Kort na donker het ons aangeklop
Ons kos en drank al lankal op
In hierdie herberg van genade
Ver van stoornis, bloed en skade
Kan ons kom rus hier by die vuur
In stilte, vuisvoos, uur na uur
Gestroop van haat, op soek na troos
Om eindelik te kan verpoos
In die skadu van die Liewenheer
Wie gesterf het sodat ons nou weer
Kan lewe in sy aangesig
Soos oudsoldate van die lig
Want daar buite is die sout al laf
Hier haal ons ons medaljes af
En skink saam met U 'n glasie wyn
Op die broederskap van pyn
Lees ook: die dood van god, deel I


Kommentaar
Die Verlossing van 'n wêreld van "lig" as 'n donker kroeg? Ja (as ek nie te ver gaan nie), dit werk goed vir my. Beide verse waar en mooi, as jy my vra.