...
Die chaos kan ook as jou draak beskou word wat getem kan word.
...
Title: Thinking the future – new perspectives from the shoulders of giants
Authors: Clem Sunter & Mitch Ilbury
ISBN: 9781776096299
Publisher: Penguin
Title: Future-proof yourself: How to win at work and life
Author: Nikki Bush
ISBN: 9781776095889
Publisher: Penguin
Wat het ’n draaktemmer, ’n jakkals, ’n krimpvarkie en twee selfhelpboeke met mekaar uit te waai?
Die toekoms, dít is wat hulle gemeen het.
Die laaste paar jaar het daar verskeie suksesvolle selfhelpboeke die lig gesien; onder andere The 4-hour work week (2007) deur Tim Ferriss, The productivity project (2016) deur Chris Bailey, Atomic habits deur James Clear en The power of habit deur Charles Duhigg, om slegs ’n paar te noem. Plaaslik het Thinking the future – new perspectives from the shoulders of giants (2021) deur Clem Sunter en Mitch Ilbury, asook Future-proof yourself: How to win at work and life (2021) deur Nikki Bush verskyn. Die laaste twee is vir Suid-Afrikaners deur Suid-Afrikaners. Dit is nie noodwendig nuwe idees of grondverskuiwende waarhede nie, maar bied nuwe perspektiewe omtrent sake wat ons tans in die gesig staar.
2020 was ‘n jaar van chaos en niemand het al die kristalbal opgespoor wat vir ons kan sê wat die toekoms verder inhou nie, maar hierdie twee boeke gaan kan jou dalk laat beter voel deur net anders te dink oor die situasie waarin jy jou nou bevind. Want Nikki Bush vertel ons in haar boek hoe om met die chaos te dans.
In hierdie bespreking gaan die laasgenoemde twee boeke hier bo beskou word.
Maar wag, waar pas die draaktemmer in? vra jy. Wel, ons gaan eers kennis maak met ’n reeks kinderboeke genaamd Hoe om jou draak te tem deur Cressida Cowell. In 2010 is die gewilde en nou bekende How to train your dragon-filmreeks vrygestel. In die reeks is die hoofkarakter, Hiccup, niks wat sy pa, Stoick, van sy seun verwag nie. Hy is nie dapper genoeg nie, nie gewelddadig genoeg nie, en is boonop pieperig. Hy doen dinge anders, hy dink anders en hy gaan teen die grein van alles waarin sy pa en die hele vikingdorp glo. Al die vikings jag en maak drake dood en sien hulle as ’n bedreiging.
Hiccup, ’n anderste outjie wat nie regtig inpas by die dorp se kinders nie, maak dan vriende met ’n skaars, dog oulike draak. Hy beskou drake na hierdie ervaring in dieselfde lig as wat ons vandag perde beskou: vriendelike diere wat mense kan help en waarmee jy ’n verhouding kan hê, amper soos ’n vuurspuwende troeteldier.
...
Die twee boeke wat ek bespreek, is die moeite werd om te lees, omdat dit insig bied in hoe om oor die toekoms te dink en jou nie dood te bekommer oor dinge wat buite jou beheer is nie.
...
Hierdie seun en sy pa kan vir ons as ’n analogie dien vir wat hierdie twee selfhelpboeke voorhou. Die chaos kan ook as jou draak beskou word wat getem kan word.
Thinking the future – new perspectives from the shoulders of giants
Die skrywers van hierdie boek is opgelei in, en het ’n agtergrond in, scenario-beplanning en die bestuur van risiko’s en belange in die korporatiewe wêreld asook die akademie. Hulle is kenners op die gebied van hoe mens te werk moet gaan met die onbekende en natuurlik die toekoms. Hulle benadering tot denke oor die toekoms berus op die skouers van die groot filosowe uit die Griekse en Romeinse filosofie, asook moderne filosowe. Daarom “from the shoulders of giants” in die subtitel. Die boek fokus dus op tradisionele filosofie, maar probeer nuwe perspektiewe daaroor met sy lesers deel.
Die konsepte van Isaiah Berlin se essay “The hedgehog and the fox” word deurgaans gebruik om verskillende aspekte bymekaar te trek. Dit is eintlik ’n storie wat baie soos die fabels van Esopus klink. En die hele boek word gestruktureer rondom hierdie twee karakters en hulle onderskeie karaktertrekke.
Berlin beskou die volgende figure as klassieke krimpvarkies: Dante, Lucretius, Proust en Nietzsche, Lee Kuan Yew, Margaret Thatcher, Jeremy Corbyn en Donald Trump. Hulle denke word gelei deur streng, tradisionele perspektiewe uit ’n enkele bron van fokus, dit wat hulle uitermate goed ken en verstaan. Al die kennis wat hulle oor ’n onderwerp besit, is binne ’n enkele verenigde raamwerk van kennis.
Hierdie perspektief se denke, stewig gesetel in die denke van die stoïsyne oor die toekoms, is dat alle data en inligting uit die verlede die oplossings bied vir die toekoms, omdat daar sekerhede uit die verlede is wat hulle planne ondersteun. Soms is dit wel so, maar hierdie tipe denke, waar die toekoms gebaseer word op kennis uit die verlede, lei meermale tot die korrektheid van enkele feite en nie oplossings vir die oorkoepelende probleem wat in die toekoms mag ontstaan nie.
Teenoor hierdie figure beskou Berlin die volgende figure as jakkalse: Herodotus, Montaigne, Goethe, Joyce, Ronald Reagan, Barack Obama, Adrian Gore en Angela Merkel. Hierdie figure word volgens hom as jakkalse beskou omdat hulle ’n saak vanuit verskillende perspektiewe kan waarneem en hulle planne daarby kan aanpas. Hulle is meer verspreid in hulle denke – hulle dink spreekwoordelik buite die boks en kan dit van al ses kante af waarneem en in ag neem.
Berlin lys selfs vir William Shakespeare onder sy jakkalsfigure en motiveer sy argument met die volgende aanhaling uit Hamlet: “There are more things in heaven and earth, Horatio, than are dreamt of in your philosopy” (Sunter en Ilbury 2021:7). Dit dui op die waarskynlikheid dat selfs iemand soos Shakespeare vanuit verskillende perspektiewe oor die toekom kon dink, aldus die perspektiewe van sy karakters.
Wie is dan die krimpvarkie en die jakkals? Die kort antwoord is dat Hiccup die metaforiese jakkals is en dat Stoick (ironies genoeg verwys sy naam reeds na die filosofiese denkskool van die stoïsyne) die krimpvarkie verteenwoordig.
Sunter en Ilbury beywer hulle deurgaans in die boek daarvoor dat wanneer ons denke oor die toekoms oorweeg, nie slegs ’n jakkalsperspektief of slegs ‘n krimpvarkieperspektief 100% effektief al wees nie, maar dat ’n gebalanseerde kombinasie van die twee perspektiewe oplossings kan bied.
Hier is die verhaal van Hiccup en sy pa, Stoick, nuttig, omdat die twee teenoor mekaar staan en teenoorgestelde kante van dieselfde saak verteenwoordig. Hiccup is ’n voorstander van ’n lewe in vrede saam met drake, ’n nuwe perspektief, omdat hy verander soos die situasie om hom verander het nadat hy sy draakvriend ontmoet het. Stoick is ten sterkste gekant teen enige drake op sy eiland en sê dat hy enige draak wat dit naby sy dorp waag, sal vernietig. Dit is hoe sy pa voor hom daaroor gevoel het, en sy pa se pa voor hóm. Die verlede en sy vorige ervaring ondersteun dus sy argument en perspektief. Dit is totdat hy hoor Hiccup het uitgevind dat daar vyande in die omgewing is wat Stoick se vikingdorp wil aanval en beroof. En dat Hiccup se drake vir hulle ’n beduidende voordeel inhou om hulle dorp te beskerm. Op die ou end word Hiccup en sy nuwe vriende met hulle drake ’n aanwins vir Stoick se plan om die dorp te red; sodoende werk pa en seun saam as ’n span om die onbekende gevaar te oorkom.
Op hierdie manier is die jakkals in Berliner se essay soos die draaktemmer wat op sy voete kan dink soos die situasie verander. Stoick is, net soos sy naam impliseer, deel van die krimpvarkies wat hope ervaring en spesialiskennis oor een onderwerp het – hoe om drake te verslaan. Stoick is daarom deel van die stoïsynse denkskool wat hou by wat werk en die verlede gebruik om hulle toekomsvisie te ondersteun.
Die uiteindelike lesse wat Sunter en Ilbury vir die leser by wyse van ’n analogie wil tuisbring oor die toekoms, is:
- Jy kan nie oor die toekoms dink deur te doen wat in die verlede gewerk het nie, maar hou daardie kennis byderhand.
- Jy moet soos Stoick en ’n krimpvarkie kan dink en jou kennis benut, maar ook die volgende punt is belangrik ...
- Jy moet buigsaam wees, op jou voete en buite die boks kan dink soos Hiccup. Jy moet kan dink soos ’n jakkals, want die toekoms is en bly onvoorspelbaar wat beteken jy moet aanpasbaar wees.
Aan die einde van elke hoofstuk is daar ’n reeks vrae wat die leser hom of haar kan afvra om die inhoud van die hoofstuk te oordink. Hier kan jy jou krimpvarkiebrein of jakkalsbrein inspan en nog lank stof tot nadenke hê. Hierdie, meer akademiese, bespreking van hoe om oor die toekoms te dink kan vir die leser insig bied. Dit kan die leser bewus maak van sy of haar eie vooroordele en potensiaal en tot nuwe perspektiewe oor sake lei wat nog nie oorweeg is nie.
Die element wat beslis hierdie boek anders maak as die hope ander filosofiese selfhelpboeke daar buite, is dat relevante Suid-Afrikaanse kwessies gebruik word om konsepte te verduidelik. Die pandemie word verskeie kere as voorbeeld gebruik. Maar globale kontekstualisering word nie prysgegee nie. Dit is duidelik in die bespreking van waarskuwingsvlae wat ’n jakkals kan help om besluite oor die toekoms te neem. Hulle gee die voorbeeld van ’n dogtertjie wat ten tye van die 2004-tsoenami-ramp in Oos-Asië die verskil in die terugtrek van die branders waargeneem het en haar ouers vertel het dat haar aardrykskunde-onderwyser vir hulle gesê het dit is ’n teken van ’n tsoenami (Sunter en Ilbury, ble 76–7).
As die skouers van die filosofiereuse nie in jou smaak val nie, sal Nikki Bush se boek insigte op ’n meer persoonlike trant kan bied oor die onsekerhede van die toekoms.
Future-proof yourself: How to win at work and life
Die boek is baie toeganklik geskryf en kan vir 'n student, 'n volwassene of middeljarige persoon met 'n gesin bruikbaar of interessant wees.
Dié boek sal jou help om jou opvatting van sukses te help herdefinieer. Wat nog beter is, is dat die skrywer self aanbeveel dat die leser nie 'n liniêre leesproses volg nie. Dit beteken die leser word nie oorweldig met inligting nie, en slegs dit wat op die leser se situasie van toepassing is, hoef van belang te wees.
Daar is wel ’n paar kernwaarhede en beginsels waarom die boek draai:
- Choas en ontwrigting bied die geleentheid om jou stelsel te “herstel” of te verfris.
- Daar is dinge waaroor jy beheer het en dinge waaroor jy nie beheer het nie.
- Behou perspektief, haal asem, staan stil en moenie paniekbevange raak as dit nie nodig is nie.
- Die wêreld en hoe ons dinge gedoen het, verander: Ons werk het verander; hoe ons skoolgaan het drasties die laaste jaar en ’n half verander; die werksplek het verander. Hoe jy op hierdie veranderinge gaan reageer, is die vraag wat Bush se boek jou probeer help oordink.
Die boek is Suid-Afrikaans-gerig en is van die meer toeganklike selfhelp boeke wat tans beskikbaar is. Bush fokus op Suid-Afrikaanse gebeure en probleme en beskou verskeie situasies binne die Suid-Afrikaanse konteks, maar plaas dit ook in ’n globale konteks, wat mens laat besef ons is nie die enigstes was voel soos roereier in ’n warm pan nie.
Die boek is tematies verdeel in vyf dele wat elk ’n ander aspek omtrent die chaos en die toekoms aanspreek. Bush meld spesifiek dat die eerste hoofstuk, “Dancing with disruption”, belangrik is om vir konteks te lees, maar daarna kan die leser self besluit watter dele om te lees, in watter volgorde ook al.
“Dancing with disruption” spreek inleidend tot die konsep dat jy nie alles kan beheer nie en eerder moet leer polka met die ontwrigting van chaos. ’n Goeie beeld is om te dink aan ’n seiljag: Dit kan nie die seestrome of die windrigting beheer nie, maar die seile kan verstel word om die beskikbare wind en strome te gebruik om steeds by sy bestemming uit te kom.
Bush het ’n paar interessante gedagtes om hier te deel, soos dat ontwrigting altyd die katalisator vir verandering is, en verandering altyd ’n ongemaklike storie is (bl 12). Die vraag wat reg aan die begin aan die leser gestel word, is of jy verandering gaan teenstaan, daarteen gaan baklei? Of gaan leer dans en aanpas?
Die tweede gedeelte, “Working remotely”, was besonder interessant, omdat dit gemik is op die vreemde dog bekende situasie van COVID-19 en om van die huis af te werk. Enkele individue is al ingeburger om van die huis af te werk – skrywers, deeltydse dosente, tutors, joernaliste en verskeie ander beroepe wat lankal die tradisionele “kantoor” verlaat het. Bush bespreek die verskeie aanpassings wat tydens die inperking in Suid-Afrika moes gebeur. ’n Baie belangrike aspek wat bespreek word, is iets waaroor verskeie instansies stilbly of met grasie probeer omseil – die uitdagings daarvan om tuis te werk en jou gesinslewe daarby aan te pas. Sy gee raad oor hoe om sekere aspekte te benader sodat jy nie heeltemal jou varkies verloor of dalk by die skeihof eindig nie.
Een van die interessante dinge wat bespreek word, is die verandering in die korporatiewe en werksmark. Die feit dat jy as potensiële werker gedurig nuwe vaardighede moet leer en ou vaardighede moet opskerp om te voldoen aan al die veranderinge in die mark, moet as ’n geleentheid gesien word en nie as ’n straf of struikelblok nie, of as ’n rede om op te hou werk in die beroep waarin jy tans is nie.
Die nuwe neiging om tuis te werk, kan voordele inhou:
- Meer tyd saam met familie
- Meer buigbare ure
- Moontlikhede om ander passies te kan volg
- Beter produktiwiteit
- Beter samewerking agv internetverbindings met kenners
- Besighede kan ook makliker groei of krimp, asook kostes bespaar.
Maar daar is verskeie nadele wat in gedagte gehou moet word:
- Toename in eensaamheid
- Standhoudendheid van motivering
- Slaap, omdat mense meer geneig is om buite gewone werksure te werk
- Mense vind dit moeilik om weg te breek van hulle tegnologie.
- Verskeie geestesgesondheidstoestande, soos angs en depressie, word ook ’n faktor.
Ons almal is deel van ’n eksperiment om ons plek te vind in ’n werksmark waar ons ’n nuwe manier van doen moet ontwikkel. Volgens Bush sou hierdie veranderinge in elke geval gebeur het; die pandemie het dit net help versnel.
“Building your resilience muscle” word gewy aan besigheidsgerigte aspekte soos hoe om verantwoordelikheid te neem wanneer ontwrigting plaasvind, hoe om situasies van groot ontwrigting te hanteer, hoe jy na sulke situasies kan kyk. Sy raak selfs meer persoonlike scenario’s aan, soos rou en verlies. Sy skryf in hierdie opsig uit ervaring. Die Suid-Afrikaanse leser sal beslis met haar verhaal kan simpatiseer.
In “Leading yourself” kom Bush na vore met die kruks van die boek: Die oplossing lê nie buite jouself nie, maar juis by hoe jy jouself kan lei. Die situasie kan nie verander nie, maar jy kan. Hier lei sy die leser na aspekte soos hoe om jouself vir die werksplek te ontwikkel en dat vaardighede die nuwe bates is om na te jaag en nie titels of handelsmerke nie. Sy lê as’t ware al die gereedskap vir jou uit oor hoe om met die chaos te dans sodat jy nie om die chaos dans nie.
Laastens, in “Leading your team at work and home” neem Bush ’n oorsig vanaf die ontploffing van chaos tot hoe jy prakties dinge in werking kan stel om te kan tango nadat die orkes verdrink het.
Binne elke hoofstuk is daar vraag-afdelings en oefeninge wat jy kan gebruik om stelselmatig deur jou eie chaos te werk. Of dit nou die skielike dood van ’n geliefde, die verlies van jou werk of ‘n ander traumatiese gebeurtenis is, bied Future-proof yourself beslis ’n insiggewende en praktiese blik op verskillende sake. Dit verskaf praktiese raad vir hoe om die groot Chaos te oorleef wanneer dit jou tref.
Nikki Bush is ’n motiveringspreker en het ook Future-proof your child for the 2020s and beyond in 2020 gepubliseer, want die veranderings waaroor sy in Future-proof yourself praat, is net so relevant vir ons kinders en hoe hulle wêreld oor 10 jaar gaan lyk.
Future-proof yourself bied belowende insig in ’n onderwerp waarvoor ons eerlikwaar geen definitiewe antwoorde het nie – die toekoms. Beslis die moeite werd om te lees as jy rigting soek en verkies om te tango eerder as om rond te val.
Hoekom hierdie selfhelpboeke lees?
Een ding is seker: Sou Hiccup en Stoick hierdie twee boeke gelees het, dan sou Hiccup se verhaal heel anders uitgewerk het. Jy sal maar self deur die boeke of films moet gaan uitvind wat met dié pa en seun gebeur.
Die twee boeke wat ek bespreek het, is die moeite werd om te lees, omdat dit insig bied in hoe om oor die toekoms te dink en jou nie dood te bekommer oor dinge wat buite jou beheer is nie. Sunter en Ilbury se boek bied ’n baie nugter en amper akademiese benadering tot die toekoms en ons denke daaroor, alhoewel hulle dit baie toeganklik maak deur die analogie van die jakkals en krimpvarkie te gebruik. Bush se boek, daarenteen, gebruik haar eie narratief om verskillende aspekte van die toekoms saam te weef en dit in verband te bring met kwessies wat spesifiek die Suid-Afrikaanse samelewing raak – en spesifiek die pandemie.
Al gebruik of volg mens nooit die raad en aanwysings wat in selfhelpboeke gegee word nie, is dit tog verrykend om ander perspektiewe en benaderings tot onderwerpe soos die toekoms en produktiwiteit te oorweeg.
Die draaktemmer, sy pa, ’n jakkals en ’n krimpvarkie kan ons tog help om oor die toekoms te dink en te praat.
Lees ook:
First sip: Thinking the future by Clem Sunter and Mitch Ilbury