Die donkerkamer

  • 0

Almal van ons is nie diereliefhebbers nie. Dis verstaanbaar. ’n Vriendin, wat so sestig jaar gelede in die Drakensberg se wilde noorde grootgeword het, vertel hoe haar ma haar geleer het om hardop te loop en sing wanneer sy die vreesaanjaende bosvoetpaadjie moes aandurf skool toe.

Die singery sou kwansuis slange en gevaarlike diere afskrik en die wilde diere genoeg tyd gun om weg te beweeg. Wanneer sy die rivier oorsteek, moes sy haar voetjie in die bruisende stroom aan die kant insteek, totdat sy seker was die massa water sou haar nie wegsleur nie. Vandag het sy geen begeerte om spoor te sny agter diere aan nie.
Ons is nie professionele fotograwe nie, net diereliefhebbers. Maar soms lewer die donkerkamer sulke oulike foto's op dat dit ’n skande is om dit te delete. Ek meen – hoeveel foto's wil jy nou nóg van ’n luiperd bymekaarmaak, sug manlief wanneer ons heeldag spoor sny agter die katte aan.

Hierdie foto's is geneem in die Kruger gedurende Junie 2015. Dis sielsalig om te weet dat hul vandag nog daar rondsluip.

Diere leer ons wyshede:

trien1

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Hierdie apie het voorwaar soos ’n geheimsinnige mannekyn geposeer. Die een prent is mooier dan die ander. Die blouaap is ’n senuweeagtige, opgewonde diertjie wat ure se genot kan verskaf. Miskien word die genot daaruit gebore dat jy jouself in hul maniertjies sien?

trien2

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Wanneer die silwergeel oë van die maanhaar met joune kruis, knip jy eerste oog! Hou jou motordeur maar toe, want die formidabele reputasie van die koning van die oerwoud loop hom vooruit.

trien3

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Die kameelperd spreek van ‘rustigheid’. Die sorglose geknibbel aan blare laat enige horlosie stilstaan. Wanneer hulle voor jou oor die pad met ’n unieke hobbelperdstappie beweeg, wil jy net kiek en kiek.

trien4

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Die jagluiperd, gebou soos ’n windhond spog met foutlose aërodinamika en is een van die mooiste katte. Baie keer gebruik hulle die motors om agter weg te kruip tydens ’n jagsessie.

trien5

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Spoggerige spiraalvormige horings. En hierdie koedoe is maar nog jonk in die bos. Hulle is grasieuse hoogspringkampioene wat sonder ’n aanloop bo-oor ’n 2,5m hoë heining gemaklik kan spring.

trien6

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

“Wat staar julle so? Nog nooit ’n vark gesien met hoendervleis nie?”

Geniet ons land se diere. Dit maak Suid-Afrika uniek.

Trienie

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top