die dood van god, deel I

  • 2

As al die gode doodgaan
Eers DAN leef die Godheid
In elke blaar, elke druppel,
Elke haar
Van elke dag en elke jaar
Woordeloos en toornloos
Vormloos, onklaar

Die dag toe die Here sterf
Het bloed eensklaps
Tot vanilla vervloei
Pedagogiek maak plek vir geil musiek
Gesing deur kerklose hemelkore
Anderkant begrip, bladmusiek
Of die diep tenore
Van die
Dogmatiek
Van vroeëre eeue

god is dood. Sela.
Dit sien ek, glo ek elke dag
As ek my tydlose, sabbatlose
Rooiwyn skink
In die aandskemering
Van daardie ou geloof.
god is dood
En godsdiens is oplaas gered
Van tirannie
Deur Arabier, predikant of Jood.

Soos Siembamba, so lê hy daar
Gelate in die sloot
Tussen twyfel en herinnering.

god is weg
En waar hy was
Is 'n gat wat soos die hemel
sing
    en sing
               
                  en
                  
                 
                      sing

 

Lees ook: die dood van god, deel II

  • 2

Kommentaar

  • Cilliers van Niekerk

    Nog altyd gedink jy's van nature mistikus
    Koos, en digter, natuurlik, beslis.
    Dié een se leuens waar
    se waarheid raar.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top