my-trap uit 1906 ten duurste in een stuk en aan die loop hou? Watter praktiese nut het dit nog?

Heelparty van daai bikers sal waarskynlik dieselfde soort bedenking koester as hulle ons klomp, en hierdie plek genaamd NALN, vandag so kon bekyk en beluister. Tikmasjiene, lessenaars, briewe, manuskripte, ou boeke, noem maar op, van dikwels al gestorwe skrywers, ten duurste bewaar in so ’n yslike gebou, wat soveel ander, eietyds relevante gebruike kan hê?

Ja, daar ís mense wat so kan dink – en al gedemonstreer het dat hulle in sulke koerse dink. Volksblad kon ’n bietjie langer as ’n dekade gelede, in 2007, berig dat die destyds sloerende restourasie van die gebou waarin ons sit, as verskoning gebruik is “om die publiek en navorsers toegang te weier, terwyl politici die vertrekke vir hulle eie doeleindes benut” (Van Bart 2007).

Gelukkig is daar mense wat sulke bedenkinge met deeglike argumente tersyde kan stel. 2007 was ook die jaar waarin op onvoorspelbare, en haas onvoorstélbare, wyse ingrypend “getransformeer” is aan NALN. Die helfte van sy Afrikaanssprekende personeel is eensklaps verskuif om diens te gaan verrig in die Sotho-museum. Dié krisis vir NALN, en die openbare bohaai wat daaruit gespruit het, het – soos u hier in Bloemfontein waarskynlik weet – tot ’n erfenisberaad, bemiddel deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, laat in 2007 op die Kovsiekampus aanleiding gegee. Mathews Phosa, Corlietha Swart, Rudi Venter, Johan Lodewyk Marais, Fransjohan Pretorius en Hein Willemse was van die mense wat gepraat het. Hulle referate is in ’n 2009-nommer van die literêre tydskrif Ensovoort gepubliseer. Besonder insiggewend was die oorsig wat die voormalige hoofbeampte van NALN, wyle Otto Liebenberg, gelewer het oor “NALN se totstandkoming, ontwikkeling en transformasie, 1973–2004”.

Uit hierdie referate het geblyk dat al die positiewe dinge wat oor die Deneysville-motorfietsmuseum te sê is, eweseer, maar in veel omvangryker mate, van NALN en sy ligging hier in Bloemfontein geld.

Ek was bevoorreg om daardie erfenisberaad te kon bywoon en kennis te kon maak met die Afrikaanse digter Mathews Phosa, en met iemand soos die historikus Fransjohan Pretorius. Laasgenoemde se referaat was die eerste een van hom waarna ek tot op daardie tydstip kon luister. Ek onthou hoe hy die Belgiese historikus Henri Pirenne aangehaal het (Pretorius 2009):

Goeie geskiedskrywing staan op twee pilare – deeglike navorsing en ’n goeie verbeelding. As daar nie bewaring van dokumente is nie, gaan ons nie goeie navorsing kan doen nie, en gaan ons goeie verbeelding ons niks help om die verlede getrou te konstrueer en te verstaan nie.

Pretorius het in sy referaat ’n anekdote benut om die verband tussen (kennis van) die verlede en die hede voor die geestesoog te roep. “Dis ’n apokriewe verhaaltjie wat hom meer as 50 jaar gelede op die hoofpad tussen Johannesburg en Bloemfontein afgespeel het,” het hy verduidelik.

Daar was nog nie ’n snelweg nie, net ’n smal, ou teerpad. ’n Ywerige jongman het die lang pad per fiets aangedurf. Net buite Kroonstad vind hy dat die pad voor hom vurk. Die probleem was egter dat die padpredikant (of padteken) uitgeruk was en daar eenkant gelê het. Moet hy nou links of regs na Bloemfontein? Ná ’n bietjie kopkrap was sy oplossing om die padteken weer staan te maak sodat die een rigtingwyser na Johannesburg wys – die pad waarvandaan hy gekom het. Sodoende kon hy rekonstrueer watter pad hy moet neem Bloemfontein toe.

45 jaar gelede, toe NALN op hierdie dag en in hierdie maand in 1973 amptelik geopen het, was ek in matriek aan die Hoërskool President Steyn in die Waterbron-hoewegebied hier buite Bloemfontein. Ek kan onthou hoe my pa, van wie as jong man ’n drietal romans verskyn het, materiaal moes uitgrawe uit ’n ou kis om aan Petrus Nienaber af te staan vir NALN se versameling.

Daarna sou ek met baie van die NALN- en NALN-verwante geleenthede waarvan Corlietha Swart en Otto Liebenberg in hulle referate in die genoemde uitgawe (2009) van Ensovoort vertel, self beleef. Ek gaan maar hier en daar raak daaraan; ek wil u nie verveel nie, maar wel ’n argument of twee daarmee staaf.

Gerhard Beukes, hoof van die Departement Afrikaans en Nederlands aan Kovsies, waar ek vanaf 1974 studeer het, het ampshalwe in die destydse beheerraad van NALN gedien. Hy en ander van my dosente het ons jaar na jaar aangemoedig om deel van ons navorsingswerk vir letterkundewerkstukke by NALN te gaan doen.

Soos Liebenberg en Swart aantoon, was NALN vanaf die stigting daarvan die vergaderplek van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging (oftewel die BSV). Wyle Helen Cilliers, wat op hoërskool my Engelsonderwyseres was, het saam met haar man Stoffel ’n leidende rol in die vestiging van die BSV gespeel. Tydens my universiteitsjare het sy my ’n slag of twee gebel en spesiaal genooi om BSV-byeenkomste by te woon. Sy het kennelik meer vertroue in my skryftalent gehad as ek.

Later jare sou ek veral in die hoedanigheid van kursusaanbieder (’n keer of twee) en van skryfkompetisiebeoordelaar aan die BSV se aktiwiteite deelneem.

Ek onthou ook Saterdae se boekemark in die toring van NALN, waar ek ’n paar kosbare werke op die lyf kon loop. Dan was daar die nagtelike byeenkomste van die Vulture-klub (kultuuraasvoëlklub), hier in NALN se ketelkelder. Daar kon ek eenkeer ’n prys losslaan vir die voordrag, glo bra outentiek gedoen, van ’n paar dronkmansgedigte wat ek in Daniel Hugo en Etienne van Heerden se bloemlesing Miskien sal ek die wingerd prys raakgelees het.

Wees gerus – ek gaan u nie vanoggend probeer oortuig met ’n voordrag van daardie ryme nie.

Daar was sommer dosyne vierings, belewenisse soos nagtelike literêre toere deur Bloemfontein, boekbekendstellings, voordragkunstenaars wat kom optree het, lesings (waaronder die PJ Nienaber-gedenklesings), video-aande en koppe-by-mekaar-sit-geleenthede oor die afgelope dertig, veertig jaar hier by NALN waarby ek die genot gehad het om te kon wees of aan deel te neem. Ek onthou ook die “[goue] jare van selfgedrewe transformasie”, soos Liebenberg die tydperk tussen 1996 en 2004 in die geskiedenis van NALN in sy referaat genoem het. Die vestiging en ontwikkeling van die Nasionale Sesotho Letterkundige Museum – en die ironie waarop Mohlomi Moleleki van Afrikatale hier aan Kovsies gewys het: dat die meerderheid gepubliseerde literêre werke in Sesotho geskep is om in die behoeftes van die skolevoorskryfmark vanaf die 1960’s tot die 1980’s te voorsien. Of die keer toe die Kaaps-Afrikaanse digter Peter Snyders hier opgetree en sy studeerkamerinhoud vir bewaring aan NALN geskenk het. En die leeskringindabas en skrywerseminare van NALN as onderdeel van die Volksblad-kunstefeesprogramme, doer in die vroeë 2000’s, waaraan ek ’n keer of wat as referent kon deelneem.

Baie geleenthede wat leersaam én lekker was. Vanoggend is weer so ’n vieringgeleentheid. (’n “Verjaarsdagpartytjie” – so beskryf Leana dit in haar uitnodiging hiernatoe aan my.) Én dit gaan gepaard met ’n boekbekendstelling: dié van ’n bundel briewe deur wyle Elsabe Steenberg: Waar rats die ribbok gaan ... “Twee feeste op een dag” soos vanoggend se geleentheid geadverteer is, inderdaad. Die tradisie leef voort, al trek die personeelbesetting wat oorgebly het, swaar om die grote NALN-wa steeds deur die drif te kry.

Wat ek wil beklemtoon met dié opnoem van my eie ervarings rondom NALN, is twee punte. Eerstens: NALN is nie net ’n plek om (veral literêre) kennis te kom opdoen of bestaande kennis aan die bronne te kom toets nie; dis ook ’n plek van vriende maak. ’n Ontmoetingsplek van waaruit boekwurms soos ek en u die soort verhoudings opbou wat ’n lewe voller, gelukkiger en, ja, betekenisvoller kan maak.

Die tweede punt: Onlangs lees ek ’n Europees-geproduseerde referaatbundel met die titel The museal turn, oftewel “die museumwending”, van die tyd waarin ons ons bevind. Een van die redakteurs van die bundel (Coelsch-Foisner 2012:15) som die kenmerke van dié wending betreffende museums soos volg op:

  • belangstelling in die alledaagse lewe, in lewensgeskiedenisse en geskiedenis in die breë
  • die skep van uiteenlopende (kulturele) narratiewe, andersoortig as enkelvoudige meestervertellings
  • die op die voorgrond plasing van die waardigheid van mense eerder as van hulle slagofferskap in die verlede
  • die moontlikmaking van veranderende verhoudings (groter onderlinge wisselwerking) tussen die museum en die museumbesoeker
  • die uitstryking van maatskaplike verskille met die oog op besoekersvereenselwiging met die museumtematiek en -inhoud
  • die uitbreiding van museumbedrywighede sodat dit na die aard van teater neig
  • die vervaging van die skeidslyne tussen die elitêre en die populêre
  • ’n nuwe demokratisering om gemeenskapsbetrokkenheid en besoekerinteraksie te bevorder
  • skeppende betrokkenheid by die museum, byvoorbeeld die skep van plekspesifieke dramas en museumverhale en -toneelstukke.

Ek wil nie te maklik praat nie, en gaan ook nie ’n beargumentering onderneem om my uitlating in besonderhede te onderskraag nie – maar dit val my by die lees van die genoemde kenmerke op hoe NALN, oor die jare heen, in talle opsigte gedemonstreer het dat daar gestreef is om ’n eietyds relevante museum en navorsingsentrum te wees en te bly.

Laat my ook iets vertel van hoe NALN my as navorser te baat gekom het. Meer spesifiek ’n feit of twee wat demonstreer wat Liebenberg (2009:18–9) oor erfenisbewaring (dws “die bewaring van die outentieke, die preservering van die oorspronklike”) gesê het: dat dit nie ’n “opsie” of ’n “luukse” is nie, maar ’n “noodsaaklikheid”. “Die alternatief is ’n gemeenskap, ’n volk, ’n nasie, ’n wêreld wat aan kulturele Alzheimersiekte ly,” was sy gevolgtrekking.

Die afgelope twee maande het ek gewerk aan ’n hoofstuk vir ’n boek oor die digter Johann de Lange. My spesifieke fokus was sy werk as bloemleser; hy was die alleen- of medesamesteller van ’n goeie halfdosyn sulke keure en versamelings sedert die middel van die 1990’s.

Een van hulle was ’n keur uit die digwerk van Lina Spies tot 2010, met die titel Die skyn van tuiskoms. ’n Faset aangaande die verskyning van dié bloemlesing wat my geboei het, was hoe dit ’n werklik versterkte beeld van Spies se digterskap by die leser laat, dws in vergelyking met wat ’n mens sou hê as jy die bundels waaruit die gedigte gekies is, van hoek tot kant sou deurlees.

Etienne Britz skryf insiggewend oor haar digterskap in die literatuurgeskiedenis Perspektief en profiel. Britz meen ’n ietwat ouderwetse, elitêr-estetiese houding spreek uit haar verskuns sowel as uit sommige van haar openbare uitsprake, veral vergeleke by die werk van haar dikwels eksperimenterende tydgenote. Onder meer hierom was sy meermale “vatbaar vir miskenning en selfs ridikulisering onder die meer radikale verteenwoordigers van die generasies van sestig, sewentig en ook tagtig,” skryf hy. Haar poësie neem bowendien dikwels ’n betogende trant aan, vergestalt in hoofsaaklik beheerste maar dikwels ook, volgens Britz, “nogal breedsprakige ‘praatverse’” met ’n gebrek aan “intensiteit”.

De Lange se keur snoei baie sulke kritiseerbare kenmerke van haar digwerk weg; laat ’n mens derhalwe duidelik die sterker kante van Spies se werk sien. Op hierdie wyse tree voorts ’n groeipunt in Spies se oeuvre, soos haar toenemende religieuse nederigheid in die aangesig van die naderende lewenseinde, duideliker na vore. Momente van weerloosheid, wat in Spies se later bundels steeds meer dikwels verwoord word, en waartydens sy dan suggestiewer te werk gaan as in die betogende gedigte, is ’n ander bron van haar aantreklikste digkuns wat uit De Lange se samestelling opvallend blyk.

Die titel van hierdie keur is dus ’n goedgekose een om juis Spies se onthoubaarste bydraes tot die Afrikaanse poësieskat te benoem. By wyse van die relativering (“skyn”) impliseer Die skyn van tuiskoms dat reis en verlange eintlik die sentrale motiewe van haar oeuvre is. So word die tema van haar voortdurende (emosionele sowel as fisieke) migrasie, as “’n tipe tussenganger-figuur” (soos Victor 2010 dit noem), tussen die drie streke waarin sy haar tuis voel (die Noordoos-Vrystaat, die Boland en Nederland), gesinjaleer. Ook, by uitbreiding, haar verse oor die kosbare, wonderbaarlike aardse – maar waarin dan dikwels juis ’n bewussyn figureer van die tydelike van die belewing vanweë die mens se sterflikheid, óf waarin die lig van die hemelse afskyn.

De Lange se keur bestendig én versterk dus Spies se profiel as unieke, niemodieuse maar gewilde digter wat miskien nie poëtikale en tematiese berge versit het nie, maar toeganklik skryf “oor sentimente en menslike probleme van baie poësieliefhebbers” (soos Britz dit stel). De Lange het haar ’n digterlike guns bewys wat min digters sou wou versmaai – so het ek geredeneer toe ek die bloemlesing agt jaar gelede geresenseer het.

Wat ek nie destyds kon weet nie, was watter aandeel Spies self gehad het in die totstandkoming van Die skyn van tuiskoms. Nêrens op webblaaie of in die ander resensies wat verskyn het, was iets in dier voege te vind nie. Eers toe ek NALN in Januarie aangedoen het, kon ek getuienis hiervan vind in die lêerknipsels oor die bloemlesing. Francois Verster (2010), skrywer en argivaris in die Kaap, het naamlik in die tydskrif Kaapse Bibliotekaris vertel dat hy die bekendstellingsgesprek tussen Spies en De Lange oor die bloemlesing op Stellenbosch bygewoon het. Daar het hy verneem dat Spies self Die skyn van tuiskoms as bloemlesingtitel voorgestel het, én dat Spies De Lange geadviseer het oor die keuses uit die verskillende bundels – dat sy aangedring het op selfs strenger keuring van die gedigte as wat De Lange aanvanklik in gedagte gehad het.

Spies het dus self ’n deurslaggewende rol gespeel in hierdie verheldering en versterking van die beeld van haar digterskap – iets wat ek nie sou weet as ek nie daardie draai by NALN kom maak het nie. Hoe sou ek andersins daaraan gedink het om in hierdie verband te gaan nalees in Kaapse Bibliotekaris?

Terwyl ek my van ’n retoriese vraag bedien het – hier is nog een: Wie van u onthou die volgende gediggie van Totius?

Die aandete

Trane en brood.
’n Diepe geswyg.
En twee wat makeer.
’n Gebed en ’n sug.
En elkeen wyk stil
in die eensaamheid weer. (Passieblomme, 1934)

AP Grové (1977) skryf in sy poësieteorieboek Woord en wonder boeiend oor die dramatiese opbou van dié klein gedig. Passieblomme was ’n “bundel persoonlike liriek waarin die digter die dood van sy twee kinders verwerk [...]. [“Die aandete”] bring ons dwingend onder die besef van die stomme verslaendheid van ’n mens wie se weg ’n blote roetinegang geword het,” verduidelik Grové. Die afwesigheid van enige geselligheid word op verskeie vlakke beklemtoon. Die “[d]iepe geswyg”, dat elkeen “stil/ in die eensaamheid” verkeer, word genoem; “die enigste woorde wat uitgespreek word, is tot God gerig”.

Grové wys daarop hoe die “taalmiddele” wat Totius aanwend, meespeel in hierdie verband: die kort sinne, met weglating van woorde wat veronderstel kan word (ellipse); die swaar pouses (met punte vasgelê) aan die einde van elke versreël behalwe die tweede laaste. “Dis amper asof die digter teen sy sin moet praat, of hy nie genoeg woorde het nie. Hier is geen plek vir swierige sinne nie. Dit alles is nie toevallig nie: in hierdie suinige woordgebruik word die stomheid, die huiwering om te praat tot ’n tasbare werklikheid gemaak,” meen Grové.

Hy kon bygevoeg het dat die verslaentheid, die lamgeslaanheid van die aangesetenes by aandete beklemtoon word deurdat dit juis die gesegdes is (waarskynlik iets soos “daar is”) wat telkens geëllipseer word in die eerste vier sinne. “Daar is” is bowendien nie ’n gesegde wat handeling uitdruk nie; eerder dat iets bestaan lós van die mens se wil of willekeur.

Eers in die slotsin is daar ’n werkwoord, bowendien “onderskraag” deur die enjambement om die beweging te help suggereer:

En elkeen wyk stil
in die eensaamheid weer.

Maar dan is dit ’n beweging, ’n handeling wat semanties eerder negatief gemerk is: “wyk”. Dié optrede “doen” letterlik niks om die situasie te verbeter nie.

Die kort gedig met sy kort versreëls laat ’n groot, amper oorweldigende stuk wit op die betrokke bundelbladsy onbeskrewe: ’n soort tipografiese vergestalting van die swaar swye en gemis. ’n Mens lei die belang wat Totius hieraan geheg het, af as ’n mens die oorspronklike uitgawe van Passieblomme ter hand neem – iets wat ek ’n stuk of 10 jaar gelede hier in NALN kom doen het. Die driekwart leë bladsy 23 waarop “Aandete” verskyn, só geplaas dat dit ongeveer in die middel van die bladsy staan, kontrasteer opmerklik met die langer, woordryker gedigte (met versreëls van aansienlik groter lengte) wat op die bladsye daaromheen afgedruk is.

Net een ander gedig in die bundel, die voorlaaste vers, benader die bondigheid van “Aandete”. In daardie gedig, met “Oomblik en ewigheid” as opskrif, word toegespeel op die sterftes van twee van Totius se kinders, veral op die skielike dood van sy dogtertjie aan die hand van ’n weerligstraal. By uitbreiding kom ook die besef van die kortstondigheid en nietigheid van ons almal se bestaan ter sprake.

Dié gedig is eweneens naastenby sentraal geplaas op die bladsy. Hier het die dominante wit klaarblyklik ’n ander betekenisfunksie. Die gedigtitel spel dit al uit:

Oomblik en ewigheid

Die oëmblik
van skrik
is lank verby;
die nuus is klaar vertel.
Die heug’nis gaan met my
verby.

Tog beef die tik,
dié oëmblik,
wyd oor die tyd,
in die ewigheid –
dit bly.

Terug by “Aandete”. Daar word dus wél iets afgedoen aan die gedig as dit saam met ander verse op ’n bladsy afgedruk word, en nie gesentreer word op die bladsy waarop dit verskyn nie – soos in DF Malherbe (1965) se literêr-historiese bloemlesing Afrikaanse verse. (Die enigste Afrikaanse multiskrywerbloemlesing waarop ék my hand kon lê waarin dié juweeltjie van suggestie opgeneem is – op dieselfde bladsy as “Hoe was dit haar?” en “Ek wou my ganse digkuns waag”, wat uit dieselfde oorspronklike bundel kom. En in nie een van drie keure uit Totius se digkuns wat ek op my boekrak het, verskyn die twee gedigte wat ek hier aangehaal het nie.)

Otto Liebenberg had reg: Vergeetsiekte staan voor die deur as die oorspronklike bronne verlore gaan.

U onthou die RSG-program oor John Boswell en sy motorfietse op Deneysville waaroor ek aan die begin vertel het? Toe hy die Tsjeggo-Slowaakse Jawa noem as een van die ysterperde daar by hom op stal, moes my gedagtes koersvat na toe ek skaars op skool was. Leon, ’n buurseun op die hoewes waar ek grootgeword het, het ’n blinkrooie gehad. ’n 500. Kock, my tweede oudste broer, se help-my-trap-motorfietsie het ... nouja, afgesteek.

Buurseun Leon het ouboet Kock help peuter aan die gedoentetjie se binnegoed. Die trappery help nie om die enjintjie te laat vat nie. Dan stoot hulle maar die “piskriek”. Heen en weer oor die werf. Later moet Pieta, my broer vyf jaar ouer as ek, in die saal op die piskriek sit, sodat Leon én Kock kan stoot.

Wragtig, daar vat die ding. En vrek dan snork-snork, daar waar die verbouereerde Pieta teen ’n oop voorhuisvenster vasgejaag het met hom.

Toe soek hulle ’n tou. Hulle gaan dan maar die vreksel met die Jawa sleep. Op en af in die sanderige plotpad. Naderhand gee hulle moed op, en hier kom die Jawa teruggegrom huis toe. Kock probeer sy sit op die piskriek hou, die sandbanke deur. Kort voor lank spring hy liewer af. Boë sand trek soos die help-my-trap agter die Jawa aan tuimel.

My broers sê egter ek onthou beroerd. Die piskriek is deur my óúdste broer, Willem, eendag van die universiteit af huis toe gebring. Kock het ’n poegaai Suzuki 50 cc iewers present gekry. Dis hóm wat hulle so gesleep het. En Leon se Jawa was g’n ’n 500 cc nie; die enjin was die helfte kleiner.

So iets. ’n Mens verbeel jou naderhand dinge só, hulle word égter as die werklikheid.

Mite, en ideologie, begin so.

Ek glo byvoorbeeld ons voormalige president glo hy kan onmoontlik skuldig wees aan Nkandla-skandes en sulke korrupsiesakies. Dis gewoon uitings van “radikale ekonomiese transformasie”, wat móés plaasvind ná alles wat in die geskiedenis sy mense, dus per definisie ook hóm, ontsê is.

Net as ons plekke soos NALN het, waar dinge nougeset opgeteken, gerestoureer en bewaar word, sal piskrieke nie as Jawas of selfs Ferrari’s kan paradeer nie. En: raak ons erg aan wat wás, te min, word dit makliker om vere te voel vir die bestaande.

Hoe het daar in die bundel The museal turn gestaan oor verskeie en uiteenlopende narratiewe wat staanplek gegee moet word as ons nie halwe feite tot dogma verbeel wil sien nie?

Verlede jaar het daar by Tafelberg-uitgewers ’n outobiografiese vertelling verskyn van Jennifer Friedman. Tans woonagtig in Australië, het sy egter in die jare vyftig en sestig van die vorige eeu as ’n nooi van Joodse afkoms op Philippolis grootgeword. Daar het sy in Afrikaans skoolgegaan. Haar boek, Queen of the Free State. A memoir, is in Engels, hoewel daar ook gedigte in Afrikaans van haar in tydskrifte verskyn het.

Sy vertel in haar memoires dat toe sy in standerd 5 was, haar ouers haar na ’n Joodse jeugkamp elders in die land gestuur het. Daar is onder andere ou swart-en-wit films oor die Nazi’s se uitwissingskampe vir Jode in die Tweede Wêreldoorlog vertoon.

Toe sy die volgende jaar op hoërskool kom, was Duits ’n verpligte vak in standerd 6. Sy het botweg geweier om die Nazi’s se taal te leer. Totdat haar ma haar vertel het van Heinrich Heine, die 19de-eeuse Duits-Joodse skepper van onder andere talle onvergeetlike gedigte. ’n Eeu vóór die Tweede Wêreldoorlog, gaan haar ma voort, het Heine ook die volgende profetiese woorde (oorspronklik in Duits) gespreek: “Waar boeke verbrand word, sal uiteindelik ook mense verbrand word.” Heine was een van die skrywers van Joodse afkoms wie se sogenaamde entartete (oftewel ontaarde) werke deur die Nazi’s verbrand is.

Heine se Duits was egter ook geskik om sulke skone verse en sulke kosbare gedagtes te verwoord soos dié van hom waarvan ons steeds ken.

Friedman vertel sy was daarna ’n toppresteerder in Duits.

Mag NALN blywend help bewys dat Afrikaans veel meer as apartheid was en is. Mag NALN bly soos Otto Liebenberg hom bestempel het: “’n kolos [...] iets soos ’n vliegdekskip [...]: swaarlywig en gedrae in sy maneuvrering, maar ’n versorgende en onderhoudende moederskip vol hulpbronne wat ’n hele diverse vloot kan voorsien. [...] Sela."

 

Bronnelys

Britz, EC. 1999. (Profiel van) Lina Spies (1939–). In Van Coller (red) 1999.

Coelsch-Foisner, Sabine en Douglas Brown (reds). 2012. The museal turn. Heidelberg: Universitätsverlag Winter.

Grové, AP. 1977 (1953). Woord en wonder. Inleidende studie oor die tegniek van die poësie. Elsiesrivier: Nasou Beperk.

Hugo, Daniel en Etienne van Heerden (samests). 1989. Miskien sal ek die wingerd prys. Ryme en gedigte oor wyn en sterk drank. Kaapstad: Tafelberg.

Liebenberg, Otto. 2009. NALN se totstandkoming, ontwikkeling en transformasie, 1973–2004. Ensovoort, 13(1):17–53.

Malherbe, DF. (Omgewerk en uitgebrei deur FV Lategan.) 1965 (1955). Elsiesrivier: Nasionale Handelsdrukkery Bpk.

Pretorius, Fransjohan. 2009. ’n Historiese blik op bewaring. Ensovoort, 13(1):96–104.

Spies, Lina. 2010. Die skyn van tuiskoms. ’n Keur uit die gedigte van Lina Spies (saamgestel deur Johann de Lange). Kaapstad: Human & Rousseau.

Steenberg, Elsabe. 2018. Waar rats die ribbok gaan ... Briewe van Elsabe Steenberg (saamgestel deur Sarel Venter. Kaapstad: Naledi.

Swart, Corlietha. 2009. Inleiding tot NALN. Ensovoort, 13(1):10–6.

Totius. 1934. Passieblomme. Bloemfontein: Nasionale Pers Beperk.

Van Bart, Martiens. 2007. Bylae by Die Burger, 7 Julie, bl 14.

Van Coller, HP. (red). 1999. Perspektief en profiel. ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis, Deel 2. Pretoria: JL van Schaik Akademies.  

Verster, Francois. 2010. Woordfees 2010. Indrukke by boekbekendstellings. Kaapse Bibliotekaris, 54(2):19-21.

Victor, Madri. 2010. Die skyn van tuiskoms teken ’n beeld van die digter (resensie van Die skyn van tuiskoms. ’n Keur uit die gedigte van Lina Spies, saamgestel deur Johann de Lange). LitNet Argief. https://argief.litnet.co.za/article.php?news_id=87934 [15 Februarie 2018].

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top