Die drama queens van die ANC (en die konings)

  • 1

Die “ANC–Afrikaanssprekede” gesprek op 8 Mei het die voorspelbare voorvertoning in die Afrikaanse media ontlok.

In die Flip Buys – Piet Croucamp gesprek met Cobus Bester op RSG (ook op 8 Mei) is die kernverskil tussen die opponerende standpunte duidelik gestel.

Solidaritet as die mees voortreflike beweging in Afrikaans is met reg keelvol vir die wispelturig-minagtende houding van die ANC teenoor Afrikaanssprekendes en hul grondwetlike en kulturele regte. Ek en miljoene ander stem saam en ondersteun dié Solidariteit-houding en hulle pogings om die ANC met mening teen te gaan.

Maar spesifiek oor die "hantering van gister" het ek en baie soos ek ’n broertjie dood.

Ons kan byna die grootkoppe in die ANC binnekamers se honende gelag hieroor hoor — oor die na?ewiteit van Afrikaanssprekendes — “we will get them hook, line and sinker”.

Die ANC moet eenvoudig net die been van uitnodiging-tot-gesprek in die Afrikaanssprekendes se hok gooi en hulle sal self vir die res sorg — en die gebeure sal as manna uit die hemel deur die sensasie-beluste Afrikaanse pers opgeraap word. Eenvoudig gestel: Die strategiese en welbekende appèl van “verdeel en heers” val reeds met die voorspel tot die samespreking in die ANC se skoot—die ANC het reeds gewen ongeag wat op die 8ste gebeur het.

Me Tina Joemat Pettersson is as die ANC drama queen gedoop.

Wil Flip Buys by die geledere van die drama kings van Afrikanerbond en FAK (eintlik maar net randeiers) aansluit om op “beginselgronde” weg te bly? Ou taal, ou strategie.

Eerder sou ek van Buys verwag om elke geleentheid wat aan hom gebied word aan te gryp om die mandjie ANC-vroteiers direk in hulle gesigte te gaan teruggooi — eerder as om vir Croucamp af te vaardig om sy aandrang op ’n goed-afgebakende gespreksterrein aan die ANC te stel. Buys se aandrang op ’ordelike’ gedrag sal in ons ’onordelike’ omstandighede geen hond haaraf maak nie.

Dikvelligheid is glad nie bewonderenswaardig nie, maar tog soms ’n bate.

Naas Viljoen

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top