Die dood en die sin van die lewe deur Anton van Niekerk: ’n resensie

  • 4

Die dood en die sin van die lewe
Anton van Niekerk
Uitgewer: Tafelberg

ISBN: 9780624075332

Die titel van Anton van Niekerk se boek, Die dood en die sin van die lewe, dui daarop dat die twee temas wat in die titel opgeneem is, in hierdie boek met mekaar in verband gebring word. Nadenke oor die een onderwerp veronderstel nadenke oor die ander. Dink ons oor die dood, dan kom die vraag na die sin van die lewe ook by ons op en ook andersom. Saam met die titel op die voorblad word Chris Jones aangehaal volgens wie hierdie boek “ongetwyfeld die invloedrykste denke ooit in Afrikaans” oor die onderwerp bied. Ek glo Jones is reg: hierdie is ’n belangrike teks wat tydig verskyn het in ’n jaar waarin sterwe en dood inderdaad ’n groter tema is onder die Afrikaanse leserspubliek. Hierdie toedrag van sake is natuurlik veral toe te skryf aan die invloedryke werke van Karel Schoeman, soos Slot van die dag, en uiteraard ook sy selfdood op 1 Mei 2017 en die gesprek wat dit in die media gestimuleer het. Van Niekerk verwys self ook hierna, en sy boek is deel van ’n hele paar tekste wat tans verskyn, soos Schoeman se werk, wat tereg ’n taboe uitdaag.

Reeds in sy outobiografie het Schoeman opgemerk dat hy in die 1980’s tot die besef gekom het “hoe bang die meeste mense vir die dood is en hoe panies beangs hulle raak by die blote gedagte aan ouderdom, aan veroudering, agteruitgang, sterfte en verval”. Van Niekerk se eerste hoofstuk is dan ook tereg getitel “Om sin te probeer van maak ’n taboe” en hy noem die dood die taboe van ons tyd. Hy is reg, alhoewel sommige denkers dit sal kwalifiseer of dalk sal uitbrei, aangesien taboe nie belangstelling in die tema uitsluit of neerkom op sogenaamde doodsontkenning nie. Thomas Long se waarnemings laat hom opmerk dat die samelewing veel eerder gefassineerd is met die dood, net soos die samelewing gefassineerd is deur pornografie. Dit is volgens Long eerder die geval dat beide onderwerpe taboe is en dus juis nie so dat die dood ontken word nie, maar inteendeel vir mense fassinerend is as onderwerp. Miskien het ons te make met ’n fassinerende taboe, of dalk is die meeste taboes fassinerend.

Met die lees van die boek word dit ook duidelik dat denkers deur die eeue gefassineerd gebly het deur hierdie onderwerp. In die taal van Van Niekerk bly die dood tereg ’n misterie. Die pragtige gedigte en verwysings na prosa wat geïnspireer is deur die tema wat Van Niekerk in sy boek aanhaal, dui ook op hierdie fassinasie en ook die kreatiwiteit wat hierdie misterie stimuleer (om nie eers te praat van Karel Schoeman se hele kreatiewe oeuvre nie). Daar is tans ’n besonder groot aanbod boeke en ook televisieprogramme wat die dood as tema aansny, byvoorbeeld misdaadfiksie en televisiereekse met moorde en speurders. In hierdie boeke en programme bly die dood egter op ’n afstand en word die leser en kyker nie diepgaande by die tema betrek en gedwing om self ook te besin oor die dood, en ook die leser of kyker se eie dood nie. Die dood is daar iets wat met ander mense gebeur en bly sodoende op ’n veilige afstand. Van Niekerk se boek is nie bedoel vir diegene wat deur die CNA loop en op ’n nuuskierige afstand na die Scope se buiteblad loer nie. Die boek is nie vir sulke agies nie, want dit is ’n boek wat die leser nie op ’n objektiewe afstand laat bly ten opsigte van die tema van die dood en die sin van die lewe nie, maar intrek en dwing om te besin oor die dood en spesifiek ook jou eie sterflikheid en dood. Dit kry die skrywer goed reg deur in hoofstuk 2 redelik breedvoerig te skryf oor sy eie belewenisse van familie en vriende wat gesterwe het en spesifiek ook hoe hulle met daardie realiteit elk op ’n idiosinkratiese wyse omgegaan het. Afgesien van die insig dat verskillende mense op verskillende wyses sterf, help dit die leser ook om daardie verhale eie invullings te gee. Dus, vanaf die taboe beweeg die skrywer so ’n treetjie nader aan die leser se eie lyf met hierdie tema. En gegewe hierdie onderwerp, toon hy oortuigend aan, is die mens se hele lyf as interpreteerder baie belangrik.

Die filosoof Van Niekerk is ook die proponent Van Niekerk en dit blyk duidelik uit hoofstuk 3, waarin die mens se vrees vir en opstand teen die dood aan bod kom. Aangrypend is Tolstoi se Die dood van Ivan Ilyich wat hy in hierdie hoofstuk inbring. Skokkend waar is sy opmerking oor terminale lyding: “die besef dat, al kan jy dit nie self aanvaar nie, ander mense hulself dit aanmatig om dit namens jou te aanvaar”. Van Niekerk help ons hier, soos elders in die boek, om ’n spieël voor die leser te hou, nie alleen die spieël rakende jou eie sterflikheid nie, maar ook die spieël gegewe jou reaksies en optrede met betrekking tot ander se lyding, sterwe en dood.

Met gedagtegoed soos lewe na die dood en ’n ewige lewe speel hy in die opvolgende hoofstuk gou klaar. Hy skryf: “Ek sukkel maar taamlik om veel sin te maak van ’n lewe ná die dood” en skaar hy hom by denkers vir wie dit na ’n baie vervelige idee klink. Hier het ek, toegegee, gejeuk om baie krities in te kom, spesifiek ook rakende sy siening van die saak in die Christelike geloof, maar gelukkig het ek die boek eers heeltemal klaar gelees. Teen die einde van die boek kom hy terug op hierdie sake en laat, met die nodige nuanses, reg geskied aan die Christelik oortuigings rakende die opstanding van die liggaam. Hy toon tereg aan dat heelwat van die misverstande in die Christelike tradisie op ’n liggaam-siel-dualisme berus wat oorgespoel het van die Griekse filosofie, veel eerder as wat dit is hoe die Bybel met sy sterk Semitiese invloede en gevolglike klem op die belang van die mens se liggaam daaroor praat. Lewe wat ewig word, is vir hom eerder ’n aanduiding van lewenskwaliteit as lewenskwantiteit. Dit is mooi gestel.

Sy ontleding van die dood in die moderne wêreld is baie insiggewend, veral die wyse waarop die dood volgens hom gemedikaliseer word deurdat elke sterfgeval ’n verklaring moet kry en siekte opgedeel word in benoembare en dus beheerbare siektes. Saam hiermee hang dinge wat ons doen om die dood uit te stel, soos oefen en reg eet. Ek dink hierdie insigte kan met vrug verder verken word in ons eie dag, veral gegewe die tema van kos (en ’n duisend eetintoleransies) en hoe eet (en al die “afwykings”) bykans rituele van ’n nuwe soort godsdiens geword het waarin daar na onsterflikheid gestreef word.

Teenoor hierdie sterk moderne reaksie op die dood word die tema van misterie in die opvolgende hoofstuk aangesny. Hy toon aan dat moderniteit ons ’n onguns aangedoen het en “mense verhinder om denkend om te gaan met die paradoksaliteit van die misterie-ervaring, waarvan dood-interpretasie ’n sleutelaspek is”. ’n Aanvoeling vir misterie help ons weer om bewus te word van grense. Met hierdie gedagtes beweeg hy na hoofstuk 7 en die dood in ’n postmoderne wêreld.

Die kenmerke van postmoderniteit word in hoofstuk 7 bespreek en ’n heelparty van die belangrikste denkers se werk kom aan bod, maar die skrywer maak dit werklik bevatlik vir bykans enige leser. Van Niekerk is ’n filosoof en bring met hierdie boek inderdaad ’n “oorbrugging tussen die intellektuele wêreld en die alledaagse gesprek” (Chris Jones) oor die dood en die sin van die lewe, maar ook oor die insigte van die filosofie. Hy beskou filosofie as “denke oor denke”. Plek-plek verwys hy na werk van teoloë (soms met instemming, maar ook met ’n skeptiese pen wanneer hulle met gesag oor die minute na die dood skryf); desnieteenstaande is hierdie boek deur en deur ’n filosofiese werk en die gespreksgenote is merendeels filosowe en sosioloë. Twee stemme wat hy baie sterk laat deurkom in die teks is dié van die Poolse sosioloog Zygmunt Baumann en die Duitse filosoof Martin Heidegger. Van Niekerk beskryf die verskil tussen die moderne en postmoderne benadering tot die tema soos volg: “Terwyl die moderne strategie om met die dood in die reine te kom, neerkom op die ‘dekonstruksie’ van sterflikheid deur die oorsake van die dood te onderskei in ’n fragmenterende proses om hulle beheer- of bestuurbaar te maak, is die postmoderne manier van die hantering van die dood die dekonstruksie van die strewe na onsterflikheid.” Postmoderniteit speel klaar met die gedagte dat ons iewers heen op pad is. Ons is nie meer pelgrims met ’n vaste roetekaart nie, maar swerwers, nomades. In ’n postmoderne klimaat is hierdie oomblik, nóú, belangrik en onsterflikheid word van alles en almal weerhou met ’n aandrang op dit wat nuut is. Van Niekerk praat van die drang op “ewigdurende vernuwing” wat vir lesers baie herkenbaar is in ons eie dag.

In die hoofstuk waarin hy onder andere Nietzsche se werk oor tragedie gebruik, kom hy by die hart van sy boek uit. Die begrip tragedie word benut om nader te beweeg aan ’n lewenstrategie waarin die dood help om perspektiewe op die sin van die lewe te bekom. Dit is van hier af dat ek minder eerder as meer oor die boek sal sê, alhoewel ek kan noem dat hy die begrip tragedie op ’n sinvolle wyse vir sy argument toe-eien as ’n genre wat vol Dionysiese energie is wat, eerder as ’n pessimistiese lewensingesteldheid, ons uitnooi tot ’n viering van die lewe.

In die voorlaaste hoofstuk sit die skrywer sy hoed as etikus op en verken belangrike vraagstukke soos selfdood. En in die slothoofstuk werk hy sy gedagtes wat hy reeds aan die orde gestel het met die begrip tragedie, nog verder uit aan die hand van twee metafore, te wete horison en reis.

So, wat is die sin van die lewe?

Aan die einde van die Monty Python-film The meaning of life wanneer ’n tamaai koevert gebring word wat die antwoord op hierdie tergende geheim bevat, lui die antwoord: “Be nice to all people, avoid eating fat, read a good book every now and then, get some walking in and try to live in peace and harmony with people from all creeds and nations.” En Van Niekerk die filosoof, vir die wie die vrae belangriker as die antwoorde is – wat antwoord hy? Wel, ek gaan nie die aap volledig uit die mou laat nie, want lesers moet self saam met hom deur sy hoofstukke reis sodat hulle bewus kan word van die belang van die dood gegewe hulle eie verstaanshorisonne en dat die dood en die sin van die lewe inderdaad tematies lepellê. Neem dus Monty Python se raad oor die lees van ’n goeie boek so af en toe ernstig op en begin sommer met Die dood en die sin van die lewe.

Ek sal tog net vir ’n oomblik my teologiese hoedjie gou opsit en sê dat Van Niekerk ’n heel Bybelse antwoord bied, ’n antwoord wat sterk resoneer met Prediker van die Ou Testament (na wie hy self ook verwys): die sin van die lewe is om te lewe, maar om dit op ’n oorwoë wyse te doen. En sonder die werklikheid van die dood is hierdie moontlikheid skraal.

Van Niekerk se boek is geskryf vanuit ’n Westerse perspektief, met gebruikmaking van bronne uit veral die Westerse filosofiese tradisie, en is duidelik afgestem op ’n meer Westerse leserspubliek. Dit is duidelik, en die boek moet as sodanig waardeer word. Tog, toegegee, sou ek ’n paar stemme vanuit ons eie kontinent wou gehoor het. My eie gedagtes oor hierdie tema is al verstrengel met sekere gedagtegoed wat uit Afrika kom wat vir my besonder baie sin maak.

Terwyl ek in ’n koffiewinkel sit en tik aan die resensie met die boek wat langs my skootrekenaar lê, hoor ek vlak langs my linkeroor: “My jinne, kyk net, is dit ’n lekker boek om te lees? Sal jy dit aanbeveel?” Nou ja, daar is dit, die groot toets na al my paragrafies. Ek moet antwoord, in die oomblik – sy het alreeds haar rekening betaal, die motorsleutels hang aan haar vinger en die lyf draai al in die rigting van die deur. Ek probeer: “Lekker? Nee, maar ...”, en toe ek klaar gepraat het, antwoord sy terwyl sy terugdraai en die selfoon uithaal: “Wag, laat ek ’n foto neem van die omslag, gaan sommer nou reguit na Exclusives.”

  • 4

Kommentaar

  • Genoeg om my eie nuuskierigheid na 'n volgende vlak te neem. Dankbaar dat ek deel kan wees van mense wat my taal kan verhef. Dankie.

  • Avatar
    Arrie de Beer

    Só 'n resensie maak die pad vir die leser oop.

    Het die boek gekoop, onder meer omdat soveel mense sê-vra: Het jy NOG nie dié boek gelees nie? Nee, nog nie volledig deurgelees nie, maar wel al gekoop. Wat ek wel deeglik (reeds) gelees het, is hierdie besondere resensie.
    Ek het hard aan die (te min) inligting gedink wat ons oor goeie boekresensies aan j-studente oor die loop van jare deurgegee het. Die detail ontgaan my nou, maar wat ek wel kan sê, is dat hierdie resensie 'n goeie voorbeeld sou gewees het van hoe 'n boekresensie oor so 'n komplekse onderwerp geskryf sou kon word.
    Bg proses begin lank voor die resensie geskryf word, soos blyk uit 'n kort CV van die skrywer: klaarblyklike intellek, skryftalent, onderrig en opleiding. Maar die grootste hiervan is kennis van en oor die onderwerp.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top