Die dood kom uiteindelik vir almal in Nieu-Mexiko

  • 0

Generaal Ben Viljoen, veteraan van die Suid-Afrikaanse Oorlog

Nes ek vir die eerste maal innig met Nieu-Mexiko kennis begin maak – dís nou as agterdoek én karakter in die ubervermaaklike televisiereeks Breaking bad – blaai ek Carel van der Merwe se baksteen van ’n biografie, Kansvatter (2019), oop, oor die lewe van generaal Ben Viljoen, veteraan van die Suid-Afrikaanse Oorlog (in minder woke tye die Anglo-Boereoorlog genoem), wat ná die ZAR se nederlaag na daardie Amerikaanse deelstaat uitwyk enkele jare voor dit in 1912 deelstaatstatus verkry.

Nooit sal ek, ná etlike reekse van wat baie kritici as die beste TV-reeks ooit beskou (oor ’n chemie-onnie, Walter White, gespeel deur Bryan Cranston, by wie longkanker gediagnoseer word en wat dan om den brode ’n tikfabriek oopmaak), weer sommer so, doodluiters en ongeërg, die Albuquerque Spur in Potchefstroom binnedrentel nie.

Dis immers in daardie stad – Albuquerque, nie Potchefstroom nie – wat in die eerste dekade van die 18de eeu deur die Spaanse conquistadores opgerig is, dat Walt en ’n oudstudent van hom, Jesse Pinkman (Aaron Paul), uit die gatkant van ’n vuilbruin RV (recreational vehicle, of kar en karavaan ineen), die demi-monde van Nieu-Mexiko se grootste stad van die suiwerste blou tik voorsien. En die beginrimpels van ’n beroering laat uitkring.

O nee. Agter die halflyfmuur wat die oop Potchefstroomse braaivure beskut hou, sal ek die geskreefde ogies van Gustavo Fring (Giancarlo Esposito) soek. Daar’s immers nie meer as ’n konseptuele hanetree tussen Los Pollos Hermanos en die Spur nie.

En in die ander eetluike sal ek twee kaalkop Spaans-Amerikaanse broers in metaalblink pakke verwag. Wat niks bestel en tesame niks eet nie. Net gluur.

Na regte is Breaking bad al as ’n postmoderne Western getipeer. Reeds in die eerste episode bevind Walt en Jesse hulle in die haaikaal Karooagtigheid wat rondom Albuquerque die verte in uitstrek. Gou vind die hedendaagse ekwivalent van ’n cowboy-skop-skiet-en-donderasie plaas. Gou sigsag impasto-bloedstrepe die RV se vloer vol.

Tereg is daar ook al opgemerk dat Albuquerque en die omliggende stuk van Nieu-Mexiko as’t ware ’n karakter in die reeks word. Lank en liefkosend talm die kamera immers veral oor die halfwoestyn wat Walt en Jesse so dikwels opsoek. Ironies genoeg soek hulle daar, in die oopte, juis ’n sluier wat hul ontluikende bedryf moet verdoesel.

Aan daardie droë ruimte is daar vir Suid-Afrikaners iets wesenlik herkenbaars. Só moes dit ook vir Ben Viljoen en sy familie – ouers, broers – gewees het, van wie baie in die jare ná die afsluiting van die tragiese skouspel van die Suid-Afrikaanse Oorlog hul rûe op Suid-Afrika gekeer het op soek na geleenthede in die vreemde.

Aanvanklik was hul heimat immers Robertson in die Klein Karoo – voor hulle metterwoon Stormberge toe uitgewyk het. En later weer heen en weer is.

Die feite wat Van der Merwe opstapel, plaas ’n vraagteken daaroor of Viljoen se vertrek uit sy vaderland werklik iets daarmee te make had dat hy en sy bloedgenote nie as oorwonnenes in Suid-Afrika wou agterbly nie. Immers had Viljoen hier ter plaatse talle planne in die oog, onder meer ’n politieke loopbaan.

Maar soos die titel van Van der Merwe se uitstekende PhD-wat-boek-geword-het deursein, was Viljoen boweals ’n man wat in ’n lug vol helder wolke groot geleenthede sou bespied waar ander net ’n donsigheid sien. 

Aanvanklik is Ben Noord-Amerika toe gelok om onder meer die moontlikheid uit die boom te kyk van die hervestiging van Boere in Mexiko. Willem Snyman, ’n Kaapse rebel, wat aan homself die titel van generaal en ’n luisterryke oorlogsrekord toegedig het, was reeds sedert laat 1900 in daardie geweste met grondleggingsplanne besig.

Tog het als nie lekker gevlot nie. Ben is vir eers terug Suid-Afrika toe – totdat hy na die VSA teruggekeer het om aan die tafereel van tonele uit die oorlog en uit die alledaagse Suid-Afrikaanse lewe deel te neem. Dít sou deel van die Louisiana Purchase Exposition vorm – ’n wêreldtentoonstelling wat in 1904 in St Louis sou plaasvind – ’n stad in die deelstaat Missouri wat op die Wesoewer van die Mississippi-rivier lê.

Dis dié ekspo wat die agterdoek in die fliek Meet me in St Louis (1944) vorm, en spesifiek dié Boerespektakel wat Sonja Loots in haar roman Sirkusboere (2011) onder die loep neem.

Loots vertel (bl 15): “’n Oorlogsbeuel blaas en ’n militêre orkes begin speel. Ben stap tot in die middel van die stowwerige arena en buig laag. Weg is die gehawende man met die mauser van twee en ’n half jaar gelede. Hy dra blinkgepoetste stewels en ’n deftige militêre tuniek met goue koord op die bors. Die dames loer deur hul lornjette na sy raafswart kuif en snor, sy donker wenkbroue en die glimmende medaljes op sy bors. Die mans reken goedkeurend hy was ’n gedugte opponent vir sy teenstanders. Hulle het simpatie met die Boere se stryd. Hul voorvaders het immers ook ’n onafhanklikheidsoorlog teen Engeland geveg …”

Op 1 Desember 1904 loop die Boere-extravaganza, ná ’n rasend geslaagde speelvak, tot ’n einde.

Kort hierna kom ’n norring Viljoens in Chihuahua, die Mexikaanse deelstaat, aan – met ’n nuwe lewe in die vooruitsig. Die Mexikaanse planne ly egter vir eers skipbreuk en Ben en sy pa reis na die VSA toe om hervestiging dáár te ondersoek. Ben se broer Wynand is al in El Paso, net oor die grens in Texas, werksaam – waarheen die verhaal in Breaking bad ook telkens uitwaaier.

Deur ’n Vrymesselaarskontak kom die moontlikheid van die Mesillavallei, 30 km noordwes van El Paso, in Nieu-Mexiko, toe nog ’n territoriale gebied, te berde.

Dis in daardie geil vallei dat die Viljoens hulle sou vestig.

Tog sou Ben nie stilsit nie. In die orige jare wat hom beskore was, tot hy in 1917, kort voor die Spaanse Griep sou uitbreek, in die ouderdom van 47 dood is, is hy weer terug Mexiko toe – met sy bandelier wat swaai.

Die vryheid van sy nuwe bestaan in die byna herkenbare oopte was verkwikkend. Vry van die dwingelandy van die Britte. Selfs in die eerste dekades van die 20ste eeu nog was hierdie wêreld oop en ongetem.

Dis ook met dié idee dat Breaking bad se slim skeppers speel. Die Wilde Weste van ouds wat op ’n Roswell-UFO die hede bereik.

*

Terwyl ek hierdie gedagtes neerpen, haal ek verbygegane episodes van die RSG-program Skrywers en boeke in. Die toeval is sjarmant: Die skrywer Ben Viljoen se nuwe roman, ’n Ballade vir Nkunzi, is onder bespreking.

Dit herinner my dat daar in die inleidende hoofstuk van Kansvatter ook ’n sagkens-geformuleerde metastorie onder Van der Merwe se boek lê.

Toe Van der Merwe met sy doktoraal wou begin, word hy vertel dat prof Christo Viljoen, ’n voormalige viserektor van Maties, “’n groot versameling van Ben se persoonlike dokumente het, maar [’n ander navorser] in 1990 nie toegang daartoe wou gee nie, omrede hy toe reeds ver gevorder het met sy eie biografie van Ben … [D]it was nou ’n kwarteeu later, en tot dusver het geen biografie uit prof Viljoen se pen verskyn nie. In die lig van die lang tydsverloop het hy sekerlik dan teen hierdie tyd van sy biografie afgesien en sou hy mos nie ’n probleem hê om sy Ben Viljoen-versameling aan my beskikbaar te stel nie? … Tot my verbasing het hy geantwoord dat hy nog steeds skryf aan sy biografie [en dat] een van Suid-Afrika se bekendste historici hom aangeraai het om nie sy dokumentasie wat hy oor 45 jaar versamel het vry te stel voor hy dit verwerk het nie …” (bl 20).

Die leespubliek wonder hardop: Wanneer kan hulle die Viljoen-biografie van Ben Viljoen – volgens enige maatstaf ’n boeiende figuur – te wagte wees?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top